Last update: April 10, 2012 08:31:41 AM E-mail Print

 

LENTE- OF HERFSLAM? Interessante Proewe met Merino's op Grootfontein

WJ Hugo 

 

RAMME moet baie langer by die ooie loop wanneer die ooie in die herfs moet lam as wanneer hulle in die lente moet lam. As die ooie in die lente moet lam, is dit nie nodig om die ramme langer as ses tot agt weke by die ooie te laat loop nie, maar indien herfslammers verlang word, styg die lampersentasie steeds namate die ramme langer by die ooie loop.

Hierdie, en ander bevindings, is gemaak in 'n reeks studies wat dr. Wouter J. Hugo, Eerste Vakkundige Beampte op die Landboukollege Grootfontein en een van die Departement se vernaamste skaapdeskundiges, met Merino-ooie by Grootfontein gedoen het.

Ramme is jaarliks vir die periode 1936 tot 1939 (die ooie is almal in Maart-April 1934 gebore) vanaf 15 April by die een groep ooie geplaas sodat hulle in die lente kon lam, terwyl ramme jaarliks vir die tydperk 1935 tot 1938 (albei jare ingesluit) van 15 November af by die ooie van die tweede groep geplaas is met die oog op herfslamtyd. Die ramme is vir vier maande by die ooie gehou. AIle ooie is op beheerde voeding gehou.

Daar is gevind dat al die ooie van die herfspaargroep vir vier agtereenvolgende paarseisoene binne gemiddeld agt dae nadat die ram by hulle geplaas is, beset geraak het, terwyl dit in die geval van die lentepaargroep (dit wil sê vir herfslamtyd) gemiddeld 64.9 dae geduur het.

Die lamdatums by die herfspaargroep is op gemiddeld 20 September gehandhaaf, terwyl die gemiddelde lam datum by die lentepaargroep van 24 Julie in 1936 tot 13 Mei in 1937 vervroeg is.

Hierdie vervroeging van die gemiddelde lamdatum is die gevolg daarvan dat die teelseisoen wyer word namate die ooie ouer word, sodat die gemiddelde dekdatums in die geval van die lenteparing van 24 Februarie in 1935-36 na 15 Desember in 1938-39 vervroeg kon word.

As die datums waarop die ramme by die ooie gebring word, op 15 April en 15 November onderskeidelik vir die herfs- en lente paargroepe gehandhaaf word, het die herfspaargroep gemiddeld 116.8 dae oor gehad om te herstel nadat hulle lammers gespeen is voordat hulle weer by die ram geplaas is. Die lentepaargroep het gemiddeld net 48.5 dae tot hul beskikking gehad (omdat dit soveel langer neem voordat hulle beset raak).

Met 'n paarperiode van ses weke word 'n hoë persentasie ooie van die herfspaargroep reeds van die eerste jaar af beset. By die lentepaargroep toon die persentasie ooie wat beset raak 'n styging vanaf 0% in die eerste jaar tot 33.3 % in die vierde jaar.

Met ander woorde, waar die ram slegs ses weke in die lente by die ooie loop, het die ooie in hul eerste paringsjaar glad nie beset geraak nie, terwyl een-derde in die vierde jaar beset geraak het. Waar hierdie periode van ses tot agt weke verleng word, bly die besetting by die herfspaargroep nog dieselfde, maar by die lentepaargroep styg die besetting van 0 persent in die eerste jaar (nes by die sesweke-periode) tot 77.8 persent vir die derde jaar.

Die lengte van die paarseisoen het dus hier 'n wesenlike invloed op die persentasie ooie wat beset raak. Die studie het egter aan die lig gebring dat daar geen noemenswaardige voordeel in steek om die paarperiode vir herfsparing langer as ses tot agt weke te maak nie. By lenteparings egter kan 'n gestadigde styging verwag word namate die paarperiode verleng word.

Daar is vasgestel dat die geslagsaktiwiteit van die Merino 'n seisoenale patroon volg. Die teelseisoen. van 'n kudde Merino's begin ongeveer Oktober-November, en styg geleidelik totdat die hoogtepunt in die maande April, Mei en Junie bereik word. Daarna daal dit geleidelik om 'n laagtepunt in September te bereik. Die Merino se geslagsjaar strek dus van Oktober tot September.

Hierdie oënskynlik lang, teelseisoen van 'n kudde is in werklikheid 'n samestelling van 'n aantal betreklik kort teelseisoene wat vir elke individuele skaap uit sowat agt kringlope bestaan. Elkeen van hierdie individuele teelseisoene word van mekaar geskei deur 'n periode van teelrus. Dit is nie die gevolg van 'n afname in die voedingspeil nie.

Alles dui daarop dat die verandering in die, lengte van die dagligure die vernaamste faktor van buite af is. Die vinnigste styging in geslagsaktiwiteit stem naasteby ooreen met die vinnigste daling in die lengte van die dae.

Die getal ooie wat jaarliks bronstig raak, bereik sy maksimum al op die betreklik vroeë ouderdom van 19 maande. Die lengte van die teelseisoen toon egter 'n geleidelike toename met ouderdom.

Verder is vasgestel dat die lengte van die bronstigheidsfase na die vierde jaar betekenisvol korter word. Die optimum ouderdom van die Merino Iê tussen die vierde en vyfde jaar.

Die ouderdomsamestelling van die kudde is dus 'n belangrike faktor in die aanteelvermoë van die kudde. Hoewel dit onvermydelik is om altyd 'n sekere persentasie jong (twee- tot viertand) ooie in die kudde te hê, behoort die strewe te wees om ooie na die vyfde jaar te vervang, aangesien afwykings dan begin intree wat daartoe mag lei dat 'n kleiner persentasie ooie beset raak.

Wat is die verhouding tussen die wolproduksie en die aanteelvermoë van die ooi? Dr. Hugo bevind in hierdie verband:

“Resultate dui daarop dat 'n te hoë intensiteit van wolproduksie antagonisties is tot daardie fisiologiese prosesse wat in verband met voortplanting staan, met die gevolg dat, veral in gevalle waar die voedingspeil nie ruim voorsien aan die behoeftes van die skaap nie, word die geslagsaktiwiteit van Merino-ooie met 'n hoë intensiteit van wolproduksie meer onderdruk as by ooie met 'n laer intensiteit van wolproduksie."

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 32 (8)