Last update: April 10, 2012 09:12:48 AM E-mail Print

 

Lêbatterye

J.C.D.  Retief 

 

DIE publiek het in die laaste jare 'n lewendige belangstelling getoon in 'n uiters intensiewe metode waarvolgens lêhenne bestuur word en wat gewoonlik die batterymetode of die eenhen-hokstelsel genoem word. Waarnemings skyn aan te dui dat die batterystelsel eerder die bestaande hoenderboerderymetodes aanvul as hulle vervang. Dit lyk vanselfsprekend dat die hokmetode in sekere gevalle baie nuttig mag wees waar die gewone metode van bestuur nie toegepas kan word nie. Die batterystelsel bring nie noodwendig mee dat meer grond gebruik word as die waarop die gebou staan nie.

Hierdie faktor sal die oprigting en ontwikkeling van die batterymetode in eierboerdery moontlik maak op plekke waar die ouer metodes nie gevolg kan word nie.

Die basiese beginsel opgesluit in hierdie uiters intensiewe metode waarvolgens lêhenne bestuur word, is om elke produksie-eenheid d. w .s. elke lêhen, in 'n afsonderlike kompartement te plaas waarin sy vir 'n onbepaalde tydperk versorg word, ten minste so lank as wat sy eiers op 'n ekonomiese manier bly produseer. Dit wil voorkom asof hierdie metode op sigself al 'n verdere stap in die rigting van meganisering, of van die aanwending van fabrieksmetodes in die eierproduksiebedryf is.

Daar word gemeen dat daar tussen 80 000 en 100 000 lêhenne in hokke in Suid-Afrika gehou word en die getal groei daagliks aan. Wat die batterystelsel betref, val hoenderboere en belangstellendes in hoenders in twee groepe. naamlik die wat ten gunste van hierdie fabrieksmetode is vir die aanhou van lêhenne en die wat daarteen is.

 

Tipe van Huis

Die mate van die hokke verskil effens by die verskillende fabrikate. Hulle wissel van 12 tot 15 duim wyd, 18 tot 19 duim hoog en 18 duim diep. 'n Kombinasie van aaneenskakelende hokke word 'n battery en twee of drie rye hokke, die een bo die ander gebou, word 'n tweelaag of drielaagbattery genoem. Rye hokke wat rug aan rug gebou is. word 'n dubbel-battery genoem.

Binnenshuishokke kan gehuisves word in 'n gewone lê-huis, 'n skuur wat omgeskep is of ‘n spesiale henbatteryhuis. Ondervinding in Suid-Afrika het geleer dat dit heeltemal onnodig is om sorgvuldig afgewerkte geboue of elektriese waaiers en ander kunsmatige vorms van belugting te hê. 'n Driekantige skuur met vensters in die agterste muur sodat hulle oopgemaak kan word vir kruisbelugting in die somer, is gewoonlik die geskikste. Sommige installasies is egter 'n sukses as die batterye maar net onder dak is. Hulle behoort dan in 'n goedbeskermde plek geplaas te word.

'n Battery wat buitekant 'n huis aangebring is, se waarde neem baie vinniger af as die van een onder 'n dak. Bowendien bied dit nog probleme soos voorkoming van skade deur wind en reën, die natword en wegwaai van voer. Hokke is ook geneig om in die somer baie warm te word. Dit is goedkoper om 'n binnenshuise battery te koop en 'n ligte dak daaroor te sit as om ‘n buitehok te koop wat baie sterker moet wees.

Die skoonmaakstelsel vir die verwydering van mis uit die lêhokke vereis gewoonlik 'n paadjie aan elke kant van 'n battery hokke.

Om hierdie rede en om dit makliker te maak om die henne te voer, is dit wenslik om elke battery so lank as moontlik te hê, as wat verenigbaar is met praktiese huisbou, beligting en die roetine van misverwydering. Normaalweg word binnebatterye in drie verdiepings gemaak, waar elke blok op pale staan, 'n endjie bo die vloer van die huis, sodat 'n hoogte van 'n bietjie meer as 6 voet bereik word.

