Last update: April 11, 2012 09:50:19 AM E-mail Print

 

Lusern in Suid-Afrika

1. Distribusie en Verbouingsmetodes

H. W. Turpin

 

ONDER geskikte verbouingstoestande is lusern ongeëwenaard as 'n voergewas, veral as die hoë opbringste, die uitstekende voedingswaarde en die oorjarige aard daarvan in aanmerking gene em word. In Suid-Afrika is daar baie min distrikte waar lusernbou nie op groot of op klein skaal onderneem word nie, maar aangesien faktore soos temperatuur, reënval, lae voggehalte en grondsoorte gunstiger is in die droër dele van ons land word die grootste produksie in die droë streke waar daar besproeiingswater beskikbaar is, aangetref.

 

Distribusie

Die vernaamste lusernbou-sentrums word op die oomblik deur die distribusie van besproeiingskemas in die Unie weerspieël. Die produksiesyfers vir 1934-35 gee die volgende weer: Kaapprovinsie, 79,223 morge; Oranje-Vrystaat, 9,156 morge; Transvaal, 4,363 morge; en Natal, 1,077 morge.

In die Kaapprovinsie is die Karoodistrikte meer besonder geskik vir lusernbou as wat die distrikte met 'n hoër reënval is. Water is die grootste beperkende faktor in die droër dele, en gevolglik het die distrikte met die voordeel van water uit die groter besproeiingskemas die grootste oppervlakte onder die gewas, nl. omtrent 50 persent van die totale oppervlakte onder lusern. In hierdie opsig is die vernaamste distrikte, Oudtshoorn, Cradock, Graaff-Reinet, Uitenhage, Ladismith, Somerset-Oos en Bedford, maar deur private besproeiingskemas kan lusern ook in die meeste van die ander Karoodistrikte op kleiner of groter skaal geproduseer word. Die Karoogronde is gewoonlik taamlik geskik vir die gewas, aangesien dit oor die algemeen dieper is as die in ander dele van die land. Kalk kom algemeen dwarsdeur die Karoo voor, maar die aanwesigheid van alkalie in die grond sowel as in besproeiingswater lewer dikwels ernstige probleme op.

 

 

Kaapprovinsie

In die westelike Kaapprovinsie en die ander distrikte van die winterreënstreek, kan uitstekende lusernoeste verkry word in die distrikte Van Rhynsdorp, Clanwilliam, Robertson, Worcester, Barrydale Calvinia en Laingsburg, as besproeiingswater beskikbaar is. Aan die ander kant kan droëlandlusern met sukses gekweek word op plekke met 'n winterreënval van 10 tot 30 duim per jaar, soos byvoorbeeld in die meeste van die graandistrikte vanaf Malmesbury tot dele van George. Ongeskikte grondsoorte is 'n beperkende faktor, en vlak grond op 'n onderlaag van potklei is heeltemal nutteloos. Aan die ander kant is grondsoorte met 'n gedeeltelik-verweerde ondergrond van of die Bokkeveld- of die Malmesbury-serie wel geskik. In die winterreënstreek kan 10 duim reën heeltemal voldoende wees vir droëlandlusern, mits dit egalig versprei is. As droëlandlusern in genoemde streek op redelik goeie grond verbou en taamlik goed versorg word, behoort dit van 3 tot 5 jaar te staan en baie waardevol te wees as 'n bron van sappige voer gedurende die somer en die herfs.

In die oostelike Kaapprovinsie, die noordoostelike distrikte, die Transkeigebied en Griekwaland-Oos is die toestande nie bevorderlik vir maksimum opbringste of langlewendheid van die gewas nie, en in die reël werk verskeie faktore saam om die produksie te beperk. Hierdie faktore kom voor in die vorm van vlak gronde, dikwels met 'n tekort aan kalk en nie vrugbaar genoeg nie, gebrek aan besproeiingsfasiliteite, of onegalige verspreiding van die reënval op plekke waar uitsluitlik op die reënval staatgemaak word, en eindelik, die aanwesigheid van onkruid en siektes.

