Last update: August 15, 2011 10:23:13 AM E-mail Print

 

Kleinveeproduksiestelsels in ' n "veranderende" omgewing

JJ Olivier

 

"Hoewel die boer deesdae blootgestel is aan meer risiko's, bied dit nogtans groot geleenthede vir die boer met inisiatief," het dr. Buks Olivier, hoof van Diereproduksie by die Grootfontein Landbou-ontwikkellingsinstituut tydens die Carnarvon Boeredag gesê.

Die omgewing waarin die boer 'n bestaan moet maak, is voortdurend onderhewig aan verandering. Boerdery kan vergelyk word met 'n spel waarvan die reëls verander het. Die reëls van vroeër is nie meer van toepassing nie en daarom moet die boer hom aanpas by 'n veranderende omgewing. Hierdie wisselvalligheid in die omgewing bring ook groter risiko's mee wat in die verlede deur subsidies, beheerde bemarking, ensovoorts versag is.

Die omgewing verander dikwels oornag, terwyl dit dikwels langer neem om daarby aan te pas. Die verandering van wolskaapboerdery na vleisskaapboerdery moet byvoorbeeld goed oorweeg word. Dit gebeur meesal dat die boer in so 'n geval sy skape goedkoop verkoop en ander teen hoë pryse moet aankoop.

Dit is belangrik dat boere vir swak jare moet beplan, goeie jare sorg vir hulself. Langtermynbeplanning is noodsaaklik, maar die boer moet ook met korttermynbesluite sekere aanpassings kan maak.

Twee produksiestelsels kan oorweeg word. Die een stelsel moet die hoofproduksiestelsel wees wat op die medium- tot langtermynprystendense ingestel is. Hierdie produksiestelsel moet nie deur korttermynprysfluktuasies geraak word nie. 'n Tweede produksiestelsel moet vloeibaar wees om vinnig by prysveranderinge en droogtes aan te pas.

Die diere waarmee daar in die hoofproduksiestelsel geboer word, moet by die omgewing en die potensiaal van die omgewing aangepas wees. In suboptimale toestande geld die beginsel dat maksimum produksie nie noodwendig lei tot maksimum inkomste nie. Dit was byvoorbeeld gedurende Augustus 1992 tot Januarie 1993 baie droog op Carnarvon en die voerkoste per ooi het by afrino's R53,00 teenoor R40,00 by dorpers beloop. Dit was nie nodig om die namakwa afrikaners gedurende die tydperk te voer nie.

As die massa lammers wat gespeen is as inkomste gereken word en die voerkoste verhaal word, was die "wins" per ooi vir afrino's R58,44, vir dorpers R65,84 en vir namakwa afrikaners R93,24.

Hierdie resultate beklemtoon die belangrikheid van geharde inheemse rasse. Tydens gunstige jare of in gunstige omgewings sal die produksie van die rasse nie so goed wees soos die van die meer gevestigde rasse nie. Indien droogtes egter gereeld voorkom, kan inheemse rasse met vrug in 'n kruisteeltstelsel gebruik word vanweë hulle gehardheid en moedereienskappe. Betroubare produksienorme vir hierdie rasse is egter noodsaaklik vir akkurate beplanning.

Om te verseker dat diere aangepas is, moet teeldiere uit die omgewing waar daar geboer word geselekteer word. Daar is heelwat eksperimentele bewyse dat die produksieprestasie van 'n dier in 'n spesifieke omgewing nie noodwendig dieselfde in 'n ander omgewing sal wees nie. Dit blyk dat die produksie van aangepaste diere hoer is as die van diere wat nie aangepas is nie, bloot omdat hulle minder stres ervaar en gevolglik 'n groter voerinname het.

Een van die groot probleme is dat kuddeboere egter die stelsel wat hulle kritiseer, ondersteun, aangesien hulle steeds gevoerde ramme bo ram me wat op veld geloop het, verkies. Dit bring mee dat stoetboere diere beskikbaar stel na gelang van wat die kuddeboere bereid is om te betaal en nie noodwendig die bes aangepaste diere nie.

Hoewel die boer nie radikale veranderinge in sy bestuur moet aanbring as gevolg van korttermynprysneigings nie, kan die neigings tog benut word deur byvoorbeeld kruisteling en hamelboerdery.

Kruisteling moet versigtig aangepak word, aangesien dit lank neem om die ooigetalle weer op getal te kry. Dit neem byvoorbeeld 6 tot 7 jaar om ooigetalle weer vol te teel indien al die ooie net vir 1 jaar met basterramme gekruis word.

Verskeie proewe is deur die jare gedoen waarin merino-ooie met ramme van verskillende rasse gekruis is. Die slagouderdom van die kruislammers was tussen 10 en 20 % vroeër as die van die merinolammers. Uit die proewe was dit egter duidelik dat die verskille tussen ramme in dieselfde ras groter was as die verskille tussen rasse. Indien daar met rasse wat kemp en gekleurde vesel bevat, gekruis word, moet die risiko van besoedeling aanvaar word. Australiese navorsing dui daarop dat die aanvaarbare vlakke van besoedeling oorskry word wanneer 2 % gekleurde diere saam met merino's aangehou word.

Na gelang van die wol- en vleispryse bied hamelboerdery ook 'n ideale geleentheid om plooibaarheid in die boerdery in te bring. Die gehalte en aankooppryse van hamels is egter deurslaggewend.

'n Groter risiko is altyd vir die boer 'n werklikheid. Dit is tot voordeel van die boer om met aangepaste diere te boer. Dit is egter moeilik om reëls neer te Iê, aangesien 'n spesifieke stelsel vir sekere omstandighede, plase of boere geld. Verskeie alternatiewe kan oorweeg word. Die nodige hulpmiddels is beskikbaar en reëlings kan met voorligtingsbeamptes getref word.

Innoverende denke kan oorlewing van die boer verseker in 'n veranderende omgewing waar dit al moeiliker is om kop bo water te hou.

 

Published

Karoo streeknuusbrief 1