Last update: April 10, 2012 02:24:36 PM E-mail Print

 

Kunsmatige Uitbroei van Eiers

J. A. van der Merwe

 

DIE vooruitgang van die pluimveenywerheid is afhanklik van die broeimasjien. Kunsmatige uitbroei van eiers het die bedryf onafhanklik gemaak van die broeisword van henne, en deur kuikens op die gewenste tyd uit te broei, is groter produktiwiteit en gevolglik groter winsgewendheid bereik. Met beter handhawing van gesondheid en voorkoming van aansteeklike siektes, soos basilêre wit diarree en hoendertifus, kan groot getalle kuikens per dag uitgebroei word met betreklik min arbeid. Vergelyk net die hantering van 'n 300 eier-kapasiteit masjien met die moeite en arbeid betrokke in die versorging van 'n aantal henne wat dieselfde getal eiers kan uitbroei. Jaarliks word duisende kuikens uitgebroei om in die verskillende fases van kommersiële produksie van pluimveeprodukte te voorsien.

Die produserende hen het 'n betreklik kort ekonomiese produksieperiode en ook moet jaarliks ou henne en verliese deur dood en onwinsgewende henne vervang word. Dan is daar die produksie van slagpluimvee en die groothandel in dagoud-kuikens.

 

Beginsels van Kunsmatige Uitbroei

In die eerste ondervinding met die broeimasjien kom die beginner dikwels voor probleme te staan wat heeltemal buite sy vermoë van verklaarbaarheid val en soms groot twyfel veroorsaak. Vir die hantering van die masjien is dit nodig om kennis te hê van die meganisme asook van die ontwikkelende embrio.

 

(a) Ontwikkeling van die Embrio

Die uitbroei van ‘n eier beteken die embriologiese ontwikkeling wat die bevrugte eiersel onder bepaalde toestande ondergaan oor 'n periode van 21 dae, wanneer die volmaakgevormde kuikentjie die dop verlaat om verder 'n selfstandige lewe voort te sit. Net soos by soogdiere, begin die kuikentjie die lewe as een enkele saamgesmelte. manlike en vroulike geslagsel, maar in teenstelling hiermee, vind hierdie verskynsel van ontwikkeling buite die liggaam van die moeder plaas. Die eier bevat al die potensiële reserwe-stowwe wat aan die noodsaaklike vereistes van die ontwikkelende kuiken sy volmaaktheid verstrek. Enige abnormale of foutiewe faktor in die eier sal direk of indirek die gesonde vorming en ontwikkeling van die embrio belemmer.

Dis bevind dat die bevrugte eier reeds by 'n temperatuur van 68° begin ontwikkel, en dat die vroeë stadium van ontwikkeling reeds in die eierkanaal begin het. Wanneer hierdie ontwikkeling op 'n baie drastiese wyse gesteur en onderdruk word, veroorsaak dit 'n swak kiem wat in die vroeë of latere embrioniese stadium sterf. Soms gebeur dit dat ongunstige omstandighede slegs die kiem verswak wat volledig uitbroei as 'n swak kuiken en gewoonlik 'n paar dae daarna doodgaan. Hierdie feite beklemtoon die belangrikheid van versigtige behandeling van eiers voordat dit in die broeimasjien geplaas word.

Die ingewikkelde biochemiese, fisiologiese en embriologiese prosesse wat plaasvind in die ontstaan van die kuiken kan nie hier bespreek word nie. Dit is egter interessant om op te merk dat gedurende die; 1ste en 4de dag die wit hoofsaaklik dien as voeding vir die embrio, waarna die geel vir die res van die periode hierdie funksie vervul, en op die 19de tot 20ste dag word die oorblywende geel in die liggaamsholte ingetrek. Gedurende die embrioniese ontwikkeling word die dopsoute, veral kalsium (Ca), afgebreek en gebruik in die vorming en neerlê van die skelet van die kuiken.

Net soos in die geval van ander ontwikkelende organismes, het die embrio suurstof nodig lank voordat die longe nog gevorm is en fungeer. Asemhaling vermeerder proporsioneel met die gewigstoename van die embrio en gaan gepaard met 'n verlies van water.

