Last update: April 3, 2012 03:13:13 PM E-mail Print

 

Meganiese bewerking van kaalkolle om biologiese herwinning te bewerkstellig

L Viljoen 

 

Kaalkolle kom wydverspreid in die Karoostreek voor, veral in die laer reënvalgebiede. Die oorsake vir die ontstaan van die kaalkolle is nie altyd dieselfde nie. Maar die voorkoms van kaalkolle, naamlik harde onbedekte grond met aktiewe plaat-erosie, swak waterindringingsvermoë en ‘n hoë waterafloop, is 'n algemene kenmerk.

Min blywende sukses, indien enige, is al voorheen behaal met die herwinning van kaalkolle. Met die ontwikkeling van verskillende soorte implemente en ondervinding opgedoen met kaalkolherwinning, is die probleem weer eens aangepak om 'n oplossing te vind.

Die proefgebied was as geheel onbedek en die vrugbare bogrond alreeds verlore as gevolg van wind- en water-erosie. Kleiner slootjies van min of meer 75 mm tot 250 mm was verspreid oor die gebied.

Een deel van die proef is op baie brakgrond met 'n pH van 8,1 uitgevoer waar braksoute selfs wit op die grond uitslaan, terwyl grond van die ander deel van die proef nie so brak was nie, met In pH van 7,3.

Grondontledings het getoon dat 5 300 kg landbougips en 327kg superfosfaat per hektaar toegedien moes word.

Verskeie implemente is getoets om kaalkolle te bewerk en sodoende vestiging van plantegroei te vergemaklik. Die implemente kan volgens diepte van bewerking in drie groepe ingedeel word:

  1. Implemente wat. van 75 tot 150 mm diep bewerk bet. Hieronder ressorteer verskillende ligte tipes tandimplemente waaronder die beitelploeë (chisel or ripper), asook implemente wat kommetjies maak (basin lister) en draaiploeë (rotary hoes). Die aantal tande van impIemente in hierdie groep het gewissel van drie tot vyf, tandbreedte van 50 tot 85 mm en implementbreedte van 1,05 tot 2,25 m.  

  2. Implemente wat 250 tot 350 mm diep bewerk het. Hieronder ressorteer die swaarder tipe beitelploeë. Die aantal tande van implemente in hierdie groep het gewissel van drie tot vyf, tandbreedte van 25 tot 40 mm en implementbreedte van 1, 8 tot 2,1 m.

  3. Implemente wat van 450 tot 600mm diep bewerk het. Hierdie groep sluit in die skeurploeg (subsoiler) en dolfploeg (deep tillage plough). Die skeurploeg het net een tand met ‘n breedte van 75mm gehad en die dolfploeg se skaar was ongeveer 300 mm breed.  

Die implemente wat vlak bewerk het, het oor die algemeen redelik intensief bewerk, naamlik algehele bewerking deur die draaiploeg en so te sê totale bewerking deur die ligter tandimplemente. Die dolfploeg het ook algeheel bewerk, terwyl die skeurploeg die minste intensief bewerk het van al die implemente. Die implemente wat algeheel tot baie intensief bewerk het, het dus ‘n beter saadbed vir vestiging van plantegroei nagelaat. Dit was veral die geval met die draaiploeg. Alhoewel met die dolfploeg algeheel bewerk is, het dit ‘n baie growwe saadbed tot gevolg gehad, terwyl die skeurploeg die swakste saadbed gelaat het.

Superfosfaat teen 159 kg per hektaar is in ‘n strook van 10 meter dwars oor die bewerkte gebied toegedien.

Plantsoorte soos Columbus-gras, oulandsgras (Eragrostis curvula), bloubuffelsgras (Cenchrus ciliaris), tef, lusern. Kruipsoutbos (Atriplex semibaccata) is afsonderlik en in ‘n mengsel in blokke gesaai op elke bewerkte strook van die verskillende implemente,om te sien watter plantsoorte die beste sal aard by die herwinning van kaalkolle.

