Last update: March 30, 2012 08:28:09 AM E-mail Print

 

Merino's vaar uitstekend op lusernweidings

AG Bezuidenhout 

 

Die optimale benutting van die beskikbare grond en besproeiingswater in die Visriviervallei, saam met die verbouing van kontantgewasse kan 'n aansienlike bydrae lewer tot verhoogde wol- en vleisproduksie in Suid-Afrika. So het mnr André Bezuidenhout, Verantwoordelike Beampte van die Cradockproefperseel in Oktober tydens 'n boeredag op die proefperseel gesê.

Volgens hom, word lusern in die Visriviervallei tans op ongeveer 69% van die bewerkbare oppervlakte (20 325 ha) verbou. Alhoewel die lusern wat in hierdie gebied verbou word hoofsaaklik in die vorm van hooi benut word, word alreeds ongeveer 39% daarvan as weiding vir intensiewe veeproduksie aangewend.

 

Winterweiding

Weens die seisoenale groeipatroon van lusern kan dit slegs gedurende die somermaande gesny of bewei word. Indien lusern hoofsaaklik as weiding benut word, moet 'n alternatiewe metode van oorwintering van skare dus gevind word. Kleingraan kan gevestig word vir winterweiding, of lusernhooi kan in voerkrale aan die skape gevoer word. Hierteenoor kan lusern ook gehooi word en dwarsdeur die jaar in voerkrale aan skare gegee word.

Volgens mnr Bezuidenhout moet die benutting van lusern onder besproeiing vir intensiewe produksie van wolskape daarop gemik wees om die optimale opbrengs van beide wol en vleis te bevorder.

Hy is tans besig met proewe met Merinoskape op lusern en kleingraanweidings en het tydens die boeredag sy nuutste resultate aan sowat 170 belangstellende boere bekendgestel.

Hoër gemiddelde seisoenale drakragpeile is op 'n 15 tot 20 cm groeihoogte van lusernweiding in vergelyking met die 10% blomstadium verkry.

Ander voordele wat met beweiding op die jonger groeistadium te voorskyn getree het, was 'n hoër voedingswaarde, minder selektiewe beweiding deur die skape, laer interne parasietbesmettings, hoër gemiddelde liggaamsmassas en 'n hoër wolproduksie.

 

Bestuur

Hy het egter daarop gewys dat die bestuur van skape en weidings 'n baie belangrike rol in die sukses en winsgewendheid van so 'n intensiewe skaapproduksiestelsel speel.

Met beweiding op die 15 tot 20 cm groeihoogte, moet die lusern minstens een keer gedurende die groeiseisoen toegelaat word om uit te groei tot in die blomstadium om degenerasie van die lusernstand te verhoed.

Ander aspekte waarop gelet moet word is klein weidingskampe wat nie langer as 7 dae op 'n keer bewei word nie, korrekte besproeiing en bemesting, 'n geskikte wisselboustelsel en noukeurige inentings- en doseringsprogramme.

Ten einde die winterrusperiode van lusernweiding te oorbrug, was of van wintergraanweidings of van lusernhooi in voerkrale gebruik gemaak. In die eerste instansie was Scheepers 69 koring bewei en met 4-weke hergroeiperiodes kon dit 5 keer bewei word.

 

Energie

Tydens laat dragtigheid en laktasie was die Merino-ooie se energie-inname onvoldoende en word 'n energielek tydens die periodes aanbeveel.

Wat die alternatief betref, naamlik die benutting van lusernhooi in voerkrale, moet dit liefs in gemaalde vorm in selfvoerders aan skare aangebied word. Dit het ook die voordeel dat kragvoere terselfdertyd daarby ingemeng kan word.

Aangesien gedurende laat dragtigheid ooie se voerinname as gevolg van 'n afname aan beskikbare rumenvolume daal, word 'n byvoeging van 20% mieliemeel tot die rantsoen gedurende hierdie periode asook tydens laktasie aanbeveel.

Beskikbare gegewens tot dusver toon dat beide lam- en speenpersentasies uitgedruk teenoor die aantal ooie beskikbaar vir paring die hoogste was onder voerkraaltoestande, terwyl daar min verskil was tussen die twee lusernbeweidingsgroepe.

 

Lampersentasie

Met een lamseisoen per jaar, was die gemiddelde lampersentasie in die voerkraal 146%, terwyl dit 127% en 1.21% was met beweiding van lusern op die 10% blomstadium en 15 tot 20 cm groeihoogte onderskeidelik. Lampersentasie is die aantal lammers lewend gebore as 'n persentasie van die aantal ooie beskikbaar. Op 100 dae ouderdom was die speenpersentasie 123% in die voerkraal, teenoor 92% en 96% met beweiding op die 10% blomstadium en 15 tot 20 cm groeihoogte onderskeidelik.

Wat massatoenames betref was dit in die voorspeenperiode en gevolglik ook op speenouderdom hoër op lusernweidings as in die voerkraal. Na speen was die massatoenames egter weer die hoogste in die voerkraallammers met die gevolg dat die eindmassas, dit wil sê op bemarkingsouderdom, nie betekenisvol verskil het nie.

Mnr Bezuidenhout skryf die lae naspeense massatoenames op lusernweidings toe aan onvoldoende energie-inname en beveel dus energie-aanvulling van 250 - 300 gram mielies per lam per dag aan om vinnige afsondering van lammers op lusernweidings te verkry.

 

Wolproduksie

Ander belangrike gegewens wat verkry was, was dat die Merino-ooie op die 15 tot 20 cm groeihoogte lusernweiding gedurende die droë periode, dit wil sê nie-dragtige stadium, die hoogste wolproduksie gelewer het, terwyl die ooie in die voerkrale aan die einde van dragtigheid en laktasie die hoogste skoonvagmassa geproduseer het.

Aan die einde van laktasie was die gemiddelde ruvagmassa van die ooie (verwerk na 12 maande wolgroei) in die voerkraa19,23 ± 1,17 kg per ooi, terwyl dit op die lusernweidings 8,96 ± 1,96 kg per ooi (10% blomstadium) tot 9,51 ± 1,51 kg per ooi (15 tot 20 cm groeihoogte) was. Hierdie syfers verskil egter nie betekenisvol nie. Die voerkraalgroep se skoonopbrengs was egter hoër as op die weidings (74 versus 70%) en gevolglik het die ooie in die voerkraal die hoogste skoonvagmassa gehad (6,92 ± 0,93 kg per ooi).

In vergelyking met die gemiddelde 12 maande fynwolproduksie onder veldtoestande in die Karoostreek van 5,7 kg per skaap gedurende 1980/81, was dit onder intensiewe toestande na 'n lamseisoen dus 57,19% tot 66,84% hoër as op veldweiding, sê mnr Bezuidenhout.

 

Published

Karoo Streeknuusbrief Somer 1983