Last update: September 2, 2011 11:54:23 AM E-mail Print

 

DIE VESTIGING VAN MEDICS IN DIE WINTERREëN GEBIED VAN CALVINIA

N Nortjé

Voorligtingskantoor: Substreek Noordwes-Karoo

Calvinia

 

INLEIDING

Die suidelike en westelike gedeelte van die Voorligtingswyk Calvinia word beslaan deur die Roggeveld- en Bokveldgebiede met 'n winterreënval van 350 tot 500 mm. Die oppervlakte is ongeveer 161 000 hektaar waarvan ± 25 500 hektaar droëlande is. Die veldtipe is bergrenosterbosveld met 'n weidingskapasiteit van 39 hektaar per Grootvee-eenheid (ha/GVE).

Hierdie klimaat maak die gebied geskik vir die verbouing van wintergraan en reeds vanaf so vroeg as 1745 is 'n koring/braak-stelsel gevolg, behalwe vir 'n kort periode in die middel 1950's en vroeë 1960's toe lupiene (Lupinus) suksesvol in die wisselboustelsel geïntegreer was. As gevolg van die vatbaarheid van lupiene vir witroes (Oidium spp) het dit verdwyn en het koring braak maar weer die aanvaarde stelsel geword. Die gevolg van hierdie praktyk was 'n merkbare agteruitgang van die grondstruktuur en grondvrugbaarheid.

Om hierdie grondverarming te stuit en weer grondstruktuur en grondvrugbaarheid te herwin is daar begin met die inskakeling van die sogenaamde Australiese "Ley Farming System" in 'n wisselboustelsel met kleingrane (McGregor, 1988). Hierdie genoemde stelsel maak gebruik van eenjarige weidingspeulgewasse, naamlik Medicago spesies en eenjarige ondergrondse klawers (Trifolium subterraneum).

Hierdie eenjarige peulplante verryk die grond aan stikstof, verskaf winterweiding van hoë gehalte en in die lente word massas voedsame saadkrulle gevorm wat diere gedurende die droë somermaande onderhou.

 

EENJARIGE MEDICAGO SPESIES

Soos hulle botaniese naam aandui, behoort hulle tot dieselfde geslag as lusern en hulle kan dan ook as eenjarige lusern beskou word (Wasserman, 1980). By gebrek aan 'n kort Afrikaanse naam word die Engelse benaming medics meestal gebruik.

Die groeiwyse van medics wissel van halfregop tot plat en almal dra trossies geel blommetjies. Die blare lyk soos die van klawers maar die middelste blaartjie van medics het 'n duidelike steeltjie.

Medics het almal spiraalvormige opgerolde peultjies waarvan die oppervlak gewoonlik met stekels bedek is. Die saad is minstens twee keer so groot as die van lusern en is geneig om hardskalig te wees. Dit is 'n belangrike eienskap met die oog op die oorlewing van hierdie gewasse onder toestande van droogtes en buiteseisoense reëns.

Soos lusern, vaar die eenjarige Medicago spesies die beste op goed gedreineerde neutrale tot alkaliese gronde. Hulle is droogteweerstandbiedend en bind aansienlike hoeveelhede stikstof. Dit skakel dus goed in as wisselbougewas by 'n kontantgewas soos koring, hawer of gars.

Volgens drakragstudies met skape in Suid-Afrika en Australië is dit duidelik dat die produksie van droëmateriaal - wat vir die somermaande beskikbaar is - deur die klimaat en die weidingsdigtheid beïnvloed word. Hoeveelhede wat varieer van 2,5 tot 5 ton per hektaar waarvan 1 tot 2 ton saadkrulle is, is al verkry (De Villiers, 1976).