 

Groottes van Huise

Die lêhokstelsel maak dit moontlik om 'n groter aantal lêhoenders op 'n gegewe vloeroppervlakte te behuis. 'n Huis van 32 vt. wyd en 8 vt. hoog sal ,volgens hierdie stelsel ongeveer tweekeer soveel hoenders kan herberg as wat op die vloere kan geskied. In huise wat smaller as 32 voet is, sal die groter kapasiteit met verdrag afneem tot ongeveer 25 persent in huise van 20 voet wyd. Batterye van 40 voet lank in 'n huis van 50 voet is ongeveer die maksimum lengte vir 'n goeie ligverspreiding. As die huis 32 voet wyd gemaak word, kan 4 batterye in die lengte aangebring word. So 'n huis kry sy lig vir die paadjies van vensters aan die punte van die huis en daar kan nie meer batterye geïnstalleer word nie.

Baie mense verkies dus om batterye in die breedte van die huis aan te bring. In so 'n geval kan 24 voet batterye in huise van 32 voet breed geïnstalleer word. Lig vir die paadjies en 'n uitstekende lugsirkulasie word dan van die oopfront-kant van die huis en van die vensters in die agterste muur teenoor die paadjies verkry. Hierdie rangskikking van die batterye verskaf 'n beter ligverspreiding en maak uitbreiding aan beide kante moontlik. Die paadjie tussen twee batterye behoort ten minste 30 duim wyd te wees. Betonvloere wat maklik afgewas kan word, word aanbeveel.

Hier volg nou ‘n vergelyking van die behuisingskapasiteit van ‘n driesyhuis, 32 by 50 voet ten opsigte van:

(i)   Batterye in die lengte van die 50 voet huis,

(ii)  batterye in die breedte van die huis.

(iii)  hoenders onder vloerbestuur.

 

(i) ‘n Drieverdieping-dubbelsybattery veertig voet lank sal 192 henne huisves. Daarom sal vier batterye van .40 voet 768 henne huisves.

(ii) ‘n Drieverdieping-dubbelsybattery vier en twintig voet lank sal 114 henne huisves. Daarom sal 7 batterye van 24 voet 798 henne huisves.

(iii) Hoenders onder vloerbestuur, intensief gehuisves: Ligte rasse teen 4 vk. voet per hoender, 400 henne. Swaar rasse teen 5 vk.voet per hoender, 320 henne.

 

Beligting en Belugting

Goeie beligting van voerbakke op alle hoogtes. is noodsaaklik. Verf die mure met 'n matwit verf. Bring lang vensters aan die end van die paadjies aan. Trekke moet uitgeskakel word aangesien die hoenders nie hulle plek kan verander ten einde hierdie lugstromings te vermy nie, maar vars lug is die hele jaar deur noodsaaklik. Vensters wat van bo af wip. Lewer goeie resultate. Lig behoort vir dertien uur verskaf te word, indien nodig m.b.v. kunsmatige beligting. Die lampe behoort so laag as moontlik te hang sonder die bestuur te bemoeilik. 'n Beter ligverspreiding sal verkry word as lampe van 40 watt, ses voet van mekaar af geplaas word as wanneer sterker ligte met groter tussenruimtes gebruik word.

 

Voer

Henne in batterye moet baie sorgvuldig gevoer en behandel word, baie . meer nog as onder ander intensiewe stelsels, aangesien klein dieetmoeilikhede baie gou swak resultate kan meebring. Om hierdie rede is dit absoluut noodsaaklik dat die rantsoen al die bekende voedingsbenodigdhede sal bevat, en dat sorg gedra moet word om te verseker dat die dieet heeltemal gebalanseerd is; as daar enige twyfel bestaan, moet advies ingewin word.

