Last update: April 10, 2012 10:51:00 AM E-mail Print

 

Klimatologiese Studie op Skape in die Karoo

S. W. Bosman

 

MET die oog op die verskillende fisiese faktore wat so 'n beperkende invloed uitoefen op die suksesvolle ontwikkeling van saaiboerdery in Suid-Afrika, word Leppan se redes waarom 'n gesonde landboubeleid in ons land veral klem moet Iê op veeteelt, met die verbouing van gewasse slegs ter aanvulling van ons natuurlike weiveld, weereens hier onderskryf. Om egter van veeteelt 'n sukses te maak, moet nie alle en volle gebruik gemaak word van voerproduksie, veral onder besproeiingsboerdery nie, maar besondere aandag moet ook gegee word aan die ras en tipe dier wat die geskikste vir sy omgewing is en die voordeligste gebruik van die voerproduksie sal kan maak. In die verband sal besproeiingskemas veral 'n belangrike rol speel aangesien die produksie van 'n voldoende voervoorraad feitlik verseker word deur die uitskakeling van die noodlottige invloed van periodieke droogtes.

Onder die besproeiingskemas sal alleen intensiewe veeteeltproduksie toegepas kan word. Hooggeteelde diere wat in staat is om binne die kortste tydperk die beskikbare voer op die voordeligste manier in 'n eetbare produk om te skep, sat voorrang geniet. Voorbeelde van sulke diere is die melkkoei, die vark, die vetlam en die slagos.

Aangesien besproeiingsboerdery in baie gevalle egter slegs moontlik is in streke met hoë temperature, sal die diere hulle by sulke toestande moet kan aanpas om die beste resultate te lewer.

Vir sover dit skaapboerdery in die Unie betref, is deur Bonsma duidelik aangetoon dat die pryse van ons wol in baie groter mate onderhewig is aan skommelinge as byvoorbeeld die pryse van Nieu-Seelandse uitvoerlamvleis. Met die moderne neiging van 'n groter vraag na landbouprodukte van beter kwaliteit kan verwag word dat daar in die toekoms gaandeweg 'n groter verskil gemaak sal word tussen die pryse van skaapvleis en lamvleis. Nie alleen is die kwaliteit van lamvleis soveel aantrekliker as die van 'n groot skaap nie, maar ook die kleiner stuk (joint) vind baie meer byval. Dis die fyn draad en die goeie verspreiding van vet binne die vesels wat aan lamvleis sy geurigheid en sagtheid gee, en dit dug soveel meer gewild maak as die vleis van die volwasse Merinoskaap of die Swartkop-Persie waarvan die vesels grof en taai is en die vetverspreiding veel te wense oorlaat.

Die besondere geskiktheid van die vetlam vir die oorsese mark, waar ons teen die gevestigde mark van ander uitvoerlande soos Nieu-Seeland en Argentinië sal moet kompeteer, verdien spesiale aandag. Om dus seker te maak of slagskaapteelt, veral vetlamproduksie, onder ons hoë temperature goed sal beantwoord, is proewe by die Landboukollege Grootfontein uitgevoer om die invloed van son en skaduwee te bepaal  op die weidingsgewoontes en gewigstoename van slagskaaprasse, veral ingevoerde rasse en kruisings daarvan, want die ondervinding en latere proefresultate het bewys dat hooggeteelde en hoogproduserende diere, wat vir tientalle van geslagte in die gematigde koel klimaat van Europa onder ideale voedingstoestande ontwikkel het, hulle swak aanpas by tropiese en subtropiese klimaatstoestande. In die suidwestelike dele van die Verenigde State van Amerika is ondervind dat degenerasie by suiwergeteelde vleisrasbeeste plaasvind, en die metodes wat gevolg word om ‘n ras te ontwikkel wat hom sal aanpas by die klimaat en strawwe omgewingstoestande is deur Schutte beskrywe. Die versteuring van die fisiologiese funksies van beeste as gevolg van ongunstige klimaatstoestande in tropiese en subtropiese streke is proefondervindelik bepaal deur Rhoad en deur Bonsma.

In verband met die uitwerking van hoë omgewingstemperature skryf Rhoad as volg:

(1) Sodra die temperatuur van die omgewing bokant die kritieke temperatuur styg, tree sekere fisiologiese prosesse in die dier se liggaam in werking om te verhoed dat sy liggaamstemperatuur tot bo die normale styg.

