Last update: March 27, 2012 08:47:09 AM E-mail Print

 

'n Kritiese beskouing van seleksiedoelwitte by wolskape

 

G J Erasmus en G J Delport

S A Vagtoetssentrum, N I V S

Landboukollege Grootfontein

Privaatsak X529

Middelburg K P 5900

 

 

1.      Inleiding

Tradisionele seleksiepraktyke en doelwitte by wolskape het reeds baie kritiek van wetenskaplikes ontlok. Die doel van hierdie referaat is nie om 'n verdere stuiwer in hierdie armbeurs te gooi nie maar eerder om die huidige "wetenskaplike" seleksiedoelwitte onder die loep te neem want, soos Alan Fraser dit stel: "criticism, just like charity, should begin at home ."

Dit is noodsaaklik dat die diereteler en sy adviseur gedurig met 'n kritiese oog kyk na wat hulle besig is om te doen of aan te beveel. Weens die betreklike lang generasie-interval by diere is daar 'n lang tydsduur tussen "aksie" en "gevolg" (Skjervold , 1984). Die besluite wat ons vandag neem sal moontlik eers die gehalte van die veestapel na 'n dekade of twee werklik begin beïnvloed. Skjervold (1984) beklemtoon die feit dat die buigbaarheid om vinnig van koers te verander in diereteling uiters beperk is.

Wat die opstel van seleksiedoelwitte betref, wys Dickerson (1984) baie duidelik daarop dat sekere komponente van prestasie onder aIle soorte van produksie-bemarkingsisteme belangrik is (byvoorbeeld oorlewing van lammers) maar die belangrikheid van die meeste komponente word grootliks deur die aard van die produksiesisteem bepaal. Wolskape word in Suid-Afrika vir 'n betreklike wye reeks produksiesisteme aangewend en derhalwe is daar ook verskillende rasse waar wolproduksie wissel vanaf hoogste prioriteit (Merino) tot redelik laag af op die prioriteitsranglys. Die relatiewe waarde van die verskillende produksiekenmerke sal derhaIwe nie noodwendig vir aIle rasse dieselfde wees nie en kan selfs binne rasse verskil. Daar kan ook verskille in die belangrike genetiese parameters voorkom wat seleksiepraktyke grootliks sal voorskryf. Wat egter in alle gevaIle belangrik is, is om daardie kenmerke te identifiseer wat, indien hulle verbeter kan word, die winsgewendheid van die wolskaap sal verhoog. Dit is wat met hierdie referaat gepoog word, hoewel daar telkens spesifiek na moontlike neigings in Merinoteling verwys word in 'n poging om 'n vorige vooruitskouing (Erasmus, 1981) meer op datum te bring. Daar word gepoog om so min as moontlik hiervan te herhaal en dit behoort as aanvullend tot hierdie referaat gesien te word.

 

2. Woleienskappe

Woleienskappe word eerste bespreek aangesien wol tradisioneel die belangrikste produk van die Merinoskaap is. Dit is egter interessant om daarop te let dat die gemiddelde Merinoboer se verhouding tussen produkinkomste (wolverkope) en kapitaalinkomste (verkoop van surplus vee) nagenoeg 1 : 1 is. Onder goeie toestande en beter bestuur styg kapitaalinkomste verhoudelik meer en word die verhouding maklik 1 : 2 en selfs wyer.

 

2.1 Hoeveelheid wol

Skoonvagmassa, of selfs ruvagmassa omdat die twee hoogs gekorreleerd is, is die voor die handliggende seleksiemaatstaf vir hoeveelheid wol. Verskeie navorsers het reeds bewys dat waar dit nie per eenheid voerinname uitgedruk kan word nie, vagmassa per skaap die aangewese seleksiemaatstaf is. Die ander vraag is egter : wanneer moet vagmassa geneem word?

Die algemene aanbeveling was nog altyd dat dit op tweetand (18 maande) ouderdom geneem moet word omdat dit dan hoogs herhaalbaar is en omdat die omgewingsvariasie wat deur dragtigheid en laktasie veroorsaak word dan nog nie teenwoordig is nie. Dit het egter duidelik geword dat daar groot verskille tussen ooie bestaan in hul vermoë (of onvermoë) om hierdie noodsaaklike prosesse te hanteer soos weerspieël in die speenmassa van hul lammers en hulle vagmassas nadat hulle die lam of lammers gespeen het. Geen verwantskap kon ook tussen vagmassa, op hierdie tydstip geneem, en die totale massa lammers gespeen by Dohne-merino's (Laas, 1982) of Merino's (Erasmus, de Lange & Delport, 1984) gevind word nie. Dit is dus moontlik om positiewe seleksie-differensiale vir albei hierdie eienskappe te verkry indien hulle gekombineer sou word as 'n maatstaf van tot ale ooiproduktiwiteit.

