Last update: April 2, 2012 07:56:47 AM E-mail Print

 

Kartels in Wol: het dit enige voordele?

 

P D Grobbelaar

Landbounavorser: Wolkunde

Grootfontein

 

1. INLEIDING

Weens die toenemende mededinging van kunsvesels met wol as tekstielvesel, word daar voortdurend hoër eise aan wol gestel om te voldoen aan die behoeftes van die fabrikant. Wol het baie voortreflike eienskappe sowel as tekortkominge en navorsers is voortdurend besig om te bepaal watter eienskappe belangrik is in die verwerkingsprosesse. Die geskiktheid van wol, met die oog op verwerking en die eindproduk, word deur 'n reeks van veseleienskappe, individueel en gesamentlik, soos byvoorbeeld aard van karteling, veseldikte, vesellengte, treksterkte, ensovoorts, beïnvloed.

'n Kenmerk van wol, veral Merinowol, is dat dit gekarteld is. Hierdie eienskap van wol is belangrik vir die wolprodusent, wolkoper en die tekstielvervaardiger. Beide die getal kartels in die vesel en die aard van karteling, te wete die diepte en die vorm van die karteling, dra in 'n groot mate by tot verskillende belangrike en waardevolle gehalte eienskappe van die vervaardigde produk.

Daar bestaan merkbare verskille in die hantering van wol, beide op die skaap en sorteertafel, tussen vagte waarin die dimensies en elastiese eienskappe van die vesels blyk om dieselfde te wees. Omdat daar ook 'n verskil voorkom in die hantering van wol na die wasproses, moet die verskille in die vorm van die vesels, insluitend die kartelstruktuur, noodwendig verantwoordelik wees vir die verskil in hantering. 'n Variasie in veselkarteling word in die algemeen geassosieer met 'n variasie in die struktuur van die vesel en in die meganiese eienskappe daarvan.

Die natuurlike karteling van 'n wolvesel, wat 'n inherente eienskap van 'n wolvesel is, is een van die hoofredes waarom wol voorkeur geniet in die vervaardiging van hoë kwaliteit materiale. Kartels word as so belangrik beskou dat daar vandag in die kunsveselbedryf gepoog word om hierdie gesogte eienskap van wol ook in hul produk kunsmatig aan te bring. Volgens Kerr (1976) het die Franse so ver gegaan dat hulle, deur middel van 'n chemiese proses, kunsmatig kartels aangebring het aan wol wat min natuurlike kartels besit het. Vir baie eindgebruike word kartels as 'n gewenste eienskap beskou, veral in die tapytindustrie waar die kunsmatige aanbring van kartels by min gekartelde wol groot voordeel inhou (Barach & Rainard, 1950).

 

2. DIE OORSPRONG VAN KARTELING

Verskillende navorsers huldig verskillende menings wat betref die oorsaak van karteling in wol, maar die teorie wat die aanneemlikste blyk te wees, is dat karteling die resultaat is van 'n spiraalvormige groeiwyse van die vesel. Hierdie spiraalvormige groeiwyse word veroorsaak deurdat gekartelde Merinowol uit byna twee gelyke komponente bestaan, naamlik die orto- en die parakorteks. Die stabiliteit en chemiese reaksies van hierdie twee komponente is verskillend en dit veroorsaak dat daar 'n spanning tussen die twee komponente ontstaan wat daartoe lei dat die vesel spiraalvormig groei.

Wolvesels is meer geneig om 'n spiraalstruktuur te vorm as om kartels te vorm en dit is veral by die pasgebore lam duidelik waarneembaar. Wanneer 'n groot aantal vesels saamgepak is in 'n stapel, kan elke vesel nie individueel krul nie. Gevolglik vertoon wol 'n gekartelde voorkoms. Verder, hoe groter die krulvermoë, hoe fyner is die vesels.

 

3. VERWANTSKAP MET ANDER EIENSKAPPE

Dit is vandag algemeen bekend dat daar 'n noue verband bestaan tussen die getal kartels per eenheidlengte, veseldikte en die spinvermoë van wol. Die getal kartels per 25,4rnm, dit wit sê die kartelfrekwensie in 'n wolstapel, word reeds vanaf die vroegste jare (1820) as leidraad vir die skatting van die gemiddelde veseldeursnit gebruik. Hoe meer kartels die wol per 25,4mm het, hoe dunner is die vesels en hoe langer is die weefgaring wat van 'n gegewe gewig gespin kan word.

