Last update: August 15, 2011 12:38:42 PM E-mail Print

 

Winsgewendheid van melkboerdery

 

J Writes

 

 

“Die nuutste syfers oor melkboerdery dui daarop dat die vertakking wel winsgewend in die Visriviervallei bedryf kan word en dat daar waarskynlik in die toekoms 'n goeie mark vir suiwelprodukte sal wees” het mnr. Jaco Writes, landbou-ekonoom van die Direktoraat Landbou-ekonomie, tydens 'n inligtingsdag vir melkboere op die Cradock Proefstasie gesê.

Die belangrikste faktor wat by die besluit oor melkboerdery oorweeg moet word, is die toekomstige mark vir die produk. Dit dien geen doel om die kapitaaluitgawe aan te gaan om die vertakking te vestig of uit te brei indien daar nie inligting beskikbaar is oor die toekoms van die bedryf nie.

Volgens Agri Africa (Marketing potential for agricultural crops in region D; 1988) behoort die bevolking van ontwikkelingstreek D (Oos-Kaap) van 4,217 miljoen in 1985 tot 6,884 miljoen in 2010 te groei. Met hierdie bevolkingstoename behoort die vraag na landbouprodukte skerp te styg. Verstedeliking sal ook toeneem en veranderinge in verbruikerspatrone veroorsaak, soos 'n styging in die vraag na voedselsoorte wat makliker voorberei en vervoer kan word. Daar word verwag dat die plaaslike vraag na melk en suiwelprodukte teen 2000 sal verdubbel en teen 2010 sal verdriedubbel mits 'n 3 % ekonomiese groei gehandhaaf word.

 

Die huidige produksievlakke sal nie aan hierdie vraag kan voldoen nie. Melk en suiwelprodukte sal dus na die gebied ingevoer moet word indien produksie nie uitbrei nie. As gevolg van veral hoë vervoerkoste sal die streek self in die verhoogde vraag na melk moet voorsien, aangesien die Oos-Kaapstreek redelik afgesonderd is van ander melkproduksiegebiede. Grond wat dus vir die produksie van ander landbouprodukte gebruik word, sal vir melkbeesboerdery aangewend moet word. Dit geld veral grond naby dorpe en stede en grond in die kouer gebiede waar die klimaat meer geskik is vir die produksie van weidingsgewasse.

Die hoë kapitaalbehoefte en lopende koste van 'n melkvertakking sal tot gevolg hê dat risiko in die bedryf verminder moet word deur vanaf besproeide weidings te produseer. Besproeiingsgrond sal dus vanaf ander vertakkings na die melkvertakking geallokeer moet word indien die melkvertakking meer winsgewend is. Die logiese gebied vir uitbreiding is naby verwerkingsfasiliteite en markte.

Aangesien die Visriviervallei aan hierdie vereistes voldoen, kan dus aanvaar word dat daar 'n potensiële mark vir die produk in die gebied is.

Die huidige winsgewendheid van die bedryf is bepaal deur 'n begroting vir die vertakking op te stel. Inligting vir die begroting is verkry vanuit 'n opname deur Bezuidenhout (1993) en gesprekke met boere.

Die begroting word gebaseer op 'n kudde van 100 koeie waarvan 75 permanent in melk is met 'n stalgemiddeld van 18l/dag. Die koeie wei op 30 ha lusern.

Ander veevertakkings wat in die Visriviervallei op besproeide weidings aangehou word, is wolskaap met 'n bruto marge van R293/GVE en sybok met 'n bruto marge van R231/GVE. Die kontantgewas wat die algemeenste in die gebied verbou word, is lusernhooi met 'n jaarlikse geweegde gemiddelde bruto marge van R 1 737/ha. Die melkeryvertakking, met 'n begrote bruto marge van R944/GVE en R5 105/ha, presteer tans beter as albei hierdie vertakkings. 'n Verdere gevolgtrekking wat uit die volledige begroting duidelik geword het, is dat uitskotverse of tollies nie ten koste van minder melkkoeie grootgemaak behoort te word nie. Die maksimum aantal koeie binne 'n produksiekwota, indien daar een is, behoort dus aangehou te word. Dit is dus winsgewender om jong bulle en uitskotverse so jonk moontlik te verkoop.

Die melkvertakking verskaf ook goeie kontantvloei aan die boer. Die rente op bedryfskapitaal is baie laer as by ander vertakkings en dit is makliker om 'n begroting op te stel en te beplan. Volgens die begroting is voerkoste die belangrikste koste-item (72,5 %). Voedingsbestuur kan dus as die belangrikste bestuursinset van die vertakking beskou word. Bemarkingskoste is die tweede belangrikste koste-item (13,4 %), maar die individuele boer kan min hieraan verander. Vervoerkoste lewer die grootste bydrae tot bemarkingskoste en is afhanklik van die afstand vanaf die mark.

Die kapitaalinset vir die tipe boerdery is relatief groot aangesien die oprigting van 'n stal en 'n navoereenheid, en die aankoop van staltoerusting tot R200000 kan beloop indien die geboue deur kontrakteurs opgerig en nuwe toerusting gekoop word. Die diversifisering van die boerdery met 'n melkeryvertakking moet dus goed deurdink word, veral indien die vertakking met vreemde kapitaal gevestig word. Indien geboue, gereedskap en koeie met lenings gefinansier word, kan die netto marge per l melk tot onder 13 c/l daal. Die gevolg hiervan is dat sekere gewasvertakkings soos lusern-hooiproduksie winsgewender as die melkvertakking kan wees.

 

Published

Karoo streeknuusbrief 1