Last update: August 16, 2011 01:31:50 PM E-mail Print

 

Evaluasie van kasjmierproduksie by Australiese Ferals, Boerbok-Feralkruisings en Boerbokke

 

J.C. Diedericks, M.A. Badenhorst, J.J. Olivier, A.W.D. Kotze en P.A.  Schlebusch

Landboukollege Grootfontein, Middelburg KP, 5900

 

INLEIDING

Kasjmier is die fyn onderhaar of dons wat deur die sekondêre follikels geproduseer en onder die langer buitehaar van sekere bokrasse voorkom. Die vesel heet na die landstreek Kashmir in Indië waar die eerste bekendstelling van Kasjmier en handelsbedrywighede met die Westerse Wêreld plaasgevind het. Eksklusiewe kledingstukke wat buitengewoon sag, besonder warm en uiters lig in massa is, word daarvan vervaardig. Kasjmier is van die fynste dierlike vesels (< 16 μ.) en is ongemedulleerd. Tans word aIle vesels wat deur die sekondêre follikels van enige bok geproduseer word as kasjmier beskou solank dit fyn genoeg is en aan die handelstandaarde van kasjmier voldoen. Daar bestaan dus nie 'n spesifieke Kasjmierbokras wat soölogies geklassifiseer kan word nie, maar eerder 'n verskeidenheid bokrasse wat die vermoë besit om kasjmier te produseer. Gevolglik word hierdie bokke op grond van hul kasjmierproduksie in verskillende potensiaalklasse geklassifiseer (Burns, Von Bergen & Young, 1962).

Die hoofverwerkingsindustrieë van kasjmier is in Europa geleë en hulle is totaal afhanklik van invoere van roukasjmier vanaf die hoofproduksielande, naamlik Sjina / "Inner" Mongolië, Iran / Afganistan en Indië. Hierdie lande verwerk deesdae al meer van hul eie produksie sodat daar 'n  ondervoorsiening van roukasjmier na Europa is. Sedert die laat 1970's het Westerse kasjmierverwerkers na alternatiewe bronne van roukasjmier begin soek. Dawson International, die wêreld se grootste kasjmierverwerker, het in 1980 die genetiese kasjmierpotensiaal van die wilde bokpopulasie (Feralbokke) van Australië ondersoek (Anoniem, 1987) en begin om die ontwikkeling van die kasjmierbedryf daar te stimuleer.

Couchman (1988) het waargeneem dat die Boerbok, veral in die kouer dele van Suid-Afrika, ook sekere hoeveelhede kasjmier produseer. Om die kasjmierbedryf hier te ontwikkel, is die Boerbok vir 'n soortgelyke funksie as die Australiese Feral oorweeg, naamlik om die basiese genetiese materiaal vir opgradering te voorsien. Die doel van hierdie studie was om die kasjmierproduksie van Australiese Ferals (FF) met die van die Boerbok (BB) en Boerbok-Feralkruisings (BF) te vergelyk. Die seisoenale patroon van kasjmierafsetting van genoemde kasjmier-produserende bokke is onder Suid-Afrikaanse toestande bepaal. Die veseldiktes van die geproduseerde kasjmier is ook bepaal.

 

PROEFPROSEDURES

Twintig Australiese Ferals (FF), 20 Boerbok-Feral-kruisings (BF) en 20 Boerbokke (BB) van dieselfde ouderdom en fisiologiese status is onder ingekraalde toestande by die Landboukollege Grootfontein aangehou. Die diere het 'n verpilde rantsoen (85 % lusern, 10 % mieliemeel en 5 % melasse) ad lib. ontvang.

Met die aanvang van die proefperiode (Maart 1990) is die diere gekam om aIle vesels wat natuurlik afgesit of "verhaar" is, te verwyder. Die diere is daarna 'n jaar lank tweeweekliks gekam om die kasjmierproduksie sowel as afsettingspatroon te bepaal. Die kasjmier is met behulp van 'n "Shirley Trash Separator" van die buitehaar geskei, en die kasjmierproduksie vir elke bok bepaal.

Die totale kasjmierproduksie van elke bok is vir vyf periodes verpoel, naamIik Januarie-Maart, April-Mei, Junie-Augustus, September-Oktober en November- Desember. Die rede hiervoor is dat die bokke sekere tye van die jaar baie min tot geen kasjmier produseer en die "Fibre diameter analyser" (FDA) 'n minimum van 10 g benodig vir veseldiktebepaling. 'n Verteenwoordigende kasjmiermonster vir 'n bok is vir elk van vyf verskillende periodes geneem en na die Sybokhaarraad versend vir bepaling van veseldikte met behulp van die FDA.