 

(b) Kritieke periodes gedurende Embrioniese Ontwikkeling

Op eksperimentele basis is bereken dat ongeveer 65 persent van die totale sterftes van embrio’s geskied gedurende twee stadiums van die ontwikkelingsperiode, nl., die 2de-4de dag, en 19de-21ste dag. Gedurende verloop van die 1ste periode word die verskillende liggaamsorgane van die kuiken gevorm, en gevolglik veroorsaak enige versteurende toestand 'n negatiewe en noodlottige invloed op uitbroeibaarheid. Vanaf die 19de-21ste dag begin die kuiken deur sy longe asemhaal, swak ventilasie of onvoldoende voorsiening van suurstof gedurende hierdie periode veroorsaak verstikking en 'n hoë persentasie sterftes in die dop. Onder sulke toestande van lughonger draai die kuiken in sy soek na lug, in die dop en kom sodoende met sy kop in die skerpkant van die eier.

Die normale posisie van die kuiken in die dop is met die kop in die groot- of dik-end van die eier, regs gedraai sodat die bek onder die regtervlerk is in die rigting van die lugruimte. Die bene is teen die maag gevou en die pote raak die kop. Enige ander toestand van dooie kieme wat afwyk van die normale posisie, moet as verkeerd beskou word en as 'n aanduiding van onvoldoende lug of ander foutiewe toestande.

 

Vereistes vir Uitbroei van Eiers

Om die grootste aantal gesonde kuikens van 'n broeisel vrugbare eiers te verkry, is dit noodsaaklik om bekend en vertroud te wees met die ideale toestande waaronder eiers uitbroei.

(1) Posisie van die Eier in die Masjien.-Hoewel eiers in verskillende posisies in die masjien gesit word, is dit 'n minder bekende feit dat die verkeerde posisie ‘n nadelige invloed op die uitbroeiresultate het. Die korrekte posisie van die eier is skuins met die groot-end na bo; dit verseker beter uitbroei aangesien die kuiken met sy kop in die groot-end van eier ontwikkel en ook omdat meer eiers in hierdie posisie in die masjien gesit kan word.

(2) Temperatuur.-Weens die verwantskap tussen temperatuur, vog, en belugting, kan nie aan die een gedink word sonder om met die ander rekening te hou nie. Hierdie drie faktore is van die grootste belang om 'n hoë persentasie uitbroeibaarheid te verkry, en moet die een nie ten koste van die ander toegepas word nie. Temperatuur in die broeimasjien word gemeet deur termometers in grade Celsius (°C.) en Fahrenheit (°F.). Hoewel die meeste masjiene voorsien is van termometers met die Fahrenheit-skaal, word Celsius-termometers ook in sekere soorte gebruik. Om °C. oor te bring na °F word dit met 1.8 vermenigvuldig en 32° by die produk bygetel.

Verskillende soorte broeimasjiene het verskillende temperatuurbenodigdhede, en dus kan die tipes masjiene in twee groot groepe verdeel word, nl., (1) waar die hittebron aan die bokant van die eierlaai geleë is, en die hitte uitgestraal word sodat warm lug deur die eierkompartement versprei, en (2) waar warm lug meganies geforseer deur die eierlaai sirkuleer. Elke tipe masjien het feitlik sy eie optimale temperatuur wat gedeeltelik afhanklik is van vog en lugbeweging, sowel as die. plek waar die temperatuur gemeet word. Die temperatuur deur die termometer geregistreer, is afhanklik van die posisie waar dit in die masjien geplaas word. In stillug-masjiene word die termometer so geplaas dat die kwikbol net bokant die oppervlakte van die eiers is, of ongeveer 1½ duim bokant die bodem van die laai. In hierdie tipe masjien is die ideale temperature gewoonlik :

100-101 °F.-1ste week.

101-102 °F.- 2de week.

102-103 °F - 3de week.

 

By geforseerde-lugmasjiene is dit 'n konstante temperatuur van 99½° F. In alle gevalle is dit egter wenslik om die masjien te hou by die temperatuur soos voorgeskrywe deur die fabrikant.

Watter gevolge 'n hoë temperatuur kan hê, blyk daaruit dat ontwikkelende kieme meer bestand is teen lae temperature as teen hoë temperature. Hierdie bevindings is heeltemal in ooreenstemming met die natuur, want by natuurlike uitbroei onder die hen is die kanse van oorverhitting betreklik gering. Dit is belangrik en interessant om aan te toon wat plaasvind in die geval van oorverhitting:-

(i) Die spoed van ontwikkeling van die embrio word versnel sodat kuikens reeds op die 17de inplaas van die 19de dag pik.