Direkte sonlig in lêhokke is slegs vir 'n paar hoenders beskikbaar. Direkte sonlig verskaf outomaties vitamien D. Vitamien D bevorder behoorlike metabolisme van kalsium en fosfor wat noodsaaklik is vir goeie beenformasie. Ten einde vitamien D te verskaf, voer lewertraan in meelkos die hele jaar deur. Die volgende besonderhede i.v.m. voer is veral belangrik:

(i) Voer die lêhenne ten minste twee keer per dag, ongeag die rantsoen wat gebruik word, en in hoeveelhede wat so te sê opgebruik sal wees teen die volgende voeding. Die hoenders moet gereeld al hulle voer verbruik. Indien dit nie gebeur nie, hou verdere voer terug of verwyder en vervang dit met vars voer.

(ii) Dit is ook belangrik om die voer tussen die voedings opnuut te versprei; dit kan teweeggebring word met die hand of deur 'n metaalskraper deur die voerbak te trek. Dit veroorsaak 'n hernude belangstelling in die voer, verskerp die hoenders se aptyt en stel hulle in staat om wisselende individuele behoeftes te bevredig.

(iii) As hoenders geneig is om te swaar of oormatig vet te word, moet die rantsoen dienooreenkomstig verminder word. Dit is die stadium waar verskille in ras sigbaar word, aangesien party geredeliker vet word as ander. Oor die algemeen is dit makliker om liggaamsgewig onder swaar produksie in die hokke as op die vloer vol te hou.

(iv) Die lêmeel, graan, skulp of kalkklip en granietgruis kan saam gemeng word en hierdie allesinsluitende rantsoen twee keer per dag gevoer. Hierdie rantsoen het op verskillende proefstasies bevredigend geblyk ten opsigte van produksie, eiergehalte en liggaamsgewig.

OF

(v) Die lêmeel kan so teen die middel van die oggend en middag gevoer word, met graan, of in die oggend en namiddag laat of slegs in die namiddag laat. Skulp of kalkklip en granietgruis kan om twaalfuur gevoer word.

 

Keuse van Rasse

Swaar en ligte rasse reageer ewe goed. Vir sowel die ou metode van lêhenbestuur as die nuwe is dit van ewe veel belang dat die henne van goeie bloed moet wees en goed versorg word. Goeie resultate word van al die populêre rasse soos die Wit Leghorn, Swart Australorps en Rhode Island Reds verkry en die resiproke kruisings van die Wit Leghorn x Swart Australorp en die Wit Leghorn x Rhode Island Red. Dit is voordelig om hul slaghoedanighede te bestudeer want die opbrengs van die uitgooihoenders dra weer by tot die koste van terugplasing. Hierdie uitskakeling sal voortdurend plaasvind waar 'n groot aantal hokke geïnstalleer is.

 

Bestuur

Die lêbattery bring skynbaar geen nuwe bestuursfaktore mee nie wat fundamenteel verskil van die wat al lank reeds as noodsaaklik beskou word vir die bevredigende vloerbestuur van lêhenne.

Die hokmetode leen homself vir die formulering van 'n hoogsgemeganiseerde. metodiese en sistematiese bestuurskema wat nie so maklik deur die vloerskema verseker word nie. Een van die grootste voordele van batterye is dat een persoon vir twee- tot vier keer soveel henne in hokke kan sorg as op die vloer. 'n Sorgvuldige beplanning van arbeid in 'n battery is noodsaaklik vir sukses. Die suksesvolle boer, is nie die een wat sy henne soggens voer en dan vir die res van die dag ignoreer nie. Sorg dat die voerbakke en waterbakke skoon en vars bly.

 

Sterftesyfer, Uitgooi en Vervanging van Minderwaardiges

Die batterystelsel is nie 'n wondermiddel teen sterfte nie, maar dit sal sekere sterftes laat verminder, soos bv. kannibalisme, koksiodose en parasitiese besmetting.

Die produksie en leefbaarheid van henne in batterye wat reg gevoer en bestuur word, berus eerstens op hulle teelt en gesondheidstoestand wanneer hulle in die batterye geplaas word, meer as op enige nawerking van toestande wat opsluiting in batterye meebring. In die geval van vloertroppe gebeur dit al te dikwels dat minderwaardige henne wat uitgeskakel moes gewees het, eers opgemerk word wanneer hulle te maer vir die mark is.

