Last update: April 10, 2012 12:14:40 PM E-mail Print

 

Klassering en Waardering van Ramme

F. J. Labuscagne

 

As die klassering van ramme in die verskillende grade of standaarde van uitmuntendheid op ons ramvendusies en/of op ons stoetplase noukeurig nagegaan word, sal gevind word dat daar heelwat ruimte vir verbetering bestaan. Dit wil voorkom asof daar nie genoeg aandag aan bestee word nie en ook asof daar 'n gebrek is aan 'n vaste standaard of leidraad waarvolgens hierdie werk uitgevoer word.

Ramme van 'n lae standaard of graad is soms in die beste klasse te vind en omgekeerd. Dit gebeur nogal dikwels dat ramme, wat op hul beste slegs onwenslike hamels kan wees, ook vir verkoop aangebied word. Onwillekeurig kom die gedagte op of dit opsetlik gedoen word of slegs die gevolg van blote onkunde is.

Ons stoetboere of ramtelers is seker almal bewus van die groot verantwoordelikheid wat op hulle rus met betrekking tot die vooruit- of agteruitgang van ons skaap- en wolnywerheid. As hulle dus toelaat dat ongekastreerde prulramme aan medeboere verkoop word, dra hulle daartoe by om agteruitgang te bewerkstellig. Sulke onwenslike ramme kan seker nie met voordeel in enige kudde gebruik word nie. Dis dus die plig van elke stoetboer, wat die belange van die nywerheid op sy hart dra en wat sy eie goeie naam, sowel as die van sy stoetery wil hooghou, om nie die teel of die verkoop van onwenslike ramme aan te moedig nie.

Met die klassering van die ramme moet die eerste oogmerk wees om alle ramme met onwenslike foute aan bouvorm en/of wol, en veral die met swak konstitusie, onwenslike plooie, kort en slegte kwaliteit wol uit te skakel. Sulke ramme behoort geknip, geslag of na een of ander van ons groot slagpale as slagvee gestuur te word. As die standaard of gehalte van die stoetery dit regverdig, kan die goedgekeurde of bruikbare ramme in twee groepe verdeel word, naamlik, kudderamme en stoetramme.

 

Kudderamme

Kudderamme wat in gewone :kuddes gebruik word vir die teel van hamels en kudde-ooie, moet nie alleen van 'n redelike gehalte wees nie maar ook van 'n tipe of soort wees wat geskik is vir hierdie doel. In hooftrekke behoort 'n kudderam glad van lyf, redelik groot en sterk gebou te wees, met 'n redelike hoeveelheid wol van goeie lengte en kwaliteit.

In die verlede is kudderamme in twee grade verdeel, naamlik spesiale of uitgesoekte kudderamme en gewone .kudderamme. Aangesien alle kudderamme vir dieselfde doel gebruik word, is daar niks om aan te voer om hierdie verdeling te regverdig nie. Kudderamme behoort slegs in grade op 'n prys- of waardebasis geklasseer te word volgens gehalte of standaard van uitmuntendheid.

Alhoewel dit haas onmoontlik is om 'n definitiewe beskrywing van elke klas te gee, word die verdeling in verskillende grade hoofsaaklik gebaseer op die hoeveelheid wol verkry deur 'n wenslike verhouding van lengte en digtheid. Grootte en simmetrie van liggaamsbou en een of ander voortreflike eienskap in wol, soos besondere lengte of uitstaande kwaliteit, of 'n goeie samevatting van die verskillende eienskappe sal deurgaans in aanmerking geneem word. Dis egter ook van belang vir die teler of verkoper, sowel as vir die gebruiker of koper, om naas die gradering en waardering van ramme, beoordeel volgens uiterlike hoedanighede, ook rekening te hou met die uitgangspunt dat daar 'n gesonde verhouding behoort te wees tussen die waarde of prys van die ram en die doel waarvoor, en die klas van ooi waarby, dit gebruik kan word. In die geval van kudderamme moet die prysbasis dus in verhouding wees met die van kuddeskape. Laasgenoemde se pryse varieer normalerwys gewoonlik tussen ongeveer £1 en £2 elk. As in ag geneem word dat die prys van goeie kuddeskape, by uitsondering 'n gemiddelde van ongeveer £1. 5s. elk oortref en dat hul wolproduksie op 12 maande onder veldtoestande selde hoër as gemiddeld 8 of 10 pond per skaap sal wees, moet die vraag gestel word of dit, vanuit 'n finansiële oogpunt beskou, winsgewend sal wees om meer as £15 elk vir kudderamme te betaal. 'n Redelike prysbasis vir kudderamme wat dus aanbeveel word, is van £3 tot £15 elk, na gelang van die gehalte van die skaap.