(ii) Die voorkoms van abnormale en gebreklike kuikens is kenmerkend.Die meeste van die organe en veral die bewegingsorgane word gedurende die 1ste-4de dag neergelê, en enige foutiewe faktore veroorsaak misvormdheid en gebreklikheid.

(iii) 'n Lae persentasie uitbroeibaarheid word verkry. Kuikens ontwikkel mooi groot en normaal tot die 18-19de dag, wanneer dit in die dop doodgaan. Die kuikens wat wel uitbroei, is tengerig en klein, donse is kort en lyk verskroei, taaierig en gekoek. Die bek en bene van die geeIvel rasse is verbleek en gebleik. Die eiergeel word swak absorbeer, en die doppe is nat en bloederig.

Daarenteen het 'n lae temperatuur weer 'n vertragende en stremmende uitwerking op die spoed van groei van die embrio. Die ontwikkeling is stadig, minder koolsuurgas word afgegee en minder suurstof opgeneem. Die kuikens broei laat uit -pik eers op die 21ste -22ste dag, en die persentasie uitbroeibaarheid is laag. Die kuikens is groot, pap, nat, en lyk asof hulle onder baie vogtige toestande uitgebroei is. Soos by hoë temperature, is daar 'n groot aantal gebreklike en misvormde kuikens, die doppe is vuil en nat, en die kuikens wat uitbroei, toon 'n swak leefbaarheid.

Afkoeling van eiers is onnodig. In elektriese masjiene met geforseerde lug word die eiers nooit afgekoel nie en uitstekende resultate word verkry. By stillug-masjiene is dit nie 'n noodsaaklikheid om eiers af te koel nie, hoewel daar geen nadeel skuil in die afkoeling van eiers vir solank as 20 minute vanaf die 15de dag nie. Waar die temperatuur soms buitengewoon hoog gestyg het, kan die eiers afgekoel word deur die laai oop te trek vir 'n paar minute. Vinnige afkoeling van eiers in 'n kamer met 'n lae temperatuur kan soms baie noodlottig wees.

 

(3) Asemhaling en ventilasie

Net soos enige ander lewende en ontwikkelende organisme, het die embrio vanaf die 1ste dag suurstof (O2) nodig en koolsuurgas (CO2) word afgegee. Daar bestaan 'n gedurige gaswisseling tussen die eier en die omringende lugmassa of atmosfeer. Gaswisseling vind plaas deur die klein porieë wat hoofsaaklik in die dik-end van die eier gekonsentreer is, en waar die lugruimte geleë is. Die Iugruimte vervul die belangrike funksie om die embrio van vars lug te voorsien. Namate die embrio in gewig toeneem, vind daar 'n proporsionele vermeerdering in gaswisseling plaas.

Doeltreffende ventilasie van die masjien het dus ten doel die verwydering van koolsuurgas (CO2) en die verskaffing van die lewegewende suurstof (O2).

'n Gedeeltelike verlies van vog vind ook plaas in die proses van gaswisseling deur verdamping; dikte en poreusheid van dop beïnvloed die snelheid van verdamping uit die eier tot 'n groot mate, en eiers met poreuse doppe verloor vinnig vog. In stillug-masjiene word vanaf die 15de dag genoegsame voorsiening gemaak vir lug, en word die vog ooreenkomstiglik beheer. Vanaf die 18de tot die 21ste dag, wanneer die kuiken deur sy longe asemhaal, moet alle voorsorg vir ventilasie vooraf getref word.

 

(4) Vogverlies

Gedurende die broeiperiode vind daar 'n gestadige verlies in gewig van die eier plaas. 'n Gedeelte van hierdie verlies in gewig is toe te skrywe aan die verlies van water vanuit die eier deur verdamping. Die spoed van verdamping is afhanklik van faktore soos dopdikte en poreusheid, dampspanning van omringende atmosfeer, lugbeweging en temperatuur. Onder dampspanning word verstaan die verhouding van die hoeveelheid vog in die lug by daardie temperatuur in vergelyking met die totale hoeveelheid vog wat die lug by daardie temperatuur kan dra. Hoe hoër die temperatuur styg, hoe meer waterdamp kan die lug dra, en omgekeerd. Die hoeveelheid vog in die broeimasjien word deur die natboltermometer of higrometer gemeet.

