Last update: April 11, 2012 02:03:35 PM E-mail Print

 

Seleksie van Lêhenne

AM Gericke

 

DEUR seleksie word die ongewenste henne verwyder uit die trop en die gewenste tipe vir verdere gebruik behou. Wanneer kuikens uit die dop kom, sal daar altyd 'n paar wees met gebrek aan lewenskrag en 'n swak konstitusie. Sulke kuikens moet afgemaak word, want dikwels dra hulle aansteeklike siektes oor op die ander.

Die jonghenne wat gedurende die winter uitgebroei is, behoort nou goed met vere bedek te wees, en ook die gevaarlikste tydperk gedurende die grootmaaktyd, deur te wees. Gewoonlik gaan die swak kuikens dood voordat hulle die uitvang-ouderdom van 4 of 5 maande bereik het.

 

Seleksie van Jonghenne

By seleksie van jonghenne word aandag gegee aan tipe, raseienskappe en fisiese kondisie. By seleksie van jonghenne vir verkoop, moet sorgvuldig aandag gegee word aan die volgende punte:

(a)   Sypunte aan die kam by 'n enkelkam-hoender;

(b)   Vere of donse aan die pote of tussen die tone;

(c)   Oorbel enige ander kleur as wat aan die ras eie is;

(d)   Krom rug;

(e)   Skewe stert;

(f)    Krom tone of x-bene;

(g)   Vere waarvan die kleur nie tipies die van die ras of soort is nie.

Pluimveeboere wat 'n groot aantal hoenders aanhou, ontvang dikwels aanvrae van persone wat kuikens, jonghenne of jonghane wil koop. Daar is nie 'n gereelde handel in jonghenne nie, want die kopers is gewoonlik nie bereid om die prys van die teler te betaal nie. As pluimveeboere jonghenne verkoop, moet hulle sorgvuldig aandag gee aan die punte wat van 'n diskwalifiserende aard is.

Daarenteen moet jonghenne wat geteel is uit 'n produktiewe bloedlyn, en net vir eierproduksie gehou word, nie terwille van een van die mindere gebreke uitgegooi word nie. Sypunte aan die kam, donsies tussen die tone, en oorbelle en vere waarvan die kleur nie tipies die van die reg is nie, het geen invloed op eierproduksie nie. Die telers het werklik betaal om al die jonghenne groot te maak, en dis 'n onwyse beleid om henne wat nog nooit iets opgelewer het nie, dood te maak.

 

Uitgooitoets

Die eerste punt waarop gelet moet word is sterkte en lewenskrag. Hierdie eienskappe kan gesien word uit die bedrywigheid en wakkerheid van die kuiken. Prominente, helder oë, 'n breë, kort kop met 'n skoon, oop gesig en 'n goed-geboë bek, goeie wydte tussen die bene en 'n breë, diep bors dui sterkte en lewenskrag aan.

Die tipe moet kenmerkend van die ras wees. Die Leghorn, wat beskou word as die mees tipiese voorbeeld van 'n eierproduserende ras, moet 'n baksteenvormige lyf hê. Die rug moet breed en plat wees; al is 'n hen ook hoe goed geteel en sy het 'n krom rug, kan sy nie 'n groot aantal eiers produseer nie. Wanneer die jonghen die lêstadium bereik, moet die borsbeen lank wees, en daar moet 'n taamlike groot ruimte wees tussen die agterpunt van die borsbeen en die ysbene. By seleksie vergeet baie mense om te kyk na die lengte van die borsbeen. As die borsbeen kort is, spreek dit vanself dat by die hen 'n groot ruimte is tussen die agterpunt van die borsbeen en die ysbene. 'n Jonghen met 'n kort borsbeen moet aan die end van die eerste lêjaar uitgegooi word aangesien sulke henne gedurende die tweede jaar van eierproduksie 'n boepens kry. Hierdie gebrek is van ernstiger aard by die swaar as by die ligte rasse. Die hen wat goed Iê vreet groot hoeveelhede kos wat sy in eiers omsit en moet gevolglik 'n groot lyf hê vir goedgevormde verterings- en eiervormingsorgane. Grootte van lyf blyk uit goed-geboë ribbes, 'n breë, plat rug, 'n diep, vol bors en 'n goeie wydte tussen die borsbeen en die ysbene. Behalwe bouvorm is verveer miskien die belangrikste faktor wat by seleksie in aanmerking geneem moet word, As jonghenne in September uitgebroei is, sal meeste van hulle deur die volgende winter aanhou Iê sonder om te verveer. Eers die volgende jaar wanneer die jonghenne ongeveer 1½ jaar oud is, sal hulle heeltemal verveer.

Henne verveer as volg-:-nekvere, dan lyfvere, stert- en vlerkvere. Sommige henne behoort aan 'n tipe wat vinnig verveer, d.i. die vere val almal gelyktydig uit, terwyl ander weer stadig verveer, d. w .s. die vere val eers uit op die nek, dan op die lyf, ens.

