Last update: April 4, 2012 10:44:25 AM E-mail Print

 

Goedkoop doepa vir skape in droogtetye: ‘n Knypie vis by die turksvy

 

deur I.L. TERBLANCHE, AM. MULDER en L.P. NEL

Landbounavorsingsinstituut van die Karoostreek

Middelburg, K.P.

 

DIS 'n duur proses om skape gedurende droogtes in die droër dele van die land te voer. Dis ook dikwels 'n probleem om dan genoeg voer en veral ruvoer te bekom.

In hierdie opsig kan doringlose turksvy (bloubladtipes) 'n waardevolle bydrae lewer.

Hierdie gewas kan groot hoeveelhede voer lewer selfs in daardie dele van die land waar die natuurlike reënval laag is. Volgens Aucamp en De Kock (1970) kan doringlose turksvye 2,04 metrieke ton droë materiaal per ha per jaar lewer met 'n watervoorsiening gelykstaande aan 330mm (13 duim).

 

PROEWE

Proewe wat op die Landboukollege Grootfontein gedoen is, het ook getoon dat die organiese materiaal in turksvyblaaie 'n verteerbaarheid van 75 tot 90 persent het. Turksvyblaaie kan dus as 'n uitstekende bron van energie gebruik word - die hoofvoedingstekort gedurende droogtes in die lae reënvalgebiede.

 

Droogmaak

Uit proewe by die Landboukollege het ook geblyk dat skape tot 46 persent meer van die turksvyblaaie inneem as die blaaie eers vooraf gedroog word. Op die manier kry die skape dan heelwat meer voedingstowwe in en word daar soveel beter in hul voedingsbehoeftes voorsien. Gekerfde turksvyblaaie kan in die somer meestal binne 'n week op enige kaal, harde stuk grond gedroog word.

 

Koste

Om turksvyblaaie te droog, kom te staan op 0,35 c per pond of 0,77 c per kg, grondrente uitgesluit (Gerstner, 1970 - persoonlike mededeIing). Mielies kos ongeveer 1,8 c per pond (3,96 c per kg) en lusern 1,1 c per pond (2,42 c per kg). Turksvyblaaie is dus selfs in die gedroogde vorm 'n baie goedkoop voer.

Turksvyblaaie bevat egter min proteïene en 'n proteïenaanvulling moet dus daarby gebruik word om die beste resultate met droogtevoeding te verseker. Met die oog hierop is 'n proef op Grootfontein uitgevoer waarin verskillende proteïenaanvullings by 'n basiese rantsoen van gedroogde turksvyblaaie met mekaar vergelyk is.

 

Rantsoene

Ses en vyftig volwasse merinohamels is in vier gelyke groepe geloot en op die volgende rantsoene, vryelik voorsien, in individuele hokke vier weke lank geplaas:

Groep 1: 100 % turksvymeel

Groep 2: 64 % turksvymeel + 36 % hoendermis

Groep 3: 93,6 % turksvymeel + 6,4 % vismeel

Groep 4: 98,6 % turksvymeel + 1,4 % ureum.

 

Turksvymeel is gemaak deur turksvyblaaie te kerf, in die son te droog en toe deur 'n 12-mm sif met 'n hammermeul te maal. Daar is daagliks droëmateriaalbepalings op ingeweegde en teruggeweegde voer gedoen. Aan die begin en weer aan die einde van die proefperiode is die diere 15 uur lank sonder kos en water gelaat en hul massa daarna bepaal.

 

In Tabel 1 word die ruproteïeninhoud van die verskillende rantsoene en die gemiddelde droëmateriaal innames van die skape aangegee oor die proefperiode van vier weke.

Dit is duidelik dat die rantsoen wat vismeel bevat het, droëmateriaaI inname verhoog het en hierdie verhoging was statisties betekenisvol.

In Tabel 2 word die massaveranderings van die vier groepe skape gedurende die proefperiode aangegee.

 

 

RESULTATE

Die rantsoen wat vismeel bevat het, het die massatoename betekenisvol verhoog. Die skape op hierdie rantsoen het feitlik deurgaans in massa toegeneem terwyl dit by min van die skape op die ander rantsoene gebeur het.

Van die proteïenaanvullings wat uitgetoets is saam met turksvymeel het vismeel die beste resultate gelewer, aangesien dit sowel voerinname as liggaamsmassas verhoog het. 'n Rantsoen bestaande uit 93,6% gedroogde turksvye en 6,4 % vismeel teen 'n koste van 1 c per skaap per dag kan dus met sukses as droogtevoedingsrantsoen gebruik word.

 

VERWYSINGS

AUCAMP, J.D. & DE KOCK, G.C., 1970. Doringlose turksvy - die boer se voorsorg teen droogte. Dept. van Landbou-tegniese Dienste. Bladskrif No. 37.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 48 (4)