Last update: April 12, 2012 10:55:28 AM E-mail Print

 

Invloed van Energie- en Proteïenvoeding op Melkproduksie van Angorabokooie

 

L Louw

Landbounavorser: Kleinvee

Landboukollege Grootfontein

 

Navorsing op die lakterende Angorabokooi, en veral op die invloed van voeding op melkproduksie, het van uiterste belang vir die sybokhaarbedryf geword. Hierdie behoefte kan toegeskryf word aan die feit dat 'n sorgwekkende hoë mortaliteit vanaf geboorte tot en met speen ondervind word en dat die ekonomiese waarde van Angorabokkies tot op ongeveer ses maande ouderdom (as gevolg van hul haarkwaliteit) besonder hoog is. Hierdie verliese is blykbaar grootliks te wyte aan die lae melkproduksie van sommige bokooie wat meebring dat die bedryf jaarliks groot ekonomiese verliese ly.

Daar bestaan relatief min inligting oor die voedingsbehoeftes van lakterende Angorabokooie sowel as van die invloed van aanvullende voeding op die veld tydens die bokooi se verskillende fisiologiese stadiums en gedurende seisoenale- en langdurige droogtes. Gevolglik moot resultate wat by skaaprasse verkry is, dikwels aangewend word in 'n poging om leemtes in hierdie verband aan te vul.

Ten opsigte van ander bokrasse en die meer algemene skaaprasse is bogenoemde aspekte reeds breedvoerig bestudeer. So, byvoorbeeld, is dit deur verskeie navorsers aangetoon dat die voedingspeil van dragtige skaapooie 'n besondere groot invloed op uierontwikkeling en melkproduksie het. Dit is ook gevind dat skaapooie op 'n lae peil van voeding voor geboorte geen melk of kolostrum onmiddellik na partus afskei nie, terwyl ooie wat goed gevoer is reeds 'n dag voor partus kolostrum afskei (McCance & Alexander, 1959). Carstens (1969) het gevind dat 'n hoë peil van voeding die piek van melkproduksie verhoog en dit terselfdertyd na 'n later stadium van laktasie verskuif. 

Ondersoek is dus ingestel met die doel om die invloed van verskillende peile van proteïen- en energievoeding op melkproduksie by lakterende Angorabokooie te bestudeer.

 

PROEFPROSEDURE

Ses-en-vyftig vier- tot sestand Angorabokooie is in hierdie ondersoek gebruik.

Die bokooie het gedurende die eerste twee-derdes van dragtigheid onder ingekraalde toestande 'n bo-onderhoudrantsoen (Louw, 1979) ad lib ontvang. Gedurende die laaste derde van dragtigheid het die vier proefgroepe in individuele hokke die volgende behandelings onderskeidelik ontvang:

HP:HE (Hoë proteïen; Hoë energie)

HP:LE (Hoë proteïen; Lae energie)

LP:HE (Lae proteïen; Hoë energie)

LP:LE (Lae proteïen; Lae energie)

(Hoë peil - twee maal die onderhoudsbehoefte

Lae peil - onderhoudsbehoefte)

Die hoeveelheid voer wat daagliks per ooi gevoer is, is weekliks aangepas volgens veranderinge in die ooi se liggaamsmassa (Van der Westhuizen & Roelofse, 1971). Gedurende die eerste tien weke van laktasie het elke ooi binne die groepe HP:HE; LP:HE; HP:LE en LP:LE onderskeidelik 12, 24, 16 en 25 persent meer voer, as gedurende die laaste week van dragtigheid ontvang.

Die samestelling van die vier rantsoene en voerinname word op 'n persentasie basis in Tabel 1 aangegee.

Vir die bepaling van die melkproduksie van Angorabokooie is die bokkies elke alternatiewe week vir 'n periode van of agt of sestien uur voor handmelking van die ooie verwyder. Bokkies is egter gedurende hierdie tydperk in 'n aangrensende gang gehou ten einde te verhoed dat die gereelde verwydering van bokkies die melkvloei van ooie beïnvloed. Die verwydering van agt-en sestien-uur periodes voor melking is gedoen om vas te stel of uiergrootte 'n invloed op die gemete melkproduksie van die ooi het. Hiervolgens is die agt- en sestien-uur melkproduksie gegewens ook verhoudelik na 'n 24-uur rnelkproduksie omgereken. Vir die doel van hierdie artikel sal slegs die melkproduksie na die agt-uur periode van bokkieverwydering aangedui word, aangesien bokkies daagliks meer gereeld aan die ooie suip en dit 'n meer betroubare weergawe van die produksie onder natuurlike toestande sal wees.