Hierdie regulering van temperatuur word teweeggebring deur die uitwerking van die fisiese verskynsels van weerkaatsing en die uitstraling van hitte van die oppervlakte van die vel en uit die longe in die vorm van waterverdamping. Dit is prosesse wat gedurig aan die gang is, maar sodra die temperatuur van die omgewing bo 'n sekere peil styg, word die las al hoe meer op die longe geplaas. As die uitwendige temperatuur tot bokant die peil styg waar dit deur die diereliggaam beheer kan word, vind daar 'n styging plaas tot bo die normale liggaamstemperatuur wat gepaard gaan met 'n versnellende werking van sellulêre aktiwiteite met 'n ooreenstemmende toename in hitteproduksie en verlies van energie.

(2) Met 'n stygende lugtemperatuur word die las van fisiese regulering van die liggaamstemperatuur al hoe meer op die longe geplaas, wat deur 'n versnelling van hul ritme meer endprodukte van katabolisme, nl. hitte, koolsuurgas en water elimineer.

(3) Behalwe die verhoogde metabolisme by hoe temperature, is daar 'n toename in hitteproduksie as gevolg van die prosesse wat in werking tree vir die fisiese regulering van liggaamstemperatuur.

(4) Die toestand van die lug met betrekking tot vogtigheid en sonlig het ook 'n belangrike uitwerking op die liggaamstemperatuur van die dier. Rhoad haal aan dat dit deur Rubner aangetoon is dat 'n hoë relatiewe vogtigheid van 60 persent die metabolisme van honde en ander diere aansienlik laat styg, omdat die verdamping van vog uit die longe en van die oppervlakte van die vel 'n groot mate beperk. Op die wyse verlaag hoë vogtigheid van die lug die boonste perke van fisiese regulering van die liggaamstemperatuur.

(5) Direkte sonlig verskaf aan die liggaam 'n aanmerklike hoeveelheid hitte wat onder toestande van hoe lugtemperatuur en vogtigheid in die trope opmerklike ongemak en verlies van energie Veroorsaak indien skaduwee nie verskaf word nie.

(6) Dis duidelik dat 'n lang en digte haarbedekking van die vel nadelig is vir die fisiese regulering van die liggaamstemperatuur, aangesien dit beide uitstraling en weerkaatsing van hitte teenwerk.

Rhoad haal ook aan dat Forbes en medewerkers bewys het dat 'n os waarvan die digte winterharedrag kort afgeknip is, beter bestand was teen hitte as een met 'n lang haredrag. Dit bewys dat die afknip van hare die boonste perke van fisiese regulering van die liggaamstemperatuur verhoog het.

Uit bostaande en ook uit verdere proewe wat deur bogenoemde werkers uitgevoer is, is dit duidelik dat 'n uitheemse beesras wat onder ideale voedingstoestande in die gematigde klimaatstreke ontwikkel is, hom swak aanpas by sy omgewingstoestande wanneer dit in tropiese streke geteel word.

Swak produksie is die gevolg, want hoewel voldoende voeding verskaf word, word 'n groot gedeelte van die dier se energie slegs vir die fisiese regulering van sy liggaamstemperatuur gebruik. Dit beteken dus dat so 'n dier feitlik honger ly ten spyte van 'n oorvloed van voer. Die gevolg is nie alleen swak produksie (byvoorbeeld min melk), swak vleiseienskappe. en laat rypheid nie, maar ook swak weerstand teen siektes. Hierdie toestand is van besonder belang in Suid-Afrika wat bekend is vir sy groot aantal veesiektes en giftige plante. 'n Dier wat in swak kondisie is, sal meer geredelik gifplante vreet as 'n dier wat in goeie kondisie is.

Dit is opmerklik dat heelwat werk gedoen is om die invloed van klimatologiese faktore op beeste te bepaal, terwyl baie min gedoen is met skape. Die bekendste; werk in hierdie verband is seker die van McKenzie en Berliner waar degenerasie van vrugbaarheid vasgestel is by Rampshire- en Shropshire-ramme wat in 'n kamer by 'n temperatuur van 26° tot 35° C. gehou is. Abnormale sperma is geproduseer en verskille in indiwiduele reaksies is opgemerk, naamlik dat sekere ramme meer vatbaar was vir die nadelige invloed van die ongunstige klimaatstoestande as ander. 'n Uitbreiding van bogenoemde werk is die van Gunn en medewerkers in Australië op Merinoskape. Onder kunsmatige hoë temperature en droë atmosferiese toestande is ‘n nadelige invloed op spermatogenese verkry. Die intensiteit van hierdie degenerasie was eweredig met die tyd waaraan die ram daaraan blootgestel is. Dieselfde tipe van abnormaliteit is gevind onder natuurlike toestande gedurende die droë warm seisoene wat jaarliks in Australië voorkom.

