Last update: September 2, 2011 11:05:32 AM E-mail Print

 

'N KWANTITATIEWE PLANTKUNDIGE VERGELYKING TUSSEN 'N NOORD- EN SUID HELLING IN DIE SKYN HOëR KAROO

F A ROUX

Landboukollege Grootfontein 

 

INLEIDING

In die ekologie van landelike plantegroei speel aspek 'n uiters belangrike rol in die distribusie van plantspesies en die voorkoms van plantgemeenskappe. Van die mees opvallende verskille kom tussen noord- en suidhellings voor. Feitlik aIle ekologiese literatuur maak melding van hierdie tipe verskil en feitlike situasie (Clapham, 1973; Jones, 1983; Oosting, 1953; Tansley, 1923; Watts, 1971).

Opvallende plantegroei-verskille kom voor op noord- en suidhellings in die Skyn Hoër Karoo (Acocks Veldtipe 36; Acocks, 1975). Hierdie verskille is van besondere belang in die benutting met plaasvee van die plantbedekkings (veldsoorte) veral met betrekking tot die skeiding van die soorte en hul spesifieke reaksie ten opsigte van benutting (Anderson, 1972).

Ten einde die omvang van die plantegroei-verskille tussen 'n noord- en suidhelling op 'n tipiese oos-wes Karoorant te illustreer, is kwantitatiewe plantopnames op 'n teenoorstaande noord- en suidhelling onderneem.

 

PROEFTERREIN EN UITLEG

'n Karoorant, 80 m hoog en feitlik presies oos-wes georiënteer (6° oos by suid-oos) is op die Landboukollege Grootfontein geselekteer vir die vergelykende opnames. Die rant is basies 'n dolerietintrusie deur strata van die Beaufort Groep.

Op elke helling, feitlik direk teenoorstaande, is 'n perseel 200 m lank en 50 m wyd afgebaken (Fig 1 en 2). Hierdie oppervlakte akkommodeer 10 ewewydig gespasieerde opnamelyne van 200 monsterpunte elk. Die plantegroei op die hoofpersele is goed verteenwoordigend van die algemene plantegroei op die spesifieke soort helling. Die plantbedekking op die noordhelling is dominant Heteropogon contortus (swartangel) en die op die suidhelling Themeda triandra (rooigras). Daar is 'n groot aantal spesies wat gemeenskaplik tot die noord- en suidhellings voorkom.

Beide hellings is bedek met dolerietklippe van wisselende grootte. Grondverskille is nie opsigtelik nie; die grond op die noordelike en suidelike hellings is geïdentifiseer as 'n doleritiese mispah (J S Greyling, pers. mededeling).

Die benutting van die twee hellings het verskil deurdat die noordhelling onder 'n sogenaamde 3-kamp wissel weidingstelsel bewei is en die suidelike helling, oor die afgelope 15 jaar, slegs in die winter bewei is. Beide hierdie benuttingstrategieë bevorder gras.

 

METODES EN TEGNIEKE

Die lyn-puntmetode van plantopname (soos deur Roux ontwerp - Tidmarsh en Havenga, 1955) is gebruik vir die bepaling van basale (B) en kroonuitgestrektheidsbedekking (R) soos deur Roux (1963) gedefinieer. Die naaste plant (N) is ook genoteer indien die monsterpunt geen treffer (B of R) gehad het nie.

Tweeduisend monsterpunte, een meter van mekaar, versprei in 10 parallelle lyne, 5 m uitmekaar en 200 monsterpunte elk, het voldoen aan die statistiese vereiste vir betekenisvolheidsbepalings by p = 0,05. Vir meer detail vergelyking tussen persele en op persele, is elke groot perseel in 4 gelyke sub-persele, A, B, C en D onderverdeel (Fig. 3). Die opnamedata is geregistreer soos deur Roux (1963) beskryf. Die Z-indeks (Roux, 1969) vir gemeenskaplikheidsbepalings is ook op die data toegepas.

