Last update: April 10, 2012 08:23:53 AM E-mail Print

 

Angorabokbedryf voor lastige probleem. Kan seleksie vir konstitusie die aborsievraagstuk help verlig?

N. A. J. VAN RENSBURG

 

DIE Unie se bokhaarbedryf het te staan gekom voor 'n netelige probleem, naamlik die uitdaging wat die lae reproduksiesyfer van die Angorabok bied. Hierdie vraagstuk is 'n uiters lastige een om op te los want die oorsaak kan op soveel verskillende gebiede gesoek word. Dit blyk duidelik uit die navorsing wat tans op volle stoom of fisiologiese, kliniese en patologiese gebied aan die gang is. Die vraag ontstaan egter nou of die wortel van die kwaad nie ook by die teeltgeskiedenis van die Angorabok gesoek moet word nie.

 

KLIMAAT

Elke boer wat ooit met hierdie dier te doen gekry het, kan getuig dat die Angorabok van altyd af maar erg gevoelig vir wisselende klimaats- en temperatuurstoestande is. Veral kort na skeertyd moet die Angorabok versigtigheidshalwe altyd onder beskutte toestande en of binne maklike bereik van skuur of kraal gehou word. Ten spyte van sulke voorsorgmaatreëls is daar nogtans die gevaar van gevoelige verliese. Ons land is een van klimaatuiterstes, en veeverliese kan as gevolg daarvan verwag word, maar as sulke verliese darem iets is wat later aan die ras as sulks gekoppel word, dan is 'n skroef êrens los met die aanpasbaarheid van die ras.

 

OORERWING EN OMGEWING

Een van die vernaamste vereistes wat die ekonomiese voortbestaan van 'n dier verseker, is sy aanpasbaarheid by sy omgewing. Omgewing sluit in alle faktore - soos klimaat, voeding en bestuur - wat van buite met die inherente oorgeërfde eienskappe van die dier saamwerk om 'n aangepaste individu daar te stel. Die vraag is nou: aangesien die Angorabok blykbaar 'n mate van sy aanpassingsvermoë verloor het, is dit nie te wyte aan die feit dat sy konstitusie in die verlede by teling oor die hoof gesien is nie? Onder konstitusie word nie alleen die bou en grootte van 'n dier verstaan nie. Dit behels veral lewenskragtigheid, siektebestandheid, vrugbaarheid en moedereienskappe.

 

ABORSIES

Die lae lampersentasie van die Angora word grootliks toegeskryf aan aborsies. Noukeurige waarnemings het egter die oortuiging laat aangroei dat swak konstitusie in die algemeen tot 'n toestand van wanaanpassing gelei het, en dat aborsies dalk net 'n indirekte gevolg hiervan is. Hierdie opvatting word gesterk deur die volgende tipes wanaangepaste ooie wat in kuddes met 'n lae lampersentasie waargeneem is.

(1) Die tipe ooi wat nooit bronstig word nie.

(2) Die tipe ooi wat bronstig word maar nooit beset raak nie.

(3) Ooie wat 'n dooie lam afgooi voordat die dragtigheidsperiode van plus-minus 150 dae verstreke is - d. w .s. die eintlike aborsies.

(4) Ooie wat die volle periode dra maar waarvan die lammers doodgebore word of by geboorte sterf.

(5) Die ooie wat 'n lewende lammetjie in die wêreld bring maar waar die lam weens swakheid en wanaangepastheid nie speenouderdom haal nie. Sulke lammers se geboortegewig is gewoonlik slegs die helfte van die normale 5 tot 8 lb.

 

Dit is dan ook nie verrassend dat veral ooie met 'n sterk konstitusie, goeie bouvorm en grootte hulle lammers die beste grootmaak nie, en dat ooie wat met vrugbaarheid moeilikheid ondervind ook t.o.v. konstitusie minder goed daaraan toe is, en soms 'n heeltemal verpotte voorkoms het.

 

KEURKAART

Die keurkaart wat op die oomblik gebruik word by die inspeksie en evaluasie van sybokke, word in tabel 1 aangegee.

Hierdie keurkaart word al vir baie jare gebruik in die evaluasie van diere vir stoetteling, en groot sukses met die produksie van goeie kwaliteit haar is dan ook bereik. Dit is egter opmerklik dat slegs nommers 8 en 9 enigsins naastenby mik om bouvorm te beskryf of aan te slaan.

As daar dus slegs volgens die keurkaart geselekteer is, moes bouvorm en konstitusie eenvoudig daaronder ly, en aangesien die vrugbaarheid en reproduksievermoë van 'n dier hand aan hand gaan met sy konstitusie, moes vrugbaarheid dus noodwendig die kreeftegang gaan.

Die leemtes in die bestaande keurkaart is vir 'n geruime tyd al gevoel en 'n gewysigde keurkaart is reeds deur hierdie Inrigting voorgestel. In hierdie keurkaart (tabel II) word bouvorm en konstitusie op gelyke voet met haarbedekking gestel.

 

 

STRENG SELEKSIE

Indien daar by teling hernude aandag aan die konstitusie, en dus aan die vrugbaarheid van die bok gegee word, en indien streng seleksie daarvoor toegepas word, kan die Angorabok sy verlore aangepastheid herwin. Die gevoeligheid van die dragtige Angora-ooi vir wisselings in klimaat, veral temperatuurskommelings en winde, kan en moet dan gevolglik verminder.

Die Angoraras as sulks kan aIle en sy optimum-produksie en die gehalte van sy produk handhaaf indien die nageslag voldoende in getalle is om van te selekteer. Indien vrugbaarheid laag en die nageslag min is, kan die hoeveelheid diere wat vir swak haareienskappe geprul word, vergelykenderwys nie hoog wees nie. Die gevolg is dat al hoe meer diere van 'n swakker gehalte uiteindelik as teelouers ingespan word. Hier word veral gedink aan die waarskuwing van die kopers aan die produsente om die kwaliteit van hul produk op dieselfde hoë peil as in die verlede te hou.

Die vraag is nou in hoeverre 'n progressiewe teelbeleid, seleksie en nogmaals seleksie onder die kuddes vir konstitusie, en gevolglik vrugbaarheid, kan bydra om hierdie groot probleem waarvoor die bedryf te staan gekom het, die hoof te bied.

Dit is 'n vraag wat ons bokhaarkwekers - wat die bedryf tot op sy huidige hoë peil gevoer het - hulself nou met erns moet afvra.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 34 (7)