Op sandgronde in die Bokveldgebied is 'n weiding bestaande uit 2 hektaar Harbinger (M. littoralis) in Mei 1980 gevestig (McGregor, 1988). Op 1980-11-26 is die 2 hektaar bewei met 8 sestand Merinohamels. Die skape het aanhoudend op die weiding gebly tot 1981-10-09 toe hulle verwyder is vir skeer. Geen byvoeding is gegee nie, behalwe twee skaaplekblokke. Hierdie hamels bet gemiddeld 9,93 kg wol geproduseer vanaf 1980-10-15 tot 1981-10-09. In beide die Bokveld- en Roggeveldgebiede lyk dit of die drakrag op medic-weidings 3 KVE/ha is.

Die feit dat skape gedurende die droë somermaande die saadkrulle vreet (757 g saadkrulle/skaap/dag word ingeneem (Carter, 19860 het die aandag op die produksie van saadkrulle en die voedingswaarde daarvan in terme van voedingstofinhoud gevestig. Die chemiese samestelling van verskillende komponente van medics is deur De Villiers (1976) bepaal en die gemiddelde waardes word in Tabel 1 aangegee.

Tabel 1 toon dat medickrulle 'n baie goeie bron van proteïen is. Die proteïen inhoud van die heel krul word hoofsaaklik deur die saad voorsien. Die voedingswaarde van medics in die vegetatiewe groeistadium is basies soortgelyk aan lusern. Die verteerbaarheid van die proteïen en vetfraksies van medickrulle is besonder hoog (65,3% en 78,8% onderskeidelik). Die vet is 'n goed benutbare energiebron veral in die laatsomer (McGregor, 1988).

 

Beskikbare Medicago-kultivars

Die beskikbare kultivars, grond, pH en benaderde winterreënval-behoeftes, groeitempo en algemene opmerkings word in Tabel 2 aangedui.

 

Die mees populêre kultivars, en waarmee ook sukses behaal is in die winterreën Karoo, is Cyprus en Harbinger (vroeg) en Jemalong en Paraggio (laat) (McGregor, 1988).

ONDERGRONDSE KLAWER (Trifolium subterraneum) Hierdie peulgewas is 'n eenjarige platgroeiende rankplant wat sy ontwikkelende peultjies in die grondoppervlak druk - vandaar die naam ondergrondse klawer (Wasserman, 1980). Die saad is fond en meestal swart van kleur en groter as medic-saad en tot 1 ton saad per hektaar kan onder gunstige omstandighede gelewer word.

Hierdie klawer is 'n uitstekende weigewas wat baie swaar bewei kan word. Die droëmateriaal en saad wat na die groeiseisoen oorbly, lewer ook uitstekende weiding vir skape gedurende die droë somermaande. Kultivars met 'n groot verskil in groeiperiode is beskikbaar en ondergrondse klawer kan dus oor 'n wye gebied gesaai word. Die spesie is egter nie so droogtebestand soos medics nie en is dus hoofsaaklik tot die hoer reënvalgebiede in die winterreën Karoo beperk.

 

Beskikbare ondergrondse klawerkultivars

Die beskikbare kultivars, grond-, pH en benaderde reënval behoeftes, groeitempo en algemene opmerkings word in Tabel 3 aangedui.

Die belowendste kultivars vir die winterreën Karoo –op verskillende grondtekstuurtipes is Seaton Park, Daliak, Nungarin, Trikkala, Woogenellup en Mount Barker (McGregor, 1988}.

 

GRONDE VAN DIE WINTERREëNVAL-KAROO EN GESKIKTE MEDIC-EN ONDERGRONDSE KLAWER- KULTIVARS

Daar is drie duidelike onderskeibare grondtipes in die winterreënval-Karoo geskik vir peulgewasweidings.

 

Tafelberg sandsteengronde

Op die Tafelberg sandsteengebiede (Bokveld en Roggeveld) is die dominante grondvorms in 'n topo-opeenvolging (kruin tot vloedvlakte) (MacVicar, Loxton, Lambrechts, Le Roux, De Villiers, Verster, Merryweather, Van Rooyen en Harmse) gewoonlik Glencoe, Wasbank en Kroonstad met Avalon gewoonlik ook teenwoordig in effense depressiedele. Reënval varieer van 400 tot 700 mm en die bogrondse pH's (KCL) wissel tussen 4,5 tot 7,0. Bogrondse teksture is gewoonlik sand (<10% klei) (Ellis, 1982).

