Last update: March 27, 2012 11:00:28 AM E-mail Print

 

Kollig op brommers in die Karoo en Oos-Kaap

 Opgestel deur Leonie C Jordaan entomoloog by die Navorsingsinstituut vir Veeartsenykunde, Onderstepoort (vroeër van die Veterinêre Streeklaboratorium, Middelburg, Kaap); Sandra M Clark en J P J Joubert van die Veterinêre Streeklaboratorium, Middelburg.


Kennis oor die onaangename gewoontes van die skaapbrommer word nou al reeds baie jare lank ingewin. Nogtans gaan die insek blykbaar ongesteurd voort met sy vernietigingswerk en veroorsaak groot verliese aan wolopbrengs, groeitempo, vrugbaarheid en uiteindelik selfs vrektes. Daarbenewens is landwye voorkomingsmaatreëls duur. Dit is daarom vanselfsprekend dat die S A Wolraad 'n ondersoek na die probleem van brommers aangevra het. Hierdie verslag is 'n uitvloeisel van die versoek en kundig opgestel na besoeke aan verskeie boere sowel as uit inligting bekom met die uitstuur van vraelyste.

BROMMERAANVALLE op wolskape is reeds meer as twee eeue lank bekend in die Britse Eilande. Sedert die begin van hierdie eeu het die probleem ook in die ander wolproduserende lande soos Suid-Afrika, Australië en die VSA begin. Vroeë ondervinding het getoon dat eienskappe waarvoor geselekteer was ten einde hoer wolproduksie te verkry, soos byvoorbeeld plooi-ontwikkeling, die skape meer vatbaar gemaak het vir brommeraanvalle3.

Die groen brommer, Lucilia cupfina, is verantwoordelik vir sowat 90% van die primêre aanvalle op lewende skape. Primêre aanvalle dui daarop dat die diere wat aantreklik is vir brommers eerste deur hierdie soort brommer aangeval word. Trouens, die groen brommer val eintlik hoofsaaklik die lewende skaap aan en nie karkasse nie.

Die wyfiebrommer Iê haar eiers op nat "geurige" wol en dit ontwikkel gou in larwes wat vinnig groei en drie verveIlings ondergaan tot die stadium waar dit as maaiers bekend staan. Hulle beskadig die vel en vererger bestaande wonde.

Hulle val af en verander in papies in die grond. Daarvandaan kan die groen brommer weer te voorskyn tree. Die ontwikkeling vanaf eiers tot papies kan binne vier dae geskied.

Sekondêre brommers is blougroen of bruin van kleur en meeste is van die Chrysomuya spp. Hulle het "harige" larwes wat ontwikkel in wonde wat deur die primêre brommers se larwes gevorm is, en hulle vererger dan die wonde.

 

Faktore wat skape aantreklik maak vir brommeraanvalle

Dele van die skaap se wol moet tot op die vel nat word en vir sowat 48 uur nat bly voordat 'n brommeraanval suksesvol kan plaasvind. Oormatig baie sweet en wolvet is pok 'n goeie kweekbodem vir bakteriese groei. Die bakterieë wat in sulke nat of beswete wol groei, beskadig soms reeds die vel en wolvesels sodat serumagtige afskeidings vorm wat geurig genoeg is om die brommerwyfies te lok.

Reën en dou kan langdurige benatting van die vag veroorsaak. So ook waterige mis as gevolg van wurmbesmettings, koksidiose of sappige groen weiding. Verder kan die wol vuil en nat word wanneer ooie lam, of die wol kan met urine benat word.

Ander gunstige toestande op die skaap is die stertafsny- en kastrasiewonde, skeerwonde, kopstampwonde (ramme) en bosluisbytwonde.

Velplooie, veral in die broek- en stertgebied, skep gunstige toestande vir brommers omdat nattigheid maklik versamel en behoue bly tussen die plooie. Oormatige plooie langs die vulva kan veroorsaak dat urine nie vry wegvloei nie, maar die omliggende wol benat en die vel irriteer4.

Bouvormfoute kan die skaap ook aantrekliker maak vir die brommers. Dit is veral foute soos te nou of spits agterstewe, veral by ooie, te hoë of los skouers en duiwelsgreep agter die skouerblaaie. Die foute skep holtes waarin nattigheid kan versamel1,2. Lang wol behou water wat tot op die vel indring langer as kort wol,

Sterte wat te kort afgesny is, veral by ooie, maak hulle ook meer vatbaar vir brommeraanvalle. Hulle kan die kort stertjie nie oplig wanneer hulle mis of urineer nie, Die langwol van die stertpunt hang gevolglik in die pad van die urine en mis word gou nat en vorm miskloste. Die vulva is ook onbeskermd teen die son en dit kan kanker van die vulva veroorsaak5.