 

RESULTATE EN BESPREKING

Die kasjmierproduksie vir die drie rasse gedurende die vyf periodes word in Tabel 1 aangetoon.

 

Die hoogste gemiddelde kasjmierafsetting van 4,6 g/dier/week was gedurende die koue maande (Jun.-Aug.), terwyl die kasjmierafsetting gedurende die warm maande (Nov.-Des.) gemiddeld 0,5 g/dier/week was. Die resultate stem ooreen met werk wat deur McDonald & Hoey (1987) gedoen is, waarin hulle gevind het dat lae temperature en veral kort dagliglengtes 'n groot invloed op die hormonale meganismes wat verantwoordelik is vir die produksie en afsetting van kasjmier, uitoefen. Slegs gedurende die periode November-Desember het die Australiese Ferals betekenisvol meer (P < 0,05) kasjmier as die ander twee groepe afgeset.

Die gemiddelde kasjmierproduksie/bok/jaar vir die verskillende groepe het betekenisvol (P < 0,05) van mekaar verskil en was soos volg: Groep FF 96,75 ± 1,2 g, Groep BF 72,06 ± 1,1 g en Groep BB 81,36 ± 1,1 g. Die Boerbok-Feralkruisings het deurgaans die minste kasjmier afgeset, behalwe vir die periode September/Oktober toe die Boerbokke die minste kasjmier afgeset het.

Die totale kasjmierproduksie van die Boerbokke vergelyk goed met die van die ingevoerde Ferals. Hiervolgens blyk dit dus dat die Boerbok wel 'n potensiaal vir kasjmierproduksie het en dat dit deur seleksie verhoog kan word. Aangesien die Boerbok tans slegs vir vleisproduksie gebruik word, kan die ekstra inkomste uit kasjmier die winsgewendheid daarvan verhoog.

'n Seisoenale kasjmierafsettingspatroon is by al drie groepe waargeneem en word in Fig. 1 grafies voorgestel. Die kwaliteit van die vesels wat geproduseer word, is van die uiterste belang, veral omdat dit op die internasionale markte moet meeding. Die gemiddelde veseldikte vir die drie groepe word in Tabel 2 aangetoon.

Die sterkste vesels is gedurende Apri/Mei (19,08 ± 0,16µ) en die fynste vesels gedurende November-Desember (17,0 ± 0,17 µ) geproduseer. Die gemiddelde veseldikte van die kruisings was dwarsdeur die jaar die laagste terwyl die veseldikte van die Boerbokke gemiddeld 0,85µ sterker as die van die ander twee groepe was. Verandering in veseldiktes het nie dieselfde seisoenale patroon as kasjmierafsetting getoon nie (Fig 2).

 

Gedurende die periode Januarie-Maart was die veseldikte van die Boerbokke betekenisvol (P < 0,05) hoër as die van die ander twee groepe. In die daaropvolgende periode (April-Mei) was die veseldikte van die Boerbokke slegs betekenisvol (P < 0,05) hoër as die van die kruisings. Vanaf Junie tot Desember was daar geen betekenisvolle verskil in veseldikte tussen die verskillende groepe nie.

Die veseldiktes van die verskillende groepe oor die hele proefperiode het betekenisvol (P < 0,05) van mekaar verskil en was soos volg: Groep BF 17,5 ± 0,27 µ, Groep FF 17,8 ± 0,14 µ, en Groep BB 18,6 ± 0,23 µ. Die veseldiktes in al drie groepe was volgens internasionale kasjmierstandaarde (16 µ) onaanvaarbaar hoog. 'n Moontlike rede vir die hoe veseldiktes is die feit dat die diere op 'n hoë voedingspeil aangehou is. Die invloed hiervan sal verder ondersoek moet word.

 

VERWYSINGS

ANONIEM, 1987. Small beginnings spark a boom in goat industry. Western Farmer, 23 July 1987: 24.

BURNS, R.H., VON BERGEN, W. & YOUNG, S.S., 1962. Cashmere and the undercoat of domestic and wild animals. J. Textile Inst 53: T45-T68.

COUCHMAN, R C., 1988. Recognition of Cashmere Down on the South African Boer Goat. Small Ruminant Research 1 (2): 123-126.

McDONALD, BJ. & HOEY, W.A., 1987. Effect of Photo-translation on fleece  growth in cashmere goats. Aust. J. Agric. Res. 38(4): 765-773.

 

Published

Karoo Agric 4(4) : 20-22