Last update: April 2, 2012 12:24:58 PM E-mail Print

 

DIE LANDBOU-ORGANISASIE EN SY LEIER

E M Meyer

 

Uit die aard van die omvang van die landboubedryf in die Republiek van Suid-Afrika is dit seker onnodig om uit te wei oor die noodsaaklikheid vir die boere om hulle in ‘n sterk landbou-organisasie saam te snoer. Trouens, 'n mens vind hierdie samesnoering van belangegroepe in organisasies in al die sektore van die ekonomie, waarvan die Kamer van Nywerhede en die Kamer van Mynwese enkele voorbeelde is.

Die noodsaaklikheid vir 'n landbou – organisasie spruit in die eerste plek daaruit voort dat die boere, met gemeenskaplike belange, die behoefte het om hul in 'n organisasie saam te snoer, waarbinne bulle hul gemeenskaplike sake kan bespreek en gesamentlik optree. Die landbou - organisasie in Suid-Afrika het, soos elders in die wêreld, spontaan vanuit die boere self ontstaan. Aanvanklik was die behoefte om slegs op plaaslike vlak byeen te kom en te gesels, wat tot die daarstelling van boereverenigings gelei het. Mettertyd het plaaslike verenigings die behoefte gevoel om hulself op gebiedsbasis saam te snoer, wat grootliks op ‘n streeks en provinsiale grondslag geskied het. Die volgende logiese stap was om al hierdie organisasies in ‘n nasionale organisasie saam te snoer, wat tot die daarstelling van die Suid-Afrikaanse Landbou-unie aanleiding gegee het.

Die relatief yl en wye verspreiding van die boeregemeenskap oor die land, asook die afstande en kommunikasielyn tussen die individu, die mark en owerheidsinstansies wat algemeen baie lank is, maak dit des noodsaakliker vir die landboubedryf om oor In sterk landbou-organisasie te beskik.

In die toekoms sal die behoefte vir h sterk organisasie eerder toeneem as afneem aangesien die getal boere in alle westerse lande besig is om absoluut en relatief tot die bevolking te verminder.

Ten spyte van die feit dat die bruto - waarde van landbouproduksie in al hierdie lande (ook in Suid-Afrika) oor die langtermyn steeds ‘n toename toon, is die verhoudelike bydrae van die landbousektor tot die bruto volksproduk besig om af te neem.

Dit is 'n bekende feit dat die boere tot 'n groot mate reeds hul politieke stem verloor het en hierdie struktuurverandering binne die landbousektor bring mee dat die probleme van die landboubedryf op ekonomiese en sosiaal-maatskaplike gebied besig is om steeds ingewikkelder te raak. Ten einde enigsins hul posisie te handhaaf sal van die boer se kant af 'n steeds groter behoefte moet ontstaan om saam met sy mede-boere binne 'n sterk en doeltreffend-georganiseerde bedryf te beraadslaag en te beplan.

“In eendrag lê krag” is 'n waar spreekwoord waaraan die verenigde landboufront sal moet vasklou, nie net in die onmiddellike toekoms nie maar ook in die verre verskiet. Onderlinge geskille en verskille in die landboubedryf is 'n luukse wat die landbousektor nie meer kan bekostig nie. 'n Doeltreffend - georganiseerde boeregemeenskap word grootliks beïnvloed en bevorder deur die gene wat deur hul mede - boere in 'n leiershoedanigheid daargestel word. Sonder leierskap sal geen groep of organisasie sy doelstellings bereik of noemenswaardige aksie voortbring nie. Dit is dus van die grootste belang vir die landbousektor dat leiers korrek identifiseer word aangesien dit 'n bepalende faktor sal wees in die sukses al dan nie wat bereik gaan word wanneer op 'n verenigde front opgetree word.

Paul Pigors sê in sy hoek “Leadership or Domination”: If Leadership is a process of mutual stimulation, which by succesful interplay of relevant individual differences, controls human energy in pursuit of a common cause “ – ‘n individu is ‘n leier in enige sosiale situasie waar sy idees en aksies die gedagtes van ander beïnvloed .

'n Leier kan verder gedefinieer word as 'n persoon met 'n spesifieke vermoë of posisie wat onder sekere omstandighede 'n sekere groep mense ten opsigte van hul gedrag, gevoelens of gedagtes in 'n bepaalde rigting beïnvloed, aktiveer of motiveer om bestaande take te beheer of te bestuur en om oor nuwe take besluite te neem en uit te voer.