In 'n studie van die reaksie van skape in warm atmosfere het Lee en Robinson gevind dat die skaap, in vergelyking met ander huisdiere, in buitengewone mate die vermoë besit om warm atmosfere te weerstaan. Hulle het egter gevind dat die skaap vanaf 90° F. Met moeite sy liggaamstemperatuur behou. Die aantal asemhalings styg tot bo normaal wanneer die kamertemperatuur waarin die skaap gehou word, van 85° F. met 95 persent relatiewe vogtigheid tot 95° F. met 35 persent vogtigheid styg. Die aantal asemhalings styg tot so hoog as 240 per minuut by 110° F. Verder het bogenoemde navorsers gevind dat die suip van water in 'n sekere mate gepaard gaan met 'n vermindering in die liggaamstemperatuur, maar dat geen verdere veranderings in die skaap se reaksies plaasvind nie.

Hieronder word die resultate gegee van proewe wat op Grootfontein uitgevoer is in verband met die invloed van klimaat op sekere fisiologiese, ekologiese en produksiefunksies by skape.

 

A  Invloed van Lugtemperatuur op Liggaamstemperature van Verskillende Skaaprasse en -kruisings.

Die doel van die eerste gedeelte van hierdie proef was om eerstens te bepaal of die lugtemperatuur enige invloed het op die liggaamstemperature van skape en of daar verskille is in die weerstand van rasse teen abnormale hoë temperature. Volgens proewe wat met beeste uitgevoer is, is dit duidelik dat enige versteurende invloed van hoë temperature onmiddellik teengewerk word deur fisiese verskynsels soos versnelde asemhaling, versnelling van die hartslag en die afskeiding van speeksel, en die doeltreffendheid van hierdie teenmaatreëls word in die liggaamstemperatuur van die dier weerspieël. Verskille in die vermoë om die invloed van ongunstige hoë klimaatstoestande te neutraliseer is tussen verskillende rasse opgemerk.

Die volgende rasse van skape word vergelyk: Swartkop-Persie en Merino as "inheemse" rasse, die Dorset Horn en Border Leicester as uitheemse rasse, en die Dorset Horn x Merino as kruising tussen die inheemse en uitheemse rasse.

In al hierdie gevalle is volwasse droë ooie gebruik. Hulle is in klein kampies van 14 by 16 tree gehou - elke groep afsonderlik. In elke kampie was daar 'n sinkhuisie van 12 by 16 voet wat skuiling verskaf het en waarin daar 'n hooirak was, waarin lusernhooi en mielies gevoer is. Water is in 'n sementdrinkbak verskaf.

 

 

Die gemiddelde liggaamstemperature van bogenoemde rasse word grafies voorgestel in grafiek 1. Hierdie temperature is op drie verskillende dae geneem om die invloed van die temperatuur op die liggaamstemperatuur weer te gee, nl. op dae toe die maksimum lugtemperatuur tot onderskeidelik 58° F., 73° F. Em 98° F. gestyg het.

Die gemiddelde maksimum en minimum liggaamstemperature word verder in die volgende tabel aangedui.

 

 

Uit grafiek 1 en bostaande tabel word die volgende opgemerk:

(a) Op die koelste dag (maks. skaduweetemperatuur 58° F.) was daar geen besondere verskil tussen die gemiddelde maksimum liggaamstemperature van die verskillende rastipes nie. Die Swartkop-Persie en Merino se gemiddelde maksimum liggaamstemperature was egter effens laer as die van die ander rastipes. Wat minimum liggaamstemperature betref, word dieselfde neiging waargeneem, maar die verskil is groter.

(b) Op die middelmatige warm dag (73° F.) word daar deurgaans hoër liggaamstemperature waargeneem. Die styging is weer die hoogste by die uitheemse rasse en uitheemse halfbloedtipe.

(c) Op die warmste dag waarop die waarnemings gemaak is (98° F), word 'n verdere algemene styging in liggaamstemperature opgemerk. Veral hier is die hoë liggaamstemperature van die uitheemse rasse en die uitheemse halfbloedtipe opvallend.