Op goed gedreineerde sandsteengronde het die medic-kultivar Harbinger goed gevaar. Verskeie ander peulplante is oor 'n aantal jare getoets waarvan assegaaiklawer (Trifolium vesiculosum), balansaklawer (Trifolium balansae) en Serradella (Ornithopus sativus) belowend vertoon. In die nat vleidele van die Bokveld (pH 4,6 KCL) lewer mengsels van ondergrondse klawers uitstekende resultate. Boyd's-klawer (Lotus hispidus) aard ook uitstekend in die nat vleie.

Laasgenoemde het 'n lang groeiseisoen, kan lae pH's verdra en produseer baie saad, waarvan 'n goeie persentasie hardskalig is. Boyd's-klawer kombineer goed met ondergrondse klawer en Midmar roggras (McGregor, 1988).

 

Swartlandtipe sandleem

Die volgende grondvorms kom dominant in 'n topoopeenvolging in die oorwegende Dwyka tilliet (Bokveld) en Ecca skalies (Hantam) areas voor, naamlik Glenrosa, Swartland, Sterkspruit en Estcourt. Bogrondse pH's (KCL) wissel gewoonlik tussen 5,0 en 6,5, reënval tussen 300 en 400 mm en bogrondteksture gewoonlik sand tot sandleem (<15% klei) (Ellis, 1982).

Op hierdie gronde is baie goeie resultate behaal met 'n medic-mengsel wat bestaan het uit 5 kg Cyprus, 5 kg Jemalong en 5 kg Harbinger per hektaar. 'n Weidingskapasiteit van 3 tot 5 KVE/hektaar kan gehandhaaf word. Kultivar Paraggio is 'n nuwe kultivar lewer uitstekende resultate en kan as 'n plaasvervanger vir Jemalong gevestig word. Proewe met ondergrondse klawers was nie suksesvol nie weens 'n gebrek aan vag gedurende blom- en saadvorming.

 

Doleritiese rooigrond

Op die oorwegende dolerietplate kom dominant rooi. gronde voor wat as Hutton, Shortlands en Arcadia geklassifiseer word. Bogrond pH's (KCL) wissel gewoonlik tussen 6,0 en 8,0. Die reënval varieer van 250 tot 300 mm en bogrondteksture gewoonlik sandkleileem tot klei (> 25% klei) (Ellis, 1982).

Hierdie gronde is weens hulle alkaliese eienskappe by uitstek vir medics geskik. 'n Mengsel bestaande uit 8 kg Cyprus en 8 kg Jemalong of Paraggio lewer uitstaande weidings (McGregor, 1988).

 

VESTlGING VAN EENJARIGE PEULGEWASSE

Die aanplant van eenjarige peulgewasse (medics en ondergrondse klawers) in die winterreën Karoo is 'n praktyk wat al meer gewild word as gevolg van suksesse wat al behaal is. Daar is sekere beproefde praktyke, wat, as dit streng nagevolg word, sukses sal verseker.

 

Vooraf beplanning

Daar moet voor die tyd bes1uit word waar en hoeveel weidings gevestig gaan word (Langenhoven, 1981). Vir 'n eerste poging moet miskien nie 'n te groot oppervlak  gevestig word nie. Daar moet seker gemaak word van die regte kultivars vir die betrokke reënval en grondtekstuurtipe. Die saad en entstof moet vroegtydig bestel word.

 

Grondvoorbereiding

Grondmonsters moet vroegtydig (plus-minus ses maande voor saaityd) geneem word. Bemesting aanbevelings moet clan streng nagekom word. Daar moet gestreef word na fosfaatpeile tussen 25 en 35 dpm (sitroensuur). Hierdie peil kan deur kopbemesting oor 'n tydperk van jare bereik word. 'n Goeie saadbed verseker beter opkoms en kan verkry word deur die grond vlak en fyn te bewerk voor saaityd. Met die bewerking kan bemestings, soos kalk en superfosfaat reeds ingewerk word.