Duerden (1929) het 'n korrelasie tussenkartelfrekwensie, veseldikte en spintelling gevind, wat gelei het tot die opstel van die welbekende en klassieke Duerden-verhoudingstabel. Hierdie werk het dan ook gedien as grondslag vir die opstel van die NWKV klasseringstandaarde wat vandag nog erken en gebruik word.

Verskeie navorsers, onder andere Uys (1966) & Kruger (1971) het gevind dat nie alleen individuele skeersels nie, maar die Suid-Afrikaanse Merinoskeersel in die algemeen fyner is as wat dit volgens kartels lyk, dit wil sê ondergekarteld. Deur die jare het die Suid-Afrikaanse telers blykbaar geselekteer vir wol met 'n sterkwol voorkoms, maar tog met 'n sagte aanvoeling. Die afwyking vanaf die Duerdenstandaard is groter hoe fyner die wol word.

By kuddeskape is die afwyking ook minder as by stoetskape. Deur die aanvoeling van wol in aanmerking te neem by die skatting van spintelling en die indeling in fynheidskIasse, word in ‘n mate gekompenseer vir afwykings. Verskille in aanvoeling van wol, gemeet aan die weerstand teen samepersing, word in 'n groot mate bepaal deur die aard van kartel in verhouding tot die veseldikte van die wol. Wol met 'n sagte aanvoeling is algemeen fyner of omgekeerd. Hierdie verhouding is blykbaar geneties neergelê en bly relatief konstant ongeag 'n toename in veseldikte (Venter, Steenkamp & Edwards, 1973).

 

 

4. ENKELE VOOR- EN NADELE VAN KARTELING

Navorsing het bewys dat wol wat voldoen aan die Duerdenstandaard, met ander woorde, wol waarin die kartelfrekwensie 'n goeie aanduiding is van die werklike veseldikte, min probleme gee in die verwerkingsprosesse en 'n beter eindkommoditeit tot gevolg het. Eienskappe soos saamdrukbaarheid, verviltingsvermoe, veerkragtigheid en die drapeervermoë van die eindproduk is van besondere belang en word geaffekteer deur die kartel- tot veseldikte-verhouding van die wol.

 

(i) Rouwol

Die getal kartels per 25,4mm word as die mees praktiese maatstaf gebruik om die veseldikte van wol te skat en om wol dus in verskillende fynheidsgrade te klas. Vandag word die verband tussen fynheid en kartelfrekwensie egter nie getrou by aIle wol gehandhaaf nie. So is wol dikwels sterker of fyner as wat die karteling aandui.

Wat die onbewerkte wol betref, het Van Wyk (1946), Turpie & Shiloh (1973) en andere bevind dat wol wat oorgekarteld is 'n hoër weerstand teen samepersing en wol wat ondergekarteld is 'n laer weerstand teen same persing het as wol waarin die kartel- tot veseldikteverhouding ooreenstem met die Duerdenstandaarde. In Tabel 1 word die gevoeligheid van 'n verandering in die kartelveseldikteverhouding met betrekking tot die weerstand teen uitrekking, soos gevind deur Van Wyk & Venter (1954), aangetoon.

 

 

Dit is duidelik dat vir dieselfde dikte wol, die weerstand teen same persing opmerklik toeneem indien die getal kartels per eenheid lengte toeneem en, omgekeerd, afneem as die kartels per eenheidlengte verminder. Die weerstand teen uitrekking is vir aIle praktiese doeleindes dieselfde vir 'n fyn- en sterkwol, mits die karteling in verhouding is met die dikte.