Tot betreklik onlangs is nog geglo dat slegs mense wat oor sekere aangebore eienskappe beskik leiers kan word. Uit talle studies wat onderneem is in die verlede kon geen eenstemmigheid bereik word oor watter basiese persoonlikheidskenmerke leiers van nie-leiers onderskei nie en is daar meer toegespits op die funksies van 'n leier. In plaas van te vra “Watter soort persoon maak 'n leier?”, is probeer bepaal "Hoe tree ‘n effektiewe leier op?”.

Alhoewel moontlik onvolledig, is die volgende waarskynlik die belangrikste aspekte waarin leiers hul volgelinge oorskadu.

 

1. Deskundigheid of kennis

Die leier is die deskundige na wie opgesien word en daarom bestaan daar nie so iets soos 'n onintelligente leier nie. Hy moet goeie oordeelsvermoë en gesonde verstand hê d.w.s. ‘n kombinasie van intelligensie en ondervinding. Hy moet oor die vaardigheid beskik om toekomsplanne te bedink.

Hy moet mensekennis besit en weet hoe om sy volgelinge te motiveer. Hy moet ook kennis hê hoe om te organiseer en weet hoe om sy leierskapsoptrede oor te dra aan sy lede en by hul 'n positiewe reaksie te ontlok.

 

2. Die leier moet respek afdwing

Die integriteit van 'n leier moet nooit onder verdenking staan nie. Hy moet te alle tye eerlik, betroubaar, verantwoordelik, billik en onbevooroordeeld wees. Konsekwentheid, besliste optrede, onpartydigheid, beginselvastheid en ‘n eerbare woord dwing respek af.

'n Aangename en sterk persoonlikheid is die uitstaande kenmerk van 'n ware leier. Welsprekendheid en selfvertroue gepaardgaande met nederigheid verhoog die aantrekkingskrag van die leier want leierskap vereis dat idees presies en kragtig oorgedra kan word.

 

3. Die leier moet mensliewend optree

Goeie menseverhoudings moet openbaar word. Diplomatiese en taktvolle optrede is van groot belang. Die leier moet hier veral die volgende in gedagte hou:

  1. Elke individu het 'n bestaansreg - aanvaar die mens soos hy is.  

  2. Elke individu is uniek - verskille t.o.v. ontwikkeling, leervermoë, denke, insig ens, bestaan.

  3. Omstandighede bepaal die eindproduk - omgewing bepaal persoonlikheid, karakter en waardesisteme, terwyl opleiding, kennis, bedrewenheid en houdings bepaal.

  4. Elke individu beskik oor die kapasiteit en potensiaal om te leer - die leier skep slegs 'n gunstige klimaat en geleenthede daartoe.  

  5. Poog om in die plek van andere gestel te word - begrip van probleme en doelstellings van individue.

  6. Erken en eerbiedig die waardesisteme van ander - dit waarin iemand presteer word belangriker geag as ander dinge.

 

Daar bestaan verskeie maniere om omgang met mense te verbeter en die leier moet hierdie hulpmiddels korrek inspan. Die volgende wenke kan nagevolg word:

  1. Verkry samewerking deur korrekte vrae te stel en ander die praatwerk te laat doen.  

  2. Moenie langdradig wees nie

  3. Wees selfversekerd

  4. Tree direk op

  5. Tree entoesiasties op

  6. Wees vriendelik 

  7. Beklemtoon voortreflike eienskappe en bedwing kritiek

  8. Ken die mens

 

Die leier moet altyd poog om 'n gesonde balans te handhaaf en laat hom nie deur sosiale druk beïnvloed om eie eer na te streef nie. Hy probeer 'n man van waarde te wees en is bereid om meer te gee as wat hy ontvang. Hy is nie daar om gedien te word nie, maar om diens te lewer.

Aangesien die Boerevereniging die voedingsaar is van die werklike organisatoriese werksaamhede nl. die op streeks- provinsiale en nasionale vlak, is dit uiters noodsaaklik dat reeds op plaaslike vlak alles in werking gestel word om die organisasie vlot en glad te laat verloop deur die daarstelling van die regte persone in die leiersposisie.

Ter afsluiting word die woorde van D M Hall in sy hoek If Dynamics of Group Action" kwoteer: "Each of us exerts some influence at some level and in some field, and that influence, however little, is a measure of our leadership. Leadership does not reside in a person; it resides in the situation. Groups do not act because they have leaders. They select leaders to help them act. The most effective help a leader can give a group is to help it help itself”.

 

Published

Karoo Streeknuusbrief Winter