Last update: April 10, 2012 08:58:31 AM E-mail Print

 

Klassifikasie van Merinoskape Volgens Plooi-ontwikkeling.

Onderlinge Verband Tussen Plooie op die Verskillende Liggaamsdele.

S. W. Bosman

 

BY Merinoskape word die term " tipe" hoofsaaklik gebruik om plooi-ontwikkeling aan te dui. Byvoorbeeld, die algemene verdeling "oorontwikkelde-, gladdelyf- en gladde tipe" word gemaak om Merinoskape te klassifiseer volgens die graad en mate van aanwesigheid van plooie. Hierdie verdeling is egter baie arbitrêr, en waar plooi-ontwikkeling dikwels 'n strydvraag is in Merinoteling, gee dit nie altyd volkome tevredenheid nie. Dit kan byvoorbeeld gebeur dat een persoon 'n skaap as 'n "gladdelyf" sal beskrywe, terwyl 'n ander alreeds so teen plooie diskrimineer dat hy hom as 'n " oorontwikkelde " tipe bestempel. So 'n toestand lei dikwels tot 'n dispuut op tentoonstellings, en klaarblyklik kan dit nie meewerk om eenvormigheid van teelbeleid in die bedryf in die hand te werk nie.

Vir die wetenskaplike studie van plooie was daar ook nog altyd 'n gebrek aan 'n stelsel van plooibeskrywing. In hierdie verband maak Carter (1943) die opmerking dat tot hiertoe daar nog maar baie min beskrywings verskyn het oor klassifikasie, gradering of verskille in velvoue en -plooie, terwyl daar oor die topografiese anatomie van velplooie nog geen sistematiese beskrywing verskyn het nie.

Carter gee dan 'n metode van puntetoekenning aan die hand vir plooie op die drie liggaamsdele, nl., nek, lyf en mik. wat elkeen, afsonderlik in nege klasse verdeel kan word volgens die mate van plooi-ontwikkeling.

'n Metode van beskrywing van plooie volgens grootte en hoeveelheid is deur Jones en medewerkers (1946) opgestel. Die metode maak voorsiening daarvoor dat die posisie van plooie aangedui word op 'n buitelyntekening van die vooraansig en syaansig van 'n skaap en dan word punte toegeken volgens 'n vooropgestelde skaal sodat die mate van plooi-ontwikkeling deur middel van 'n syfer uitgedruk kan word.

 

Metode van Puntetoekenning en Klassifikasie

Hierdie artikel gee 'n uiteensetting van 'n metode van puntetoekenning en klassifikasie van Merinoskape volgens die mate en graad van teenwoordigheid van plooie. Dit is ontwerp deur wyle D. J. Engela, in lewe skaap- en wolnavorsingsbeampte aan die Grootfontein Landboukollege. Hierdie metode word eerstens in sy breedvoerige vorm gegee, soos dit gebruik word in 'n studie van oorerwing van plooie en die invloed daarvan op wolproduksie asook die voorkoms van plooie in die mik wat die skaap vatbaar maak vir brommeraanvalle. Tweedens word die onderlinge verband tussen plooie op die verskillende liggaamsdele van die skaap ontleed en, derdens word, volgens die resultate in die proewe behaal, 'n klassifikasie van Merinoskape volgens plooiontwikkeling uiteengesit. Dit toon 'n verdeling in ses klasse wat opvallend onderling van mekaar verskil.

 

Eksperimentele Gebruik

Aangesien wolgroei die aanwesigheid en grootte van plooie bedek, word die skaap vir plooie beoordeel en punte daarvoor toegeken onmiddellik na die wol afgeskeer is. Die volgende prosedure word gevolg:-

 

(i) Die skaap word in die volgende drie dele verdeel:-

(a) Die Front, of Nek.

(b) Die Lyf.

(c) Die Mik.

 

(ii) Deur middel van simbole word die hoeveelheid en grootte van die plooie, wat in elk van die drie dele voorkom, aangedui in die lyn-simboolmetode van beskrywing.

