Last update: April 3, 2012 08:43:31 AM E-mail Print

 

LANDBOUGIPS VERHOOG PRODUKSIE

H.J.VORSTER

Landbounavorsingsinstituut, Karoostreek  

 

 

Die meeste besproeiingsgronde in die Karoo is alkalies (soet) tot sterk alkalies (swartbrak). Daar is nagenoeg 200 000 ha onder besproeiing in die gebied, en minstens die helfte daarvan is sterk alkalies.

Produksie van gewasse onder besproeiing op die sterk alkaliese gronde is meestal swak, aangesien die waterinname en waterhouvermoë van die gronde beperk is, wat die ontkieming van saadjies strem. Om hierdie nadelige eienskappe te voorkom, word landbougips (kalsiumsulfaat) gebruik.

Aangesien sommige van die besproeiingsgronde verbrak is, word die grond eers met landbougips behandel en daarna met 'n oormaat vars water geloog. Hierdeur kan die meeste van die braksoute uit die grond gewas word. lndien brakwater vir besproeiingsdoeleindes gebruik word, moet die grond vooraf met. Landbougips behandel word. Die braksoute in die grond kan dan beheer word deur met elke derde besproeiing 'n dubbele hoeveelheid van die aanvanklike besproeiingswater aan die grond toe te dien. As die water byvoorbeeld 500 dele per miljoen oplosbare soute bevat en daar word jaarliks 300 mm water toegedien, sal dit nodig wees om die grond met 123 mm water per jaar meer te besproei om sodoende 'n opbouing van braksoute in die grond te verhoed.

Waar hoofsaaklik lusern en ander penwortelgewasse op swart- en alkaliese brakgronde verbou word, bevorder die toediening van organiese materiaal (mis, kompos en groenbemesting) saam met landbougips, die verbetering van die grondstruktuur.

Deur die toediening van landbougips aan die grond word nie slegs die struktuur van die grond verbeter nie, maar ook die waterhouvermoë daarvan. Hierdeur word die gebruik van die beskikbare water in die droë streke meer effektief. Aangesien landbougips slegs 0,24 persent oplosbaar in water is, kan dit dus nie bloot as 'n kopbemesting toegedien word nie, maar moet dit deeglik in die grond ingewerk word. Die lae oplosbaarheid van landbougips hou egter die voordeel in dat dit moeilik uit die grond loog en gevolglik 'n langdurige uitwerking op die grond uitoefen. Landbougips skakel ook die moontlikheid van 'n swaeltekort uit.

Weens die langtermynuitwerking van landbougips is dit nie nodig om 'n land elke jaar te behandel nie, gevolglik moet die aanvanklike toedieningskoste oor 'n paar jaar gesien word. Die hoër produksie wat van behandelde lande verwag word, sal. dus die inkomste voorsien om meer landbougips aan te koop sodat aIle lande op die plaas mettertyd behandel. kan word.

Die aangewese tyd om landbougips toe te dien, is 'n paar weke voordat gewasse geplant word, sodat die verbeterde grondstruktuur die ontkieming van saadjies kan bevoordeel. Landbougips kan egter ook aan gevestigde lusernland toegedien word. Die geskikste tyd hiervoor is tydens die winterseisoen wanneer die lusernlande losgemaak word.

AIle soorte gewasse wat op alkaliese en alkaliese brakgronde verbou word, sal egter by die toediening van landbougips baat. Sterk alkaliese en alkaliese brakgronde word met welslae in die Karoo verbeter deur landbougips teen 5 t per hektaar in die grond in te ploeg. lndien die pH baie hoër as 8,5 is, moet egter meer landbougips toegedien word. Daar moet eers by wyse van chemiese toetse sekerheid verkry word of die grond wel. Swartbrak of alkaliese brakgronde is voordat 'n landbougipsbehandeling toegepas word.

 

Published

Karoo Streeknuusbrief Junie