Die droë klimaat van die Unie maak die verwantskap tussen vog en temperatuur baie belangrik, en met uitsondering van die kusstreke waar die winter betreklik nat en vogtig is, is dit byna onmoontlik om 'n te hoë vog te verkry in stillug-masjiene. Die beste vogtoestande behoort 60 persent te wees of 'n temperatuur van 85-89 °F op die natbol-termometer.

Die gevolge van 'n te lae vog word gekenmerk deur 'n hoë verdamping (vinnige vergroting van die lugruimte in die eier), met die gevolg dat kuikens wat wel uitbroei, klein is. Die tekens toon baie ooreenkoms met die van eiers wat uitgebroei is onder 'n te hoë temperatuur. Die leë doppe is klewerig en bloederig, kuikens droog gou af en lyk verbrand. Baie donse vlieg in die masjien rond, en die persentasie sterfte is gewoonlik hoog. Hierdie faktore en toestande is bevorderend in die verspreiding van siektes soos B. W .D. en hoendertifus.

Waar die korrekte persentasie vog deur die broeiperiode gehandhaaf is, is die kuikens mooi groot, skoon en gesond.

Vir vogvoorsiening in die droë binnelandse streke is dit dikwels noodsaaklik om by stillug-masiiene spesiaal voorsiening te maak vir vog deur middel van vlak panne. Gebruik fyn sand in die panne en hou dit klam deur elke paar uur warm water by te gooi, of anders 'n perforeerde plaat wat met seil of sak toegedraai word en in die pan gesit word. Anders kan eiers natgespat word met lou water, veral gans- en eende-eiers. Dit word nie aanbeveel by hoendereiers nie. Soms word die vog in die masjien ook verhoog deur ventilasie te beperk of te verminder, maar dis nie raadsaam nie, omdat dit die uitbroeiresultate verlaag. As die broeikamer se vloer van sement is, kan dit natgespat word, of anders kan nat sakke daar opgehang word.

 

Werksaamhede met Broeityd

Die broeiseisoen is 'n belangrike en besige tyd vir die pluimveeboer, en vroeg reeds word voorbereidings getref vir die uitbroei van eiers.

Uitsoek van Teelhoenders - Hierdie uitsoekwerk is uiters belangrik, want die nageslag wat verkry word, is die toekomstige produseerders en teelouers. Alleen die beste en van die hoogste standaard moet hier gebruik word. Die kwaliteit van die eier, en die bevrugte eiersel waarin opgesluit Iê, die potensiële winsgewendheid van die onderneming en die toekoms van die pluimveebedryf, kan nie verander word nadat die eier gelê is nie. Dit is beter om min kuikens van goeie kwaliteit uit te broei as dubbel die aantal van swak kwaliteit.

Behandeling van Teelhoenders - Goeie teelhoenders eis goeie versorging en behandeling om gesonde eiers van hoë kwaliteit te produseer. Hierdie versorging vereis 'n volledig-gebalanseerde rantsoen, gerieflike behuising, en beskerming teen interne en eksterne parasiete. Produksie van eiers is 'n fisiologiese funksie van die liggaam, en as die liggaam gebrek ly, vind daar 'n daling in die uitbroeibaarheidsvermoë van die eier plaas, en is ook oorsaak van swak kuikens. Duisende eiers gaan jaarliks verlore deur onvrugbaarheid, terwyl baie kuikens in die embrioniese stadium vrek as gevolg van swak behandeling gedurende een of ander fase van die broeipraktyk.

Uitsoek van Broei-eiers - Swak kuikens word van swak eiers verkry, en uit 'n standpunt van winsgewendheid is so iets 'n mislukking. Alleen die beste eiers, eenvormig in grootte, kleur, vorm, en met gesonde dop moet uitgesoek word. Die eienskap van eiergrootte is nou gekorreleer met liggaamsgewig, en beide hierdie eienskappe is oorerflik. Dus kan die eienskappe van klein eiers en subnormale gewig gou in die trop ingeteel en gevestig word. Eiers met 'n gemiddelde gewig van 2 onse gee die eenvormigste uitbroeiresultate, swaar eiers broei swak uit en neem gewoonlik van 10-20 uur langer om uit te broei. Enige abnormaal gevormde eier of die met 'n dun, broos, swak glasagtige of gekraakte dop moenie in die masjien geplaas word nie.

