Last update: April 2, 2012 04:12:02 PM E-mail Print

 

VOEDING VAN DRAGTIGE EN LAMMEROOIE

 

P Zeeman

Grootfontein

 

INLEIDING

Die oorgrote meerderheid van die wêreld se skape wei op natuurlike veld. Dit is veral ook die geval in die semi-ariede gebiede in Suid-Afrika en meer spesifiek in die Karoostreek.

As gevolg van klimaatveranderings en seisoenverskille kom kwaliteit- en kwantiteitgebreke voor in die voer wat op natuurlike weiveld geproduseer word. Dit word weerspieël in die styging en daling in die produksiepatroon van skape. Hierdie neigings en die verwantskap daarmee met verskillende klimaatsfaktore word deur Roux (1966) bespreek en in Fig. 1 aangedui.

 

 

Fig. 1 dui ook verder aan hoe belangrik weiveldbestuur is ten einde volgehoue hoë produksie op weiveld te handhaaf.

In die Karoostreek word aanteelpersentasie (aantal lammers gebore per ooie gepaar) as 'n ekonomies-belangrike faktor beskou (Lombard - persoonlike mededeling). Hoe meer lammers gebore word, hoe vinniger is seleksievordering en hoe meer is daar om te verkoop. Dit is feitlik algemene kennis dat ooie wat in die herfs gepaar word (skape se natuurlike geslagseisoen) potensieel selfs meer as 100 persent lammers produseer, terwyl ooie wat in die lente gepaar word, heelwat swakker (60 persent) vaar.

 

DIE VOEDSELVOORSIENING VAN NATUURLIKE VELD

(a) Die relatiewe belangrikheid van voedingstowwe

Vrywillige inname kan as die belangrikste maatstaf van voedingswaarde beskou word (Crampton, 1957). Volgens Troelsen en Beacom (1970) moet 'n maatstaf van die voedingswaarde van 'n voer ook verband hou met 'n potensieel bemarkbare eindproduk soos wol, vleis en melk. Om bogenoemde te illustreer word 'n skaap se voedingsbenodigdhede as volg ontleed: Om 'n ooi wat 50 kg weeg te onderhou, moet sy 'n rantsoen kry wat 55 persent totaal verteerbare voedingstowwe (T.V.V.), 9 persent proteïen en gesamentlik ± 1 persent minerale en vitamiene bevat. Indien daar dus nie 'n mineraaltekort is nie (volgens Hayward (1978), kom daar nie spesifieke tekortsimptome in die Karoostreek voor nie), is die grootste benodigdhede in die vorm van T.V.V. ('n energie-maatstaf). Indien daar dus voldoende minerale en voldoende proteïen (as gevolg van selektiewe vreetgewoontes op bossieveld kom 'n proteïentekort ook nie algemeen voor nie), deur natuurlike weiveld geproduseer word, is energie-inname die belangrikste faktor wat produksie beperk.

 

(b) Voedselvoorsiening deur natuurlike weiveld

In Fig. 2 word die voedselvoorsiening van natuurlike weiveld in verhouding tot die voedingsbenodigdhede van 'n ooi wat in die herfs gepaar is, voorgestel.

 

 

Soos reeds genoem, moet in gedagte gehou word dat die grafiek wat voedselvoorsiening voorstel nie vas is nie. Sy vorm en posisie word deur verskeie faktore soos klimaat, reënval, ens beïnvloed. Die voorkoms van 'n ondervoorsiening op 'n stadium waar die herfsgepaarde ooi se voedingsbenodigdhede op sy hoogste is, kan tog jaarliks verwag word.

 

 

Fig. 3 stel die voedselvoorsiening van natuurlike weiveld in verhouding tot die voedingsbenodigdhede van 'n lentegepaarde ooi voor.

Anders as in Fig. 2 aangedui en onderhewig aan dieselfde voorwaardes as hierbo bespreek, pas die voedselvoorsiening in hierdie geval (Fig. 3) beter. 'n Ondervoorsiening in die omgewing van paartyd kan tog verwag word. Dit bly egter belangrik dat die verskil van meer as 20 persent in aanteelpersentasie nie uit gedagte verloor mag word nie.