Die oorbeklemtoning van sagtheid van aanvoeling lei tot die produksie van 'n ondergekartelde en gevolglik 'n pap wol met gebrek aan staankrag. Sulke wol is weer meer geneig om op die skaap oop te val en dieper verwering vind dan makliker plaas. 'n Erg graad van verwering dra weer op sy beurt by tot 'n hoër verviltingsvermoe van die wol en 'n groter persentasie uitkamsels as gevolg van veselbreking, wat dus 'n verlies vir die tekstielprodusent beteken (Veldsman & Kritzinger, 1960).

 

(ii) Verdere verwerking

Hoewel kartels in wol as relatief onbelangrik beskou word, het die aard van karteling in verhouding tot die dikte van die wolvesel 'n effek op die verwerkingsproses en selfs die vervaardigde materiaal. Volgens Menkart & Detenbeck (1957) is dit bekend dat karteling van wolvesels tot 'n groter mate behoue bly gedurende die verwerkingsproses, hoewel daar tog 'n mate van verlies aan kartels gedurende die spinproses plaasvind.

Veldsman & Kritzinger (1960) en Turpie & Shiloh (1973) het aangetoon dat 'n oorgekartelde wol in die wasproses minder vervilt. Turpie (1977) het verder gevind dat, vir 'n gegewe gemiddelde veseldikte, oorgekartelde wol merkbaar meer wasmiddels benodig in die wasproses. Hoe dikker die vesels word, hoe kleiner word die verskille. Omdat die ondergekartelde wol meer vervilt in die wasproses, lei dit tot 'n groter mate van veselbreking in die kamproses wat nie alleen 'n lengte-verlies nie, maar ook 'n finansiële verlies vir die koper tot gevolg het. Turpie & Shiloh (1973) het gevind dat ondergekartelde wol betekenisvol meer uitkamsels gee en volgens Turpie (1977) neem die persentasie uitkamsels merkbaar af met 'n toename in gemiddelde veseldikte, as gevolg van 'n afname in kartels, in welke opsig kartels verantwoordelik is vir 76% van die variasie in die hoeveelheid uitkamsels.

Daarbenewens het Turpie & Shiloh (1973) verder aangetoon dat, tydens die kaardproses, die inherente veerkragtigheid van die oorgekartelde wol 'n lywiger voorkoms aan die kaardreep gee, in teenstelling met die fyner voorkoms van die normale wol wat meer gewens is. Daarby het hulle gevind dat die effek van kartelfrekwensie nie betekenisvol was in die kaard- en spinproses nie, maar dat dit van groot belang gedurende die kamproses op die Heilmankam was. Hier was die kamvermoë van die Duerdengetroue wol baie beter as die van die oorgekartelde wol.

Wat die spinvermoë van wol betref, het Menkart & Detenbeck (1957) aangetoon dat, in die geval van wol met 'n hoe kartelfrekwensie, die bindkrag van die ongedraaide stringe verhoog en die spinvermoë op die Franse kamstofsisteem verbeter word. Garing gespin van Duerdengetroue wol, aan die ander kant, is volgens Turpie & Shiloh (1973) baie sterker en meer egalig as die van oorgekartelde wol. Die verskil is selfs opmerklik in die vervaardigde materiaal.

Die effek van kartels word ook weerspieël in die krimpweerstand van materiaal, waar 'n toename in kartels vir 'n bepaalde dikte die krimpweerstand verbeter. Karteling verleen verder veerkragtigheid aan die materiaal, wat dit 'n goeie aanvoeling gee. Wat betref die lugdeurlaatbaarheid van die materiaal, is daar deur Turpie & Shiloh (1973) en Hunter, Robinson & Smuts (1979) gevind dat dit afneem wanneer die kartelfrekwensie van die wol toeneem. Hulle toon verder dat die breeksterkte en rekbaarheid van die materiaal vervaardig van 'n Duerdengetroue wol, betekenisvol beter is as die vervaardig van 'n oorgekartelde wol. Materiaal vervaardig van 'n Duerdengetroue wol toon ook 'n hoër weerstand teen kreukeling as die van oorgekartelde wol (Cilliers, Robinson & Slinger, 1968).