 

Saadbehandeling

Waar insekbeskadiging verwag word moet die saad vyf dae voor enting met Rogor behandel word. Behandeling verleen beskerming teen swart sandmyt tot 6 weke na opkoms.

Die dag voor of met saai moet die peulgewassaad met die regie bakteriese entstof behandel word. Dit is belangrik om die regie entstof te gebruik aangesien die bakteriese entstof baie spesifiek is en nie op aIle peulgewasse effektief stikstof bind nie. Die entingsproses bestaan daaruit dat die saad aangeklam word met 'n alkaliese gom en die entstof clan bygevoeg en goed gemeng word. (35 g Celacol + 2 liter vars water.) Gebruik 5 liter van die mengsel op 200 kg saad. Dit kan met die hand of met grawe op 'n gladde sementvloer gedoen word. 'n Betonmenger kan ook vir die doel gebruik word. Hierna moet die saad in 'n koel skaduweeplek gebêre word en verkieslik binne 24 uur gesaai word. Waar daar molibdeentekort op suurgronde is, kan saad behandel word met 120 gram Natrium molibdaat per saad benodig vir 1 ha.

 

Saaityd en saai

In die gebied word die beste resultate verkry as vanaf 1 tot einde Mei gesaai word. Die geënte saad kan met 'n spesiale fynsaad-saaimasjien, 'n gewone koringplanter deur saad met kalk of rotsfosfaat te meng (nie kunsmis nie), met 'n kunsmisstrooier en selfs met die hand gesaai word. Die saad moet egter baie vlak gesaai en dan met 'n ligte eg toegemaak word. Om doeltreffende inokulasie op suurgronde te verkry moet saad met 300 kg fyn landboukalk gebandplaas word.

Op sanderige gronde is die saaidiepte van groot belang aangesien die boonste ± 1 cm geneig is om baie vinnig uit te droog. In die geval van ondergrondse klawers is dit dus belangrik om die saad in die nat gedeelte dieper af te plaas (± 2 tot 2,5 cm). Dit verseker dat entstof beskerm word en dat ontkieming dadelik kan plaasvind.

Baie goeie resultate word met die metode verkry (McGregor, 1988). Medics is gevoelig vir diep saai en moet dus heelwat vlakker gesaai word of selfs bo-op die grond en lig inge-eg word.

Landrollers kan met baie goeie resultate veral op sanderige gronde gebruik word. Dit word nie aanbeveel dat peulgewasse saam met 'n wintergraan (pleeggewas) gevestig word nie.

 

Na opkoms-behandeling

Insekbeskadiging, en veral rooibeen-sandmyt, kan probleme skep in eenjarige peulgewasweidings. In probleemareas kan die saad met 'n insekdoder behandel word. Indien die saad nie behandel is nie, moet die weiding 5 tot 8 dae na saai met 40 ml Folimat per hektaar bespuit word. Dit verleen beskerming vir 3 weke. Daarna moet fyn dopgehou word en indien herbesmetting waargeneem word, moet weer met Folimat gespuit word. In die Roggeveld-Bokveldarea is oor die algemeen min insekbeskadiging ondervind.

In die winterreënval Karoo word daar in sekere dele probleme ondervind met die eenjarige steekgrasse (Hordeum murinum) en predikantluis (Bromus diandrus) veral in gevestigde klawerweidings. Doeltreffende beheer word deur bespuiting met die grasdoder propisamied (Kerb) verkry. Sekere breëblaar onkruide, soos byvoorbeeld dubbeltjie (Acanthospermum osteospermum), rooidoring (Emex australis), herdersbeursie (Capsella bursa pastoris), kan baie goed beheer word met 2,4 - DB (Embutox). Die spuitweitegniek word gebruik (McGregor, 1988).

