Last update: April 2, 2012 01:28:18 PM E-mail Print

 

LITJIESKAKTUSBESTRYDING : GEMEENSKAPBETROKKENDHEID

A J Siepker

 

Inleiding

Alvorens die groter betrokkenheid van die gemeenskap as sodanig van nader beskou word, is dit nodig om kortliks te let op die verband tussen individu en gemeenskap, Die verband word oorsigtelik gesproke in twee eensydige opvattings weerspieël naamlik enersyds die beskouing waarin die groep as van groter belang as die individu geag word en andersyds word die mening gehuldig dat die individu belangriker as die groep is.

Vandag word die belangrikheid van die individu in elke groep en gemeenskap erken asook dat dit eerbiedig moet word - sonder individue is daar immers geen groepe of gemeenskappe nie. Aan die anderkant kan die belangrikheid van die groep en gemeenskap nie ontken word nie - sonder die groep en gemeenskap is daar van 'n geordende voortbestaan van die individu oor die langtermyn ook geen sprake nie. Dit sal dus nodig wees om sekere regte en voorregte van die individu in te kort indien die voortbestaan van die gemeenskap bedreig word. Eienaars van besmette plase moet dus oorreed word om aan sekere norme te voldoen. Dit sal verseker dat die waardes van die distrik se plase behoue bly en dus 'n hoër produksie verseker asook lewenstandaard.

 

2. Gevaar van Litjieskaktus

Dit word algemeen aanvaar dat litjieskaktus een van die gevaarlikste onkruide in Suid -Afrika is. Hierdie Komitee is meer bewus daarvan as enige iemand anders.

Dit is ook so dat die gevaar al hoe groter word omrede die bestryding daarvan kommer wek. Nuwe besmettings word gevind en oueres brei uit.

 

3. Beginsel van Selfhelp

Daar is In Chinese spreekwoord wat se - "leer iemand om vis te vang en jy hoef hom nie verder te voed nie". Die beginsel van help iemand met die voorbehoud dat hy hom later self moet kan help, kom duidelik in die spreekwoord na vore.

Dit is ook 'n aanvaarde feit dat 'n gemeenskap wat nie bereid is om homself te help nie, nie kan verwag dat hulp van buite af voortdurend aangebied moet word nie.

 

4. Betrokkenheid van die Gemeenskap

In die eerste linie van betrokkenheid staan die eienaars en bewoners van die plase waarop die gevaarlike litjieskaktusplante voorkom. Dit sou sekerlik verkeerd wees van hierdie betrokkenes om hulle van die gevaar te distansieer. Die probleem is in die alle eerste plek hulle sin omrede die gevaar 'n bedreiging vir hulle toekoms inhou. Let op dat die probleem nie beskou word as alleenlik hulle sin nie..

Die eienaars van besmette plase moet dus die kern vorm van 'n bestrydingsplan en / of program.

In die tweede linie van betrokkenheid staan die segsmanne van bogenoemde betrokkenes. Nie net segsmanne in die eng sin van die woord nie maar leiers wat hulle woorde deur dade bewys. Dade van selfhelp.

Die groot taak van hierdie verkose leiers (nie aangewys of aangestel nie) is om daardie lede van die litjieskaktus gemeenskap wat direk betrokke is en wat nog koud en afsydig staan tot ander insigte te bring, veral wat doeltreffende bestryding betref. 'n Verdere belangrike taak is om die res van die gemeenskap te betrek tot so 'n mate dat elkeen bewus is van die gevare wat litjieskaktusbesmetting inhou.

Dit sal meebring dat daar mettertyd gemeenskap- en groepsnorme sal groei en ontstaan wat grootliks sal meehelp tot doeltreffender bestryding omrede die norme op 'n informele wyse tot 'n groot mate afdwingbaar op die onwillige enkeling gemaak kan word.

 

5. Betrokkenheid van die Staat

In die derde linie van betrokkenheid staan die Staat. Hier moet veral onthou word dat hoe meer die Staat betrokke raak, hoe minder seggenskap het die werklike belanghebbendes, veral waar finansies op die spel kom wat deur belastingbetalers se geld bedryf word.

'n Gesonde beginsel sal wees dat die Staat slegs as ko-operateur betrek word en dan veral as die voorsiener van geld om die goed vooruit beplande bestrydingsprogramme in die praktyk deur te voer.

Dit veronderstel dat gifstof so te sê 100 persent gesubsidieer moet word maar arbeid net tot 'n sekere persentasie indien nodig. So 'n benadering sal die heersende afsydigheid van die meeste wat werklik betrokke is, verander na groter betrokkenheid en dus doeltreffender bestryding.

Die Staat moes hom nooit laat oorreed het om in 'n alleen stryd gewikkel te geraak het nie. Dit het die betrokkenes tot onverskilligheid beweeg en die gemeenskap tot afsydigheid en tot niemand se tevredenheid nie.

 

6. Riglyne vir Betrokkenheid

Die direkte betrokkenes (eienaars van besmette plase) moet uit eie geledere bruikbare leiers kies wat as 'n span die bestrydingsveldtog kan beplan en deurvoer.

Die bestrydingspan kan na behoefte ander kundige persone of beamptes betrek of ko-opteer om hulle met raad en daad by te staan. Die inisiatief moet in die hande van die plaaslike span bly'.

"For a community and its leaders who desire progress it is both proper and necessary to create appropriate agencies to introduce and stimulate such progress".

Die mense met invloed in die gemeenskap moet meehelp en toesien dat norme daargestel word wat deur almal aanvaar en toegepas sal word. Die gevaar van litjieskaktusbesmettings kan tot 'n minimum beperk word deur bestrydingsmaatreël so doeltreffend moontlik toe te pas.

Die Staat moet slegs betrek word op aanvraag van die bestrydingspan en wel ten opsigte van geldelike hulp of advies. Geensins moet met Staatspanne bestrydingswerk onderneem word nie.

 

7. Norme van belang

Elkeen moot sy allerbeste doen om die onkruid op sy plaas te bestry. Dit verg veral noulettende toesighouding. Toesighouding oor die bestrydingspanne asook oor die skoonhou van vee om verspreiding te voorkom.

Gereelde inspeksies om nuwe besmettings op te spoor of uitbreidings van ouere besmettings waar te neem.

Lede van die groep wat deur litjieskaktusbesmettings bedreig word moet hulle invloed gebruik om ander lede wat afsydig staan of laks in die bestryding is onder andere deur te min arbeiders te huur. Oorreed om hul ooreenkomste aangegaan in die groep na te kom. persoonlike onderlinge beïnvloeding op informele wyse het sekerlik veel meer krag as In Onkruidwet wat formeel afgedwing moet word.

Formele leiers van die gemeenskap moet vir hulle platvorms skep van waar hulle wel deurdagte raad kan gee om sodoende 'n klimaat van samewerking te skep.

Die Staat deur sy onkruidinspeksiediens en geldelike ondersteuning moet op aanvraag die gemeenskap in die breë maar die eienaars in die besonder bystaan in hul grootste poging om die gevaar van litjieskaktusbesmetting uit te wis. Meehelp in die vorming van mense sodat selfhelp eie aan elkeen sal word.

In 'n gees van samewerking kan met so ‘n benadering veel vermag word.

 

Published

Karoo Streeknuusbrief Winter