Last update: March 27, 2012 11:08:32 AM E-mail Print

 

Voorlopige bevindinge in die ontwikkeling van 'n entstof teen krimpsiekte

 

J PJ Joubert

Veterinêre Streekslaboratorium

Privaatsak X528

Middelburg K P

5900

 

 

INLEIDING

Krimpsiekte of nentavergiftiging veroorsaak jaarliks baie vrektes onder bokke en skape in 'n groot deel van die Kaapprovinsie1, maar veral in die distrikte Somerset-Oos, Steytlerville, Willowmore, Uniondale, Oudtshoorn en Prins Albert. Siek bokke en skape kan wel doeltreffend behandel word met geaktiveerde houtskool en kaliumchloried9. Die probleem kon tot dusver net voorkom word deur die krimpsiektebossies uit te kap 7. Aangesien dit tydrowend en duur is en nie oral gedoen kan word nie, is die moontlikheid ondersoek om 'n entstof teen hierdie vergiftiging te ontwikkel.

Krimpsiektebossies is almal lede van die familie Crassulaceae2,7. Een van hulle, Tylecodon wallichii (beter bekend as kandelaarsbos of nentabos), is gebruik in die proefneming. Al die krimpsiektebossies bevat verskillende bufadiënoliede-hartglikosiede as hulle gifstowwe8. Hierdie gifstowwe word hartglikosiede genoem omdat dit in baie klein dosisse gebruik word as hartstimulante. Hartglikosiede is baie klein molekules en daarom kan dit alleen nie 'n immuniteitsreaksie ontketen nie.

As sulke klein molekules egter aan groot molekules soos proteïene gekoppel word, kan daar wel teenliggame gevorm word teen die klein molekules4,6. Medewerkers van die Departement Biochemie, Universiteit van Stellenbosch, het van bogenoemde beginsel gebruik gemaak om twee entstowwe teen hartglikosiede te berei.

Tans is daar ongeveer 4 hartglikosiedes kommersieel verkrygbaar. Daarvan is 2 gebruik, naamlik digoksien en proskillaridien. Proskillaridien is, nes die hartglikosiedes van T wallichii, geklassifiseer as 'n bufadienoliede-hartglikosied, omdat dit aan die steroïedskelet 'n 6-litdubbelonversadigde laktoonring by koolstof 17 het.  Daarenteen is digoksien 'n kardenoliede-hartglikosied genoem, omdat dit 'n 5-lit- enkelonversadigde laktoonring by koolstof 17 het5.

Digoksien en proskillaridien is gekonjugeer aan dooie basilvomige bakterieë wat gestroop is van al hulle oppervlakkige antigeniese komponente. Sodoende vorm hierdie struktureel klein hartglikosiedes deel van relatief groot bakterieë en omdat dit vanaf die selmembrane van die bakterieë uitsteek, kan daar wel teenliggame teen die hartglikosiede verwek word.

Hierdie digoksienkonjugaat en proskillaridienkonjugaat is by die Veterinêre Streekslaboratorium, Grootfontein, Middelburg, Kaap in gekontroleerde proewe op Angorabokke gebruik om hul doeltreffendheid as entstowwe te evalueer.

 

METODES EN MATERIAAL

Viertand-Angorabokkapaters is opgedeel in 7 groepe van 6. Almal is saam in krale aangehou waar water en gemaalde lusernhooi voortdurend beskikbaar gestel was. Groep 1 was die digoksien inentingsgroep, groep 2 'n kontrolegroep, groep 3 proskillaridien inentingsgroep, groep 4 proskillaridien plus digoksien inentingsgroep en groep 5 was weer 'n kontrolegroep, terwyl die 6de en 7 de groepe gehou was vir letale dosisbepalings.

