Last update: April 5, 2012 07:21:47 AM E-mail Print

 

Die voedingswaarde van Lusernhooi

deur F.C.T. COETZEE, Landboukollege Grootfontein

 

HOOl is 'n belangrike landbouproduk in Suid-Afrika. Gedurende 1963/64 is hooi met 'n brutowaarde van bykans R17 miljoen in die Republiek geproduseer. Hiervan was lusernhooi die belangrikste en het die produksie toegeneem van 379,000 ton in 1946 tot 793,000 ton in 1960. Die oppervlakte onder lusernverbouing het toegeneem van 139,000 morg in 1946 tot 306,000 morg in 1961.

Wanneer 'n voergewas groei, verander die chemiese samestelling en dus die voedingswaarde van die groenmateriaal. Die belangrikste veranderings is 'n verlaging van die ruproteïeninhoud en 'n toename in die ruveselinhoud. Met die hooimaakprosesse word geprobeer om die voedingstowwe in die groenmateriaal in die hooi te bewaar deur dit vinnig te droog.

Die voedingswaarde van hooi kan egter nooit hoër wees as die van die materiaal waaruit dit berei is nie omdat daar altyd van die voedingstowwe verlore gaan gedurende die hooimaakprosesse. Die voedingswaarde van die groenmateriaal (die groeistadium) en die omvang van die voedingstofverliese tydens die bereiding en opberging bepaal dus die gehalte van die hooi.

 

VERLIESE

Voedingstofverliese vind hoofsaaklik meganies en as gevolg van biochemiese afbreekprosesse plaas. Meganiese verliese behels hoofsaaklik die verlies aan blaarmateriaal.

Onthou dat die ruproteïeninhoud van lusernblare meer as dubbel die van die stingels, en die ruveselinhoud slegs sowat een derde van die van stingels is. Die blaarrykheid van hooi kan dus 'n goeie aanduiding wees van die voedingswaarde daarvan.

Die omvang van die biochemiese afbreeksprosesse word bepaal deur die tydsduur vandat die plantmateriaal gesny is totdat die plantselle sterf as gevolg van vogverlies. 'n Te hoë voginhoud van die plantmateriaal veroorsaak fermentasie en gevolglik hitte wat ook aansienlike voedingstofverliese veroorsaak deur "verbranding". Boonop mag muf die hooi onsmaaklik maak of aanleiding gee tot die ontwikkeling van giftige stowwe.

Lusernhooi van hoë gehalte is dus slegs moontlik waar die plantmateriaal op 'n vroeë groeistadium gesny en doeltreffende hooimaak- en opbergingsfasiliteite gebruik is. Verbeterde hooimaakmetodes verg egter uitgawes en tensy die boer deur verhoogde produsentepryse erkenning kry vir die verhoogde voedingswaarde van hoë gehalte hooi, sal hy nooit aangemoedig word om beter hooi te produseer nie.

 

GRADERING

Die doel van hooigradering is om verskille in gehalte aan te dui 'om 'n basis te vind vir prysvasstelling. Om produsente en verbruikers tevrede te stel, is dit uiters belangrik dat daar eenvormige graderingsstandaarde bestaan en dat die standaarde gebaseer sal wees op 'n wetenskaplike grondslag, sodat die verskillende grade nie net die voorkoms van die hooi weerspieël nie, maar ook 'n aanduiding is van die voedingswaarde daarvan.

Die huidige graderingstandaarde word aangegee in Tabel 1. Hieruit blyk dat die huidige standaarde hoofsaaklik op subjektiewe beoordeling gebaseer is. Dit is bewys dat hierdie stelsel van gradering nie die voedingswaarde van hooi baie noukeurig aandui nie hoewel dit in die algemeen 'n benaderde aanduiding gee. Daar bestaan dus lank reeds 'n behoefte in Suid-Afrika vir meer realistiese graderingstandaarde.

 

 

MONSTERING

Die eerste vereiste vir 'n betroubare graderingstelsel is 'n geskikte monsteringsapparaat en -tegniek. So 'n apparaat en tegniek is getoets en betroubaar bewys vir die monstering van gebaalde hooi. Die apparaat sien u in Figuur 1.

 

 

Die monsteringstegniek bestaan daaruit dat twee boormonsters binne en twee buite die binddrade van 'n baal hooi geneem word (Fig. 2). Wanneer die monsters gemeng word, is die saamgestelde monster verteenwoordigend van die baal. Om 'n verteenwoordigende monster van 'n hele snysel te verkry, hoef slegs 19 bale uit die opbrengs van 'n bepaalde land wat op dieselfde dag gesny is en op dieselfde manier gedroog is, op bogenoemde manier gemonster te word.

