Last update: April 10, 2012 01:59:03 PM E-mail Print

 

Trekperde

I. Kleur en Eienskappe.

Dr. L. L. Roux en H. J. van der Merwe

 

TEN spyte van die  motorisering van byna alle moderne vervoermiddels het goeie trekperde tog nie al hulle nut en aantreklikheid verloor nie.

Hoewel voertuie deur perde getrek die swaar stedelike verkeer belemmer, kan tog baie gebruik van trekperde gemaak word in kleiner dorpies waar sulke Vervoer meer ekonomies is omdat die trekke kort is en dikwels stilgehou moet word. Trekperde kan egter die grootste diens op plase lewer en veral op klein plasies waar hulle baie nuttig sal wees in gemengde boerderystelsels.

In hierdie artikel word klem gelê op die bruikbaarheid van goeie perde. Daar word aanbeveel dat minder perde aangehou word om sodoende te verseker dat op die teel van diere van hoë gehalte gekonsentreer kan word. Verder word boere sterk aangeraai om perde slegs in die streke wat die geskikste daarvoor is, te teel.

Oor die hele wêreld en by perdeteelt miskien meer as in enige ander sfeer van veeteelt, is die werk van die kenner of oppasser miskien meer as enige ander enkele faktor verantwoordelik vir die doeltreffendheid en sukses van die boerdery, Daarom is persoonlike sorg en toesig noodsaaklik. Hierdie punt is uiters belangrik, veral in hierdie land waar, vanweë omstandighede eie aan die Unie, verreweg die meeste bestuurders en veeboere 'n ontoereikende kennis van die fundamentele punte van 'n trekperd besit. 'n Paar gegewens van praktiese waarde word dus hier verstrek en die verwagting dat dit van nut sal wees vir sowel die student en die oningewyde as die ervare perdekenner.

 

Punte van die Perd

Die punte van 'n perd word in fig. 1. gegee en moet sorgvuldig bestudeer word aangesien dikwels in hierdie artikel daarna verwys word.

 

 

Kleurname met Beskrywings

Onderstaande benamings en beskrywings wat op alle perderasse van toepassing is, is verskaf deur Dr. J. Quinlan, Assistent-direkteur van Veeartsenydiens, Onderstepoort, en is goedgekeur deur die Universiteit van .Pretoria se fakulteit van Veeartsenykunde.

Die benaming eenkleurig of effekleurig word gebruik wanneer die perd se kleur oor sy hele lyf dieselfde is, d. w.s. as daar geen hare van 'n ander kleur aan die lyf, kop of bene is nie soos bv., in die geval van die voshare van die Suffolk.

  1. Swart.-Swart pigment of kleurstof is algemeen oor die hare van die lyf, en bene en in die maanhare en stert met geen patroon nie behalwe wit merke.

  2. Swartbruin.-Die heersende kleur is swart met 'n bruin neus en soms bruin fIanke.

  3. Donkerbruin.-Dit is 'n mengsel van swart en sjokoladebruin pigment sonder geel in die hare van die lyf en met swart bene, maanhare en stert.

  4. Bruin.-Daar bestaan 'n groot verskeidenheid van bruin kleure wat afwissel van dowwe rooibruin tot 'n gelerige vosbruin. 'n Bruin perd het swart maanhare en stert en, sonder uitsondering swart op die bene. Die. volgende wisselkleure van bruin word gevind: donkerbruin, ligbruin, en mielie-bruin.

  5. Vos.-Dit is 'n eenkleurige kleur waarvan daar die erkende skakerings is, nl., Vos: dit sluit in sowel helder- en goudkleurige as rooivos.,Donkervos: dit sluit lewer- en mahoniekleurige vos in. Ligte vos: ligvos.

  6. Blou.:-Die lyf se swart vel is bedek met 'n wisselende mosaïek van swart en wit hare. Daar is baie skakerings van blou. Namate die perd ouer word, word die hare altyd ligter.

  7. Vaalblou.- Die kleur van die lyf is 'n vaalswart eweredig versprei (dit gee 'n blou effek) met of sonder 'n swart streep. op die rug en skof langs. Die vel is swart en die maanhare en stert altyd swart.

  8. Geel.-Daar is 'n verspreide geel pigment in die hare, met of sonder 'n swart streep op die rug en skof langs of strepe om die bene. Die strepe is gekorreleer met strepe om die kop en bene. As daar geen strepe is nie, is die bene se kleur naastenby dieselfde as die lyf. Die vel is swart.