Wanneer henne in hokke gehou word, word dit dadelik ontdek as hulle ophou met Iê; hulle kan dan bemark en deur ander henne vervang word.

Daar is gevind dat die hokbestuur van lêhenne, gunstig met die vloerbestuur vergelyk het ten opsigte van sowel die instandhouding vir die hen se gesondheid as lewering van 'n maksimale eieropbrengs. Daar was geen bewys dat opsluiting 'n ongewenste uitwerking op eiergehalte het nie en produksiekoste vergelyk gunstig met die onder vloerbestuur. Aandag word ook gevestig op die definitiewe voordeel i. v .m. sanitasie waar hokke gebruik word.

Ondersoek het bewys dat van 3 persent tot 25 persent van die lêhenne in batterye, gedurende die jaar sal doodgaan. Indien die plekke vir hoenders wat dood of as minderwaardig uitgeskakel is, nie weer gevul word nie, word meer en meer batterye leeg. Die bepleiters van die hokstelsel het 'n metode gedemonstreer waarvolgens kuikens elke twee maande uitgebroei kan word, vir lêhenne om ander henne enige tyd van die jaar wanneer dit nodig word, te vervang. Hoewel dit gewoonlik sowel onverstandig as onekonomies is om hoenders vir on tweede jaar in die lêhok te hou, mag dit soms moeilik blyk om voldoende plaasvervangers te kry. In so 'n geval, moet die beste produseerders d.w.s. die wat tot diep in die herfs Iê voordat hulle verveer, vir seleksie gebruik word. Hierdie hoenders kan gedurende die verveerperiode buite onder vloerbestuur geplaas word en in Julie en Augustus na die hokke teruggebring word as plaasvervangers. Die getal henne ouer as 'n jaar behoort selde meer as 20 persent van die totaal te wees. Behalwe die uitgooi van henne op grond van swak gesondheid en onproduktiwiteit, behoort henne wat klein, growwe of misvormde eiers Iê, ook verwyder te word. Gee die henne 'n sekere tyd om gevestig te raak voordat swak produseerders verwyder word.

 

Lêhokhoenders

Die batterystelsel is hoofsaaklik 'n stelsel vir jong henne in hulle eerste lêseisoen. Dit beteken dat elke hen elke jaar vervang moet word. Nadat die hokke gevul is, moet u onthou dat elke jong hen daar op haar eie meriete is en gevolglik moet die wat nie resultate lewer nie gedurig uitgegooi word. Die voordeligste hoender vir die batterystelsel sowel as vir die vloerstelsel is waarskynlik die een wat in 'n skoon kamp geteel is. Indien jong henne vir die battery geteel, van n besmette kamp afkomstig is en sleg groei, sal geen beter resultate met die battery verkry word, as op die vloer nie. Diegene wat die batterystelsel aangeneem het om die sterftesyfer te verlaag, het dit nodig gevind om gesonder jong henne in 'n kamp of afsondering te teel, of om gesonde henne te koop.

Die beste jong henne kan oorgehou word vir on tweede jaar en hoofsaaklik as plaasvervangers gebruik word. Ondersoekings het bewys dat henne gewoonlik nie werklik bevredigende produksie in hulle tweede jaar lewer as hulle die eerste jaar in ‘n lêhok deurgebring het nie. Hulle Iê dan die meeste van hul eiers in 'n tydperk wanneer eierpryse laag is.