Uit bostaande word dus die gevolgtrekking gemaak dat die liggaamstemperatuur van die skaap beïnvloed word deur die temperatuur van sy omgewing. Selfs by 'n lugtemperatuur van 73° F. is daar alreeds 'n styging in die liggaamstemperatuur, en by 'n lugtemperatuur van 98° F. is daar 'n opmerklike styging, wat die hoogste is in die geval van die uitheemse rasse en uitheemse halfbloedtipes, en die laagste by die Swartkop-Persie en die Merino.

 

B. Invloed van Klimaat op Weidingsgewoontes van Lammerooie op Weidingsgewasse onder Besproeiing.

Die weidingsgewoontes van beeste is deur verskillende navorsers ondersoek. Johnstone, Wallace en Kennedy vind dat Aberdeen-Angus en Hereford-koeie op goeie weiding 1. tot 8 uur van die 24 uur aktief wei, afgesien van die lengte van die gras; ongeveer 60 persent van die weiery word gedurende die dag gedoen en twee myl word afgelê. In die nag word 40 persent van die weiery gedoen en ongeveer 'n half myl word afgelê. Die bees lê vir 12 uur, en herkou vir 7 uur. Water word laat in die namiddag gedrink en die kalwers suip drie maal per dag, elke maal vir 15 minute.

Atkeson en medewerkers het gevind dat melkkoeie wat vir 11 tot 12 uur op weiding gehou word, iets minder as die helfte van die tyd wei wanneer hulle op goeie weiding is. Op swak weiding word 62 persent van die tyd aan wei bestee, en: op matig goeie weiding 56 persent van die tyd. Die koele het van drie tot vier keer per dag water gesuip, ongeag wat die kwaliteit van die weiding was. Oor 'n periode van 24 uur is gevind dat 40 persent van die tyd in die dag aan wei bestee word en 16 persent in die nag. Vir 35 persent van die dag lê hulle, en ook vir 80 persent van die nag.

Seath en Miller het met 3 Jersey- en 3 Holsteinkoeie gevind dat koeie oor 'n tydperk van 24 uur vir minder as 2 uur in die dag wei (op betreklike warm dae), maar gedurende die nag van 5.5 tot 5.7 uur wei. Op koel dae word 2.4 maal meer tyd aan wei bestee as op warm dae. Hierdie bevinding beklemtoon die wenslikheid om goeie weiding ook gedurende die nag te verskaf.

Wat die weidingsgewoontes van skape betref, is skywer nie bewus van enige werk wat daarop gedoen is nie.

Die doel van hierdie waarnemings is.dan ook om te bepaal of daar sekere tye van die dag is wanneer die skaap hoofsaaklik wei, staan of lê, en ook om te bepaal hoeveel gebruik van skaduwee gemaak word op warm en koel dae. As daar sekere tye is wanneer die skaap min vreet, kan naamlik slegs daardie tye wanneer aktief gewei word, toegelaat word vir beweiding onder besproeiing. Dit sal vermorsing en vertrapping verhoed. As skaduwee verskaf word vir die tye wanneer nie gewei word nie, kan die skaap rustig staan sonder enige onnodige verkwisting van energie as gevolg van rondloop, en die funksie van die liggaam om sy eie temperatuur te kontroleer kan dan aangehelp word.

Weidingwaarnemings is gemaak op Merino-kruisooie (Dorset Horn, Border Leicester en Romney Marsh gekruis met die Merino). Die volgende waarnemings is elke tien minute gemaak van sonop tot sononder, nl. van;-

(1) Die getal skape wat wei, die getal wat in die son of in die koelte staan, en die getal wat in de son of koelte lê. (Koelte is deur bome verskaf.)

(2) Die skaduweetemperatuur onder die bome. Weiding is verskaf in die vorm van lusern in die somer en koring in die winter.

 

 

Waarnemings van die weidingsgewoontes van 6 indiwiduele ooie en lammers, verteenwoordigende die drie tipes ooie is vir twee dae gemaak, en die volledige tye vir wei en staan, lê of watersuip van elke ooi, asook die tye wanneer die lam gesuip het, is aangeteken. Hierdie besonderhede is slegs op twee dae geneem toe die ooie op winterweiding was, nl. op 15 Julie 1940 toe die lammers van 1 tot 7 dae oud was en op 2 Augustus 1940 toe die lammers 18 dae ouer was. Hierdie gegewens word in grafiek II voorgestel.