 

 

Tien minute voordat ooie gemelk is, is 'n inspuiting van 20 eenhede oksitosien (Butocin) binnespiers toegedien. Elke ooi se bokkie is tydens melking by haar geplaas om die sakreaksie te bevorder. Gedurende laktasie is handmelking deur dieselfde persone uitgevoer. Bokkies is vyftien minute na melking by die ooie teruggeplaas. Melkproduksie is slegs vanaf geboorte tot en met die tiende week van laktasie bepaal, omrede die melkproduksie van sommige proefooie in die lae voedingspeile drasties verminder het.

AIle statistiese ontledings is gedoen volgens die metodes soos beskryf deur Snedecor & Cochran (1967). Ten einde die betekenisvolheid van verskille tussen behandelings te toets, is 'n 2 x 2 faktoriaal variansie-analise ten opsigte van die onderskeie eienskappe uitgevoer. Die verwantskap tussen die verskillende parameters is by wyse van reglynige korrelasie-koëffisiënte en regressievergelykings bepaal. Alvorens enige lineêre verband bepaal is, is 'n standaard lineêriteits-toets, soos beskryf deur Snedecor & Cochran (1967), uitgevoer.

Ten opsigte van die gemiddelde melkproduksie (na agt of sestien uur van bokkieverwydering) per groep, is die tussenwaardes by wyse van interpolasie na berekening van 'n kurvilineêre verband tussen melkproduksie en laktasieperiode beraam.

 

RESULTATE

Sommige proefooie in die HP:LE-, LP:HE- en LP:LE- groepe het reeds binne ses uur na geboorte 'n relatiewe lae biesmelkproduksie gehad.

In Tabel 2 word die onderskeie groepe se geïnterpoleerde gemiddelde melkvloei per uur na bokkieverwydering van agt uur met mekaar vergelyk.

 

 

Die maksimum melkvloei per uur na agt uur bokkieverwydering is gedurende die vyfde, derde, derde en tweede week vir die HP:HE-, HP:LE-, LP:HE- en LP:LE- groepe onderskeidelik bereik.

In Figuur 1 word die gemiddelde daaglikse melkproduksie van die vier proefgroepe na agt uur van bokkieverwydering, soos deur interpolasie verkry, aangegee.

 

 

Die gemiddelde daaglikse melkproduksie na agt uur van bokkieverwydering is hoogs betekenisvol (P < 0,01) deur die verskillende peile van energievoeding gedurende die laktasieperiode beïnvloed. In die onderskeie hoë proteïen- en lae proteïengroepe is die hoogste gemiddelde daaglikse melkproduksie verkry van die ooie op die hoë energiepeile. Die invloed van die verskillende proteïenpeile op die gemiddelde daaglikse melkproduksie het met die verloop van die laktasieperiode toegeneem. Die proteïen-energie-interaksie het vanaf die sesde week van laktasie 'n hoogs betekenisvolle (P < 0,01) negatiewe invloed op die gemiddelde daaglikse melkproduksie van ooie wat hoe proteïen- en lae energiepeile ontvang het, gehad.

Die gemiddelde daaglikse melkproduksie van ooie na agt uur van bokkieverwydering was in die HP:LE-groep hoogs betekenisvol (P < 0,01) positief(r = 0,787) en in die LP:LE-groep betekenisvol (P < 0,05) positief (r = 0,736) en in die twee hoë energiegroepe nie-betekenisvol positief gekorreleerd met die ooie se gemiddelde uiergrootte gedurende laktasie.