 

(iii) Punte word toegeken vir die teenwoordigheid van plooie volgens tabelle 1, 2 en 3. Die beginsel is om eerstens 'n skatting te gee van die persentasie van die veloppervlakte wat deur plooie in beslag geneem word, maar aangesien skattings dit nie moontlik maak om klein verskille altyd ewe konsekwent vas te stel nie word die plooibedekte oppervlakte slegs tot die naaste 25 persent geskat.

 

Tweedens word die plooie, volgens grootte, in drie grade verdeel, nl. klein plooitjies, groot plooie en baie groot plooie.

 

Die Front

Die aanduiding van, en die puntetoekenning vir plooie op die front geskied soos in tabel 1 uiteengesit.

 

 

Die Lyf

Die aanduiding van en die puntetoekenning vir plooie op die lyf geskied soos in tabel 2 uiteengesit.

 

 

Die lyf word behandel in die onderafdelings: voorkwart (blad); sy (rib); flank, en agterkwart (boud). Die gemiddelde punte vir hierdie vier plekke gee dan die syfer vir plooie op die lyf.

 

Die Mik

Plooie in die mik is veral van belang omdat die skaap se vatbaarheid vir brommeraanvalle daardeur beïnvloed word. Van belang in hierdie verband, is die aanwesigheid van plooie in die gevaarlikste deel van die mik, dit wil sê, die deel onmiddellik rondom die uitskeidingsorgane, bekend as sone 1. Die gedeelte buite sone 1 is dan bekend as sone 2. Die puntetoekenning vir die aantal en grootte van plooie in die mik verskil egter van puntetoekenning vir plooie op die res van die skaap in die opsig dat punte gegee word namate die vatbaarheid van die skaap vir brommeraanvalle deur die mikplooie verhoog word. Dit het die uitwerking dat 'n hoër puntetoekenning vir klein mikplooie gemaak word in verhouding tot soortgelyke plooie op die lyf en front van die skaap.

Verder word onderskeid gemaak of die plooie klein of groot is, of hulle afsonderlik in sone 1 en sone 2 voorkom en of hulle aaneenlopend deur sone 1 en sone 2 voorkom en ten laaste of daarbenewens ook groot lyfplooie in sone 2 voorkom.

'n Uiteensetting van die puntetoekenning vir Plooie in die mik word in tabel3 aangegee.

 

 

Aan die heel gladde mik word dus 0 punte toegeken en aan die hoogs moontlik ontwikkelde mik word 20 punte toegeken.

 

Merino-tipe

Van voorgaande kan dus gesien word dat as al die punte wat toegeken is vir plooie aan die front, lyf en mik bymekaar getel word, dan kry die geheel gladde skaap, wat hoegenaamd geen plooi het nie, 0 punte, terwyl die skaap wat tot die uiterste ontwikkel is oor die verskillende liggaamsdele, 60 punte sal kry. Die som van die punte is dan die syfer wat die Merino-tipe weergee. As die tipe Merino deur 'n syfer aangedui word, is dit moontlik om die invloed van plooie op al die verskillende wolproduksie-eienskappe van die skaap te bestudeer. Verder kan die invloed van plooie in die mik op die brommerbestandheid van die skaap ontleed word en ook kan die oorerwing van plooie bestudeer word.

In teenstelling met die woordelike beskrywing van die Merino-tipe het ons dus nou 'n syfer wat statistiese ontledings moontlik maak.

Korrelasie Tussen Plooie op die Verskillende Liggaamsdele.

Plooie op die Merinoskaap word enersyds deur baie boere beskou as 'n noodsaaklike vereiste om die hoeveelheid wol in stand te hou. Aan die ander kant is daar boere wat van mening is dat die hoeveelheid wol op 'n skaap wel op 'n ekonomiese peil gehou kan word sonder die hulp van plooie. Tot watter mate die hoeveelheid wol op die skaap gehandhaaf kan word sonder die aanwesigheid van plooie, vorm die onderwerp van 'n uitgebreide teelproef wat tans aan die Grootfontein Landboukollege uitgevoer word.