Die toestande in hierdie dele is nie van die allergeskikste vir lusernproduksie nie, maar aan die ander kant is die waarde van droëlandlusern tot nog toe nie ten volle besef nie. Oordeelkundige bemisting, toediening van kalk, inenting en die uitroeiing van onkruid lê in elkeen se vermoë, en eers nadat die nodige aandag aan hierdie punte geskenk is, sal deur proewe vasgestel kan word of die gewas sodanig sal groei dat dit die moeite werd sal wees om dit vir hooi of vir weiding te verbou, selfs al sou dit ook net vir 'n paar jaar stand hou.

 

Oranje-Vrystaat

Lusern kan in al die distrikte van die Oranje-Vrystaat gekweek word, maar op die oomblik word dit hoofsaaklik verbou in die droër dele van die provinsie waar besproeiingsfasiliteite beskikbaar is. In die oostelike en noordoostelike distrikte word lusern nie op uitgebreide skaal gekweek nie, deels omdat besproeiing daar nog nie veel ontwikkel is nie en die grond geneig is om suur te wees. Oor die algemeen is daar geskikte grond op meeste van die plase in die oostelike deel van die provinsie, maar as gevolg van die betreklik hoë  reënval in die middel van die somer is dit dikwels moeilik om die hooi droog te kry. Droëlandlusern bied egter moontlikhede in hierdie dele, mits sorg gedra word om die beste beskikbare grond uit te soek. Diep, ligter grondtipes moet voorkeur kry bo swaar kleigrond of grond met 'n klei-onderlaag. Waar die grond aan die suur kant is. sal die toediening van kalk miskien nodig wees.

 

Transvaal

Die Transvaal kom derde in soverre dit die verbouing van lusern in die verskillende provinsies betref, en sowat 80 persent van sy produksie is afkomstig uit die distrikte wat onder besproeiingskemas val, nl. Potchefstroom, Pretoria, Brits, Krugersdorp, Klerksdorp, Vereeniging, Pietersburg, Marico, Lydenburg en Middelburg. In hierdie distrikte wissel die reënval af van 20 tot 30 duim per jaar, en deur middel van besproeiingsfasiliteite is dit moontlik om gedurende die groeitydperk van die gewas 'n eenvormige distribusie van vog te verkry. In hierdie distrikte sal lusern in die toekoms waarskynlik nog 'n veel belangriker rol in gemengde boerderystelsels speel, veral wanneer koringproduksie minder winsgewend word.

Lusern word in beperkte mate in die meeste van die ander Transvaalse distrikte verbou. Vog is die vernaamste beperkende faktor, maar in sommige streke word produksie ook deur ongeskikte grond sowel as ruspers beperk. Ander faktore waarmee ook rekening gehou moet word, is alkaliniteit in dele van die westelike en suurheid in die oostelike Transvaal, veral in dele van die distrikte Ermelo, Piet Retief, Wakkerstroom, Carolina en Belfast. In laasgenoemde geval is dit dikwels nodig om die grond met kalk te behandel. Droëlandlusern bied groot moontlikhede in baie dele van Transvaal, maar veral in die hoëveld waar die reënval tussen 25 tot 35 duim per jaar is, en die verbouing van die gewas kan uitgebrei word in oostelike Potchefstroom, Vereeniging, Heidelberg, Standerton, Wakkerstroom, Piet Retief, Bethal, Ermelo, Witbank en suidoostelike Pretoria. In hierdie provinsie sal lusern onder droëlandtoestande waarskynlik van baie meer waarde wees as 'n weigewas of as 'n hooigewas vir gebruik op die plaas dan as 'n kontantgewas. Die sukses wat behaal sal word, sal egter grotendeels afhang van die mate  van sorg waarmee geskikte, diep grond uitgesoek en onkruid uitgeroei word. Die saai van lusern in rye sodat die land geskoffel kan word, asook die deeglike uitroeiing van onkruid voordat die saad gesaai word, verdien sorgvuldige aandag.