 

BESPREKING

'n Uitstaande kenmerk van die resultate van hierdie ondersoek is die besondere groot invloed wat die verskillende peile van proteïen- en energievoeding op laktasie gehad het. Reeds binne ses uur na geboorte het opmerklike verskille in biesproduksie van ooie in die onderskeie groepe voorgekom, deurdat sommige in die lae proteïen- en lae energiegroepe selfs geen bies in daardie stadium gehad het nie. In ooreenstemming hiermee is dit ook by skape aangetoon dat ooie op lae voedingspeile geen biesmelk voor partus begin produseer nie, terwyl die op 'n hoe voedingspeil reeds 'n dag voor partus biesmelk afskei (Barnicoat, Logant & Grant, 1947; McCance & Alexander, 1959).

Volgens Figuur 1 is dit duidelik dat die gemiddelde daaglikse melkproduksie oor die tien weke laktasieperiode die hoogste vir die HP:HE-groep was, gevolg deur die HP:LE-, LP:HE- en LP:LE-groepe onderskeidelik. Die piek melkproduksie van die HP:HE-groep (1,5 liter per dag) is ook in 'n later stadium van laktasie (5 weke) bereik as die van proefgroepe op 'n lae proteïen- en/of energiepeil (2 tot 3 weke). Dit was veral lae energie-inname gedurende laktasie wat die piek melkproduksie en laktasievolharding by Angorabokooie benadeel het. Hierdie resultate toon 'n groot ooreenkoms met die van Gardner & Hogue (1964) en Du Toit, Nel & Cronjé (1971) wat ook by skape gevind het dat ooie wat 'n hoe energie-inname gedurende laktasie gehad het op 'n later stadium van laktasie die piek van melkproduksie bereik.

Volgens Tabel 2 is die maksimum melkvloei per uur gedurende die vyfde, derde, derde en tweede week onderskeidelik vir die HP:HE-, HP:LE-, LP:HE- en LP:LE-groepe bereik. Die maksimum melkvloei per uur van Dorper- en Dormerooie op hoë en lae voedingspeile is gedurende die sewende en vyfde week onderskeidelik bereik (Carstens, 1959), dit wil sê heelwat later as in die geval van die Angorabok wat inherent nie 'n hoë melkproduserende ras is nie.

Uit Figuur 1 blyk dit duidelik dat die melkproduksie van Angorabokooie op 'n hoe peil van proteïenvoeding 'n merkbare styging met verhoogde energie-inname toon, terwyl 'n nie-betekenisvolle styging met verhoogde energie-inname by Angorabokooie op 'n lae proteïenpeil verkry is. Die melkproduksie van Angorabokooie op hoë energiepeile het met toename in proteïen-inname gestyg, terwyl 'n styging in proteïen-inname by lae energiepeile 'n negatiewe reaksie op melkproduksie tot gevolg gehad het.

Die verskillende energiepeile het gedurende die laktasie periode die gemiddelde daaglikse melkproduksie na agt uur bokkieverwydering hoogs betekenisvol (P < 0,01) positief beïnvloed. Soortgelyk hieraan het Gardner & Hogue (1964), Van der Westhuizen & Roelofse (1971) en Bolch (1967) - aangehaal deur Annison (1976) - gevind dat ooie met hoë verteerbare energie-inname betekenisvol meer melk as die met 'n lae verteerbare energie-inname geproduseer het.

Die invloed van die verskillende proteïenpeile op die gemiddelde daaglikse melkproduksie het met die verloop van die laktasieperiode toegeneem. Hierdie toename met die verloop van die laktasieperiode kan moontlik aan beperkte beskikbare energiereserwes en die feit dat proteïen ook as energiebron aangewend kan word, toegeskryf word.

Volgens Viljoen (1965) is melkproduksie hoog gekorreleerd met uiergrootte (r = 0,682). In die huidige ondersoek is 'n soortgelyke hoe korrelasie na agt uur van bokkieverwydering ten opsigte van die lae energiegroepe gevind, maar nie vir die hoe energiegroepe nie. Hierdie resultate hou waarskynlik ook in 'n mate verband met die invloed van energievoeding op vetneerlegging in die uier, sowel as die voorkoms van uierontsteking by diere op 'n hoë peil van energievoeding. Dit is bekend dat oorvoeding, veral by rasse wat nie 'n inherente hoë melkproduksie het nie, vetneerlegging in die uier tot gevolg het, wat melkvloei nadelig beïnvloed (Thomson & Thomson, 1953).