 

Die spesies wat in die plantopnames verkry is, is in hul ekologiese groepe (Tabel 1) geklassifiseer volgens die groepklassifikasie-sisteem van Blom (1981).

 

Fitomassa

Fitomassa is bepaal deur alle plantegroei binne 'n kwadraat van 10 m2 af te sny en te droog by 80° C vir 24 uur. Een kwadraat is per subperseel (A; B; C en D) gesny. Daar is dus 40 m2 se fitomassa per helling gesny. Alle grasspesies se massa is apart bepaal, terwyl die van bossies in totaal bepaal is (Tabel 2).

 

Ekologiese observasies

Observasies is gemaak ten opsigte van die voorkoms van die verspreiding van plantspesies soos byvoorbeeld aalwyne, bossoorte, struike, ensovoorts.

 

RESULTATE EN GEVOLGTREKKING

Die resultate wat ingewin is, is vergelyk met die doel om spesifieke-kwantitatiewe verskille te identifiseer of te bevestig.

 

Noord- en suidpersele

Tabel 1 verskaf 'n volledige vergelyking tussen die persentasie basale en kroonuitgestrektheidsbedekkings op die suidelike en noordelike hellings. Uit die tabel is dit duidelik dat daar betekenisvolle verskille voorkom veral met betrekking tot totale basale bedekking (suid = 5,45 %; noord = 4,2 %), kroonuitgestrektheidsbedekking (suid = 76,25 %; noord = 70,60 %) en, ten opsigte van die klipbedekkings, naamlik suid 45,15 % en noord 52,0 %. Themeda triandra is dominant op die suidelike helling (B = 1,5 %, R = 22,15 %) en Heteropogon contortus dominant op die noordelike helling (B = 2,7 %; R = 28,1 %).

Dit is moontlik om etlike direkte verskille tussen die ander mindere komponente van die onderskeie bedekkings uit te wys. Die bosse en bosstruike soos Rhus erosa, Diospyros lycioides, D. austro-africana, Rhigozum obovatum, Euclea coriacea, Rhus undulata, Buddleja glomerata en Tarchonanthus camphoratus is van mindere belang, maar is vanweë hul kroonuitgestrektheid en hoogte opvallend.

Daar is etlike tipiese suidelike spesies, naamlik Cymbo-pagan plurinodis wat feitlik op die noordekant afwesig is. So ook is Digitaria eriantha (voorheen D. argyrograpta) volop suid en skaars noord. Dimorphotheca cuneata kom slegs suid voor. Aan die noordekant is Enneapogon scorparius redelik volop en min suid. So ook kom Indigofera sessilifolia feitlik ook net noord voor. Die meeste ander spesies kom in wisselende mate beide noord en suid voor. Van die totaal van 76 spesies wat in perseelopnames genoteer is, is 36 gemeenskaplike spesies.

 

Persentasie gemeenskaplikheid (Z-indeks)

As gevolg van die moeiIik interpreteerbare direkte vergelykings in die opnamedata noord en suid en tussen subpersele is gebruik gemaak van 'n gemeenskaplikheidsindeks, Z (Roux, 1969) om dit meer verteerbaar te maak. Hierdie indeks verskaf 'n enkele syfer wat hoofsaaklik die kwantitatiewe ooreenstemming (similarity) uitbeeld.

Tabel 2 verskaf 'n opsomming van die Z-indeks-vergelykings tussen die persele. Uit Tabel 2 is dit duidelik dat die ooreenkoms tussen die noord- en suid-hoofpersele betreklik swak (37 %) is. Die laagste ooreenkoms (gemeenskaplikheid) is tussen subpersele C noord en suid met 14,7 %.