Uit hierdie grafiek word die volgende opgemerk:-

(1) Op 15 Julie 1940 het die lammers gemiddeld 12-maal gesuip gedurende die waarnemingsperiode van 11 uur en die getalle het gewissel van 9 tot 17 keer per lam. Op 2 Augustus 1940 was die gemiddelde 7.6 keer, en hier het die getalle gewissel van 6 tot 9 keer per lam. '

(2) Op 15 Julie 1940 het die 6 ooie gemiddeld 2½ van die 11 uur gelê en die tyd van lê net gewissel van 40 minute tot 286 minute. Die gemiddelde persentasie van die tyd wat die ooie gelê het was dus 22.7 persent. Die res van die tyd is aan wei, loop en staan bestee. Op 2 Augustus 1940 het die 6 ooie gemiddeld 44 minute gelê (21 tot.92 minute per ooi) of 6,7 persent van die tyd.

(3) Die ooie het meestal tussen tienuur en eenuur water gesuip en gewoonlik net eenmaal per dag.

(4) Weiding het feitlik oor die hele dag met tussenpose plaasgevind. Daar moet opgelet word dat hierdie waarnemings op betreklike koel dae gemaak is en op volop groen sappige weiding, wat moontlik die rede is waarom die ooie so min water gesuip het.

 

Bogenoemde waarnemings is voorlopig ten opsigte van die fyner besonderhede van tye met die 6 ooie gemaak om as leidraad te dien. Daarna en gelyktydig is die waarnemings op groter groepe skape gemaak, en elke tien minute is aantekenings gemaak van die getalle wat wei, wat in die son of in die koelte staan, en wat in die son of in die koelte lê. Die persentasies vir die verskillende aktiwiteite word in tabel II uiteengesit en die gegewens vir 'n betreklike koel dag teenoor 'n betreklike warm dag word grafies in grafiek III voorgestel. Die getal ooie in die verskillende groepe het gewissel van 27 tot 54 en die weiding was.lusern of.koring. In albei gevalle was volop weiding beskikbaar en drinkwater is ook altyd verskaf  In grafiek III word die. getalle as persentasies voorgestel en die waarnemings is in gerieflike periodes gegroepeer.

 

 

Uit tabel II en grafiek III word die volgende opgemerk:-

 (1) Die skape het vir die grootste gedeelte van die dag gewei; die tyd wat met wei in beslag geneem is, het gevarieer van 54.71 persent tot 62.22 persent van die totale tydsbestek waarin die waarnemings gemaak is.

Op koel dae het die skape feitlik dwarsdeur die dag egaal gewei. Daarenteen was hulle op warm dae geneig om hoofsaaklik in die koel voormiddag en laat namiddag te wei, en slegs kort periodes van intensiewe wei word gedurende die warmste van die dag opgemerk.

 

 

(2) Die waarnemings toon dat van 13.8 persent tot 22.65 persent van die totaal vir die hele dag aan staan bestee word. Dit is van belang om hier op te merk dat die skape gedurende die warmste periodes van die dag meesal in die koelte staan; op koel dae of wanneer dit gedurende die dag koel word, staan hulle in die son.

(3) Volgens die waarnemings lê die skape van 20.9 persent tot 28.21 persent van die tyd. Net soos in die geval van staan, lê die ooie hoofsaaklik in die koelte.

Die gevolgtrekking wat uit bostaande gemaak word, is dat die skape geneig is om heeldag te wei indien die temperatuur dit toelaat. As die temperature egter hoog is, wei hulle hoofsaaklik gedurende die koel tye van die dag. Heelwat gebruik word gemaak van skaduwee gedurende die warm periodes van die dag.

Die volgende deel van die proewe gaan oor die invloed van afwesigheid van skaduwee op die groei van vetlammers:-

 

C. Invloed van Afwesigheid van Skaduwee op die groei van Vetlammers.

Die tegniek van hierdie proef het kortliks daarop neergekom dat die groei van twee gelyke groepe vetlammers vergelyk word waar die behandeling van albei identies is, behalwe dat die een groep voorsien word met skaduwee waarvan hulle na willekeur gebruik kan maak, terwyl die ander groep geen toegang tot skaduwee het nie Lusernweiding is gebruik. Die proefperiode, wat oor die hele somerseisoen gestrek het, het op 3 November 1942 begin en op 6 Mei 1943 geëindig, toe die weiding gestaak is as gevolg van ryp.