 

 

Gemengde lotte hooi, afkomstig van verskillende lande, snysels ens, kan nie op hierdie manier gemonster word nie. Wanneer boere hooi by koöperasies lewer, moet hulle dus nie hooi van verskillende persele meng nie.

Graderingstandaarde moet ook die voedingswaarde van die verskillende grade hooi weerspieël. Dit vereis 'n metode van voer evaluasie wat

 

TOETSMETODE

Een metode wat in 'n groot mate voldoen aan hierdie vereistes is die sogenaamde " Turbiditeitstoets" wat, volgens Amerikaanse navorsers, sowel die ruproteïen'" as die ruveselinhoud van hooi weerspieël en dus die voedingswaarde aandui.

Hierdie toets is verder ondersoek vir moontlike gebruik in die gradering van lusernhooi. Die metode is die volgende: Suspendeer 'n bepaalde gewig fyngemaalde hooi in water en bepaal die optiese digtheid van die suspensie nadat dit vir 'n bepaalde tyd teen 'n bepaalde spoed gesentrifugeer is.

Vir die toets van die metode en ook om die invloed van die groeistadium en drogingsmetodes van lusern op die voedingswaarde van die hooi te ondersoek, is hooi van uiteenlopende gehalte geproduseer. Dit is gedoen deur lusern op vier verskillende groeistadiums (knop-, 10 % blom-, 50 % blom- en > 100 % blom-stadium *) te sny en hierdie groenmateriaal op drie verskillende maniere te droog (in koelte, in die son op die land en in die son op die land nadat die hooi in die windrye natgereën het of met 'n bepaalde hoeveelheid water natgespuit is).

(* > 100% blomstadium beteken dat die 100 persent blomstadium reeds bereik is en dat die blomme reeds begin verwelk het.)

Die ondersoek van die betroubaarheid van die turbiditeitstoets het nie dieselfde resultate gegee as die wat die Amerikaanse navorsers met grashooi en gemengde gras - en peulgewashooi gekry het nie. Die toets is dus blykbaar nie geskik vir die evaluering van lusernhooi vir graderingsdoeleindes nie.

 

GROF GEMAAL

Die onderskeie kwaliteitsklasse hooi is vervolgens in 'n grofgemaalde toestand (1 duim sif in hamermeul) aan individuele skape (4 Dormerooie per kwaliteitsklas) gevoer terwyl twee Dormerramme per kwaliteitsklas tegelykertyd gebruik is om die verteerbaarheid van hooi van die onderskeie gehalteklasse te bepaaI.

Die gewigsveranderings van die skape wat die hooi van die verskillende groeistadiums en drogingsmetodes ontvang het, is in Tabel 2 aangetoon.

 

 

Die resultate in TabeI 2 toon dat die drogingsmetode nie die voedingswaarde van die hooi betekenisvoI beïnvloed nie; dat hooi van die knopstadium betekenisvoI beter is as hooi van die later groeistadium en dat daar geen betekenisvoIle verskil in die voedingswaarde van hooi is wat in die 10 persent blomstadium of later gesny is nie. Onthou egter dat die hooi in 'n grofgemaalde vorm gevoer is en dat die resultate moontlik minder gunstig sou gewees het vir hooi in die latere groeistadiums indien dit in die ongemaalde of ongekerfde vorm gevoer sou gewees het.

 

DM-INNAME

Die gesegde ,,'n Koei se melk gaan deur haar keel" is 'n baie treffende beskrywing van die feit dat die vrywillige voerinname van 'n dier sy potensiële produksiepeil bepaal. Die hoeveelheid droë materiaal (DM) wat 'n dier vrywillig inneem in die vorm van 'n sekere voersoort, is 'n goeie aanduiding van die voedingswaarde van die besondere voersoort. Die DM-inname van diere word, onder meer, beïnvloed deur die gewig van die dier, die "smaaklikheid" van die voer en die verteerbaarheid van die voer.

Om die effek van die gewigsverskille van die proefdiere op die vrywillige voerinname uit te skakel, is die gewigte van die proefdiere op 'n standaardgewig - die metaboliese gewig - bereken. In Tabel 3 is die invloed van die groeistadiums en die drogingsmetodes op die vrywillige DM- inname van die hooi deur skape aangetoon.