Die konjugate (entstowwe) is aanvanklik intraveneus (i/v) toegedien. Daarvoor is die konjugaatsuspensie opgeskud met fosfaatgebufferde fisiologiese soutoplossing (PBS) in 'n verhouding van 0,125 ml tot 0,375 ml om 'n enkele dosis op te maak. Hierdie konugaatsuspensie is 4 keer binne die eerste 2 weke toegedien. Na verloop van 2 weke is die bokke vir die 5de keer geënt. Daarvandaan is inentings een keer per maand gedoen. Die digoksien-konjugaatsuspensie is sodoende 10 keer i/v toegedien. Vir die 11 de en laaste inenting is die dosis digoksienkon-jugaatsuspensie verdubbel tot 1 ml waarby 1 ml onvolledige Freund-adjuvant gevoeg is. Dit is goed geskud om 'n emulsie te vorm en toe subkutaan toegedien. Dieselfde prosedure is gevolg met die groep wat met die proskillaridienkonjugaat geënt was en met die groep wat met beide proskillaridien- en digoksienkonjugaat geënt was. Laasgenoemde groepe was egter net 6 keer i/v geënt en daarna nog 3 keer met die dubbeldosis plus die onvolledige Freund-adjuvant ingeënt, om hulle totale aantal entings 9 te maak.

Aanvanklik is bloedmonsters van elke bok in elke groep geneem en daarna slegs van die geënte bokke. Die tweede bloedmonster is geneem een week na die vierde inentings toegedien is en daarna is bloedmonsters geneem een week na elke inenting. Die bloedmonsters is na die Universiteit van Stellenbosch versend vir teenliggaam titerbepalings. Radio-aktiefgemerkte digoksien is gebruik vir die titerbepalings. 'n Benaderde dodelike dosis digoksien is uitgewerk deur stygende dosisse digoksien i/v aan 3 bokke toe te dien. Die totale dosis digoksien was elke keer opgelos in 0,5 ml metanol plus 0,5 ml chloroform. Aangesien die oplosmiddels op hul eie skadelik vir die bokke kon wees, is 'n kontrolegroep (uit die bokke beskikbaar vir letale dosisbepalings) saamgestel wat slegs met die totale dosis oplosmiddels gedaag was. Die benaderde dodelike dosis van 0,25 mg/kg digoksien is nietemin in 'n totale volume van 0,5 ml metanol plus 0,5 ml chloroform opgelos. Daging hiermee is 2 weke na laaste enting uitgevoer op die digoksiengroep en 'n kontrolegroep (Tabel 1).

 

 

'n Benaderde Ietale dosis van vars T wallichii-blare is bepaal deur stygende dosisse fyngekapte blare in water te suspendeer en per maagbuis aan 3 bokke te doseer.

Die benaderde letale dosis van 5 g/kg T wallichii-blare is op dieselfde wyse gedoseer as 'n daging 9 dae na laaste enting aan die proskillaridiengroep, die proskillaridien plus digoksiengroep en 'n kontrolegroep (Tabel 2).

 

RESULTATE

Een bok van die digoksienentstofgroep, 2 van die proskillaridienentstofgroep en 1 van die proskillaridien plus digoksienentstofgroep het gevrek gedurende die inentingstydperk. Die digoksiengeënte bok het gevrek weens longontsteking. Een van die proskillaridiengeënte bokke het weens hartglikosiedvergiftiging gevrek, waarskynlik as gevolg van 'n oormaat proskillaridien wat nie gekonjugeer was nie. Die ander 2 bokke het in die voerkrippe vasgesit en gevrek as gevolg van versmoring.

Na die paar ongevalle is die uiteindelike groepe wat gedaag was dus kleiner as die aanvanklike 6. Die kontrolebokke vir die dagings is ooreenkomstig verminder.

Digoksien intraveneus (0,25 mg/kg) het 4 uit 5 kontrolebokke gedood, terwyl slegs 2 uit 5 geënte bokke gevrek het. Die oplosmiddel (0,5 ml metanol plus 0,5 ml chloroform) het nie een van die 5 verdere kontrolebokke gedood nie, alhoewel hulle 'n paar minute lank bedwelmd was. Die resultate van die digoksiengroep word in Tabel 1 weergegee.

Slegs 1 van die proskillaridienentstofgroep het oorleef toe die 4 bokke in die proskillaridienentstofgroep, 5 bokke in die proskillaridien plus digoksienentstofgroep en 4 kontrolebokke gedaag was met 5 kg/kg vars T wallichii-blare per os. Hierdie resultate kan in Tabel 2 gesien word.

Teenliggaam-titers teen digoksien is van tyd tot tyd op serummonsters bepaal en die laaste beskikbare syfer was die waar serum getrek is een week nadat die digoksien-groep 11 keer geënt was en die proskillaridien- en proskillaridien plus digoksiengroep 7 keer geënt was. Die resultate beskikbaar is slegs ten opsigte van teenliggame teen digoksien, want geen radio-aktiefgemerkte proskillaridien was verkrygbaar nie. Die titers word in Tabel 3 aangetoon.