 

VELDBRANDPROEWE EN DIE VESTIGING VAN MEDICS OP NA TUURUKE WEIVELD

Die doel van veldbrandproewe is om die weiding en veral die kwaliteit van die weiding te probeer verbeter deur die bestryding van indringerplante soos renosterbos (E. rhinocerotis), harpuisbos (E. laterifloris) en witbitou (D. cuneata) en deur die insaai en vestiging van medics en grasse en ook die hervestiging van natuurlike grasse soos Ehrharta calycina (bergsoetgras).

Gedurende die laaste week van April 1984 is by vier medewerkers twee een-hektaarpersele afgebrand en op 2 Mei 1984 is by elke medewerker op een hektaar die volgende medic-mengsel gesaai nadat 200 kg superfosfaat toegedien is, naamlik 8,3 kg Cyprus, 8,3 kg Jemalong en 8,3 kg Harbinger. Op dieselfde perseel in dwarsstroke is ook die volgende grasse gesaai: 2 kg Midmar, 3,3 kg Westerwolds Energa, 2 kg Wimmera en 454 gram Bromus japonicus. Medic saad is in alle gevalle geënt en verpil met. kalk. Die saad is na saai met skape en in een geval met beeste ingetrap. Die ander hektaar is gelaat as kontrole vir die vestiging van natuurlike weiding.

Sowat 14 dae nadat die persele gesaai was, het al die medewerkers 'n reën neerslag van 75 tot 125 mm reën gehad. Ontkieming was goed en die stand bevredigend. Ryp beskadiging het aan die begin van Oktober 1984 voorgekom maar met 'n opvolgreën het medics weer baie goed herstel en 'n goeie saadproduksie gelewer.

Die grasse het oor die algemeen swak ontkiem, behalwe Bromus japonicus wat goed ontkiem en goed saad gevorm het. Die ander grasse het redelik gegroei maar die groeiseisoen was blykbaar te kort en daar was feitlik geen saadvorming nie.

Soos verwag, was die hervestiging van medics gedurende die tweede jaar (85/86) nie so goed soos met die vestiging nie. Dit word toegeskryf aan die hardskaligheid van die saad. Die stand oor die algemeen was egter bevredigend en saadvorming voldoende.

Aan begin November 1984 is by twee medewerkers, van die plase De Hoop en Blomfontein, in die distrik Calvinia, 4 tweetand-Merinohamels per hektaar op brandpersele geplaas.

Op De Hoop is hierdie drakrag vir elf maande gehandhaaf. Aan die begin was daar 'n gewigstoename van 3,8 persent waarna daar 'n geleidelike afname was. Die skape is begin Oktober 1985 van weiding weggeneem om dit 'n geleentheid vir saadvorming te gee. Die diere was toe skraal maar nog in 'n sterk kondisie. Aan die wolgroei kon geen tekens van 'n gebrek aan voeding waargeneem word nie. Omdat diere in kondisie afgeneem het is bes1uit om net 3 hamels op die perseel terug te plaas.

Op Blomfontein is ook op 1 Oktober 1984 4 Merinohamels op die hektaar brandperseel geplaas. Gedurende die twee maande Junie en Julie 1985 was die medewerker egter verplig om die vee te verwyder omdat dit te fiat was. Daarna is die vee teruggeplaas tot die begin November toe hulle verwyder is om te skeer en die medics die geleentheid te gee vir saadvorming. Die wol is nie geweeg nie maar volgens die medewerker het die wol heelwat beter vertoon as die van die res van sy kudde. Die medics vertoon op 13 November 1985 goed, het heelwat peule gevorm en is ook slegs 3 Merinohamels op 18 November 1985 op die perseel teruggeplaas. In albei gevalle het diere goeie kondisie gehou tot November 1986.

 

BEWEIDING

Soos blyk uit Tabel 4 kan die metode van beweiding die peul- en saadproduksie beïnvloed.

 

TABEL 4 Die invloed van beweidingsmetode op die peulproduksie van 'n medic-weiding (Van Heerden, 1981)

Beweidingsmetode Peulmassa (M ton/ha)
Aanhoudend 1.0
Afwisselend 0.4

 

Soos blyk uit Tabel 4 is dit duidelik dat aanhoudende beweiding 'n meer voordelige invloed op die peulproduksie het as afwisselende beweiding.