Henne wat vroeg in die somer verveer, is vroeë. verveerders, terwyl die wat laat in die herfs verveer, laat verveerders genoem word. Die end van die somer en die herfs is die natuurlike verveertyd vir alle lêhenne. As jonghenne buitenstyd verveer, word dit gedeeltelike ververing genoem. As jonghenne nie gedurende die herfs-lêtyd goed behandel word nie kan 'n verandering- of vermindering van voer hulle baie maklik gedeeltelik laat verveer. By uitgooi word die meeste aandag gegee aan die uitval van die primêre vlerkvere. Hierdie vere val laaste uit en 'n groot persentasie van die henne wat nog in Maart en April die ou vere het, Iê dan alweer. Die uitval van die primêre vere geskied in 'n vaste volgorde: die klein aksiale veer tussen die sekondêre en primêre vere val eerste uit, dan die eerste primêre vere langs die aksiale veer. Die een soort veer aan die linkervlerk val gelyktydig uit met dieselfde soort veer aan die regtervlerk, sodat die groei van die vere by die twee vlerke dieselfde is. By uitgooi is dit noodsaaklik dat mens liewer die henne wat opgehou het met lê voordat hulle begin verveer het, moet uitskakel as om alle berekenings te maak op 'n basis van vroeë en laat verveerders alleen.

 

Geel Kleurstof

Wanneer jonghenne van die geelvelrasse die rypheidstadium bereik, het hulle gewoonlik 'n reserwe vet wat 'n geel kleur of 'n hoeveelheid geel kleurstof (Xanthophyll) bevat. Dit kan gesien word aan die oog-ring-, oorbelle, bek. vel en pote. Dieselfde kleurstof is ook in lae in die geel van die eier, en word verkry uit voersoorte soos geel mielies en groenvoer. Die intensiteit van die kleur hang af van die eienskappe van die hen en die mate waarin hierdie voersoorte beskikbaar is.

Wanneer jonghenne begin Iê, word die geel vet uit die liggaam geneem, en gebruik vir die produksie van die geel van eiers. Die kleur verdwyn eerste uit die gedeelte waar die vel dun is, en die produksie van slegs 'n paar eiers is genoeg om die aars te laat verbleik. Nog 'n paar eiers en die kleur van die oogring word vaal-wit. Daarna verdwyn die kleurstof by die oorbelle en dan by die bek, en na 4 tot 6 weke van onafgebroke produksie is daar niks van die geel kleurstof meer aan die bek te sien nie, dog die kleur van die bek verander nie voordat die hen van 30 tot 40 eiers geproduseer het nie. Die pote hou hul kleur die langste en onder normale omstandighede is hulle eers na 'n produksieperiode van 4 tot 6 maande heeltemal wit. Wanneer die hen ophou met Iê, kom die kleurstof weer in dieselfde volgorde terug na die dele van die liggaam, nl., aars, oog-ring, oorbelle (indien wit), bel en pote.

Vir praktiese doeleindes is die verandering by die bel en pote van die grootste belang. Pluimveeboere wil gewoonlik nie juis weet wanneer 'n hen 2 of 3 eiers gelê het nie, soos aangedui word deur die verbleiking van die aars, dog hulle wil graag weet wanneer daar 100 tot 150 eiers gelê is, soos aangedui word deur die kleurverandering by die pote van die hoender. Soms kan gesê word dat by die uitgooi van ongeskikte hoenders die pluimveeboer maar raai, veral as hy nie presies weet watter faktore eierproduksie beïnvloed nie. Noukeurige waarneming en praktiese ondervinding sal vir die boer tot groot nut wees wanneer hy die swak hoenders wil uitgooi en die goeie lêers in die trop wil behou.

 

Valneste

Teenswoordig word die waarde van 'n hen gebaseer op die produksievermoë van haar kuikens. Dis wat ons noem die nageslagtoets. As mens hierdie toets wil toepas, moet die jonghenne in valneste Iê. Daar is egter baie pluimveeboere wat dit nie kan bekostig om hul henne die heel jaar deur in valneste te laat Iê nie, dog miskien in staat is om hul jonghenne net gedurende die winter in valneste te laat Iê. Daar bestaan 'n belangrike verwantskap tussen winter en jaarlikse eierproduksie, wat aandui dat die hen wat 'n hoë winterproduksie het, miskien in 'n beter posisie is om 'n hoër jaarlikse totaal te behaal as die met 'n lae winter-produksie. As die rekords vir winterproduksie beskikbaar is, kan die jaarlikse eierproduksie binne 9 persent reg voorspel word. Vir produksiedoeleindes moet henne so uitgebroei word, dat hulle aan die begin van die winter begin Iê.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 9