Dikwels word verneem dat boere ramme vir hamelteeltdoeleindes aankoop teen tussen £30 en £40 elk. Dit kan sekerlik nie ekonomies voordelig wees as die waarde van kuddeskape, teen bogenoemde pryse, daarteenoor gereken word nie, veral nog as ander faktore soos onvrugbaarheid en sterfteverliese in aanmerking geneem word.

In die praktyk word ook waargeneem dat die wolproduksie van kuddeskape onder veldtoestande in verskillende dele van ons land taamlik konstant bly op die gemiddelde opbrings per skaap vir die besondere deel. Die gebruik van ramme, wat heelwat meer produseer as wat van kudderamme verwag word, en dan nog teen onekonomies hoë pryse aangekoop word, kan meesal nie geregverdig word nie omdat die mate van verbetering te klein is in verhouding met die kapitaalbelegging. Kudderamme met 'n wolproduksie van tussen ongeveer 15 en 20 lb. kan onder natuurlike omstandighede as geskik beskou word vir sodanige gewig as wat gemiddeld op kuddeskape, onder gewone veldtoestande, gesit kan word.

 

Stoetramme

Stoetskape behoort van so 'n hoë standaard van uitmuntendheid te wees dat hul manlike afstammelinge vir teeltdoeleindes gebruik kan word, mits hulle natuurlik nie een of ander onwenslike fout het nie. Wenslike eienskappe van bouvorm, soos konstitusie, grootte, simmetrie, ens., en van wol, soos lengte, kwaliteit, stapelformasie, digtheid, ens., behoort dus in 'n hoë mate by stoetskape aanwesig te wees.

Alhoewel stoetramme in die algemeen vir dieselfde doel gebruik word, word nogtans aanbeveel dat hulle nie net op 'n prysbasis nie, maar in twee afdelings of groepe geklasseer word, naamlik "gewone" en “spesiale" stoetramme.

Redes vir die regverdiging van hierdie verdeling is te vind in die metode van stoetteling wat aanbeveel word en wat naasteby ooreenkom met 'n stelsel soos waargeneem op 'n paar van die groot stoeterye in Australië.

Die stoeterye bestaan hoofsaaklik uit twee dele, naamlik 'n "gewone" algemene en ‘n "spesiale" of topstoet.

Die " gewone'" stoet word aangelê vir die teel van kudderamme. Alhoewel die stoetramme en -ooie in hierdie stoet van 'n hoër standaard is as kuddeskape, veral met betrekking tot wolproduksie, is daar egter geen merkbare verskil in tipe nie. Die ooie word geklas om hulle in alle opsigte so egalig moontlik te kry, en 'n egalige stel "gewone" stoetramme, wat by hulle pas, word gebruik. Individuele paring word nie as noodsaaklik beskou nie.

Hierdie "gewone" 'stoetramme se prysbasis behoort dus in 'n gesonde. verhouding te wees met die waarde van die merendeel van hul afstammelinge, naamlik gewone stoetooie en kudderamme, en 'n prysbasis van tussen £25 en £75 word aanbeveel. Klassering in tussengrade, met verskillende pryse, kan op meriete uitgevoer word soos vir kudderamme beskryf.

Die spesiale of " top ":stoet bestaan uit ooie van dieselfde tipe as die gewone stoet maar oor die algemeen besit hulle die beste samevatting van bouvorm en woleienskappe, en is daarby die hoogste wolproduseerders.

