Last update: March 30, 2012 02:13:10 PM E-mail Print

 

Lammortaliteit by Herfs- en Lentegepaarde Ooie

 

P.G. Marais. Landbounavorser

Diereproduksie

Karoostreek

Privaatsak X529 Middelburg K.P. 5900

 

 

SEDERT die vroegste jare is huisdiere ontwikkel om aan die steeds veranderende behoeftes van die mens te voldoen. Die praktyke wat vandag in diereteelt toegepas word om produksie te verhoog, gehalte te verbeter en nuwe rasse te ontwikkel, is dus 'n voortsetting van, en verbetering van praktyke wat alreeds vir baie eeue in gebruik is. 'n Belangrike aspek by die teelt van plaasdiere is die mate waartoe die teeltideaal vir maksimumproduksie en die aanpassing van die dier by die toestande waaronder hy leef, verenigbaar is. Vir maksimumproduksie en reproduksie sal verskille op hierdie gebied uitgeskakel moet word, of deur regstelling van die teeltideaal, of deur verandering van die omgewingstoestande waaronder die dier moet leef.

Met 'n nasionale wolskaapkudde van sowat 20-miljoen waarvan 50 persent ooie is en waarvan nagenoeg twee-derdes in die aanteel-ouderdomsgroep val, kan daar potensieel 6,6-miljoen ooie per jaar lam. Met 'n gemiddelde lampersentasie van 77 persent beloop die jaarlikse lammeroes 5,08-miljoen. Die gemiddelde lamverliese beloop sowat 15 persent (Hofmeyr & Boyazoglo, 1965) of te wel 0, 762-miljoen lammers. Die direkte ekonomiese verliese aan hierdie lammers is dus geweldig hoog.

In 'n proef wat by die Landbounavorsingsinstituut van die Karoostreek te Middelburg K.P. oor 'n tydperk van ses jaar met 'n totaal van 2 684 Merino-ooie en hul 2 627 lammers onder ekstensiewe veldtoestande en met twee paarseisoene (herfs en lente) uitgevoer is, is die volgende resultate verkry.

 

"Skynbare prenatale mortaliteit"

As die aantal ooie wat gedek is, maar wat nie gelam het nie, as 'n maatstaf vir potensiële lamverliese geneem word, kan die voorgeboortelike lamverliese prakties beraam word (Tabel 1).

 

 

Hiervolgens is dit duidelik dat verliese by lentegepaarde ooie ongeveer 6% hoër is as by herfsgepaarde ooie. Voorts is dit ook duidelik dat hierdie waardes 'n aansienlike groter variasie tussen jare by lenteparing as by herfsparing vertoon.

 

Perinatale mortaliteit

Hierdie waarde verteenwoordig die aantal lammers wat dood aangetref is met identifikasie (kort na geboorte) en word uitgedruk in terme van die totale aantal lammers gebore (Tabel 2).

 

 

Volgens die resultate in Tabel 2 is dit duidelik dat relatiewe klein verliese gedurende hierdie periode voorgekom het. In aIle gevalle het groter verliese by die herfs- as by die lenteparing voorgekom.

Herfsparing toon 'n groter variasie, binne opeenvolgende jare, as lenteparing. Afgesien van die laer verliese met 'n lenteparing, kom verliese nie in al die jare soos by herfsparing voor nie. Dit is ook duidelik dat die verliese by eenlinge in beide die paarseisoene hoër is as die by tweelinge.

 

Postnatale mortaliteit

'n Beeld van die postnatale mortaliteit vir elke afsonderlike seisoen ten opsigte van lewendgebore lammers word in Tabel 3 aangetoon.

 

 

Uit die waardes vir die verskillende lamseisoene is dit duidelik dat die totale verliese laag is en dat die grootste verliese by herfslammers ondervind word. Die variasie in verliese is heelwat groter by herfs- as by lentelammers.