Gewaste eiers broei swak uit. In die wasproses word die natuurlike beskermingslagie van die eier verwyder, die porieë oopgemaak en oortollige verdamping vind plaas. Besoedelde eiers dra ook siektekieme, wat deur die dop indring as die eier gewas word. So 'n eier kan 'n gevaarlike bron van besmetting wees, veral in geforseerde-lug masjiene en moet vermy word.

Behandeling en Bewaring van Broei-eiers - As 'n eier gelê word het dit alreeds die vroeë stadium van embrioniese ontwikkeling begin, terwyl dit nog in die liggaam van die hen was. Die ideale toestand sou wees om dadelik die eier in die masjien te plaas en sodoende nie die ontwikkeling te strem nie. In die praktyk is dit egter onmoontlik en is die opberging van broei-eiers vir 'n week 'n noodsaaklike euwel. Eiers moet in elk geval nie langer as 'n week opgegaar word nie. Eksperimentele werk het aangetoon dat uitbroeibaarheidsvermoë van ‘n vrugbare eier 'n geleidelik vermindering en daling ondergaan met die lengte van tyd van bewaring. Hou ouer die eier word, hoe minder is die kanse dat dit sal uitbroei. Deur die volgende na te kom en uit te voer kan die uitbroeibaarheidsvermoë van eiers betreklik hoog gehou word:-

(i) Versamel broei-eiers minstens 2 keer per dag, en hou in 'n koel stil plek by 'n temperatuur van 50-55° F.

(ii) Hou eiers in 'n horisontaal-liggende posisie en draai gereeld daagliks na die eerste 3 dae, of pak in eierkaste met die groot-end na bo; daar is geen voordeel in om eiers wat slegs vir 'n paar dae gehou word, te draai nie.

(iii) Hanteer versigtig. Eiers wat blootgestel word aan onnodige skud en rowwe behandeling deur vervoer, broei minder goed uit.

 

Die Broeikamer - Enige vertrek of gebou kan sonder buitengewone onkoste verander en ingerig word om higiënies te wees, met 'n taamlike egalige temperatuur en voldoende ventilasie om vars lug te verskaf en om koolsuurgas te verwyder. Verder moet die plafon so hoog moontlik wees om 'n groter volume lug per eier te verskaf. Die vogtoestand moet goed wees en die vertrek moet genoeg ruimte verskaf. Dit moet nie ver van die huis weg wees nie.

Die moderne Broeimasjien - Die beginsels waarop die moderne broeimasjien gebou is, is direk in ooreenstemming met die natuurlike uitbroeivereistes van die eier. Dit bestaan uit 'n meganisme waarin die temperatuur, voggehalte, en lugtoevoer op 'n baie gevoelige wyse gekontroleer en konstant gehou word. Ooreenkomstig metode van verhitting, brandstofbenodigdhede, grootte, en tipes kan broeimasjiene in verskillende klasse gegroepeer word.

Die volgende tipe broeimasjiene is verkrygbaar.-(1) natuurlike lugtoevoer- of stillug-masjiene; en (2) kabinet-tipe of geforseerde-lugtoevoer.

In Suid-Afrika waar elektrisiteit op die plattelandse plaas nog 'n luukse voorreg is word meesal die stillug-tipe gebruik, waarin warm lug en warmwater-pype die middel van hitte-oordraging is. Van hierdie soort is daar hoofsaaklik twee tipes. nl. die wat met steenkool verhit word, en die wat met paraffienlampe werk.

Die geforseerde-lug-masjien werk meesal met elektrisiteit en bied groter voordele en makliker hantering as die stillug-tipe. Die groottes varieer van 50 tot 20,000 eiers. Die masjien word opgesit volgens voorskrifte deur die fabrikant. Die masjien moet waterpas gesit word en moet so 'n posisie inneem dat dit gemak en gerief verskaf. Alle termometers moet minstens eenkeer per jaar getoets word met 'n kliniese termometer wat by 'n apteek of plaaslike dokter geleen kan word. Die bolle van die termometers word in dieselfde diepte of vlak in die lou-warmwater (101° F.) gehou, terwyl die water geroer word.

As die termometers korrek is, sal die lesing presies dieselfde registreer.