Dit klink net logies om 'n ooi te selekteer nadat sy albei haar produkte (lam en wolvag) gelewer het. Die vraag is net: hoe herhaalbaar is 'n enkele stel metings en hoe oorerflik is hierdie totale ooiproduktiwiteit? Dit sal eers vasgestel moet word, want miskien is ons nou so 'n stappie nader aan seleksie vir werklike doeltreffendheid en 'n stappie verder van seleksie vir 'n blote kanalisasie van voedingstowwe. Die steeds toenemende oop-kern teeleenhede bied groot moontlikhede vir meer gesofistikeerde en baie streng ooiseleksie.

Hoe dit ook al sy, hoeveelheid wol kan nie in afsondering gesien word nie en die ander faktor waarmee rekening gehou word is die gehalte van die vag.

 

2.2 Gehalte van wol

Oor gehalte van wol word baie gepraat en geskryf en is daar nog baie onduidelikhede. Een feit staan egter soos 'n paal bo water en dit is dat veseldikte die belangrikste gehaltekenmerk is. Tekstielkundiges soos Bray, von Bergen en Lang (aangehaal deur Turner en Young, 1969) se reeds in die middel vyftiger- en vroeë sestigerjare veseldikte is "the most important quality characteristic of the material (wool fibre) immediately affecting its value for manufacturing purposes". Von Bergen gee die relatiewe belangrikheid van die verskillende gehalte-eienskappe, eerstens gebaseer op die ondervinding van vervaardigers in 1933 en daarna op die resultate van verwerkingstudies dertig jaar later as volg aan:

Eienskap Relatiewe belangrikheid ( %)
  1933 1963
Gemiddelde veseldikte 65 80
Lengte 15 15 - 20
Treksterkte 10 Slegs belangrik wanneer
Ander eienskappe 10

in abnormale graad aan- of afwesig

 

 

Die meeste resente werk in hierdie verband is seker in Suid-Afrika gedoen deur SAWTNI. Die resultate van hierdie studies behaal met hedendaagse spin- en weefprosesse is in ooreenstemming met die van vroeër. In 'n omvattende oorsig kom Hunter (1980) byvoorbeeld tot die volgende gevolgtrekking: "With the exception of mean fibre diameter and length, it is surprising how little we know of the effects of the various fibre properties and dimensions on producing performance and yarn and fabric properties, particularly in the light of changing technology". Hierdie oorsig sluit 'n omvattende studie van Turpie en Gee (1980) in waarin die effek van sewe subjektiewe en 32 objektief gemete eienskappe op kam en spin ondersoek is.

Verskeie studies is ook reeds op die relatiewe bydraes van verskillende eienskappe op prys gedoen. Dit is wat Turner en Young (1969) die "short-term approach" noem, maar is vir die produsent van kardinale belang. 'n Verteenwoordigende monster van die 1980/81 skeersel (vagwol) is by die Vagtoetssentrum ontleed en meer as 96 persent van die variasie in voorskotprys en meer as 85 persent van die variasie in veilingprys van ruwol kon verklaar word deur liniêre regressievergelykings wat slegs skoonopbrengspersentasie, veseldikte en stapellengte ingesluit het. Die relatiewe bydraes was as volg :

 

  Voorskotprys Veilingprys

R2 (%) R2 (%)
Skoonopbrengs 74.46 45.54
Veseldikte 16.68 38.65
Stapellengte 4.91 1.02
Totaal 96.05 85.21

 

Die gemiddelde pryse van die verskillende klasse van styl was as volg :

  Voorskotprys Veilingprys
Spinners 250.36 271.25
Goeie kambol
238.91 261.40
Minderwaardige kambol
183.40 197.16

 

Na die effek van skoonopbrengspersentasie, veseldikte, stapellengte, plantmateriaalinhoud en CV in kartelfrekwensie deur kovariansie-analise verwyder is, is die aangepaste groepgemiddeldes as volg :

  Voorskotprys Veilingprys

(c/kg) (c/kg)
Spinners 239.93 258.38
Goeie kambol
237.05 259.49
Minderwaardige kambol
230.24 251.09

 

Die voorskotprysverskille is baie klein dog nog hoogs betekenisvol (P ≤ 0,01). Die veilingprys verskil egter nie betekenisvol (P ≤ 0,05) tussen spinners en goeie kambol nie. Dit blyk derhalwe dat styl in 'n groot mate deur gemete eienskappe beskryf kan word.