  9. Liggeel.-Die hare van die lyf is roomkleurig terwyl die vel sonder pigment is. Die reënboogvlies van die oog het min pigment en kan selfs daarsonder wees sodat die oog 'n ligrooi kleur skyn te hê. 

  10. Skimmel.-Skimmelperde word onderskei deur die grondkleure, liggaamskleure wat almal permanent is.   Blouskimmel: Die kleur van die lyf is swart of swartbruin met wit hare daartussen wat die vel dan 'n blouagtige skynsel gee. Van die knieë af ondertoe is die bene swart. Bruin of rooiskimmel: Die kleur van die lyf is bruin of donkerbruin met wit hare daartussen wat die vel dan 'n rooiagtige skynsel gee. Van die knieë af ondertoe is die bene swart. Vosskimmel: die kleur van die lyf is vos met wit hare daartussen. Die bene is nie swart nie.

  11. Swartbont -Die hare van die lyf kom in groot onreëlmatige swart en wit kolle voor. Die skeidingslyn tussen die twee kleure is gewoonlik skerp.

  12. Rooibont.-Die hare van die lyf kom in groot onreëlmatige vlekke van wit en enige ander bepaalde kleur behalwe swart voor. Die skeidingslyn tussen die twee kleure is gewoonlik skerp.

  13. Bont.-Die haarbedekking bestaan uit 'n mengsel van hare van meer as twee kleure. Langs die rande van die onreëlmatige vlekke is die kleure geneig om deurmekaar te loop wat dit onmoontlik maak om dit onder swartbont of rooibont in te deel.

 

Eienskappe van 'n Trekperd

'n Trekperd moet sterk gebou wees om sy werk doeltreffend te kan verrig. Volgroeide trekperde in goeie kondisie weeg gewoonlik tussen 1,600 lb. en 2,000 lb. Die ideale trekperd is breed, dik, taamlik laag op sy pote, simmetries dwarsdeur en goed gespierd en toon goeie gehalte, goeie styl en netjiese aksie.

Die temperament van die trekhings is vurig en manlik en hy behoort aktief en lewendig maar nie senuweeagtig en prikkelbaar te wees nie. Merries is minder aktief en hulle temperament wissel baie af.

Die perd se kop gee 'n aanduiding van eienskappe soos krag, karakter en intelligensie. Die grootte van die kop moet in verhouding wees tot die grootte van die lyf. Die oë moet groot en helder wees en die ore middelmatig lank.

Die nek moet van middelslag lengte wees en netjies in die blaaie loop. 'n Perd wat vas op sy pote is, hou sy kop gewoonlik taamlik hoog.

Goeie blaaie is noodsaaklik. Diep gespierde blaaie wat met 'n hoek van 45 grade aan die lyf sit, gaan gepaard met 'n vry gedetermineerde gang. Reguit blaaie is onwenslik daar hulle 'n aanduiding is van minder krag en dikwels beseer word deur die borsstuk van die tuig omdat dit moeilik is om laasgenoemde te laat pas. Reguit blaaie gaan dikwels gepaard met kort, reguit kote wat nie dieselfde hoeveelheid werk as skuins kote kan verrig nie as gevolg van die harder skok op harde paaie wat weer beskadiging van die been en senings. van die pote en bene ten gevolge het. Perde met reguit blaaie is gewoonlik geneig om te struikel.

In 'n perd met goeie blaaie en 'n vol, diep bors tref 'n mens gewoonlik die wenslike spasiëring van die voorbene aan.

Trekperde met diep goed-geronde ribbes het gewoonlik 'n ruim romp, 'n sterk rug en 'n netjiese onderlyn.

Onderstaande eienskappe is 'n aanduiding van krag: 'n goedgespierde, kort breë rug en lende en 'n kort aansluiting, d.w.s. die gedeelte tussen die laaste ribbebeen en die heup. Die kruis moet breed en lank wees en taamlik gelyk afloop van die heup tot by die stertwortel. Die boude en onderboude moet sterk gespierd wees die flanke laag en die heupe glad en oor die algemeen passend by die perd.

'n Kort skuins kruis is gewoonlik nie so goed gespierd as 'n lang kruis met 'n geleidelike val nie: Verder is die agterbene in laasgenoemde geval goed na agter, waar hulle ook hoort.

Die belangrikheid van kragtige en gesonde bene en pote kan nie genoeg beklemtoon word nie.

Die dikte van die bene en die grootte van die pote moet toereikend wees vir die gewig wat hulle moet dra. Skoon, netjiese, groot litte, wat nie "vet" lyk nie, is wenslik.

Die arm moet goed gespierd wees. Die knie moet groot, reguit en hoekig wees.