Die broeimasjien behoort aan die begin en tussen broeisels baie deeglik skoon gemaak te word, deur dit te ontsmet met kresoldipsoorte of formalien. Na ontsmetting kan die waterpanne en laaie in die sonlig geplaas word vir 'n dag. Hierna word die masjien weer aan die gang gesit, en as die temperatuur korrek is, word dit gelaai. Dog voordat dit gelaai word, moet dit eers vir 2-3 dae aan die gang gesit word om die termostate, en by stillug-masjiene, die kapsules te toets. Die kapsules word in warm water geplaas om te sien of hulle opswel. Termometers word in verskillende plekke in die eierlaai of kompartement gesit, en die lesings, vergelyk. Hierna word die masjien gelaai, en soos verwag word, sal die temperatuur daal en vir 'n paar uur laag bly totdat die eiers warm is. Volg die fabrikant se instruksies noukeurig.

 

Opsomming van Optimale Uitbroeitoestande

Die temperatuur moet so na moontlik konstant gehou word soos aangegee vir elke week, en dalende en stygende skommelinge moet verhoed word. Die beginner moet gereeld die masjien nasien in tye van sterk winde, reën of 'n vinnige daling in temperatuur. Onthou dat gedurende die laaste dae van die uitbroeiperiode hitte deur die kuiken afgegee word en die temperatuur outomaties sal styg.

In die verskaffing van ventilasie word die lugspasie van die eier dopgehou wat dien as 'n aanduiding van die spoed en hoeveelheid verdamping wat plaasvind. Gedurende die eerste week word betreklik min ventilasie verskaf, meer ,gedurende die tweede week, en genoegsame voorsiening moet gemaak word vanaf die 18de -21ste nag.

Deur die vogtigheid op 60 persent te hou gedurende die broeiperiode sal daar voldoen word aan die vogbenodighede van die embrio. Verhoed oormatige verdamping - die lugruimte moenie meer as ⅓ van volume van die eier beslaan op die 19de dag nie.

Draai van eiers.-Onder die uitbroeitemperatuur vind daar 'n vinnige vermindering in die kwaliteit van die wit plaas, en die verwateringsproses het as volg dat die geel en die kiem teen die dop vasgedruk word. Om dit te verhoed, moet die eiers vanaf die 2de dag gereeld minstens 2 maal daagliks gedraai word. Gedurende die eerste paar dae is dit wenslik om die eiers minstens 3 keer per dag te draai. By stillug-masjiene word die eierlaai uitgetrek en as dit baie vol en styf is, word 'n paar eiers uitgehaal en met die palm van die hand word die eiers dan gedraai. Gedurende die draaiproses word die deur van die masjien toegehou. Na die 18de dag word die eiers nie meer gedraai nie. Draai die eiers laat in die aand en vroeg in nie oggend om sodoende die nagperiode so kort as moontlik te maak.

 

Toets van Eiers

Die eiers moet twee maal getoets word gedurende die periode van uitbroei. Die doel is om al die onvrugbare eiers en dooie kieme te verwyder. Vanaf die 5de-7de dag word al die onvrugbare eiers en dooie kieme verwyder. By die kabinet-tipe masjien word hierdie toets nie gedoen nie. Die kieme wat by die eerste toets twyfelagtig is, word oorgedra tot die 19de dag wanneer alle dooie embrio’s wat na die 1ste toets dood gegaan het, verwyder word.

Die bekende ligtoets word hier gebruik. 'n Sterk gekonsentreerde elektriese lig of sonligstrale word deur die eier geskyn. Onvrugbare eiers is helder, waterig, en die donker bewegende skaduwee, nl. die geel is duidelik sigbaar. By die eerste toets vertoon die lewende groeiende kiem spinnekopagtig. Die donker kol of em brio lyk soos die lyf van die spinnekop en die vertakte bloedare stel die bene van die insek voor. ‘n Dooie kiem, d.w.s. 'n kiem wat die ontwikkeling begin het en toe om een of ander rede dood gegaan het, wys min bloedare, sit soms aan nie dop vas, of toon die tipiese ligrooi bloedring. Vanaf die 18de dag word die eiers in die broeikompartemente geplaas, en as daar stamboek geteel word, word die eiers op hierdie dag in die gaasnet-sakkies geplaas, sodat sulke spesifieke paringe afsonderlik uitgebroei en gemerk kan word.

Onvrugbare eiers kan hard gekook, fyngemaak en aan kuikens gevoer word, mits die persoon in besit is van 'n B. W .D. vrye sertifikaat, en geen eiers van vreemde of onbekende oorsprong uitgebroei word nie. B. W .D. (Bassilêre wit diarree) is 'n gevaarlike aansteeklike siekte, en in gevalle waar dit uitgebreek het, was die skade groot. Dit is veiliger om die onvrugbare eiers en dooie kieme te begrawe of aan varke te voer. By groot kommersiële broeierye word die onvrugbare eiers soms na looifabrieke gestuur.

