Last update: April 10, 2012 08:34:26 AM E-mail Print

 

Krulsoorte by die Haarbedekking van Karakoelskape

Hugo WJ & Zaaiman CJ 

 

DIE waarde van 'n pels word bepaal deur die eienskappe van die hare waarmee die vel bedek is, asook deur sekere eienskappe van die vel self, soos byvoorbeeld die grootte, dikte en gewig van die vel. Die eensydige strewe na volmaaktheid van slegs een of twee besondere eienskappe moet noodwendig lei tot die verwaarlosing van ander, ewe belangrike eienskappe. So 'n uitgangspunt kan vanselfsprekend tot niks goeds lei nie want die voortreflikheid van 'n pels, wat sowel voorkoms as duursaamheid aanbetref, word bepaal deur 'n sekere optimum-verhouding waarin 'n wye reeks eienskappe tot mekaar staan.

By die beskrywing van die haarbedekking van die pasgebore lam word die volgende haareienskappe in ag geneem:

 

A. KRULSOORT

Hoewel daar sover geen wetenskaplike bewyse voor gevind is nie, bestaan die vermoedens vry algemeen dat die pels van elke lam voor geboorte die volgende opeenvolgende ontwikkelingstadiums deurgaan, en dat die mate waarin hierdie ontwikkelingsproses gevorder of vertraag is, die soort krul sal bepaal wat die lam by geboorte sal toon. In navorsing op Grootfontein word hierdie aspek bestudeer.

In die onderstaande uiteensetting word hierdie ontwikkelingsproses skematies aangedui:

  1. (i) Watersy (ii) Vlak watersy.

  2. (i) Vlakkrul (ii) Vlak ontwikkeld.

  3. (i) Ontwikkelde vlakkrul (ii) Ontwikkelde vlakkrul met neiging tot pypkrul.

  4. Pypkrul.

met die volgende variasies:

  1. Kurktrekker.

  2. Peperkorrel

  3. Peperkorrel-kurktrekkermengsel.

 

Soos uit bostaande uiteensetting blyk, kan die verskillende krultipes in vier hoofgroepe verdeel word, nl.

  1. Watersy.

  2. Vlakkrul.

  3. Ontwikkelde vlakkrul.

  4. Pypkrul.

 

Omdat hierdie hoofgroepe nie altyd duidelik afgebaken kan word nie, word daar voorsiening gemaak vir die oorgang- of tussenstadiums, soos hierbo aangedui.

Hierdie tussenstadiums sal ook beskryf word.

 

I. (i) WATERSY

Pelse met hierdie tipe haarbedekking staan in die handel bekend as die sg. Breëstert (Broadtail) .

Goeie haarkwaliteit en haarglans is kenmerkend van watersypelse. Die hare is kort en lê plat teen die vel.

Werklike krulle word nie aangetref nie, maar wel gladde, glansende vIakke (spieëls) wat afgewissel word deur golfies van oënskynlike S-vormige hare.

Omdat die haarrigtirig in verhouding tot die ligging van hierdie pannetjies of spieëls wissel, verander die patroon oënskynlik wanneer hierdie tipe pels teen die lig gedraai word, en gee sodoende 'n weerskyn-effek.

 

 

(ii) VLAK WATERSY

Soos die naam aandui, verteenwoordig hierdie tipe pels die oorgangstadium tussen watersy en vlakkrul. 'n Groter mate van krulontwikkeling word aangetref, met terselfdertyd 'n neiging tot watersy.

 

 

II. (i) VLAKKRUL

 

Dit is die beginstadium van pypvorming.

Hoewel dit wil voorkom asof die hare S-vormig is en met 'n skerphoek uit die vel kom, word hierdie indruk geskep deur die onderlinge rangskikking tot mekaar van kort, geboë hare waarvan sommige wel met 'n skerphoek uit die vel kom en sommige feitlik loodreg. Laasgenoemde hare draai hulle punte in die rigting van die pens.

Die hare skep dus gesamentlik die indruk van lang, S-vormige hare. (Vgl. skets 1.)

 

 

Hierdie S-vormige hare is in kolomme gerangskik en sodoende word golwe, wat naastenby parallel teenoor mekaar lê, gevorm.

Al om die ander golf buig die: hare in teenoorgestelde rigtings, soos skets 2 aantoon. D.w.s. as die hare van 'n sekere golf (ook genoem rimpel) rugwaarts draai, dan draai die hare van die volgende golf penswaarts. So word die sg. gerimpelde patroon gevorm.

 

(ii). VLAK ONTWIKKELD

Dit is 'n tussenstadium tussen vlakkrul en ontwikkelde vlakkrul. Die hare is effens langer as by die vlakkrul en is gevolglik ook meer gekrul.

 

 

III (i) ONTWIKKELDE VLAKKRUL

A. D. Thompson en J. A. Nel beskryf hierdie krultipe soos volg in die boek Handleiding vir die Beskrywing van Karakoellammers.

"Indien die vesels egter omgekrul het tot ongeveer een-derde tot 'n helfte van 'n volledige pypkrul, word 'n krul gevorm wat by die vlakkrulstadium verby is, hoewel dit nog nie die pypkrulstadium bereik het nie. Hierdie tipe krul word beskryf as 'n ontwikkelde vlakkrul."

 

 

(ii) ONTWIKKELDE VLAKMET NEIGING TOT PYPKRUL

Dit is wesenlik dieselfde as die ontwikkelde vlakkrul behalwe dat klein pypies op sommige dele van die liggaam reeds begin wys.

 

IV. PYPKRUL

By pypkrulpelse is die draaiingsgraad van die hare die verste gevorder, met die gevolg dat pype gevorm word deur hare wat min of meer in die vorm van 'n sirkel terug na die vel draai.

In Skets 3 word die verskillende indraaiingsgrade van hare aangetoon waaruit blyk hoedat die krulvorming toeneem van watersy na pypkrul namate die indraaiingsgraad groter word.

 

 

Die krulrigting by die pypkrultipe behoort altyd kopwaarts te wees.

Hoewel lang pype wat parallel teenoor mekaar gerangskik is, die ideaal is, verskil die lengte van die pype, en kan hulle rigtings, met betrekking tot mekaar, ook verskillend wees.

Die volgende ongewenste variasies van pypkrul word aangetref:

(a) Kurktrekker. Kurktrekkerkrulle kom gewoonlik op die voorlyf voor.

By kurktrekkerpelse groepeer die hare saam in spiraalvormige wendings en verleen op hierdie wyse die voorkoms van kurktrekkers aan die krul.

Hierdie krultipe word as baie minderwaardig beskou en moet sover moontlik by telling vermy word.

 

(b) Peperkorrel. Hierdie tipe krul is gewoonlik waarneembaar op die stert, agterbene, boude en pens.

Soos die naam aandui, het hierdie krulsoort die voorkoms van peperkorrels en bestaan dit uit . kort, styf, inmekaargedraaide kroesies, met swak glans en kwaliteit. Wanneer so 'n pels met die hande gevryf word, breek stukkies van die hare maklik af.

By teling en seleksie moet baie streng teen peperkorrels opgetree word.

 

(c) Peperkorrel-kurktrekkermengsel. Op sulke pelse kom die kurktrekkers en .peperkorrels saam voor. Die kurktrekkerkrulle is geneig om meestal op die voorlyf voor te kom, terwyl die 'peperkorrels meestal, soos reeds genoem, op die agterlyf voorkom.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 32 (4)