Last update: April 3, 2012 09:48:07 AM E-mail Print

 

KOGGELMANDERVOETKAROO

(Aarbossie, pootjiekaroo)

 Dr P W Roux 

 

 

Wat In pragtige gewone naam vir ‘n baie voortreflike bossie. Min boere sien ooit hierdie bossie in sy uitgegroeide toestand en daarom kan ons nie hier sê dat die natuurlike vorm daarvan eintlik die tipiese vorm is nie.

In onversteurde toestand is die bossie feitlik platgroeiend en die lang lote strek ver van die hoofstammetjie af. Die tipiese vorm is egter dat dit soos ‘n klein boompie lyk, - slegs sowat 10 tot 15 sentimeters hoog. Die kroontjie is yl tot diggepak met groen tot donkergroen blaartjies. Die stammetjie is byna wit, maar kan ook grys vertoon. Die naam koggelmandervoetkaroo is afgelei van die klein blaartjies wat in die vorm van handjies of "koggelmandervoetjies" gerangskik is. Daarbenewens is die blaartjies voorsien van wit spikkeltjies en soms van skerp puntjies sacs toonnaeltjies. Kompleet net soos ‘n koggelmander- of geitjiepoot.

Hierdie bossie blom in die lente en voorsomer, of moontlik ook gedurende die somermaande. Die blommetjies is wit van kleur, klein en kom aan die eindpunte van die takkies voor, in digte groepies. Die saadjies lyk byna soos klein neutjies. Dit is te verstaan dat waar die bossie onder beweiding kom - en, onthou dit is ‘n smaaklike bossie - is daar nie tak eindpunte nie en gevolglik kan geen saad gedra word nie. Dit is dan ook ongelukkig so dat die koggelmandervoetkaroo stadig besig is om van die veld te verdwyn.

Die waardevolle bossie is hoofsaaklik versprei in 'n gebied wat strek vanaf die karoo-agtige dele van Noordwes-Kaapland, noord van die Oranjerivier en daarvandaan suidwaarts na ‘n al breër-wordende strook tot in die Groot Karoo en aangrensende gebiede. In die suidelike gebiede is dit ook meer volop. Koggelmandervoetkaroo se vernaamste groeiplekke is op rantvoete, hellings, kalkerige grande, gruiserige skaliegronde en versteurde gruiserige plekke.

Die herstelvermoë van die bossie na droogte of na beweiding, is uitstekend. Indien dit beskerm word, word lang groen late voortgebring en blom dan spoedig.

Op sigself dui die bossie nie juis op goeie of swak veld nie, maar beklee ‘n besondere plek waar ander smaaklike bossies of grasse reeds die aftog geblaas het, of nie kan groei nie. Om dit te laat gedy en te vermeerder, moet vir baie lang tye gespaar word. Met ons huidige boerdery-opset wil dit amper lyk of die bossie werklik ‘n rariteit gaan word.

 

Published

Karoo Streeksnuusbrief Desember