 

Voorkeure en gedrag van brommers in die veld

Die brommermannetjies en –wyfies het water en koolhidrate vir oorlewing nodig, Verder het die wyfies ook proteïne vir die rypwording van hul eiers nodig, In die veld leef die brommers van nektar van bloeisels, heuningdou van luise sowel as van die mis en karkasse van diere.

Brommers bly naby water in die veld, waarsonder hulle nie kan leef nie. Dit beteken verder dat 'n goeie reënjaar ook 'n "goeie" brommerjaar sal wees. Met swaar aanhoudende reëns neem brommergetalle egter af, waarskynlik omdat die larwes versuip3.

Brommers is baie gevoelig vir temperatuurskommelinge. Hul aktiwiteite neem baie af wanneer die temperatuur laer as 17°C daal of hoër as 30°C styg. Hulle is baie onaktief wanneer die wind sterk waai, Brommers vrek maklik indien hulle aan warm, droë weersomstandighede blootgestel word, Onder normale veldtoestande kan 'n wyfie sowat twee weke leef.

Die meeste brommers versprei nie meer as een of twee kilometer vanaf die plek waar hulle uit die papiedoppe gekruip het nie. Soms versprei hulle egter wel verder met behulp van die wind.

Soos die winter nader, neem hul aktiwiteit sterk af, minder larwes word gevorm en van hulle gaan minder oor in die papiestadium. Brommergetalle bly dan laag tot in die lente3.

 

RESULTATE VAN OPNAME

Waardevolle bydraes is ontvang van boere wat aan die opname deelgeneem het. Die volgende is 'n samevatting van hul menings en wenke ten opsigte van die brommermaaierprobleem in wolskape.

Ongeveer 99% het aangedui dat dit wel 'n probleem is. Die opname was in 'n droë jaar gedoen en die deelnemers het daarop gewys dat die probleem op sy ergste is in 'n goeie reënjaar.

Broekaanvalle is aangedui as die grootste probleem, veral by ooie. Verder het hulle aangedui dat hulle ook probleme ondervind met kopaanvalle by ram me, pensaanvalle by ramme en hamels en Iyfaanvalle in alle ouderdomsgroepe, maar veral by lammers.

Die deelnemers het ook verder genoem dat die voorkoms van brommeraanvalle beïnvloed word deur plooi-ontwikkeling, stertlengtes, bosluisbyte, loperige maagwerkings, skeerpraktyke, lamtyd by ooie en bouvormfoute. Die gereelde toesig oor die skape tydens brommertyd is ook 'n belangrike punt wat deur baie deelnemers beklemtoon is.

Die deelnemers het verder aangedui dat die meeste aanvalle tydens die lente en herfs voorkom en dat daar gedurende die somer ook nag heelwat aanvalle plaasvind, maar feitlik geen in die winter nie.

Ongeveer 75% van die boere skeer tussen Augustus en Desember en die wat aangedui het dat hulle in ander maande skeer, handhaaf meestal meer as een skeertyd per jaar. Baie deelnemers het aangedui dat hulle skeertyd inpas om skape minder aantreklik te maak vir brommers in die somer en herfs.

Mikskeer van ooie word deur 'n klein groepie van die deelnemers gedoen, en dan gewoonlik kort voor lamtyd.

Die Merinoboere van die Karoo het 64% matige tot volkraag-geplooide skape, terwyl 34% hul skape beskryf het as matig tot liggeplooid tot glad.

Sowat twee-derdes van die deelnemers selekteer reeds vir minder geplooide skape.

 

Die stertlengtes verkies deur die deelnemers is as volg:

Stertlengte                 Ooie                Hamels             Ramme

0-1 lit                         52%                36%                78%

2 – 3 litte                    42%                42%                21%

4-6 litte                        5%                22%                  1%

 

Die boere wat die ooie se sterte baie kort (0 - 1 lit) afsny, se dat dit mooi Iyk, dekking vergemaklik of dat hulle die ooie dan makliker uitken van die hamels wat langer sterte het. Terselfdertyd het die ander, wie se ooie stertlengtes van 3 tot 4 litte het, opgemerk dat hulle ooi se broeke droër bly, dat hulle goeie lampersentasies handhaaf en dat die langer sterte die vulva teen kanker en ontsteking beskerm.