Wat egter pla is die skynbare min aandag wat aan verwering, wat 'n groot rol by die indeling van stylklasse speel, deur kopers gegee word. 'n Rede wat aangevoer kan word (K J Whiteley, 1978 - persoonlike mededeling) is dat wol wat op die oog af verweerd lyk nie werklik meer breke tydens kam of spin oplewer nie. Metileenblou-absorpsie word soms as 'n objektiewe maatstaf vir die mate van verwering gebruik. Dit is egter van min waarde om die gedrag van wol tydens verwerking te bepaal. Trouens, Turpie & Gee (1980) kry 'n ietwat beter pas wanneer subjektief beoordeelde styl in 'n regressievergelyking gebruik word om die persentasie uitkamsels te voorspel as wanneer dit met metileenblou-absorpsie vervang word. Navorsing is tans by SAWTNI onderweg om hierdie wesenlike probleem te oorkom.

Uit voorafgaande is dit duidelik dat veseldikte, en tot 'n veel mindere mate, lengte, tans die enigste duidelike en ontwyfelbare gehalte kenmerke van wol is. Omdat lengte nie van groot belang is nie en omdat dit positief met vagmassa geassosieerd is, behoort dit nie nodig te wees om spesiale aandag daaraan in 'n seleksieprogram te gee nie. Dit is egter duidelik dat veseldikte aandag sal moet verdien en as 'n veiligheidsmaatreel, kan ander eienskappe wat moontlik die gehalte kan beïnvloed, binne perke gehou word.

Die vraag is egter nou: wat moet die veseldikte wees? Omdat veseldikte in 'n groot mate deur omgewingstoestande bepaal word, kan die vraag anders gestel word: moet die veseldikte verlaag word? 'n Eenvoudige metode om dit te bepaal is om die denkbeeldige prys per mikron ( ) te  bereken en dit met die

werklike prys per mikron te vergelyk. Indien die werklike prysverskil per mikron hoer as die denkbeeldige prys per mikron is, sal dit meer betalend wees om veseldikte te verlaag as om vagmassa te verhoog. Indien die verwagte vordering in vagmassa en veseldikte nie dieselfde is nie, kan die denkbeeldige prys per mikron as volg bereken word:

Denkbeeldige prys / mikron = 

 

waar D  = verwagte vordering in vagmassa indien veseldikte konstant gehou word,

       D  = verwagte vordering (afname) in veseldikte indien vagmassa konstant gehou word,

 

P = huidige prys/kilogram,

d = huidige veseldikte in mikrons

 

Tot betreklik onlangs was dit nag altyd meer lonend om vagmassa te verhoog as om veseldikte te verlaag. Toe die prys van 'n 20 mikron wol byvoorbeeld 200c/kg was, moes die prysverskil per mikron  = 10c/kg/mikron

wees, terwyl dit in werklikheid slegs nagenoeg 6c/kg/mikron was. Vanaf die 1982/83 seisoen en veral gedurende die huidige seisoen word 'n aansienlike premie vir fyner wol betaal. Die prysverskille is tans deurgaans hoër as 30c/kg/mikron en 'n verlaging van veseldikte sal in alle gevalle lonend wees. In Figuur 1 word die verband tussen veseldikte en prys vir die 1982/83 en 1983/84 seisoene sowel as vir die eerste veilings in Desember 1984 gegee. Die geweldige premie wat vir 19 mikron en fyner wol betaal word kan moontlik toegeskryf word aan die IWS se veldtog om die gebruik van superfynwol te bevorder. Pryspremies is egter ook in die sogenaamde brood- en botterkategoriee te bespeur en hierdie tendens behoort blywend te wees as die resultate van die reeds genoemde verwerkingstudies in ag geneem word.

 

 

'n Ander gehalte kenmerk wat van belang mag wees is variasie in veseldikte. Dit is interessant dat in die genoemde ontleding van die 1980/81 skeersel gevind is dat die koëffisiënt van variasie in kartelfrekwensie 'n klein (0,05 persent) maar tog betekenisvolle bydrae tot prys gemaak het. Met die koms van die "fibre fineness distribution analyser" (FFDA) het dit moontlik geword om ook variasie in veseldikte vinnig en op 'n roetinebasis te meet. Dit blyk asof skeefheid en kurtose as maatstaf van verspreiding gebruik kan word aangesien dit veral die sogenaamde "coarse edge" (Figuur 2) is wat soms aangetref word wat probleme kan veroorsaak.