 

5. GEVOLGTREKKING

Dit blyk dus dat kartels, wat tot 'n groot mate behoue bly dwarsdeur die verwerkingsproses, tog 'n belangrike eienskap van wol is wat nie heeltemal buite rekening gelaat moet word nie. Hunter (1980) het die volgende oor karteling te se: "Work carried out over the years, and more particularly in recent years, has shown that increasing crimp levels can adversely affect worsted processing and certain yarn and fabric properties. It appears therefore that a minimum, and as yet undefined, level of crimp is necessary while excessive crimp can be deleterious in certain worsted processing and end-uses".

Verder blyk dit dat die verwerkingsgedrag en eindresultaat van wol wat voldoen aan die Duerdenstandaard tog beter is as wol wat afwyk vanaf hierdie verband. Vanweë die algemene voordele verbonde aan 'n Duerdengetroue wol, maak Veldsman (1970) die volgende aanbeveling: "Deur in sy teeltbeleid na hierdie verhouding te strewe, behou die produsent nog al die gewenste eienskappe van goeie kwaliteit en terselfdertyd word weggedoen met die ongewenste eienskap van papheid”. Daardeur sal 'n wol met voortreflike tekstiel eienskappe geproduseer word om aan die vereistes van die fabrikant te voldoen en sodoende sa! 'n aanvraag na wol verseker word.

 

VERWYSINGS

BARACH, J.L. & RAINARD, L.W., 1950. Effect of crimp on fibre behaviour. Part II: Addition of crimp to wool fibres and its effect on fibre properties. Text. Res. J. 20,308-316.

CILLIERS, W.C., ROBINSON, G.A. & SLINGER, R.I., 1968. The processing characteristics of S.A. Wools. Part IV: High crimp wools. S.A.W.T.R.I. Tech. Report No. 110.

DUERDEN, J.E., 1929. Standards of thickness and crimps in Merino grease wools. J. Text. Inst. 20, T93-100.

HUNTER, L., 1980. The effects of wool fibre properties on processing perfonnance and yarn and fabric properties. Proceedings 6th Quinquennial Int. Wool Text. Res. Conf. Pretoria. Volume 1, 133-193.

HUNTER, L., ROBINSON, G.A. & SMUTS, S., 1979. The effect of wool staple crimp, resistance to compression and other fibre properties on certain woven fabric properties. S.A. W . T .R.I. Tech. Report No. 439.

KERR, P. LENNOX, 1976. French process opens up fresh opportunities for wool. Wool Record, March, 57-58.

KRUGER, T.J.J., 1971. Sekere aspekte van prestasiemeting by Merinoskape. Ph.D. (Landbou)proefskrif, Univ. Stellenbosch.

MENKART, J. & DETENBECK, J.C., 1957. The significance of wool fibre crimp. Part 1. A study on the worsted system. Text. Res. J. 27, 9, 665-689.

TURPIE, D. W .F., 1977. The processing characteristics of S.A. wools. Part XIV: The processing perfonnance during topmaking of wools from a range of breeds. S.A.W.T.R.I. Tech. Report. 374.

TURPIE, D.W.F. & SHILOH, MIRIAM, 1973. The processing characteristics of S.A. wools. Part V: Properties of Merino wool types varying in staple crimp. S.A.W.T .R.I. Tech. Report 189.

UYS, D.S., 1966. Merinovagwol soos in Suid-Afrika geproduseer. M.Sc. (Agric.) verhandeling, Univ. Pretoria.

VAN WYK, C .M., 1946. A study of the compressibility of wool with special reference to South African Merino wool. Onderstepoort J. Vet. Sci. 21, 1, 99-226.

VAN WYK, C.M. & VENTER, J.J., 1954. The initial resistance of crimped wool fibres to extension J. Text. Inst. 45, T809-819.

VELDSMAN, D.P. & KRITZINGER, C.C., 1960. Studies on the felting properties of South African Merino wools. J. Text. Inst. 51, TI257-1270.

VELDSMAN, D.P., 1970. Wat wolfabrikante van die S.A. wolskeersel verlang. Die Wolboer XXIII, 6, 5-7.

VENTER, J.J., STEENKAMP, CR. & EDWARDS, W.K., 1973. Invloed van proteïen- en energiepeile op wolproduksie en woleienskappe. Agroanimalia. 5, 8 39-44.

 

Published

Karoo Agric 2 (2), 13-16