 

DIE INVLOED VAN ONDERVOEDING

Uit veral Fig. 2 is dit duidelik dat dragtige en lammerooie op natuurlike weiveld 'n stadium van ondervoeding kan ondervind. Wat die ooi self bet ref kan dit lei tot 'n breek in geproduseerde wol en ook tot domsiekte. 'n Lae melkproduksie kan ook verwag word, aangesien voeding gedurende die laaste vier tot ses weke van dragtigheid 'n belangrike invloed op melkproduksie het.

 

 

Wat die lam betref speel voeding van die ooi gedurende laat dragtigheid en die eerste deel van laktasie 'n baie belangrike rol. Hierdie invloed word in Fig. 4 geïllustreer.

Dit is duidelik uit Fig. 4 dat die lam op sy gevoeligste vir permanente belemmering is gedurende die stadium wat die lam afhanklik is van die ooi vir sy voedsel.

 

VOEDINGSASPEKTE BY REPRODUKSIE

(a)       Prikkelvoeding

Prikkelvoeding kan gedefinieer word as die gee van beter voeding aan ooie in 'n swak kondisie 'n paar weke voor paring (drie tot vier weke) sodat die ooie gedurende paartyd vinnig in kondisie toeneem. Dit behels nie die gee van bykomstige voedsel van ooie wat reeds in 'n goeie kondisie is nie.

Die invloed van prikkelvoeding varieer heelwat en verhogings in aanteelpersentasie van tussen 8 en 20 persent is gerapporteer. Dit blyk ook dat volwasse ooie beter as tweetand-ooitjies op prikkelvoeding reageer (Hulett, 1962). Coetzee (1964) het die beste resultate gekry by ooie wat vanaf drie weke voor paring 'n byvoeding van 50 persent mielies en 50 persent hawer teen 300g per ooi per dag ontvang het. Enige van die aanvullings wat in Tabel1 aangegee word, behoort hier ook goeie resultate te lewer.

Uit Fig. 2 blyk dit dat ooie wat in die herfs gepaar word, reeds in 'n goeie kondisie sal verkeer. Onder normale omstandighede sal prikkelvoeding min voordeel inhou by ooie wat in die herfs gepaar word (sien Fig. 2).

In Fig. 3 word die moontlikheid van ondervoeding gedurende paartyd by die lentegepaarde ooi aangedui. Hier mag prikkelvoeding voordelig wees as dit vanaf drie weke voor, tot aan die einde van paartyd gegee word.

 

(b) Dragtige en lammerooie

Soos reeds aangedui, word veral kwantitatiewe voedingstekorte (energie-inname) by herfsgepaarde ooie op natuurlike weiveld ondervind (Fig. 2). Dit val ook saam met die paarseisoen waar skape se geslagsaktiwiteit die hoogste is en die hoogste aanteelpersentasie verwag kan word.

Die volgende maatreëls kan vir die oorbrugging van die tydperk van lae voedselvoorsiening soos in Fig. 2 aangedui, oorweeg word:

 

(i) Energieryke aanvullings

Die aanvullings wat voorsien kan word, word in Tabel 1 aangegee.

 

 

Die toepassing van die aanvullings word volledig deur Hayward (1978) bespreek. Indien aanvullings gebruik word, moet weiveldbestuur sodanig wees dat opvolgende produksie nie benadeel word nie. Die aanvullings het, indien reg bestuur, die effek dat dit in sommige gevalle inname verhoog. Uit Fig. 2 is dit duidelik dat die natuurlike weiveld gedurende die tydperk of in 'n rusfase is, of begin met hergroei.

Voordele verbonde hieraan is dat dit goedkoop is en hoewel nie 'n towerformule nie, tog goeie resultate oplewer. 'n Nadeel is dat kruipvoeding van lammers nie suksesvol is nie, aangesien lammers geneig is om saam met die ooie te loop en dus nie voldoende kruipvoer inneem nie.