 

Natal

In vergelyking met die ander provinsies, is. die produksie in Natal maar laag, wat deels: toegeskryf kan word aan die feit dat die klimaatstoestande oor die algemeen nie gunstig is vir die verkryging van optimum opbringste van die gewas nie. In die distrikte van noordelike Natal, byvoorbeeld, Estcourt, Bergville, Ladysmith, Newcastle, Utrecht, Dundee, Vryheid en Louwsberg, kan lusern egter met 'n redelike mate van sukses verbou word, veral as besproeiingsfasiliteite ontwikkel kan word. In die distrik Weenen het besproeiing en ander taamlik gunstig toestande saamgewerk om daardie distrik die grootste lusern-produserende streek te maak. Tot dusver word die grootste gedeelte van die Natalse oes egter van droëlande verkry, en die gewas word selfs in dele van die provinsie met 'n hoë reënval en voggehalte aangetref. Hoewel dit slegs op klein skaal verbou word, en dan nog onder toestande wat alles behalwe ideaal is, vind boere nogtans dat lusern 'n baie waardevolle gewas is, selfs al hou dit net vir 2 tot 4 jaar.

 

Aanpassing

Die verwantskap tussen faktore soos temperatuur, reënval, vogtigheid, ens., bepaal deels die omvang van ekonomiese produksie van lusern. Die gewas aard die beste onder die heersende klimaatstoestande in die droër streke van die Unie, waar die gebrek aan vogtigheid bevorderlik is vir sterk, gesonde groei, en verdringing deur onkruid verminder. Die hoë temperature en vogtigheid wat in sommige dele met 'n hoë reënval ondervind word, is geneig om die groeikrag, gehalte en langlewendheid van die gewas ernstig te benadeel. Bowendien is die armer en vlakker grondsoorte wat dikwels in hierdie dele aangetref word, en die onegalige verspreiding van die reënval, nie bevorderlik vir die verkryging van optimum oeste van die gewas nie.

Lusern lewer die beste resultate in die diep, eenvormige, goed-gedreineerde en vrugbare kalkbevattende grondsoorte wat meer algemeen in die droër dele van die land aangetref word. Die gewas kan egter ook aangetref word op minder gunstige gronde waarvan die tekortkomings in 'n sekere mate deur bemisting, toediening van kalk, ens., verhelp kan word, maar wat groeikrag en langlewendheid betref, vergelyk die gewas op sulke grondsoorte ongunstig met die wat verbou word op beter grond wat meer geskik is vir sy diep wortelstelsel. Lusern hou nogal van brakkerige grond en as dit eers goed gevestig is, kan dit taamlik baie brak verdra. Jong lusern is egter minder bestand teen brak wat 'n nadelige uitwerking op die ontkieming van lusernsaad het.

 

Soorte

Van die beperkte aantal soorte, wat in Suid-Afrika verbou word, is "Provence" die mees algemene soort. "Hunter River " word meer en meer gewild terwyl slegs kleiner oppervlaktes onder die soorte " Chinese ", " Hairy Peruvian ", "Arabian ", ens., gesit word. Die wjnter-geharde Medicago falcate-soorte is in ons land van min of geen waarde nie, en hul opbringste is bepaald laer as die van die soorte wat tans algemeen verbou word.

Proewe uitgevoer by die Landbouskool, Grootfontein, het die volgende resultate oor die afgelope 1 jaar gelewer:-

 

Tabel: Opbrings per Morg per Seisoen.

Soort

Groen lusern

lb

Hooi

lb

Volgorde

Hunter’s River

Chilean

Provence

Chinese

Hairy Peruvian

181,088

169,344

155,280

150,992

151,952

42,960

40,096

38,288

37,248

36,832

1

2

3

4

5

 

Hoewel die opbrings van Provence iets laer is as die van Hunter's River, sal dit heel waarskynlik gewild bly, omdat boere van mening is dat dit beter bestand is teen strawwe beweiding, en sy hooi van 'n beter kwaliteit is as die wat van Hunter's River gemaak word. Laasgenoemde opvatting word gestaaf deur proewe wat op Grootfontein uitgevoer is. Chinese besit feitlik geen eienskappe wat dit aanbevelingswaardig maak nie, aangesien sy opbrings laer is as die van die soorte hierbo genoem, en wat groeisnelheid betref, is dit niks beter as Hunter's River nie. Laasgenoemde soort groei vinniger as Provence en ook vroeër in die !lente en later in die herfs. Onder strawwe wintertoestande is al hierdie soorte rustend.