 

Verskille in veseldikte tussen verskillende dele van die vag is relatief onbelangrik aangesien dit normaalweg slegs 5 persent van die totale variasie in 'n kudde verteenwoordig. Variasie binne stapels is verantwoordelik vir nagenoeg 80 persent van die totale veseldikte-variasie in 'n kudde.

'n Bespreking van gehalte-eienskappe van wol kan nie volledig wees sonder 'n verwysing na "kwaliteit" nie. Met kwaliteit word gewoonlik bedoel die sagtheid van aanvoeling en die duidelikheid en reëlmatigheid van karteling en die aan- of afwesigheid van afwykende vesels. 'n Onduidelike en onreëlmatige karteling kan moontlik 'n aanduiding van 'n "coarse edge" wees hoewel die resultate van Lang & Skertchley (1955) dit nie kon bewys nie. Sagtheid van aanvoeling word gewoonlik met fyner vesels vereenselwig en is derhalwe nie van belang indien veseldikte gemeet word nie. Die aanwesigheid van afwykende vesels is 'n voor die handliggende nadeel en miskien moet die definisie van kwaliteit so verander word dat dit slegs dit behels. Dan sal dit die NWKV-klasstandaarde se stelling: "Kwaliteit word basies vereenselwig met die getrouheid van teelt (egaligheid van veseldikte) in wol en dui bruikbaarheid van wol as tekstielvesel aan" 'n bietjie nader aan die kol bring. Afwykende vesels is nie werklik 'n probleem in Merinokuddes in Suid-Afrika nie, behalwe miskien by sommige oorsterkkuddes, en 'n klein mate van seleksiedruk behoort dit goed in toom te hou.

 

3. Vleiseienskappe

Die belangrikste eienskappe wat die winsgewendheid van vleisproduksie bepaal is reeds geïdentifiseer as aanteeltempo en groeitempo. Groei word nie hier bespreek nie. Daar kan egter net op gewys word dat die feit dat die suiwer Merino nie op 'n vroeë stadium bemark kan word nie, een van die belangrikste punte van kritiek teen die ras is.

Die belangrike bydrae van aanteeltempo tot inkomste word in Tabel 1 getoon. 'n Beraming is gemaak van die inkomste uit elke ooi in die "Lowestoffe" kernkudde van mm Chappie Evens verkry oor 'n periode van vier jaar gebaseer op die slagwaarde van haar lammers na speen en die hoeveelheid wol deur haar geproduseer. Die ooie is ingedeel volgens die getal lammers wat hulle in die vier-jaar periode gespeen het.

Die relatiewe inkomste uit wol en lammers sal natuurlik grootliks afhang van die heersende pryse van die twee produkte maar die resultate toon duidelik watter ekonomiese moontlikhede die verhoging van speenpersentasie inhou onder die betreklike goeie toestande waaronder hierdie kudde aangehou word.

Hoewel bogenoemde kernkudde skynbaar goed reageer op seleksie vir verhoogde vagmassa en liggaamsmassa (Erasmus & Pettit, 1982) het hierdie en ander berekenings die gedagte laat posvat om ooie finaal vir die kernkudde te selekteer na hul eerste lammers gespeen is soos vroeër bespreek en soos in beginsel deur de Lange (1979) voorgestel. Hierdie praktyk word in beide die "Lowestoffe"- en "The Downs" -kernkuddes toegepas en waardevolle inligting behoort hieruit verkry te word. Speenmassa van lammers is egter met gekorrigeerde 42 dae massa vervang en dit word dan by die vagmassa van die ooi, geneem nadat haar lam gespeen is, getel na weging van die twee eienskappe volgens die relatiewe ekonomiese waarde van lewendige lammassa teenoor vagmassa. Die huidige wegingsfaktore is een vir lammassa en drie vir vagmassa.

Tabel 1 beraming van inkomste uit ooie met verskillende getal lammers gespeen oor vier jaar in die "lowe-stoffe" -kernkudde.