Die Mules-operasie (wegsny van broekplooie) word deur sowat 37% van die deelnemers toegepas. Sowat 14% van die boere wat die Mules-operasie doen, pas dit net toe op erg geplooide diere. Reaksie teen die Mules-operasie is dat dit wreed is, lammers 'n knou gee en dat die skape liewer reg geteel moet word as om dit agterna reg te sny.

Ongeveer 70% van die deelnemers het genoem dat bosluisbytplekke deur brommers aangeval word. Die aanvalle is gewoonlik in die broek- en stertgedeeltes van die skape. Die meeste boere het probleme met die bontpootbosluis, wat tussen September en Januarie aktief is.

Loperige maagwerkings lei ook tot brommeraanvalle. Die deelnemers het aangedui dat die algemene oorsake van die maagwerkings inwendige parasiete is, of aangeplante weidings of groen veld na reën. Meer broekaanvalle kom op aangeplante groen weidings voor.

Meer as die helfte het genoem dat hulle tans minder goeie nawerking met chemiese beheermiddels verkry as vroeër. Meestal word diazinon gebruik, wat reeds lank op die mark is. Nuwere middels is blykbaar nog nie deeglik beproef nie.

 

VOORSTELLE VIR DIE BEHEER VAN BROMMERAANVALLE

  1. Selekteer vir minder geplooide skape; prul skape met bouvormfoute soos spits agterstewes, hoe los skouers of duiwelsgreep agter die blaaie.
  2. Pas die Mules-operasie toe op die oorplooide lammers wat wel vir teling gehou word. Dit kan gedoen word wanneer die lammers gemerk, gekastreer en sterte afgesny word. Die Mules-operasie Iyk wreder as wat dit is. Herhaalde brommeraanvalle is veel wreder as die eenmalige wegsny van plooie in die broek.
  3. Die ooitjies se sterte moet net lank genoeg gelaat word om die vulva toe te maak, d.w.s. sowat 3 tot 4 litte lank. Sodoende kan sy haar stert swaai, oplig wanneer sy mis of urineer en veroorsaak beslis nie 'n probleem tydens dekking nie. So 'n ooitjie se broek bly skoner en droër en sy is meer bestand teen kanker van die vulva.
  4. Pas skeer en mikskeer van skape, veral ooie, strategies toe om hulle met kort wol in die broekgedeelte te laat gedurende nat lente-, somer- of herfsseisoene, sowel as in lamtyd.
  5. Dip skape sowat een tot twee maande na skeer sodat daar genoeg wol is om die dipstof vas te hou en dus 'n langer nawerking te he. Dit sal meer dikwels gedoen moet word waar bosluise 'n groot probleem is.
  6. Behandel die hele kudde oor die volle lengte van die rug en in die broek wanneer dit lyk asof 'n goeie brommerseisoen voorlê. Indien Iyfaanvalle nie 'n probleem is nie, kan slegs die broekgedeeltes behandel word. Daar is goeie middels op die mark vir hierdie doel.
  7. Wanneer mikskeer toegepas word, kan areas rondom ramme se horings, asook ramme en hamels se peesters geskeer word indien brommeraanvalle dikwels op hierdie gedeeltes voorkom.
  8. Onthou dat die oog van die boer sy skape gesond hou. Dit is 'n pluspunt wat meeste deelnemers ook reeds self toepas.

 

BEDANKINGS

Dank word uitgespreek teenoor die boere wat deelgeneem het, sowel as aan die vee-inspekteurs, landbouvoorligters en staatsveeartse wat meegehelp het om die opname 'n sukses te maak.

 

Verwysings

1. De Vries A H, 1943. Vatbaarheid van Merinoskape vir brommerbesmetting. Boerdery in Suid-Afrika. Herdruk no 76.

2. National Symposium on the sheep blowfly and fly-strike in sheep. Sydney, June 1979. Department of Agriculture, New South Wales.

3. Smit B, 1931. A study of the sheep blowflies in South Africa. 17th Report of the Director of Veterinary Services and Animal Husbandry, Union of South Africa.

4. Stampa S, Fiedler O G H & Du Toit R, 1958. The protection of sheep against blowfly strike. V. The duration of protection of certain insecticides under field conditions. Onderstepoort Journal of Veterinary Research 27, 549 - 581.

5. Watts J E, Murray M D & Graham N P H, 1979. The blowfly strike problem of sheep in New South Wales. Australian Veterinary Journal 53, 118 -123.

 

Published

Goue Vag Vol 15 No 4