 

Verbouingsmetodes

Lusern is 'n langlewende oorjarige plant en kan alleen by 'n wisselboustelsel van 'n lang kringloop ingepas word. Wat egter deur die kweker in ag geneem moet word, is watter soort gewas die lusern in so 'n geval sal voorafgaan of volg. Afgesien van die ander voordele van 'n wisselboustelsel sal die boer deur gewasse sorgvuldig te kies en behoorlik te bewerk, in staat gestel word om sy lusernlande so voordelig moontlik voor te berei en te verseker dat dit behoorlik aangelê is vir besproeiing - as besproei word - en vry is van verdringende onkruid. Dis wenslik om minstens 'n jaar aan die verbouing van 'n voorbereidende gewas en die voorbereiding van 'n land vir lusern te bestee.

Onder reënvaltoestande kan 'n gewas soos byvoorbeeld mielies of aartappels of enige ander geskikte gewas vir die besondere plek, gekweek en die onkruid op die manier uitgeroei word. Waar besproeiing egter beoefen word, kan oulande toegelaat word om braak te lê, of waar die land uit nuwe grond bestaan, kan een van die wintergraangewasse gebruik word om die inrigting van die beddings en hul geskiktheid vir besproeiing te bestudeer, asook om onkruid te onderdruk.

 

Inenting

Dwarsdeur die vernaamste lusernstreke van ons land is die knopvormende organismes op lusernwortels gewoonlik aanwesig, en dis gewoonlik nie nodig om die grond of die saad in te ent alvorens gesaai word nie. In die geval van landerye waarvan die grond suur is of nie genoeg kalk bevat nie, is dit raadsaam om in te ent alvorens gesaai word, aangesien die bepaalde organisme gewoonlik nie in sulke gronde aanwesig is nie. Onder sulke toestande sal lusern wat nie ingeënt is nie, swak groei. Inenting geskied deur die saad net voor dit gesaai word met bepaalde entkulture te behandel, of deur 'n paar honderd pond grond, verkry van landerye waarop lusern goed beantwoord, breedwerpig op die lande te saai en in te eg.

 

Kunsmis

Die vrugbaarheid van die grond het 'n belangrike uitwerking op die opbringsvermoë en langlewendheid van die luserngewas. Gevolglik is dit some raadsaam om oordeelkundig kunsmis toe te dien net voordat die gewas ingesit word, of met tussenpose nadat dit gevestig is. Dis onmoontlik om bepaalde aanbevelings ten opsigte van alle toestande te maak, maar toedienings van fosfaatkunsmis, met of sonder die toediening van kraalmis het dikwels 'n goeie uitwerking. Dus, waar daar kans is om die vrugbaarheid van die grond te verbeter, kan 600 tot 1,000 lb. fosfaatkunsmis per morg toegedien word voordat die land onder lusern gesit word, en die voorbereidende gewas kan met voordeel 'n bobemisting van 10 tot 20 ton goed-verrotte kraalmis kry ten einde die onkruid, wat as gevolg van die bobemisting mag opkom, uit te roei. Dit mag ook raadsaam wees om later elke derde of vierde jaar superfosfaat teen 600 lb. per morg toe te dien en om sulke toedienings met toedienings van beskikbare goed-verrotte kraalmis aan te vul.

Die bemisting van gevestigde lusern kan bes gedurende die wintermaande, of rustydperk geskied, wanneer die gewas sonder moeite bewerk en die kunsmis maklik in die grond ingewerk kan word, anders kan die bemisting gedurende die, groeiseisoen, onmiddellik nadat die lusern afgesny is, plaasvind.