Dit is egter 'n algemeen erkende feit dat. plooie geassosieer word met sekere ongewenste eienskappe soos byvoorbeeld onegaligheid van veseldikte in die vag, en verder is proefondervindelik in Australië (TiIlyard & Seddon, 1933) en plaaslik (Bonsma en de Vries, 1943) bewys dat plooie in die mik een van die vernaamste faktore is wat bydra tot die vatbaarheid van die skaap vir brommeraanvaIle.

Ingeval plooie as 'n noodsaaklike hulpmiddel beskou word om die hoeveelheid wol op die skaap te handhaaf dan ontstaan die vraag in watter mate dit moontlik is om die mik vry of relatief vry van plooie te hou?

Ten einde hierdie vraag te beantwoord, is uitgewerk wat die korrelasies is tussen die aanwesigheid van plooie op die verskillende liggaamsdele van 1,149 skape wat op bostaande metode beskrywe is. Indien daar sekere korrelasies bestaan, dan kan byvoorbeeld die plooie aan die nek (wat meer prominent is as die plooie op die res van die liggaam, selfs wanneer die skaap in vol vag is) gebruik word as maatstaf van plooie op die ander liggaamsdele.

'n Opsomming van die statistiese ontleding volg in onderstaande tabel:

 

 

Uit bostaande tabel blyk dat-

(1) die plooie aan die lyf positief gekorreleer is met plooie aan die front;

(2) die plooie in die mik positief gekorreleer is met plooie aan die front;

(3) die plooie in die mik positief gekorreleer is met plooie Aan die lyf.

 

Bostaande gevolgtrekkings, naamlik die verband tussen plooie op die verskillende liggaamsdele van die Merino stem ooreen met die bevindings van Jones en medewerkers (1946) met die Rambouillet.

Dit blyk dus dat daar 'n noue onderlinge korrelasie bestaan tussen plooie op die verskillende liggaamsdele, en dui ook daarop dat die oorerflike faktore, wat plooie op die verskillende liggaamsdele bepaal, gekoppel is, maar daar is geen afdoende bewys daarvoor nie.

Aan die ander kant bestaan die moontlikheid dat die faktore wat verantwoordelik is vir plooie nie 'n sonale effek het nie, maar wet 'n globale effek, met die uitwerking dat die distribusie van plooie op die lyf van die skaap toevallig is. Dit is ook opvallend dat die frontplooie altyd groter is as die plooie op die res van die liggaam.

Met die huidige kennis tot ons beskikking kan 'n gladde mik, gepaard met 'n relatiewe swaar plooi-ontwikkeling oor die res van die liggaam, byvoorbeeld voorkom as 'n phenotipiese afwyking of as 'n genotipiese verskynsel met oorkruising van die genes op die chromosome. In eersgenoemde geval sal sulke skape nie daardie eienskap aan die nageslag oordra nie. In laasgenoemde geval bestaan die moontlikheid om sulke genetiese materiaal met voordeel in 'n teelprogram te gebruik.

Navorsing is dus nodig om te bepaal of die distribusie van plooie toevallig is of andersins, en of dit bepaal word deur gekoppelde erflikheidsfaktore. In laasgenoemde geval sal dit ook nodig wees om te bepaal tot watter mate oorkruisings plaasvind en of dit tot so 'n mate voorkom dat dit vir die praktiese teler van belang is.

In die algemeen word telers, in die lig van die huidige kennis tot ons beskikking, aangeraai om streng aandag te gee aan die mik en sover prakties moet voorkeur gegee word aan die skaap met die relatiewe gladde mik, wat meer bestand is teen brommeraanvalle.

 

Klassifisering van Merinoskape in Tipes

Die metode van puntetoekenning vir plooie kan deur die navorser gebruik word om die tipe volgens plooi-ontwikkeling numeries uit te druk. Volgens die punte toegeken, kan Merinoskape dan in verskillende groepe van tipes verdeel word vir vergelykende studies.