Uithaal van kuikens.-Die broeimasjien word nie oopgemaak voor die 21ste dag nie, want kuikens wat nog nie uit die doppe is nie, of wat nog nat is, kan deur die vinnige instroming van koue lug maklik koue kry, en gevolglik baie skadelik wees. Die oopmaak en oophou van deure verminder ook die voggehalte van die lug in die broeikompartement en baie van die kuikens wat nog in die dop is, sal moeilik daarvan ontslae raak. Waar daar deurskynende glase in die deur van sekere masjiene is, moet dit bedek word, sodat die kuikens nie deur lig aangetrek word en mekaar verdruk en vertrap voor die deure nie.

 

Tyd van Uitbroei

Die lengte van die Suid-Afrikaanse broeiseisoen is vir alle streke, met uitsondering van kleinere verskille, deurgaans dieselfde, en strek vanaf 1 Junie tot 15 September. Die uitbroei van kuikens vir slagdoeleindes kan deur die hele jaar geskied, hoewel beter groei en ontwikkeling gedurende die wintermaande gemaak word.

Hoewel die broeiseisoen algemeen oor 'n periode van 14 weke strek, is daar tog groot voordeel in om kuikens vir, winsgewende eierproduksie gedurende sekere tye uit te broei, en hier word definitief verskil gemaak tussen swaar en ligte rasse.

Waar eiers van ligte rasse, soos Wit Leghorns vroeg uitgebroei word, d.w.s. in Junie of Julie, begin die hennetjies reeds vroeg in Desember en Januarie te Iê Gedurende hierdie maande is die prys van eiers nog laag en is die produksie Die baie winsgewend nie. Dit gebeur dikwels dat hierdie hennetjies gedurende Maart en April, die tyd van natuurlike verveer, ophou produseer en in 'n tydelike verveer gaan. In hierdie maande is eiers reeds duur en daar die hennetjie nie begin Iê voor diep in die winter nie, is hulle bale onwinsgewend. Kuikens van swaar rasse wat gedurende hierdie tyd uitgebroei is, is nie geneig tot tydelike verveer nie, omdat hulle later geslagsryp word, en derhalwe eers in Februarie begin Iê en aanhou deur die winter. Die regte tyd om kuikens van ligte rasse uit te broei, is vanaf 15 Julie tot 15 September, en die van swaar rasse van 15 Julie tot 31 Augustus. Dit is egter beter om kuikens te vroeg as te laat uit te broei, want dit word grootgemaak teen kleiner verlies. Kuikens wat laat in die voorsomer uitgebroei is, d.w.s. na September, is onekonomies. Gedurende warm weer word swak groei en ontwikkeling gemaak en die kuikens is op 'n baie vatbare ouderdom in die tyd van die jaar, wanneer interne parasiete, pokkies en coccidiosis hoogty vier en gevolglik groot verliese veroorsaak.

Waar uitbroei, grootmaak en behandeling van kuikens nie so uitgevoer word dat dit optimale groei en konstitusionele kwaliteit behou nie, sal nie meer as 'n nominale profyt afgewerp word nie.Die sukses van die boerdery berus op die sukses om kuikens groot te maak.

Waarskuwing - Dit gebeur dikwels dat persone nie oor die vereiste uitbroeifasiliteite beskik nie en dan 'n ooreenkoms maak met andere wat die uitrusting besit om eiers uit te broei teen vergoeding van die broeikoste. Hierdie praktyk kan onbewus en onbekend met die gevare waaraan die ondernemer blootgestel is, tot groot verliese ly. Die kliënt se eiers mag besmet wees met aansteeklike siektes, soos B. W .D. en hoendertifus, en nie alleen word die masjien besmet nie, maar dit versprei met noodlottige gevolge vir baie ander kliënte. Dus moet daar waarborge wees dat die eiers gesond is en vry van besmetting.

Kommersiële Broeierye - Dit is besigheidsorganlsasies wat onderneem om eiers uit te broei teen sekere vasgestelde pryse, en wat duisende eiers jaarliks teen 'n prys effens hoër as markprys koop, dit uitbroei, en die kuikens met 'n groot wins verkoop. Die kwaliteit kuiken wat gelewer word, is nie altyd van betroubare gehalte nie.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 17