 

Getal                           Produk-                      Kapitaal-                    Totale

lammers                     inkomste                    inkomste                    inkomste

per ooi                        per ooi                        per ooi

 

7 en 8                         R72-12                       R143-46                     R215-58

6                                  R71-63                       R117-62                     R189-25

5                                  R75-50                       RIOO-34                     R175-84

4                                  R73-77                       R 85-44                      R159-21

3                                  R71-60                       R 6241                       R134-O1

 

Die moontlikheid om met seleksie voorkeur te gee aan ramme wat uit hoë produktiewe ooie gebore is of om selfs die produktiwiteit van die moer in 'n seleksie-indeks in te bou is 'n interessante bespiegeling. Die wenslikheid daarvan sal natuurlik afhang van die oorerflikheid van ooiproduktiwiteit en daar is reeds aanduiding dat van die komponente van ooiproduktiwiteit soos vermoë om 'n lam groot te maak hoogs herhaalbaar is en 'n bruikbare oorerflikheid het (Haughey, 1984). Die redelike algemene bevinding dat ooie wat die eerste jaar oorslaan daarna gereeld kan lam is in die meeste oopkernsisteme nie werklik ter sake nie aangesien slegs die jong ooie wat gelam het oorweeg sal word weens die groot getalle waaruit geselekteer kan word. Die vraag moet derhalwe nie wees of daar nie miskien goeie ooie misgekyk is nie maar of daar sekerheid bestaan dat daar nie swak ooie geselekteer is nie.

De Lange (1984) noem drie interessante moontlike metodes, wat algemeen in planteteling gebruik word, om aanteeltempo te verhoog, naamlik kruising gevolg deur herhaalde terugkruising, die sifting van groot populasies en die gebruik van stimulante om die drumpel te manipuleer. 'n Ondersoek na hierdie metodes is beslis geregverdig want 'n verhoging van aanteeltempo is by wolskape van groot belang. Met 'n toename in aanteeltempo sal suiwer Merinoskape byvoorbeeld in 'n toenemende mate as moederooie vir vleisproduksie gebruik word. Turner (1973) stel dit as volg: "As the number of lambs weaned is the most important single aspect of meat production, use of pure Merinos would increase if their reproduction rate were improved. The increase would be stimulated not only by the greater return from Merino than crossbred wool, but by the increasing demand for leaner meat, which is a feature of the breed".

 

4. Ander eienskappe

Behalwe vir die eienskappe wat direk met produksie en gehalte verband hou, is daar ook ander eienskappe wat van belang kan wees. Eienskappe wat die skaap in staat stel om te oorleef, weerstand teen siekte te bied of om teen lae onderhoudskoste aangehou te word. Seleksie vir weerstand teen siekte (insluitende parasiete) geniet al hoe meer aandag deur navorsers. In wolskape is dit veral 'n wye reeks inwendige parasiete, die bakterieë Pseudomonas aurugisnosa en Dermatophilus congolensis wat onderskeidelik vagverrotting en klontwol veroorsaak en die brommer Lucillia cuprina,wat sogenaamde "onsuiwer" veroorsaak, wat van groot ekonomiese belang is. Delport en Erasmus (1984) het egter gevind dat dit nie ekonomies geregverdig mag wees om teen vagverrotting te selekteer nie. 'n Belangrike aspek van seleksie vir siekteweerstand is dat die patogeen net so vinnig deur natuurlike seleksie kan verander as wat die gasheer geneties gemanipuleer word (Gavora, 1984).

'n Laaste eienskap wat oorweeg moet word, is plooi-ontwikkeling. 'n Hele referaat kan aan die nadele van plooie gewy word (sien byvoorbeeld Dun & Eastoe, 1970) maar dit is positief met wolproduksie, veral ruvagmassa, gekorreleerd. Een van die belangrikste nadele van plooie is dat 'n toename in plooie lei tot 'n afname in vrugbaarheid, veral onder laer voedingstoestande. Indien plooi-ontwikkeling derhalwe nie ook aandag geniet nie, kan seleksie vir hoër vagmassa teenproduktief wees.

 

5 . Gevolgtrekkings

Die belangrikste eienskappe van die wolskaap wat in ‘n selekisieprogram aandag moet kry kan as volg saamgevat word:

Skoonvagmassa

Gemiddelde veseldikte

Lammers gespeen

Plooitelling

Volwasse liggaamsmassa is van minder belang indien die hoeveelheid of massa lammers gespeen as seleksiekriterium gebruik word.