 

GEVOLGTREKKING

By Angorabokke word dit dus gevind dat veral lae energievoeding tydens die laaste derde van dragtigheid swak uierontwikkeling tot gevolg het, aanvang van melkproduksie vertraag en biesmelkproduksie strem, terwyl lae proteïen- en/of energie-inname tydens bogenoemde stadium van dragtigheid dikwels swak moederinstink tot gevolg het.

Die Angorabokooi produseer van nature nie baie melk nie; daarom is dit belangrik dat melkproduksie deur middel van voeding verbeter word. In die verband is bevind dat energievoeding 'n belangriker rol as proteïenvoeding speel. Dit is veral 'n lae energie-inname tydens laktasie wat piek melkproduksie en die vermoë om langer 'n hoë melkproduksie (laktasievolharding) by die Angorabokooi te handhaaf, benadeel.

Op ongeveer ses weke ouderdom, styg Angorabokkies se vastestof inname drasties en word hul minder afhanklik van moedersmelk. Ooie op lae energie- en/of proteïenvoeding se bokkies het reeds van ongeveer drie weke af te min moedersmelk gekry, terwyl ooie op hoë energie- en proteïenvoeding se bokkies op ses weke ouderdom nog steeds voldoende melk ontvang het om tekorte as gevolg van onvoldoende vastestof inname aan te vul.

Dit moet in gedagte gehou word dat die meeste veldtipes nie in die energiebehoeftes van laatdragtige en lakterende bokooie kan voorsien nie. Dieselfde geld vir enige goeie kwaliteit peulgewashooi. Daarom moet energie-aanvulling, hetsy op natuurlike veld of saam met goeie kwaliteit peulgewashooi as 'n noodsaaklike bestuurspraktyk gesien word.

 

LITERATUUR

ANNISON, E.F., 1976. The usefulness to the animal producer or research findings on nutritional factors which influence the yield and composition of milk. Proc. Aust. Soc. Anim. Proc. 11,465.

BARNICOAT, C.R., MURRAY, D.F., ROBERTS, EM. & WILSON, G.S., 1956. Milk secretion studies with N Z. Romney ewes. Part VI. Yield and composition of ewes' milk in relation to the growth of the lamb. J. Agric. Sci. 48,9.

CARSTENS, J. de W., 1969. Lamvleisproduksie deur Dorper- en Dormerooie op drie voedingspeile. M.Sc. (Agric.)- Verhandeling. Univ. van Stellenbosch.

DU TOIT, J.E.J., NEL, J.A. & CRONJé, P.J., 1971. Melkproduksie van Merino-ooie op verskillende voedingspeile. Agroanimalia. 3, 51.

GARDNER, P.W. & HOGUE, D.E., 1964. Effects of energy intake and number of lambs suckled on milk yield, milk composition and energetic efficiency of lactating ewes. J. Anim. Sci. 23,935.

LOUW, L. DE W., 1979. Invloed van energie-en proteïen-voedingspeile op perinatale verliese, laktasie en groei by die Angorabok. M.Sc. (Agric.)-Verhandeling. Univ. van Pretoria.

McCANCE, L. & ALEXANDER, G., 1959. The onset of lactation in the Merino ewe and its modification by nutritional factors. Aust. J. Agric. Res. 10, 699.

SNEDECOR, G.W. & COCHRAN, W.G., 1976. Statistical methods, 6th ed. The Iowa State Univ. Press. THOMSON, W. & THOMSON, A.M., 1953. Effect of diet milk yield of the ewe and growth of her lamb. Br. J. Nutr. 7,263.

VAN DER WESTHUIZEN, J .M. & ROELOFSE, C.S.M.S., 1971. Effect of shelter and different levels of dietary energy and protein on reproductive performance in Angora goats with special reference to the habitual aborter. Agroanimalia. 3, 129.

VILJOEN, G.D., 1965. Growth and milk production. Proc. S. Afr. Soc. Anim. Prod. 4,85.

 

Published

Karoo Agric 2 (2), 29-34