Ten einde 'n geheelbeeld te verkry van die periode waarin die grootste verliese ondervind word, word die resultate van aIle lamverliese tot op 'n ouderdom van 100 dae in Tabel 4 opgesom.

Dit blyk dus dat nagenoeg 30% van aIle sterftes by eenlinglammers in die herfs binne die eerste drie dae na geboorte plaasvind, teenoor die 26% van die wat in die lente gebore word. Dit is duidelik dat verreweg die grootste verliese onder pasgebore lammers binne die eerste sewe dae na geboorte voorkom. Ten opsigte van seisoensverskille sterf 'n groter persentasie herfs- as lentelammers (56,5% teenoor 34,8%). Opmerklik is die groot verliese wat onder lentegebore eenlinge vanaf 31 tot 100 dae ouderdom voorkom. Dieselfde patroon word by tweelinge, waarvan die ten dood is, aangetref met die verskil dat verliese binne die eerste sewe dae na geboorte aansienlik groter is.

Dit is dus moontlik dat die omgewingstemperatuur tydens partus en die lae voedingspeil vanaf Oktober tot Januarie verhoogde lamverliese tot gevolg mag hê.

Die groter persentasie sterftes by tweelinge as by eenlinge (Tabel 4) kan waarskynlik deels aan die ligter geboortemassa van tweelinglammers toegeskryf word. Ten opsigte van die verspreiding van lamverliese, is dit duidelik dat verreweg die grootste verliese binne die eerste drie dae voorkom. Dit is dus moontlik dat hierdie verliese aan 'n uitputting van energiereserwes toegeskryf kan word.

 

 

Ten einde te bepaal watter roI die geslag van die lam in postnatale mortaliteit speel, word die frekwensieverspreiding in totale lamverliese tussen geslagte in Tabel 5 aangegee.

 

 

Verliese by eenlinglammers is in 'n groter mate toe te skryf aan verliese van ramlammers. 'n Soortgelyke patroon word in beide lamseisoene aangetref en tree veral by herfslammers sterk na vore. By tweelinge waarvan die een dood is, word dieselfde neiging as by eenlinge aangetref,hoewel die verskil tussen geslagte  nie so groot is nie. Hierdie verskynsel is egter moeilik te verklaar, maar navorsingsresultate dui daarop dat ooilammers 'n hoër oorlewingsvermoë as gekastreerde of ramlammers besit. Dit wil dus voorkom asof dieselfde neiging ook moontlik in die huidige studie voorgekom het.

Die invloed wat die ouderdom van die moeder op postnatale mortaliteit uitoefen, word bereken deur die lamsterftes as 'n persentasie van die totale aantal lewendgebore lammers vir verskillende ooi-ouderdomme uit te druk (Tabel 6).

 

 

Volgens hierdie resultate is dit duidelik dat die laagste verliese by ooie in die ouderdomsgroep van vier tot vyf jaar voorgekom het. Opmerklik is dat die grootste verliese onder herfslammers, afkomstig vanaf tweejaar-oud ooie, voorkom. Die groot verlies van 12,6% by herfslammers, afkomstig vanaf tweejaar-oud ooie, kan as gevolg van die feit dat jong ooie nog self in 'n groeiende stadium verkeer en dat hulle gevoelig vir die ongunstige somerweidingstoestande is, verklaar word. Hierdie faktor lei weer tot lae melkproduksie, swak leefbaarheid van die lam en swak moedereienskappe.

Ter opsomming is dit duidelik dat indien die boer sy bestuurspeil gedurende lamtye opknap, baie lammers wat binne die eerste drie dae as gevolg van uitputting aan energiereserwes sterf, gered sal kan word.

 

VERWYSING

HOFMEYR, J.H. & BOYAZOGLO, J.G., 1965. Verslag oor die opname by Merinoskaapboere. Departementele verslag. November 1965.

 

Published

Karoo Agric 2 (3), 18-21 Agroanimalia 6, 1974