Met die eerste oogopslag lyk dit of die huidige neiging van groter, gladder en fyner die regte rigting is. As dit egter gedoen word sonder om skoonvagmassa in ag te neem sa! laasgenoemde noodwendig moet daal en dit is die Merinoskaap se belangrikste bate. Met 'n behoorlike gekonstrueerde seleksie-indeks is dit egter moontlik om die potensiaal vir die produksie van 'n duurder vesel en 'n groter inkomste uit vleisproduksie te benut sonder 'n verlaging in wolproduksie.

Hoewel die eienskappe van die wolskaap wat die belangrikste vir seleksie is duidelik te voorskyn kom, is daar ander wat nie summier as van geen belang afgemaak kan word nie en hier kom vagverwering byvoorbeeld dadelik ter sprake. Omdat die produksie van wol-olie baie energie vereis en dan in elk geval nie baie doeltreffend in sy beskermingsfunksie is nie, kan dit met reg gevra word of daar nie eerder na 'n omgewings- as 'n genetiese oplossing gesoek moet word me. Daar is reeds hier en in Australië na skaapkomberse as moontlike oplossing gekyk, maar is daar me miskien een of ander chemiese stof wat die werk beter as die natuurlike wol-olie kan doen nie? As die skaap gebruik kan word om a! sy energie vir die produksie van wolkeratien aan te wend en die wol is dan nog boonop onverweerd, sal die wolbedryf 'n inspuiting kry soos nog nooit tevore nie.

Ten slotte: Wat is meer opwindend as die moontlikhede vir seleksie by wolskape? Jammer net dat, soos Skjervold (1984) impliseer, ons nie self die gevolge van ons aksies sal kan sien nie.

 

VERWYSINGS

DE LANGE A O, 1984. Changing views on the genetic improvement of reproduction in sheep and beef cattle breeds. Proceedings Second World Congress on sheep and beef cattle breeding. 16 - 19 April 1984. Pretoria.

DE LANGE A O, 1979. Doeltreffender teelmetodes - 'n evaluasie. Handelinge Kleinveesimposium U O V S 26 - 28 September 1979. Redakteurs JA Nel, P S Pretorius en J E J du Toit, P J de Villiers, Bloemfontein, 61 - 68.

DELPORT G J & ERASMUS G J, 1984. Implications of selection against fleece rot in Merino sheep. Koroo Agric 3(4) 3 - 5.

DICKERSON G E, 1984. Effective use of animal genetic and production resources. Proceedings Second World Congress on sheep and beef cattle breeding. 16 – 19 April 1984. Pretoria.

DUN R B & EASTOE R D, 1979. Science and the Merino breeder. Government Printer, N S W.

ERASMUS G J, 1981. Die teeltverbetering van Merinoskape - op pad na 2 000. Karoo Agric 2(2) 5- 10.

ERASMUS G J, DE LANGE A O & DELPORT G J, 1984. Selecting Merino ewe replacements. Proceedings Second World Congress on sheep and beef cattle breeding. 16 - 19 April 1984. Pretoria.

ERASMUS G J & PETTIT C V, 1982. Response to selection in a group breeding scheme for Merino sheep. KarooAgric 2 (3) 16.

GAVORA J,1984. Genetic aspects of selection for disease resistance. Proceedings Second World Congress on sheep and beef cottle breeding. 16 - 19 April 1984. Pretoria.

HAUGHEY KG, 1984. Improved lamb survival - a challenge to the industry, both stud and commercial. Wool technology and Sheep Breeding. January 1984. 139-143.

HUNTER L, 1980. The effects of wool fibre properties on processing performance and yarn and fabric properties. Proceedings 6th International Wool Textile Research Conference, Pretoria Volume 1, 133 - 188.

LAAS T M, 1982. Faktore wat die produksievermoë van wolskape bepaal. D Sc Agric Proefskrif Univ Pretoria.

LANG W R & SKERTCHLEY A,1955. Journal of Textile Institute 46, 89 - 92.

SKJERVOLD H, 1984. Livestock breeding to meet the needs of the 21st century. Proceedings Second World Congress on sheep and beef cattle breeding. 16 -19 April 1984. Pretoria.

TURNER HELEN N, 1973. Trends in the Australian Merino. Zeitschreift far Tierzachting und Zrich- tingsbiologie 90, 278 - 296.

TURNER HELEN N & YOUNG S S Y, 1969. Quantitative genetics in sheep breeding. MacMillan Co. Sydney.

TURPIE D W F & GEE E, 1980. The properties and performance during top making and spinning of a wide range of South African wools. Proceedings 6th International Wool Textile Research Conference, Pretoria Volume III, 293 - 311.

 

Published

Karoo Agric, Vol 3, No 5, 1985, 4-9