Die maatstaf vir wolproduksie per skaap word bepaal deur die digtheid van die vag, die lengte van die wol, en die grootte van die veloppervlakte, en nie deur digtheid alleen nie. Oordrewe wolproduksie, hoofsaaklik toe te skryf aan oortollige digtheid, is gewoonlik buite verhouding tot die peil van die weidingstoestande waaronder stoetskape gehou word, en kan dus slegs onder "stal "-toestande behoorlik gehandhaaf word.

lndividuele paring word meesal toegepas om sodoende 'n stamboomregister van elke ram en ooi te hou, veral met die -doel om seleksie en teling vir bestendiging van wenslike eienskappe en/of bloedlyne te vergemaklik, In gevalle waar meer as een ram met dieselfde groep ooie gepaar word en handdekking of individuele paring nie toegepas word nie, sal dit egter raadsaam wees dat sulke ramme, indien moontlik, naverwant is of van dieselfde bloedlyn afstam, sodat variasie as gevolg van vreemde bloedlyne van die vaars grootliks uitgeskakel kan word.

Aangesien gewone en spesiale stoetramme en ooie uitsluitlik uit hierdie stoot geteel word, is dit noodsaaklik om van die beste beskikbare spesiale stoetramme te gebruik soos die benaming dan ook aandui, is spesiale stoetramme van 'n hoër standaard van uitmuntendheid as die ander grade of klasse van ramme. Om nou vir spesiale stoetramme 'n redelike prysbasis vas te stel wat in verhouding tot hul eie waarde en die van gewone stoetramme sal wees, en ook rekening sal hou met die aansienlike persentasie laegraadramme en –ooie wat gewoonlik ook hul verskyning in so 'n stoet maak, word pryse tussen £100 en £200 en 'n onderverdeling in grade volgens waarde aanbeveel.

Die klassering in die verskillende grade sal as gevolg van die hoër standaard op meer en fyner besonderhede gebaseer wees as in die geval van kudde- of selfs gewone stoetramme. Hoe hoër die standaard van die ramme, des te meer word die uitstaande eienskappe op prys gestel en daarom word die groter perke in die prysbasis aanbeveel.

Daar is natuurlik die moontlikheid dat enkele uitstaande ramme, veral uit die spesiale stoet, kan voorkom. Sulke ramme kan dan teen spesiale pryse volgens meriete gewaardeer word. Eweneens word die laer-graadramme uit die spesiale stoet in die klasse geklasseer waar hulle pas.

Die gemiddelde prysbasis van ongeveer £10, £50 en £150 vir onderskeidelik kudderamme, gewone stoetramme en spesiale stoetramme behoort as billik beskou te word as die doel waarvoor elke klas van ram gebruik word, in ag geneem word.

Behalwe in enkele uitsonderlike gevalle skyn daar werklik geen rede te wees vir hoër maksimumpryse as wat aanbeveel word nie.

Ons stoet- en kuddeboere moet nie die gedugte mededinging van ander rasse van skape, kruisgeteelde skape en kunswol waarmee die merinoskaapbedryf te kampe het, uit die oog verloor nie. Dit is dus in hul eie belang om nie buitensporige pryse vir ramme te vra of te betaal nie, daar sulke pryse deels verantwoordelik is vir die onoordeelkundige kruisteling van merino's met sekere vleisrasse, asook vir oorkapitalisasie van ons kuddes, waardeur die mededinging van wol met betrekking tot produksiekoste bemoeilik word.

As voorafgaande wenke en die voorgestelde prysbasisse met betrekking tot elke groep in aanmerking geneem word, behoort dit nie alleen as leidraad te dien vir die klassering en waardering van ramme nie, maar ook mee te help om die verbetering en/of instandhouding van die gehalte van ons kuddes op 'n meer ekonomiese basis te laat plaasvind en gevolglik die produksiekoste van wol tot 'n mate te verminder.

Meeste boere besef vandag die noodsaaklikheid en waarde van standaardisasie in ons wolbedryf en sal ongetwyfeld die toepassing daarvan, vir sover dit prakties moontlik uitvoerbaar is., in ons ramteeltbedryf verwelkom. Die heelhartige ondersteuning van ons stoet- en kuddeboere sal egter nodig wees om so 'n skema met sukses deur te voer.

Daar behoort nietemin 'n ernstige poging aangewend te word om 'n sekere mate van eenvormigheid te verkry in die. klassering in grade en waardering van ramme, nie alleen in die voorgestelde drie hoofgroepe of grade, naamlik spesiale stoet-, gewone stoet- en kudderamme nie, maar ook in die onderverdeling van elke groep in tussengrade.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 19