Die ooie wat gebruik is, was Dorset Horn-, Border Leicester- en Romney Marsh-Merino-kruisooie, met Southdown-driehoekskruislammers, en Merino-ooie met Border-Leicester- en Romney Marsh-kruislammers. Toe die proef op 3 November,1942 begin het, was die ouderdomme van die lammers van 3 tot 13 dae en hulle is voor die voet in twee groep van 15 ooie met 15 lammers elk verdeel.

Deur statistiese ontleding is vasgestel dat daar geen betekenisvolle verskil in liggaamsgewig was tussen die twee groepe ooie of lammers nie.

Liggaamsgewigte is elke 14 dae geneem na 'n uithongeringsperiode van 14 tot 18 uur, en die ooie en lammers is ook by elke weging teen inwendige parasiete gedoseer. 'n Sout-beenmeel-swawellek is altyd voorsien. Skoon drinkwater is in bakke uit 'n kraan verskaf.

Elke 14 dae is die gewigte van die lammers statisties ontleed, en die eerste datum waarop 'n statistiese verskil vasgestel is, was op 28 Januarie 1943. In tabel. III word 'n opsomming gegee van hierdie ontleding.

 

 

Aangesien daar op hierdie stadium verskeie lammers gereed was om geslag te word, is met slag begin, en die groeikurwes van die twee groepe word slegs tot op hierdie datum in grafiek IV voorgestel.

Uit bostaande kan dus afgelei word dat as gevolg van die afwesigheid van skaduwee die groei van die lammers in 'n betekenisvolle mate benadeel is.

Daar is egter voortgegaan met die proef en waar op die eerste en tweede slagdatum slegs lammers met ‘n liggaamsgewig van 60 lb en meer geslag is, is nou lammers met 'n gewig vanaf 55 lb. geslag.

Daar is op 25 Februarie 1943 en op25 Maart 1943 geslag, en die lammers wat op 6 Mei 1943 nog nie die slaggewig bereik het nie, is nie geslag nie.

 

 

Uit bostaande gegewens kan gesien word dat die skaduweegroep die sonder skaduwee groep oortref het ten opsigte van die volgende, naamlik:,

(1) Die getal lammers wat vroeg in die seisoen en dwarsdeur die seisoen geslag is. Die lammers het vinniger gegroei en minder nie-slagbares het oorgebly in die skaduweegroep.

(2) Die slaggewig. Die skaduwee groep het 'n hoër gewig bereik as die sonder skaduwee groep.

(3) Die slagouderdom en die karkasgewig: die skaduwee groep is op 'n jonger ouderdom geslag: as die sonder skaduwee groep en het daarby 'n hoer karkasgewig gehad.

Die sonder skaduwee groep oortref die skaduwee groep, net in die gradering. Daar is egter minder lammers in hierdie groep geslag en beter graderingsresultate is verkry omdat slegs die beste van die groep geslag is.

Bostaande proef het dus bewys dat dit baie noodsaaklik is om kruislammers altyd van skaduwee te voorsien as beskerming teen die warm son gedurende die somermaande, want sulke lammers is dan gesonder en maak meer doeltreffende gebruik van hulle voeding. Gebrek aan skaduwee het heel waarskynlik ten gevolg dat meer energie nodig is om die liggaam af te koel en daar bestaan ook die moontlikheid dat die ooie dan minder melk produseer. Dit is egter nie alleen die hoeveelheid melk wat geproduseer word wat van belang is nie, maar ook die samestelling daarvan. Kelly en Rupel het gevind dat melkproduksie bo die gemiddelde was by koeie, wat by 'n staltemperatuur van 60-650 F. gehou is, maar die bottervetpersentasie was onder normaal. Skommelinge in beide hoeveelheid en samestelling van die melk sal noodwendig 'n nadelige invloed uitoefen op die snelheid van groei van die vinnig-groeiende jong diertjie.

As gevolg van bostaande proewe word by die Grootfonteinse Landboukollege altyd voorsiening gemaak vir skaduwee vir ooie en lammers. In die tweede plek is ook 'n proef uitgevoer om lammer-ooie slegs vir 'n gedeelte van die dag te laat wei op weiding onder besproeiing, nl. in die more vir 'n uur en in die namiddag vir 'n uur en vir die res van die dag, op veld of op lusernhooi in hooirakke onder bome. Deurgaans word 'n aansienlike besparing bewerkstellig in die beperkte beskikbare weidings (resultate beskikbaar in Herdruk No. 63 van .1944 uit " Boerdery in Suid-Afrika ") en verder word doeltreffende gebruik van die beskikbare voer gemaak.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 23