Last update: April 4, 2012 07:33:29 AM E-mail Print

 

LUSERN - KONING VAN DIE VOERGEWASSE

GC de Kock


Lusern is by uitstek 'n hooigewas hoewel dit algemeen in die Karoo ook as weidingsgewas benut word. Aangesien lusernhooi vir lang periodes bewaar kan word, is dit baie geskik vir langdurige gebruik asook as 'n reserwe vir skaars periodes.

 

Vestiging

Die beste tyd om lusern te saai is gedurende die herfsmaande aangesien die vogtoestand as gevolg van herfsreëns beter is, onkruidkompetisie minder en die plant 'n goeie kans het om deur die winter 'n sterk wortelstelsel te ontwikkel. Lusern het 'n baie klein saadjie en deeglike voorbereiding van die saadbed is noodsaaklik, veral met die oog op die lang periode wat die gewas na vestiging die grond in beslag neem waartydens veranderings en verbeterings in die uitleg nie moontlik is nie. 'n Saaidigtheid van 20 kg saad per hektaar word aanbeveel. Bemesting voor saai sal hoofsaaklik uit die inwerk van superfosfaat (300-600 kg/ha) bestaan.

 

Besproeiing

Lusern is 'n gulsige verbruiker van water. Dit is bepaal dat lusern van 750-850 kg water nodig het om een kilogram droëmateriaal te produseer ('n turksvy het byvoorbeeld slegs 267 kg water no dig om 1 kg droëmateriaal te produseer). Omdat lusern 'n somergewas is, is die grootste behoefte aan water gedurende die somermaande. Lusern maak egter nie altyd ekonomies van water gebruik nie en dit blyk dat hoe meer water die gewas kry, hoe meer word dit gebruik, maar hoe laer is die produksie per eenheid water toegedien. Die Tabel illustreer hierdie feit baie duidelik.

Die hoeveelheid water wat lusern ontvang het nie net 'n invloed op die opbrengs en benutting van water nie, maar ook op die samestelling van die gewas soos blyk uit die volgende tabel.

 

 

Dit blyk dus dat hoe meer water lusern ontvang, hoe laer is die persentasie blare (wat die waardevolste deel van die plant is). Dit moet egter in gedagte gehou word dat die opbrengs met so min water, drasties verlaag.

 

 

Indien die normale groeisiklus van lusern na sny saam met bogenoemde faktore in ag geneem word, blyk dit dat 914,4 mm (36 dm) water per seisoen toegedien in 6 besproeiings (afhangende van die aantal snyseIs) die mees voordeligste is. Die hoeveelheid water per snysel kan gewoonlik in twee besproeiings toegedien word, dit wil sê besproeiings net na sny en 'n tweede ongeveer 14 dae later.

 

Oes

Die stadium waarop gesny word vir hooi beïnvloed die kwaliteit hooi wat verkry word asook die Ianklewendheid van die plant. Proewe het bewys dat die beste tyd om lusern te sny, op die 10 persent blomstadium is. Indien lusern gereeld voor hierdie tyd gesny word, verswak die plante en word hulle lewe verkort. Dit is hoofsaaklik te wyte aan 'n verlaging van die reserwes van die plant. Die lusernplant bou sy reserwes (wat benodig word vir hergroei) eers op as dit begin blom en daarna. Die afsny van 'n geil stand om een of ander rede, of op 'n jonger stadium, sal nie enige merkbare effek hê nie, solank dit net nie gereeld gedoen word nie.

Hoewel daar nie veel verskil in die opbrengs is wanneer lusern op die 10, 50 of 100% blomstadium gesny word nie, vind 'n verlaging in die persentasie blare en 'n verhoging in veselinhoud plaas. Die verlies aan blare is belangrik uit die voedingsoogpunt aangesien die blare byna driekeer soveel proteïene bevat as die stingels.

Wanneer lusern aanhoudend op 'n vroeë stadium gesny word, word 'n beter kwaliteit hooi verkry, maar die lanklewendheid van die plante word benadeel en 'n groter mate van onkruidindringing vind plaas. 'n Lusernstand wat aanhoudend op 'n 15-20 cm hoogte bewei was, het na 7 jaar uit 52% onkruid bestaan terwyl 'n soortgelyke stand wat slegs op 10% blom gesny was, slegs 10,5% onkruid na 7 jaar bevat het.

 

Published

Karoo Streeknuusbrief Junie 1974