 

Voorbereiding van Landerye vir Lusern

Wanneer die lusernlande vir besproeiing ingerig word, sal dit die beste wees om die beddingstelsel te volg. Dit vereis dat beddings van verskillende wydtes en lengtes met 'n taamlik egalige helling gemaak moet word, sodat die water, wanneer dit aan die bokant ingekeer word, egalig oor die hele oppervlakte versprei kan word. Ook is dit nodig dat die grond voorlopig in minder of meerder mate gelykgemaak moet word. Om die beste ligging vir die bedding vas te stel, moet waterpas-opmetings gemaak, walle opgegooi en die beddings finaal gelykgemaak word.

Daar is verskeie faktore wat in aanmerking geneem moot word by die bepaling van die grootte, fatsoen en helling van die beddings wat gemaak moet word, byvoorbeeld die grootte van die besproeiingstroom wat onder normale toestande gebruik sal word, die hoeveelheid water wat per snysel toegedien sal word en die geaardheid en geskiktheid van die grond vir gelykmaking. Gevolglik behoort boere, wanneer hulle besluit hoe groot die lusernbeddings moet wees, faktore soos byvoorbeeld, tekstuur, die wateropneem- en waterhou-vermoë, asook die diepte van hul betrokke grondsoorte in aanmerking te neem. Aanbevelings wat vir alle toestande geskik sal wees, kan nie gemaak word nie, maar in die algemeen kan gesê word dat waar die grond en water dit toelaat en waar 'n goeie stroom van sowat 2 kuseks beskikbaar is, beddings van ongeveer 30 voet wyd beter sal beantwoord as smal beddings. Dit sal ongeveer 2 uur neem om 'n bedding van 200 tree lank, nat te lei, en dit behoort onder die meeste toestande bevredigend te wees. Die beddings kan heelwat langer wees waar 'n groter stroom beskikbaar is, soos byvoorbeeld in die geval van vloedwater, maar waar die beddings so lank is, word die water gewoonlik vermors omdat hulle 'n oormatige toediening van water vereis. Die helling van die land behoort ooreenkomstig die wateropneem-vermoë van die grond te wees, en vir meeste gronde wat water taamlik redelik opneem, behoort 'n helling van 1 in 200 bevredigend te wees, terwyl in die geval van swaar gronde wat water stadig opneem, die val minder behoort te wees. Onder sulke toestande kan selfs gelyke beddings op nuwe grond gebruik word, terwyl deur 'n voorbereidende jaargewas te verbou enige foute in die aanlê van besproeiingsbeddings waargeneem en reggemaak kan word.

Oor die algemeen sal baie meer arbeid nodig wees om nuwe grond vir lusern voor te berei as in die geval van oulande. Die eerste vereiste is om die grond te ploeg en dit met 'n skotteleg te bewerk ten einde alle plantegroei te verwyder en die land in so 'n toestand te bring dat dit rofweg met een van die verskillende tipes gelykmaak-toestelle tans op die mark, gelykgemaak kan word. Nadat waterpas-opmetings geneem en die ligging, helling en grootte van die beddings vasgestel is, kan die beddingwalle met 'n enkelvoorploeg of 'n walgooier opgegooi word. Daarna moet die grond weer gelykgemaak word, sowel dwarsoor die beddings asook op en af oor hul lengte totdat hulle in die dwarste gelyk is en 'n egalige val ondertoe het. Met die besproeiing van die voorbereidende gewas behoort gelet te word op plekke wat nie goed gelykgemaak is nie, soos holtes en bultjies in die beddings, en die moet reggemaak word sodra die gewas afgeoes is, en wanneer die beddings finaal vir die lusern oorgegaan word. Die voorbereiding en finale aanlê van die beddings behoort sonder versuim gedoen te word om haastige werk te verhoed asook om die grond vir 'n maand of twee kans te gee om vas te sak nadat die oorblyfsel van die voorlopige gewas ingeploeg is. Waar moontlik moet dwarsoor die beddings geploeg word ten einde die waterpas opmetings wat tevore geneem is, soveel moontlik te behou. Op hierdie stadium moet die gelykmaak-toestelle gebruik word met dieselfde doel as in die vorige geval, en ook om die walle behoorlik op te hoop en sterk genoeg te maak om solank as die gewas staan, diens te doen. Dis wenslik dat die walle onder 3 voet wyd en 1½ voet hoog moet wees. Die beddings kan met 'n skottelploeg of 'n gewone eg skoon van onkruid gehou word totdat dit tyd is om te saai.

