Last update: March 27, 2012 11:54:24 AM E-mail Print

 

Veldbestuur teen die Karoorusper

JD Möhr & MW Pretorius

 

BOERDERYMETODES in die Karoo het 'n toename in baie soorte Karoobossies teweeggebring. Hierdie bossies is veeweiding asook gasheerplante van die Karoorusper. Die larwes (ruspers) voed op die blare van verskeie karoobossoorte, veral die spesies van Pentzia Thunb. wat die dominante plantkomponente oor groot gedeeltes weiveld van die gewysigde Karoo is. Somtyds veroorsaak die larwes soveel ontblaring dat hulle plaagafmetings aanneem.

As gevolg van die relatief lae opbrengs van ekstensiewe Karooboerdery, moet beheermaatreëls teen die Karoorusper goedkoop wees. Die keuse vir beheer is dus beperk tot die gebruik van natuurlike vyande (biologiese beheer) en bestuurspraktyke wat die voedselvoorraad van die plaag manipuleer. Hierdie benaderings is deur die Navorsingsinstituut vir Biologiese Beheer van die Universiteit Rhodes en die Navorsingsinstituut vir Plantbeskerming van die Departement van Landbou, ondersoek.

 

BIOLOGIESE BEHEER

Omdat chemiese beheer van die Karoorusper te duur en ook andersins onprakties is, is die invoer van natuurlike vyande dikwels as die voor-die-hand-liggende oplossing vir die probleem voorgestel. Daar bestaan egter verskeie inheemse natuurlike vyande van die rusper, waarvan twee soorte parasitiese wespe en 'n swamsiekte wydverspreid en volop in die Karoo is.

Tesame oefen die natuurlike vyande 'n kragtige beherende invloed op Karoorusperbevolkings uit deur die larwes dood te maak nadat larwale hulse in die grond onder voedsterplante gespin is. Behalwe dat die natuurlike vyande gewoonlik ongeveer 75% van hierdie 'omhulsde larwes' vernietig, voldoen hulle ook aan ander belangrike vereistes vir suksesvolle vyande.

Die plaag 'ontsnap' nietemin af en toe van sy vyande en dit lei tot ernstige larwale uitbrekings. Die rede hiervoor is duidelik as die wisselwerking tussen natuurlike vyande en voedsterplante, en die invloed daarvan op die omvang van Karoorusperbevolkings, beskou word.

 

 

Ten spyte van die sterk beherende invloed van sy vyande op die Karoorusper, kan hulle nie vir die ontsaglike voedselvoorraad wat die plaag tot sy beskikking het - somtyds skielik na droogtes - kompenseer nie. Dit word duidelik in Fig. 1 uitgebeeld: die digter stande voedsterplante het meer matte opgelewer. Om ewe lae motgetalle vir al die persele in die figuur te bewerkstellig is mortaliteite van hoër as 97% nodig. Dit is 'n onrealisties hoë mortaliteitspeil om van natuurlike vyande (hetsy ingevoer of inheems) te verwag. Dit dui daarop dat invoere van addisionele natuurlike vyande vrugteloos sal wees en dat verligting van die Karoorusper probleem dalk eerder in 'n ander benadering tot veldbestuur gevind moet word.

 

BESTUURSPRAKTYKE

Die pentzias is die belangrikste gasheerplante van die Karoorusper. Die motte Iê eiers op hierdie bossies en die larwes wat uitbroei kan daarop voed tot hulle volgroeid is. As hierdie aanvanklike voedsterplante ontblaar is, is daar 'n wye verskeidenheid van alternatiewe voedsterplante waarheen die larwes kan versprei en hulle voeding voltooi.

Die waarde van pentzias en baie ander Karooplante (insluitend nie-gasheerplante van die Karoorusper), is lank reeds 'n omstrede saak. Duidelike uitsluitsel hieroor is egter van onmiddellike belang voordat 'n strategie teen die Karoorusper aanvaar, of selfs beplan kan word.

Indien die pentzias wenslike plante blyk te wees, moet boere die skade wat die Karoorusper somtyds aanrig as 'n normale boerderyrisiko aanvaar, en sonder keuse dieselfde voorsorg as teen periodieke droogtes tref. Aan die ander kant, as pentzias van beperkte waarde is, en hul populasies verlaag kan word, is daar verskeie voordele aan verbonde.

Die Karoorusperbevolkings se groottes sal ooreenkomstig verklein. Kompetisie om die verminderde voedselvoorraad sal teen laer bevolkingsdigthede van die plaag in werking tree en sal die verlaging van die plaagbevolkings verder aanhelp.

Enige verlaging in die Karoorusperbevolking behoort ook die doeltreffendheid van die inheemse natuurlike vyande te bevorder. Die gesamentlike uitwerking van kleiner pentziabevolkings sal meebring dat alternatiewe voedsterplante (waarvan sommige waardevolle weiding mag wees) minder beskadig word.

Om pentzias met nie-gasheerplante van die Karoorusper te vervang, is 'n gesonde insektekundige beginsel wat met welslae deur baie boere toegepas word, hoewel dikwels sonder inagneming van die plaag as sulks. In watter mate so 'n beleid vir die Karoo in die algemeen aan te beveel is, moet egter deur weidingkundiges bepaal word.

Wat ookal die status van die pentzias in die Karoo is, is dit vir navorsers moontlik om 'n strategie te formuleer om die Karoorusper probleem te omseil, of minstens te verlig. Verskeie ongewenste plantsoorte, waarvan sommige sonder twyfel onkruide is, word deur die larwes benut. Groot larwale bevolkings oorleef op hierdie plante, hoewel hulle somtyds min vreet.

Die voordele verbonde aan die uitskakeling van hierdie reserwe aan alternatiewe voedsterplante, is vanselfsprekend. Veld met digte pentzia stande is die vatbaarste vir Karoorusperaanvalle. Hierdie gebiede kan geïdentifiseer word en dit mag moontlik wees om weidingstelsels te ontwikkel waarvolgens hulle deur vee bewei word voordat rusper uitbrekings voorkom. Uitbrekings kan nie akkuraat voorspel word nie, maar dit kan in die herfs verwag word.

Groot motbevolkings kan ook as 'n mate van waarskuwing dien. So 'n strategie bied natuurlik geen verligting op plase waar die weiding oorwegend uit pentzias bestaan nie.

Die onteenseglike belangrikheid van nie-gasheerplante van die Karoorusper moet nie uit die oog verloor word nie. Byvoorbeeld, veld wat met grassoorte - wat glad nie deur die larwes gevreet word nie - aangevul is, kan die uitwerking van strawwe uitbrekings demp of selfs uitskakel.

Die Karoorusper se plaagstatus is aan die uitgebreide verspreiding van sy gasheerplante te wyte. Die inherente verskeidenheid van plantspesies in die Karoo bied egter 'n uitsonderlike geleentheid vir die aanvulling van veld met nie-gasheerplante van die Karoorusper of deur die meer radikale benadering om die pentzias te vervang.

Pentzias is die sleutelplante met betrekking tot die Karoorusper en dit blyk 'n navorsingsprioriteit vir plant- en weidingkundiges te wees om die waarde van hierdie plante te bepaal.

Wat ookal die uitvloeisel van so 'n langtermynprojek is, moet verligting van die probleem by bestuurspraktyke gesoek word en nie by verdere insektekundige navorsing nie.

 

Published

Goue Vag Vol 15 No 1, 1985