In die bygaande illustrasie volg so 'n verdeling in ses tipes wat opvallend van mekaar verskil. Die skaap word eers in vol vag vertoon, dan afgeskeer, dan volg die simboolbeskrywing op die skaapfiguur, dan die puntetoekenning en daarna volg die indeling in klasse met die beskrywing van die plooi-vertoning van die skaap. Hierdie reeks foto’s dien verder om die korrelasie tussen plooie op die verskillende liggaamsdele te illustreer.

Opmerklik is ook die feit dat plooie aan die front meer opvallend is as plooie op die res van die liggaam, veral wanneer die skaap in vol vag is. Om hierdie rede en ook omrede die korrelasie tussen plooie aan die front en plooie op die res van die liggaam, kan die plooie aan die front as maatstaf gebruik word om Merinoskape in verskillende tipe groepe volgens plooie te verdeel.

In bogenoemde indeling word die voorkoms van plooie op die res van die liggaam ook aangehaal, hoewel hulle nie altyd sigbaar is wanneer die skaap in vol vag is nie.

In die praktyk kan die beoordelaar, wanneer hy Merinoskape in verskillende klasgroepe of tipe-groepe moet verdeel, gebruik maak van die feit dat daar 'n korrelasie bestaan tussen plooie aan die front en op die res van die liggaam.

Dit moet egter nie uit die oog verloor word nie dat daar wel afwykings voorkom tussen die korrelasies van plooie op die verskillende liggaamsdele, en die beoordelaar sal dan geregtig wees om 'n skaap in 'n hoër of laer tipe te plaas as wat deur die frontplooie aangedui word.

Op tentoonstellings en op vendusies het die beoordelaar in die praktyk gewoonlik te doen met 'n skaap in vol vag en dan kan die plooie nie goed waargeneem word nie. Selfs wanneer die skaap afgeskeer is, sou dit heelwat tyd in beslag neem om in die fyner besonderhede punte toe te ken vir plooie. Die plooie aan die front kan dus met 'n groot mate van vertroue deur die beoordelaar gebruik word om die tipe volgens plooi-ontwikkeling vas te stel.

 

OPSOMMING

1. 'n Metode van puntetoekenning vir velplooie op Merinoskape word uiteengesit.

2. Die puntetoekenning vir velplooie kan gebruik word vir:-

(i) Bepaling van korrelasies tussen aanwesigheid van plooie op die verskillende liggaamsdele.

(ii) Bepaling van die oorerwing van velplooie wat betref die manier van oorerwing. veral met betrekking tot hoeveelheid en posisie.

(iii) Die invloed van ouderdom geslag en voeding op grootte van plooie.

(iv) Die relatiewe belangrikheid van die posisie en grootte van plooie in die mik met betrekking tot vatbaarheid vir brommeraanvalle.

3. Volgens die puntetoekenning vir plooie kan Merinoskape in verskillende tipes of klasse ingedeel word. Op grond van die korrelasies tussen plooie op die verskillende liggaamsdele word aanbeveel dat Merinoskape in vol vag vir praktiese doeleindes volgens frontplooie in die nodige klasse verdeel word.

 

LITERATUUR

CARTER, H.B. (1943).-Studies in the Biology of the Skin and Fleece of Sheep. Commonwealth of Australia. Council for Sc. and Ind. Res. Pamflet No. 164.

JONES, J.M., WARWICK B.L., PHILLIPS R.W. SPENCER D.A., GODBEY C.B., PATTERSON R.E. en DAMERON W.H. (1946). Inheritance of Skin Folds in Sheep. Journal of Animal Science Vol. 5 No.2, Mei 1946.

TILLYARD R.J. en SEDDON H.R. (1933). The sheep Blowfly Problem in Australia. Report No.1 by the Joint Blowfly Committee. Council for Sc. and Ind. Res. (Australia) Pamflet No. 37.

BONSMA H.C. en DE VRIES A.H. (1943).1 Skaapbrommer.-bestryding 2. Seleksie en Teling vir minder-vatbare Merino-tipes, Boerdery in S.A.-Augustus 1943.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 28