Waar water volop is, kan die land een- of tweemaal natgelei word alvorens die saad gesaai word. Dit sal baie help om die beddings die finale afronding te gee, aangesien die grond tydens besproeiing met 'n graaf gelykgemaak kan word.

 

Saad

Baie tyd en moeite bestee aan die voorbereiding van 'n goeie bedding kan vermors word deur slegte saad te gebruik en daarom behoort alleen gesonde en lewensvatbare saad wat vry van onkruid is, gebruik te word. Dit word sterk aanbeveel dat alle en saad wat as vry van dodder gewaarborg is, aangekoop word, ten einde te verhoed dat hierdie lastige parasiet die lusernlande besmet.

 

Saai

Die saaityd is om verskillende redes belangrik, en oor die algemeen word die herfs as die beste saaityd geag, d.w.s. gedurende Maart, April en vroeg in Mei. Daar is baie dele in ons land waar nuttige gebruik gemaak kan word van die reën wat gedurende hierdie tyd van die jaar val, om sodoende besproeiingswater te bespaar terwyl die toestande vir ontkieming van die saad ook gunstig en onkruid minder lastig is en die wortelstelsel van die lusern plant goed ontwikkel, met die gevolg dat die gewas vinniger en beter in die lente kan groei.

Jong lusern wat in die herfs gesaai is, word soms erg deur insekte beskadig, en weens ander ongunstige toestande mag dit raadsaam wees om in die lente te saai, naamlik, in Augustus of September. Ten einde beskadiging aan die jong plante deur sterk winde gedurende die lente te voorkom, word soms 'n winter-graangewas soos vroeë koring of hawer as 'n beskermingsgewas gesaai, maar om mededinging met die lusern tot 'n minimum te beperk, behoort so 'n gewas dun, sê teen 30 of 40 lb. per morg, saam met die gewone hoeveelheid lusernsaad gesaai te word. Verder, om te verhoed dat die lusern te min son kry, en te veel vog uit die grond geput word, is dit raadsaam om die beskermingsgewas nie te laat ryp word nie. Waar besproeiings beoefen word, behoort die land deeglik natgelei te word voordat die saad gesaai word. Dis wensliker om 'n besproeiing van ongeveer 5 of 6 duim toe te dien voordat gesaai word, ten einde die moontlike vorming van 'n kors te voorkom wat baie nadelig vir die saadplantjies is, as om te besproei nadat gesaai is. Onder normale toestande sal 'n tweede besproeiing nie nodig wees voor vroeg in die lente nie.

Na die voorlopige besproeiing, en wanneer die grond droog genoeg is om bewerk te word, kan kunsmis breedwerpig gesaai en met 'n gewone " zigzag " eg in die grond ingewerk word. Dit sal terselfdertyd die bogrond losmaak vir die saad.

Die plantmetode word gewoonlik bepaal deur die implemente wat op die plaas beskikbaar is, dog watter metode ook al gevolg mag word, behoort die saad nie meer as 'n ½ tot 1 duim diep in deeglik-voorbereide grond bedek te word nie. In die geval egter van ligte gronde kan die saad tot 2 duim diep bedek word. Nadat die grond losgemaak is, moet die saad breedwerpig egalig gesaai en met 'n ketting-eg, 'n omgekeerde ystertand-eg of 'n boomtak toegesleep word. Daarna, in die geval van meeste grondsoorte, maar veral die ligter soorte, word die land gewoonlik gerol. 'n Metode wat soms met sukses toegepas word, is om die saad om die helfte te saai, d. w .s. die grond word eers met 'n dieptand-skoffelploeg losgemaak en helfte van die saad gesaai en met 'n ystertand-eg toegesleep, dan word die ander helfte van die saad onmiddellik daarna in die teenoorgestelde rigting gesaai en met 'n ketting-eg toegesleep, en daarna word die land gerol. Om 'n onbevredigende stand te voorkom, moet die saad taamlik dik gesaai word, 40 tot 50 lb. per morg as met die hand gesaai word en 30 tot 40 lb. as 'n saaimasjien gebruik word. Onder gunstige toestande, en as die saad goed is, sal 20 tot 25 lb. per morg voldoende wees.