 

Figuur 4 verskaf grafiese voorstellings van gemeenskaplikheid tussen subersele op dieselfde hellings. In die verband is dit insiggewend om te let op die lae Z-indekse tussen twee aanliggende subpersele B en C op die suidhelling. Die spesies wat die grootste bydraes lewer tot die gemeenskaplikheid tussen sub-persele word op die figure aangetoon. Hoe dikker die lyne tussen die sirkels is, hoe sterker is die gemeenskaplikheid.

Die gevolgtrekking wat uit hierdie opnames en vergelykings gemaak tan word is dat daar hoogs betekenisvolle verskille tussen die plantbedekkings van die noord- en suidhellings bestaan en dat daar aansienlike plantegroeigradiëntverskille bestaan op 'n spesifieke helling (byvoorbeeld tussen sub-perseel A en C op die suidhelling, met 43 %, Figuur 4) maar nêrens so groot as tussen noord en suid nie, met slegs 37 %. Die verskille tussen sub-persele op 'n spesifieke helling dui op plantegroeigradiënte en oorgangsones.

 

Spesieverspreidingspatrone

As gevolg van die notering van naaste plant tot die monsterpunte was dit moontlik om die distribusiepatrone van spesies te bepaal. Tabel 3 verskaf die resultate verkry van die hoofspesies.

 

Uit Tabel 3 kan duidelik gesien word dat die grootste struike neig om meer volop voor te kom op die hoër gedeeltes van die hellings (sub-persele D). Rhus erosa toon 'n meer uniforme verspreidingspatroon soos in Figure 1 en 2 gesien kan word.

 

Fitomassa

Resultate van die fitomassas in die sub-persele kom voor in Tabel 4. Dit is duidelik dat die fitomassa van 4 293 kg/ha op die suidelike helling baie groter is as op die noordelike helling met 2 543 kg/ha.

 

Die moontlikheid bestaan om die kroonuitgestrektheidsbedekkings (R) in verband te bring met die fitomassa, of om 'n beraming van plantproduksie te maak. Deur, byvoorbeeld T triandra op Tabel 1 en 3 te vergelyk met sy bydrae tot fitomassa (Tabel 4) kan gesien word dat daar 'n verband bestaan. Tabel 3 toon dat bossies meer voorkom in die laerliggende persele. Dit kan moontlik gewyt word aan die vlakte-invloed waar bossies dominant voorkom. Om die fitomassa en plantegroeiverskille in verband te bring met plantproduksie, of meer praktyk gerig, weidingskapasiteit, is die sogenaamde ekologiese indeksmetode (Vorster, 1982) op die plantegroei opnamedata (Tabel 1) toegepas.

Die resultate het getoon dat die weidingskapasiteit op die suidelike helling 1,0 kleinvee-eenhede (KVE) per hektaar is en op die noordelike helling 1 KVE/1,24 ha ten tye van die opname.

Hierdie resultaat staan nie in direkte verband met fitomassa nie, omdat 'n groter persentasie onbenutbare plantmateriaal op die suide voorkom (Tabel 1) waar "ekologiese groepe" aangetoon word. Hierdie situasie toon dan ook 'n ingewikkelde interaksie tussen plantegroeisamestelling, digtheid, kwaliteit en produksie.

 

Ekologiese observasies

Die opnametabelle en betrokke figure verskaf uiteraard alle belangrike data in verb and met die plantegroei en bedekkingsgeaardheid. Ondersteunend tot hierdie data is die ekologiese observasies wat op die hellings gemaak is, om verdere ekologiese verskille uit te beeld.

Dit word allerweë verwag dat die noordelike helling 'n droë en warm habitat is.

So byvoorbeeld is H contortus 'n tipiese noordhellingspesie in die Karoogebiede en T triandra meer tipies op die suidelike hellings.

 

Die voorkoms van Aloe broomii (Figuur 5), 'n xerofitiese spesie op die suidhelling, is nie ongewoon nie. Inteendeel dit neig om baie meer suid voor te kom. Op die noordelike helling kom A. striata voor. Geeneen van hierdie spesies is egter deurslaggewend as helling-indikators nie.