 

 

 

BESPREKING

Die daging van die digoksiengroep en kontroles met digoksien is i/v toegepas omdat daar te min digoksien beskikbaar was om dit per os toe te dien, want dit sou 'n aansienlike groter dosis per bok geverg het. Die i/v-roete laat egter min tyd vir benadering met teenliggame, want die bokke vrek of herstel binne 30 min na toediening van die digoksien. 'n Verdere probleem was die gebruik van metanol en chloroform as oplosmiddel, omdat dit ook n effek op die bokke gehad het. Daar was egter meer oorlewendes by die geënte groep as by die kontrolegroep en daarvolgens kan aanvaar word dat die entstof wel 'n mate van beskerming teen digoksien gebied het.

 

 

Met die daging van proskillaridien geënte en proskillaridien plus digoksiengeënte bokke met T wallichii kon geen noemenswaardige beskerming teen die gifstof aangetoon word nie. Eerstens kon die teenliggaamtiters teen proskillaridien nie gemonitor word nie. Moontlik was die titers nog nie hoog genoeg nie. Dit kan ook wees dat die teenliggame teen proskillaridien en digoksien selfs tesame nie 'n wyd genoeg spektrum van immuniteit bied om ook teen die bufadienoliede-hartglikosiede van T wallichii te beskerm nie.

Die swak resultate met die proskillaridien- en digoksien-entstowwe beteken dat daar weer van voor af beplan sal moet word. Daar bly twee moontlike rigtings oor om te ondersoek. Die een is om genoeg hartglikosiede uit T wallichii te ekstraheer om daarmee verder te werk. Die ekstraksieprosedure is egter baie duur en het sover minimale hoeveelhede suiwer hartglikosiede opgelewer8. Dit mag 'n onpraktiese metode bevind word.

Die ander moontlikheid is om hartglikosiedes te sintetiseer en op die wyse verskeie bufadienoliedes daar te stel vir 'n sogenaamde polivalente entstof. Die uitvoerbaarheid hiervan sal ook nag nagevors moet word.

Beide bogenoemde navorsingsrigtings Iê duidelik binne die werksveld van biochemici. Dit kan dus wel deur die Departement Biochemie van die Universiteit van Stellenbosch uitgevoer word. Aangesien krimpsiekte so 'n knellende probleem is, is dit noodsaaklik dat hierdie werk voortgaan.

 

BEDANKINGS

Dank word uitgespreek aan mnr F J C Smith en sy assistente, mevv H Beukes en M Horak, vir tegniese hulp en aan dr E M van Tonder vir kritiek tydens opstelling hiervan.

 

VERWYSINGS

1 BOTHA P, 1983. Voorkoms en verspreiding van nentavergiftiging (krimpsiekte). Die Angorabok en Sybokhaarblad. 25 (2),57-58.

2 HENNING M W, 1926. Krimpsiekte. 11/12th Reports of the Director of Veterinary Education and Research, Onderstepoort. 331-364.

3 JOUBERT J P J, 1981. Die effek van hartgifglikosiede en elektroliete op die selmembraan se natrium, kaliumadenosientrifosfatase. Journal of the South African Veterinary Association. 52, 225-228.

4 MIESCHER P A & MüLLER-EBERHARD H J, 1976. Hapten-Protein conjugates. Textbook of Immunopathology. 2nd ed.

5 NAUDE T W, 1977. The occurrence and significance of South African cardiac glycosides. Journal of the South African Biological Society. 18,7-20.

6 SMITH T W, BUTLER V P Jr & HABER E, 1970. Characterization of antibodies of high affinity and specificity for the digitalis glycoside digoxin. Biochemistry. 9, 331-337.

7 STEYN D G, 1949. Vergiftiging van mens en dier. Pretoria: Van Schaik.

8 VAN ROOYEN F G & PIETERSE M J, 1968. Die chemie van Cotyledon wallichii Harv. (kandelaarsbos). II. Die isolering van 'n bufadienolied. Journal of the South African Chemical Institute. 21,89-90.

9 VERMEULEN S O & JOUBERT J P J, 1984. Die eksperimentele verwekking en behandeling van chroniese krimpsiekte by Angorabokke. Karoo Agric 3(4), 16-19.

 

Published

Karoo Agric, Vol 3, No 6, 1985, 10-13