 

 

Die resultate in Tabel 3 toon dat die DM-inname van hooi van die knop- en 50% blomstadiums betekenisvol beter is as hooi van 10% en 100% blomstadiums en dat die DM-inname van songedroogde hooi betekenisvol beter is as koeltegedroogde en natgereënde hooi. Die lae inname van die hooi van die 10% blomstadium is te wyte aan die lae inname van die koeltegedroogde en natgereënde hooi van die groeistadium.

Die verteerbaarheid van 'n ruvoer is belangrik omdat dit die vrywillige inname beïnvloed en omdat slegs die verteerde voerbestanddele vir produksie aangewend kan word. Die invloed van die groeistadiums en die drogingsmetodes op die verteerbaarheid van die DM van die verskillende kwaliteitsklasse hooi is in Tabel 4 aangetoon.

 

 

Die resultate in Tabel 4 toon dat hooi van die knopstadium 'n betekenisvolle hoër verteerbaarheid het as hooi van die 50% en 100% blomstadiums; ook dat daar geen betekenisvolle verskil is in die verteerbaarheid van lusernhooi van die 10%-, 50%- en 100%-blomstadiums nie.

 

VOEDINGSWAARDE

Die resultate van die proewe staat die van ander navorsers naamlik dat hooi van lusern in die knopstadium, d.w.s. net voor die verskyning van die eerste blomme, 'n betekenisvol hoër voedingswaarde het as hooi afkomstig van die latere groeistadiums, en dat hooi van die 10% blomstadium soms gelykwaardig is aan die van die knopstadium en soms aan die van die latere groeistadiums. Die 10% blomstadium is dus die kritieke groeistadium. In die daaropvolgende groeistadiums is die daling in voedingswaarde veel geringer as met die oorgang van die knop na die 10% blomstadium.

Uit 'n bestuursoogpunt is dit nie wenslik om lusern altyd in die baie vroeë groeistadiums te sny nie omdat dit die plante en gevolglik ook die stand verswak. Materiaal van die latere groeistadiums is meer onderhewig aan voedingstofverliese gedurende die hooimaakprosesse, hoofsaaklik as gevolg van groter blaarverliese. Dit kan beperk word met beter hooimaakmetodes. Hooi van 'n redelike gehalte kan dus in 'n later groeistadium geproduseer word.

Hierdie studie het ook die bevindings van ander navorsers bevestig, naamlik dat die vrywillige DM-inname in die vorm van ruvoer verhoog word deur verhoogde ruvoerverteerbaarheid en dat ruvoerverteerbaarheid en vrywillige voerinname, en sodoende produksie, verlaag word deur 'n verhoging in ruveselinhoud.

Die ruveselinhoud van lusernhooi kan dus as 'n indeks van die voedingswaarde van lusernhooi dien omdat dit die vrywillige DM-inname deur herkouers beïnvloed; dit die verhouding waarin die vlugtige vetsure in die rumen van herkouers voorkom beïnvloed; die verhoudings van die vlugtige vetsure 'n belangrike invloed uitoefen op die doeltreffendheid van energiebenutting deur die herkouer; en omdat die ruveselinhoud van lusernhooi ook bepaal in watter mate dit geskik is vir gebruik in die rantsoene van nie-herkouers.

 

RUVESELINHOUD

Die chemiese bepaling van die ruveselinhoud van ruvoere is eenvoudig en betroubaar en leen homself tot grootskaalse roetinebepalings. 'n Voorgestelde nuwe graderingstelsel vir lusernhooi, hoofsaaklik gebaseer op die ruveselinhoud van die hooi, is in Tabel 5 aangetoon.

 

 

Dit is weer in hierdie proewe bewys dat grofgemaalde lusernhooi sonder enige aanvulling nie die geskikste rantsoen is vir die groei en vetmaak van diere nie, waarskynlik weens 'n energietekort en omdat die vetsuurverhoudings in die ruvoer nie gunstig is vir die doeltreffende benutting van energie vir vleis- en vetproduksie nie. Lusernhooi, veral van die knopstadium, kan beskou word as 'n proteïenkonsentraat. Vul dit dus altyd met 'n energieryke voer aan.

Die belangrikheid van ruvoergehalte vir melkkoeie, gemeet aan die verteerbaarheid van die ruvoer, is in Tabel 6 geïllustreer.

 

 

As die verbruikersprys van lusernhooi van die 10% blomstadium (2de Graadse hooi) op R16.00 per ton gestel word en die gemiddelde gewigstoename van die 50% en 100% blomstadiums met die ander groeistadiums vergelyk word, behoort die verbruikersprys van eerste-, tweede-, en derdegraadse lusernhooi teoreties onderskeidelik ongeveer R24, R16 en R11 per ton te wees.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 41 (10)