 

'n Aspek van besondere belang is die klipbedekking. Figuur 6 beeld die situasie uit nadat plantegroei op grondhoogte afgesny is. Die teenwoordigheid van klip beïnvloed reënval afloop en beskerm ook die grond teen verdamping. Die gevolg is dat met gelyke reënval 'n habitat met klip bedek, 'n klammer habitat tot gevolg het.

Ander faktore wat plantdistribusie beïnvloed is die koelte effekte van die groter struike soos Rhus eroso. Hierdie koelte-aspek is meer opvallend op die suidelike as die noordelike helling.

 

ALGEMEEN

Daar is in die doel van die ondersoek geslaag. Hierin is die plantegroei van 'n noord- en suidhelling gekwantifiseer en is die verskille duidelik na vore gebring.

 

Koelte-oppervlaktes (klip en plantegroei) op die suidelike helling is vanselfsprekend baie groter as op die noordelike helling (Figuur 7). Hierdie invloede moet betekenisvolle verskille in die grondvog en grondtemperature tot gevolg hê (byvoorbeeld die voorkoms van mos op die suidhelling).

Logies is die noordelike helling 'n droër en warmer habitat en word ook gemanifesteer deur die gemete plantegroeiverskille. Grondsoort speel 'n ondergeskikte rol in die geval van Karoorante in die Skyn Hoër Karoo. Hierdie stelling is gebaseer op die feit dat geen opsigtelike grondverskille op noord en suid voorgekom het nie (beide kante 'n doleritiese mispah), maar dat plantegroeiverskille gehandhaaf word.

Om die orde van hierdie verskille in perspektief te stel en voldoende te kwantifiseer, sal betreklike langtermyn mikroklimatologiese studies noodwendig tesame met die monitering van grondvogstatus gedoen moet word.

Daar kan tot die gevolgtrekking gekom word dat die primêre faktore wat vir die verskil in die plantegroei van noord- en suidhellings verantwoordelik is, in die mikroklimaat (ook grondmikroklimaat) geleë is, soos deur helling en aspek bepaal.

 

VERWYSINGS

ACOCKS, J.P.J., 1975. Veld Types of South Africa. Bot. Surv. S. Afr. Mem., 40. Staatsdrukker Pretoria.

ANDERSON, WILLIAM, E., 1972. Acreage increase due to slope. J. Range. Mgmt., 25 : 316 - 317.

BLOM, C.D., 1981. Groepsklassifikasie van Karooplante. Ongepubliseerd.

CLAPHAM, W.B., Jr., 1973. Natural ecosystems. Macmillan Publishing Co., Inc. New York.

JONES, HAMLYN, G., 1983. Plants and microclimate – A quantitative approach to environmental plant physiology. Cambridge University press.

OOSTING, H.J., 1953. The study of plant communities. W.H. Freeman and Co. San Francisco, California.

ROUX, P.W., 1963. The decending-point method of vegetation survey. A point-sampling method for the measurement of semi-open Grasslands and Karoo vegetation in South- Africa. S. Afr. J. Agric. Sci., 6, 273 - 288.

ROUX, P.W., 1969. The autecology of Tetrachne dregei Nees. PhD- tesis. Universiteit van Natal. Pietermaritzburg.

TANSLEY, A.G., 1923. Practical plant ecology. Unwin Brothers, Limited, The Gresham press, London and Woking.

TIDMARSH, C.E.M. & HAVENGA, C.M., 1955. The wheelpoint method of survey and measurement of semi-open grasslands and Karoo vegetation in South Africa. Mem. bot. Surv. S Afr No. 29. Staatsdrukker, Pretoria. 49 p.

VORSTER, M., 1982. The development of the ecological index method for assessing veld condition in the Karoo. Proc. Grassld. Soc. sth. Afr., 17 : 84 - 89.

WATTS, D., 1971. Principles of Biogeography. McGraw-Hill Book Company.

 

Published

Karoo Agric 4 (1) 17-26