Last update: April 5, 2012 07:44:56 AM E-mail Print

 

Karooskape floreer op waterfosfaat

PHB van der Vyver, Voorligtingsbeampte, De Aar

BDH van Niekerk, Landboukollege Grootfontein

 

DIT is 'n bekende feit dat diere oor uitgestrekte dele van die land, en veral in dele van Noord-Kaapland, nie voldoende fosfaat van die veld alleen kan inneem nie. Chemiese ontledings van Karooveld dui daarop dat die natuurlike weiveld ook in dele van hierdie gebied betreklik min fosfaat bevat. Skape sal dus moontlik daarby baat as dit aangevul word.

Landboubeamptes in die Karoo beveel gewoonlik fosfaatbyvoeging aan en die meeste boere vul reeds fosfaat in die een of ander vorm aan. Tog is daar nog nooit gekontroleerde proewe onder werklike praktiese toestande uitgevoer om vas te stel of fosfaattoediening wel enige uitwerking op die produksie van skape in hierdie gebied het nie. Gevolglik is besluit om die uitwerking van fosfaataanvullings op die liggaamsgewig van Merinolammers vas te stel deur middel van 'n koöperatiewe proef op 'n plaas in die distrik Philipstown (Sentraal-Noord-Karoo).

 

METODE VAN TOEDIENING

Die gebruiklikste metode om fosfaat aan te vul, is met veelekke. Hierdie metode kan egter yerskeie nadele inhou:

Gevolglik is besluit om wateroplosbare fosfaat in die vorm van mono-natriumfosfaat (waterfosfaat) in die drinkwater as bron van fosfaat te gebruik. Hierdie metode van toediening verseker dat aIle skape wel fosfaat inneem, mits gesorg word dat daar geen onbehandelde water op die plaas beskikbaar is nie. Hierdie wateroplosbare vorm van fosfaat bevat geen kalsium nie, dus sal dit ook dien om die relatiewe oormaat kalsium wat in die Karooweidings voorkom, te balanseer.

Omdat boere wat waterfosfaat gebruik, ook dikwels beweer dat dit help om blindheid onder skape te voorkom en die skape meer water te laat suip - swak waterinname is 'n ernstige probleem op baie Karooplase - sou die ondersoek dus terselfdertyd moontlik lig op hierdie probleem werp.

 

METODE VAN ONDERSOEK

Die proef is van 27 Mei tot 21 Augustus 1964 op die plaas Hoofkwartier van mnr. C. P. Louw in die distrik Philipstown uitgevoer.

Twee groepe Merino-ooilammers, 25 in elke groep, is in twee aparte kampe van min of meer dieselfde grootte geplaas. Die lammers was ses maande oud met die aanvang van die proef en het gemiddeld 57 pd elk geweeg.

Om die invloed van enige verskille tussen die kampe te verminder, is die lammers elke 14 dae van kampe verwissel en ook afsonderlik geweeg. Elke keer wanneer daar van kampe verwissel is, is die toestel wat die waterfosfaat outomaties toegedien het, saam met die proefgroep na die volgende kamp oorgeplaas.

In dele waar skape swak drink, is dit gebruiklik om die waterkrippe elke dag te laat skoonmaak. Om vas te stel of die waterfosfaat enige uitwerking op die waterinname van skape het, is die waterkrippe tydens hierdie ondersoek slegs elke 14 dae, wanneer daar van kampe verwissel is, skoongemaak.

 

RESULTATE

Tydens die proef het die proefgroep 0.83 ons waterfosfaat per skaap per week ontvang, teen 'n koste van 0.43 sent per skaap per week. Die kontrolegroep het geen waterfosfaat gekry nie.

Die waterfosfaat is toegedien teen een pond daarvan op een gelling water. Hierdie konsentraat is outomaties met 'n spesiale toestel by die drinkwater gevoeg.

Die skape het egter heelwat meer waterfosfaat ingeneem as die 0.32 ons per lam per week wat hulle veronderstel was om in te kry. Die koste is bereken vir waterfosfaat teen R8.40 per 100 pond.

Die koste van die toestel (R10.50) en die installering daarvan (R10) is nie in aanmerking geneem nie.

 

Gewig

Hoewel die proef slegs sowat drie maande geduur het, was daar reeds duidelike verskille in die gewigstoenames van die twee groepe lammers waarneembaar. Die groep wat waterfosfaat gekry het, het oor die proefperiode 38.5 persent meer in gewig toegeneem as die kontrolegroep - 'n baie aansienlike verskil dus.

Aan die begin van die proefperiode was dit baie koud en die reën en sneeu wat geval het, het 'n nadelige uitwerking op die lammers se gewigstoenames gehad. Dit is egter opvallend dat die kontrolegroep oor 'n periode van twee weke tydens hierdie fase van die proef gemiddeld 0.3 pd in gewig verloor het terwyl die fosfaatgroep gemiddeld 0.6 pd in gewig toegeneem het. Wat hierdie verskil veral opvallend maak is die feit dat die fosfaatgroep in hierdie tyd op die swakste van die twee proefkampe gewei het. .

 

Blindheid

Geen blindheid het by enige van die twee groepe voorgekom nie, dus kon ons nie bepaal of fosfaataanvulling blindheid voorkom of nie.

 

Gedrag by water

Geen verskille in die gedrag van proeflammers by die waterkrippe is opgemerk nie. By 'n groter trop skape is opgemerk dat toe die waterfosfaat in die drinkwater opgeraak het, die skape nie wou suip nie. Nadat die waterfosfaat egter weer aangevul is, het die skape weer vrylik gesuip. Hierdie toevallige waarneming kan egter slegs as aanduiding dien dat waterfosfaat skape moontlik wel meer water laat drink.

 

GEVOLGTREKKINGS

Volgens die resultate van hierdie proef wil dit voorkom of fosfaattoedienings in die distrik Philipstown beslis 'n voordelige invloed op die gewigstoenames van weidende Merinolammers het.

Aangesien die veld tydens die proef teen 'n drakrag van slegs 6 morg per skaap bewei is, kan mens verwag dat die verskil, teen 'n meer normale weidingsintensiteit (2.5 morge per skaap), ten gunste van die fosfaatgroep moontlik nog groter kan wees omdat die geleentheid vir selektiewe beweiding dan geringer is.

Die reaksie wat in hierdie proef aangeteken is, stem verbasend ooreen met resultate wat verkry is in 'n proef wat in die distrik De Aar met Merinohamels uitgevoer is. In hierdie proef, wat ook drie maande geduur het, het een van die proefgroepe wat 'n fosfaatbevattende lek ontvang het, 38 persent en 'n ander proefgroep wat 'n fosfaatbevattende kommersiële produk ontvang het, 19 persent meer in gewig toegeneem as die kontrolegroep wat geen aanvulling ontvang het nie.

Weens die kort termyn waaroor die waterfosfaatproef gestrek het en die feit dat wolgegewens nie geneem is nie, kan ons nie hierdie stadium die resultate ekonomies interpreteer nie. Verdere langtermynproewe, waarin meer volledige gegewens geneem sal word, word egter uitgevoer, sodat ons wel later die nodige inligting in die verband sal kan verstrek.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 41 (5)