Batterydeskundiges hou meesal jong henne aan en vervang hulle jaarliks. Aangesien die henne nog voor die verveertyd ophou met Iê, moet hulle verkoop word terwyl, hulle nog in goeie kondisie is. As die beslissing te lank uitgestel word, kan die hen baie knopperig en onaantreklik vir die tafel wees. Hierdie metode behoort nie toegepas te word op henne wat te vroeg uitgebroei was nie en waarvan die nekvere in die winter deels uitgeval mag wees, maar oor die algemeen op henne wat verveer nadat hulle vir ses tot nege maande 'n goeie eierproduksie gelewer het. Maksimum sukses word slegs behaal wanneer jong henne betyds in hokke geplaas word, voordat hulle begin om te lê - gewoonlik op die ouderdom van drie tot vier maande. Die henne moet tyd kry om aan die stelsel gewoond te word en hulle daarby aan te pas sodat hulle gerus is wanneer hulle begin Iê. Individuele hokke gee feitlik dieselfde kans aan die bang of nuwe henne as aan die meer aggressiewe en dominerende henne, waardeur hulle moontlikhede om hulle inherente aantal eiers te Iê, verhoog word. Henne van verskillende ouderdomme kan in batterye gehou word. Hoe min henne ook al uitgegooi word, kan dieselfde getal plaasvervangers in die hokke geplaas word. Toevoegings kan op enige tydstip gemaak word. Broeisheid kom nie buitensporig voor nie omdat die henne op draadvloere gehou word.

 

Oorsig van Proefgegewens

'n Oorsig van proefgegewens dui aan dat -

  1.  van lêhenne in batterye kan dieselfde of 'n beter eierproduksie met 'n laer sterftesyfer verwag word, as van dergelike lêhenne in vloerkampe mits hulle reg gevoer en bestuur word;

  2. daar geen bewys is dat batterye die grootte of gehalte van 'n eier beïnvloed nie;

  3. die voerverbruik ongeveer dieselfde of effens minder is in vergelyking met lêhenne in vloerkampe;

  4. effens vuil of bevlekte eiers nog steeds 'n probleem is maar dat dit onder die batteryestelsel nie ernstiger is as met vloerbestuur nie;

  5. die liggaamsgewig by hoenders afgesonder in batterye geneig is om effens hoër te wees, maar dat daar bloedweinig bewys is van 'n neiging tot oorgewig, weens gebrek aan oefening;

  6. die grootste nadele is:-

(a) dat die voer uit die aard van die saak altyd 'n volledige rantsoen ten opsigte van alle bekende voedingsfaktore moet wees. (Dit maak die stelsel minder buigbaar in vergelyking met ander behuisingsstelsels. Die voer van lêhenne in batterye vereis ook groter vaardigheid, sowel as presiese bestuur);

(b) die hoë aanvangskoste van hoktoerusting;

(c) die moeilikheid wat moontlik ondervind mag word om die teelhenne in die toekoms te onderhou en die behoeftes van teelondernemings te bevredig. Die behuising van hoenders in sulke klein hokkies kan 'n nadelige uitwerking op hul verskillende liggaamsorgane, lewenskragtigheid en gestel hê. Dit sal miskien die eerste paar jaar nie so opvallend wees nie maar as henne jaar na jaar in batterye gehou word, kan dit 'n kumulatiewe uitwerking hê met noodlottige gevolge vir die teler.

 

LITERATUUR

  1.  Report of the Hawaii Agricultural Expt Station -1936.

  2.  Circular 32, September, 1950-University of Hawaii Agricultural Experiment Station by A. L. PALAFOX.

  3.  Battery and Floor Management. Practices for Pullets and Hens - W.T. COONEY, C. E. HOLMES, J. A. HARPER and H. E COSBY. Poultry Science, July, 1945.

  4.  Laying Cages-State College of Washington, 1940.

  5.  Floor vs. Battery Results-Ohio Expt. , Station (Bi-monthly Bulletin. March-April, 1939).

  6.  Pennsylvania Expt. Station (Bulletin 314).

  7.  Batteries for Chickens-Ohio Expt. Station Bulletin 162.

  8.  Laying Cages and Batteries-by W. POWELL-GWEN.

  9.  The Influence of Dietary Factors and Egg Shell Quality, Poultry Science 5944. 10. A Poultry Ventilation Problem. M. W. EMMEL, 1941. Ag. Eng. 22.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 28