 

ii) Onttrekking van weiveld na aangeplante winterweidings

Die voedingswaarde van winterweidings is heelwat hoër as natuurlike weiveld en voldoen grootliks aan die benodigdhede van dragtige en lammerooie. Dit het egter die beperking dat min plase in die meer ariede gebiede oor voldoende (indien enige) landerye beskik. Die metode het ook, uiteraard, verhoogde produksiekoste tot gevolg.

 

Voordele hieraan verbonde is dat:

(1) 'n Gedeelte van 'n boer se skape nie gedurende 'n kritieke tydperk vir weiveld op die veld is nie.

(2) Kruipvoeding suksesvol op aangeplante weidings toegepas kan word.

Die tydperk van onttrekking word deur die voedselvoorsiening en toestand van natuurlike weiveld bepaal. Uit Fig. 2 blyk dat dit die tydperk is vanaf vier tot ses weke voordat ooie begin lam tot agt tot twaalf weke nadat ooie gelam het. Lammers kan gevolglik op 'n ouderdom van agt tot twaalf weke gespeen word en verder op die aangeplante weidings vir vier tot agt weke afgerond word.

 

(iii) Onttrekking na voerkrale

Indien alle voer aangekoop moet word, is dit vanselfsprekend dat hierdie maatreël die duurste is. Dit is egter 'n stelsel wat in meeste van die Europese lande en in die V.S.A. toegepas word.

Die volgende is moontlike voordele verbonde aan die stelsel:

(1) Beheer kan oor voedselvoorsiening uitgeoefen word sodat aan voedingsbenodigdhede vir die verskillende produksievlakke voldoen word.

(2) Uit oorsese literatuur is dit duidelik dat kruipvoeding suksesvol toegepas kan word.

(3) Alhoewel siektes maklik in 'n epidemie kan ontaard, kan siektebeheer doeltreffend toegepas word.

(4) Aangesien diere nie op weiveld is gedurende die natuurlike rusfase en eerste hergroei nie, mag so 'n stelsel voordelig wees vir opvolgende weiveld-

produksie.

(5) So 'n stelsel leen hom goed vir die grootmaak van meerlinglammers.

 

GEVOLGTREKKING

(a) Min melding oor ekonomiese aspekte is opsetlik gemaak, aangesien min van genoemde voordele ekonomies verantwoord kan word. Dit verg ook 'n artikel op sy eie.

(b) Dit is duidelik dat weiveldbestuur, en bestuur in die algemeen, 'n belangrike faset uitmaak van die voeding van dragtige en lammerooie.

 

LlTERATUURVERWYSINGS

COETZEE, C.G. 1964. Invloed van kragvoer prikkelvoeding op aanteelvermoë van ooie. Hand. S. Afr. Verenig. Diereprod. 3, 63-65.

CRAMPTON, E.W. 1957. Interrelations between digestible nutrient and energy content, voluntary dry matter intake and overall feeding value of forages. J. Anim. Sci. 16, 546-551.

HAYWARD, F .C. 1978. Byvoeding van skape in die Karoo. Karoo Agric, Vol. 1 No.1, 33-35.

HULET, C.V., BLACKWELL, R.L., ERCANBRACK, S.K. PRICE, D.A. & HUMPHREY, R.D. 1972. Effects of feed and length of flushing period on Iamb production in range ewes. J. Anim. Sci. 21,505-510.

ROUX, P.W. 1966. Beginsels van veldbeheer in die Karoo en aangrensende droë soetveldstreke. In Die Kleinveebedryf in Suid-Afrika. Red. W.J. Hugo, 318-340.

SCHINCHEL, P.G. 1963. The potential for increasing efficiency of feed utilization through newer knowledge of animal nutrition. World Conference of Animal Production, Rome, 2-7 September, 1963.

TROELSEN, J.E. & BEACOM, S.E. 1970. Feeding value of forage as fed to steers and estimated by in vitro digestion. Can. J. Anim. Sci. 50, 547-555.

 

Published

Karoo Agric, vol 1, no 2, 1979