Implemente wat baie vlak bewerk (75 tot 150 rom) soos die wat kommetjies maak, het reeds hul ongeskiktheid getoon kort nadat die saad ontkiem het en al die plantsoorte se saailinge gevrek het toe die eerste kort droogteperiode na ontkieming ingetree het, dit ten spyte van die reëns wat geval het gedurende die ontkieming. Die effek van bewerking het binne twee groeiseisoene verlore gegaan.

Die effek van implemente wat van 250 tot 350 mm diep bewerk het, het langer behoue gebly as eersgenoemde. Van die implemente wat diep bewerk het (450 tot 600 mm) het bewerking met die skeurploeg verlore gegaan, maar die effek van die dolfploeg het behoue gebly en toon goeie resultate, want die plantegroei het nog redelik goed gegroei ten spyte van droogte.

Dit blyk dus dat alleenlik implemente wat diep en intensief bewerk, goeie resultate kan lewer, selfs in relatiewe droë jare.

Diepbewerking is ‘n vereiste vir voldoende vogbewaring sodat plantegroei droogtes beter kan weerstaan. Die werktuig moet terselfdertyd ‘n geskikte saadbed voorsien, want die sukses van implemente word baie beïnvloed deur die saadbed wat gelaat word, selfs al begunstig so ‘n implement waterindringing. As gevolg van die effek wat plantegroei op waterindringing het, is dit dus duidelik dat implemente wat vestiging van plantegroei begunstig sodat plantegroei behoue bly, waterindringing nog meer begunstig. Plantegroei moet dus behoue bly sodat die effek van enige meganiese bewerking nie verlore mag gaan nie.

Op die kontrolepersele waar niks gesaai is nie, het pioniersgewasse soos onkruid en rolbos tot ‘n mate ingedring, maar geen vooruitgang in die opvolging kon plaasvind nie.

‘n Beskikbare saadbron van veral gewenste plantsoorte is natuurlik beperk en daarom is dit In noodsaaklikheid om saad van aangepaste plantsoorte te saai. Menige boer het al seker swak bedekte veld met ‘n skeurploeg of ploeg losgemaak met geen of langsame sukses. Aangesien vogindringing tog begunstig is, kan die swak resultate hoofsaaklik toegeskryf word aan gebrek aan saad. Columbus-gras blyk die beste gewas te wees vir kaalkolherwinning.

Oulandsgras het redelik goed gegroei. Bloubuffelsgras het swakker gevaar, terwyl lusern nie geskik blyk te wees nie. Tef het baie goed gegroei in die eerste seisoen, maar is nie meerjarig nie. Op brakgrond het kruipsoutbos uitstekend gegroei.

Die hoeveelheid saad wat gesaai moet word, kan rofweg beraam word op die helfte van die hoeveelheid wat gewoonlik vir aangeplante weidings aanbeveel word. Indien die saad hoeveelheid te hoog is, veral waar 'n mengsel van Columbus-gras, oulandsgras, tef en bloubuffelsgras gesaai word, sal die gewas wat die vinnigste ontkiem die ander oorskadu. Dit het ook gebeur dat tef die vestiging van oulandsgras en bloubuffelsgras vertraag het.

Vir die tandimplemente wat nie te diep of intensief bewerk nie, kan gesaai word voordat bewerking uitgevoer word. Implemente wat diep bewerk, sal natuurlik die saad te diep begrawe.

Op brakgrond het die grassoorte min sukses behaal wat gedeeltelik daaraan toegeskryf kan word dat, afgesien van die dolfploeg, die ander implemente baie vlak bewerk bet. Maar die hoofrede vir die swak resultate kan aan die brakgrond toegeskryf word. Gips moet dus op sulke brakgrond toegedien word. Alhoewel superfosfaat geen voordelige uitwerking getoon het nie, kan die hoeveelheid daarvan wat toegedien word, aansienlik verhoog word.

Gips kan moontlik ook bydra om oor die algemeen die effek van vlakwerkende implemente te verhoog.

Die koste verbonde aan die bewerking van een hektaar is soos volg:

Vir die dolfploeg beloop die koste min of meer R28, 00, vir die skeurploeg R3, 50 vir die swaarder tipe tandimplemente soos die beitelploeë vanaf R1,70 tot R3, 00 en vir die ligte tipe tandimplemente R1, 20 (1966).

 

Published

Karoo Streeknuusbrief Junie