Medics en ondergrondse klawers kan benut word net sodra die skaap nie meer die plant kan uittrek nie (5.tot 6-blaar stadium). Indien 'n goeie stand verkry en klimaat gunstig is behoort die weiding na 6 tot 8 weke beweibaar te wees. Die beste resultate word verkry deur die weiding aanhoudend te bewei met genoeg vee om die weiding ongeveer 5 cm hoog te hou (McGregor, 1988). In die jaar van vestiging kan die vee vir 'n periode van 3 tot 4 weke afgehaal word sodra die peulgewasse begin blom. Dit verseker goeie saadvorming. Daarna kan weer bewei word en indien genoeg peule gevorm is kan goeie weiding dwarsdeur die somer verkry word.

Skape wat op droë medic-weiding geplaas word neem 'n hele ruk om aan te pas. In werklikheid is hul geneig om vir minstens 'n maand kondisie te verloor. Die probleem van aanpassing kan oorbrug word deur die diere op die weiding te plaas terwyl dit nog groen is sodat die gewasse onder beweiding ryp word. Baie goeie resultate sonder aanpassingsprobleme word so verkry (McGregor, 1988).

 

WISSELBOU

Medic- en ondergrondse klawerweidings moet na 2 tot 4 jaar afgewissel word met 'n wintergraan vir maksimum produktiwiteit (Carter, 1986).

 

BEWERKING IN OESFASE

Dit moet vlak geskied om te verseker .dat die medic-saadjies nie te diep geplaas word vir heropkoms in die daaropvolgende jaar nie. Tandbewerking is ideaal vir hierdie stelsel (McGregor, 1988).

 

OPSOMMING

Die winterreën Karoo bet die potensiaal vir aangeplante peulgewasweidings. Tesame met 'n verhoging in grondvrugbaarheid, lewer weidings hoër veeproduksie, dit gee groter bestendigheid en stabiliteit aan die kleinveebedryf en stel boere in staat om seisoendroogtes en selfs strawwe periodieke droogtes te oorbrug. Boonop alles, integreer weidings uitstekend in wisselboustelsels met winterkleingrane.

 

LITERATUURVERWYSINGS

CARTER, E.D., 1986. The production and utilization of annual Medics and alternative legumes in the cereal farming districts,University of Adelaide, South Australia.

DE VILLIERS, T.T., 1976. Benutting van medics deur skape. Veekunde Seksie, Departement van Landbou, Interne verslag. Elsenburg.

ELLIS, F., 1982. Persoonlike mededeling.

LANGENHOVEN, J.D., 1981. Vestiging van eenjarige peulgewasse in die saaistreke van die Winterreënstreek. Winterreënnuusbrief, Spesiale uitgawe 2, Winterreënstreek, Stellenbosch.

MacGREGOR, N., 1988. Persoonlike mededeling.

MacVICAR, C.N., LOXTON, R.F., LAMBRECHTS, J.J.N., LE ROUX, J., DE VILLIERS, J.M., VERSTER, E., MERRYWEATHER, F.R., VAN ROOYEN, T.H., HARMSE, H.J. von M., 1977. Grondklassifikasie. 'n Binomiese sisteem vir Suid-Afrika, Navorsingsinstituut vir Grond en Besproeiing, Departement van Landbou-Tegniese Dienste. Wetenskaplike pamflet 390.

VAN HEERDEN, J.M., 1981. Die bestuur en benutting van medic- en ondergrondse klawerweidings. Winterreënnuusbrief, Spesiale uitgawe 2, Winterreënstreek, Stellenbosch.

WASSERMAN, V.D., 1980. Belangrike gematigde eenjarige weidingspeulgewasse. Peulgewasse E.4.1/1980, Boerdery in Suid-Afrika.

 

Published

Karoo Agric 4 (1) 3-6