In Suid-Afrika word meestal nog met die hand gesaai, maar egalige verspreiding en besparing op saad kan verkry word deur saaimasjiene te gebruik. " Cahoon "-saaimasjien, 'n Kruiwa-saaier of selfs die gewone planter kan gebruik word, maar laasgenoemde is egter nie baie populêr in Suid-Afrika nie omdat, soos beweer word, die water verspoeling tussen die rye veroorsaak.

 

Droëlandlusern

In sommige gevalle kan lusern met sukses in die droër dele verbou word weens die feit dat die plante hul vog uit een of ander onderaardse bron kry, byvoorbeeld 'n onderaardse watertafel op 'n diepte van 10 tot 15 voet. Lusern kan ook met 'n taamlike mate van sukses verbou word in dele waar die gewas alle en van die reënval afhanklik is. Faktore soos grondvrugbaarheid, gronddiepte en -suurheid, ongereelde reënval en groeikragtige onkruid neig om die opbringste te verlaag en die lewe van die gewas te verkort, maar die waarde van die gewas kan sy verbouing regverdig hoewel dit slegs vir 3 of 4 jaar mag staan.

Spesiale aandag behoort ook gegee te word aan die verbetering, waar moontlik, van tekortkominge in die grond en veral ook aan die uitroeiing van onkruid. Onder sulke toestande, word die lusern gewoonlik in rye gesaai met 'n eenryplanter, byvoorbeeld 'n " Planet-Junior" of 'n graanplanter waarvan party gate toegemaak is ten einde die saad in rye, 24 tot 36 duim van mekaar te kan plant, sodat tussen die rye geskoffel en die onkruid op die manier bestry kan word.

Hoe goed en sorgvuldig die lusernbeddings ook al voorberei mag word, loop die jong gewas tog gevaar om deur onkruid verdring te word. Om die onkruid te bestry, sal dit baie help om die plante met 'n snymasjien, wat hoog gestel is, af te sny voordat bulle saadskiet. Die afgesnyde toppe hoef nie verwyder te word nie, tensy dit so dik lê dat dit die jong lusern sal versmoor. Dit word egter nie aanbeveel om jong lusern te bewerk of om die gewas te laat bewei voordat dit minstens 1½ tot 2 jaar oud is nie.

Die volgroeide gewas word gewoonlik bewerk, maar daar is verskil van mening oor die doeltreffendheid daarvan vir die uitroeiing van onkruid. Sekere onkruid- en grassoorte is feitlik volkome bestand teen bewerking, maar indirek word die groei van die lusern, uit kragte van die feit dat bewerking gevolg word deur 'n beter indringing van water en lug waar die grond weens besproeiing toegeslaan is of vasgetrap is, tot so 'n mate bevorder dat dit beter met die onkruid kan wedywer. Die bewerking van lusernlande kan bes in die winter geskied, maar dit kan ook gedurende die groeiseisoen onmiddellik nadat die gewas afgesny is, onderneem word. Vir hierdie doel is 'n swaartand-skoffelploeg die beste, hoewel 'n "Robert King ", 'n veertand-eg of selfs 'n skottel-eg onder sekere toestande met sukses gebruik kan word.

Dodder is 'n onkruid wat spesiale aandag vereis en in geen geval behoort dit toegelaat te word om saad te skiet nie. Dis 'n parasiet wat verbasend vinnig groei en sy gelerige, blaarlose en rankagtige stam is in die middel van die somer, wanneer dit bloei en saadskiet, besonder opvallend. Besmette kolle moet by voorkeur met 'n turksvy-blaaslamp gebrand word, of anders moet enige afval op sulke kolle verbrand word nadat die lusern afgesny en op die plekke gelaat is om droog te word.

 

(In 'n later uitgawe van hierdie blad sal die oes en gebruik van lusern bespreek word.)

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 12