Die pyp moet kort en plat wees. Dit is 'n aanduiding dat die senings taamlik ver na agter aan die been sit.

Van die sy gesien, moet die koot van middelmatige lengte wees. Baie min perde het kote wat te lank en te skuins is; die meeste is te kort en te regop. Hulle moet skoon en nie dik wees nie.

Op die grond en om die hoefkroon moet die pote groot wees. Die horingwand moet geen barste of stukkende plekke toon nie en moet die indruk skep dat dit harde werk sal kan verrig. Baie perdekenners verkies donkerkleurige hoewe daar sommige mense dink dat hulle beter hou. Die perd se poot moet onder effens hol wees met 'n goed ontwikkelde straal; dit verhoed inkrimping van die hiel, wat wyd en sterk maar nie hoog moet wees nie. Die straal moet goed ontwikkeld en plasties wees, Die hakgewrig moet skoon en plat en nie dik wees nie.

Die kootbene van die agterpote is effens korter as die van die voorpote en die hoef se voorste rand vorm 'n effens groter hoek met die grond. Die agterpoot is nie heeltemal rond nie maar is geneig om effens wyer te wees na agter en nouer na vore.

Die aksie van die trekperd is baie belangrik. Die perd moet beskou word as hy wegstap. Hy sal normale reguit aksie hê as sy bene reguit en behoorlik geplaas is en as die pote goed gebalanseer is. Die pote moet rats gelig word en die litte moet buig sodat die pootsole duidelik van agter sigbaar is. Die pote moet vry en reguit na vore beweeg, sonder om uit te swaai, en die hiel en die punt van die hoef moet gelyktydig grondvat. Daar moet geen aanduiding wees dat die poot op die grond gedraai word nie. Die hakgewrigte moet taamlik na aan mekaar verbygaan. Die perd moet hom nie aankap nie en die agterpote moet nie buitekant die spore van die voorpote neergesit word nie. Die perd se treë moet lank wees daar dit 'n aanduiding is van moed en vasberadenheid. Wanneer die perd draf, moet daar dieselfde gekoördineerde beweging wees en die pote en bene moet ten volle onder beheer wees. Die liggaam moet reguit en egalig na vore beweeg. Van die sy beskou, moet die perd met energieke vurigheid en met behoorlike buiging van die litte voortbeweeg.

 

Die Keuse van 'n Trekperd

Algemeen gesproke, hang die bruikbaarheid en dus ook die prys van 'n perd van onderstaande vyf belangrike punte af:

Lyf en ledemate moet sonder gebrek wees. Dit is veral belangrik as die perd vir werk gebruik word en nie slegs vir teeldoeleindes nie. Perde met ernstige oorerflike gebreke moet nie vir teeldoeleindes gebruik word nie. Hoe suiwerder 'n perd se bouvorm, hoe groter sal sy uithouvermoë wees. Hoe meer gebreke 'n perd het, hoe minder sal hy werd wees.

Ouderdom - Perde kan ligte werk begin doen net nadat hulle 2 jaar oud is, maar dit is beter om nog 'n jaar te wag. Vir swaar werk, moet 'n perd nie jonger as 5 jaar oud wees nie. Die waarde van 'n werksperd begin af te neem wanneer hy 8 jaar oud is maar baie perde wat goed opgepas is is nog bruikbaar nadat hulle 20 jaar of ouer is. Vanuit die teeloogpunt beskou, is ouderdom ook belangrik. Gewoonlik is merries goed vir aanteel totdat hulle 15 jaar oud is maar daar is gevalle van trekmerries wat uitstekende vullens gegooi het nadat hulle 25 jaar oud was.

Grootte en algemene voorkoms - As aIle ander faktore gelyk is, sal gevind word dat hoe swaarder 'n perd is, hoe groter sy waarde vir trekdoeleindes sal wees; perde wat onder die normale grootte is, behaal selde goeie pryse. Algemene voorkoms word sterk beïnvloed deur egtheid van ras en tipe.

Teelt - 'n Opreggeteelde perd is tereg baie werd. Die beskikbare kapitaal wat belê gaan word, sal bepaal of opreggeteelde of krujsgeteelde perde aangeskaf moet word. 'n Goedgeteelde perd het gewoonlik goeie natuurlike maniere.

Temperament - Die trekperd se temperament is gewoonlik flegmaties, maar dit beteken nie dat so 'n perd lui is nie. As trekperde behoorlik gehanteer word, is hulle wakker en aktief. Dit is gewoonlik taamlik moeilik om vas te stel wanneer ‘n perd gebreke het.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 18