Last update: April 10, 2012 09:52:24 AM E-mail Print

 

Invloed van Voeding op Melkproduksie van Merino-ooie

W. J. Hugo 

 

DIE melkproduksie-eienskap is een van die faktore wat die meeste verontagsaam is by die merinoskaap. Dit is uiters twyfelagtig of seleksie ooit doelbewus toegepas word met die doel om die algemene melkproduksiepeil van die kudde te verhoog.

Omdat groei so 'n vername rol speel by die produksie van diere, en omdat die melkopbrengs van die ooi in so 'n intieme verband staan met die groeisnelheid van haar lam, kan die belangrikheid van genoegsame melkproduksie by die merinoskaap nie genoeg beklemtoon word nie.

In die ekstensiewe skaapdele van Suid-Afrika is die voedingspeil nie alleen betreklik laag nie, maar dit is ook uiters wisselvallig. Die invloed wat die voedingspeil van die ooi dus op haar melkproduksie sal hê, is van groot belang aangesien teling en seleksie vir verbetering van enige funksionele eienskap alleen effektief kan wees indien die teler weet watter invloed die omgewing daarop uitoefen.

 

Doel van proef

By bogenoemde Inrigting is dus 'n proef uitgevoer met die doel om vas te stel watter invloed die voedingspeil op die melkproduksie van die merinoskaap het.

Dit word baie goed besef dat veel meer gegewens nodig sal wees om die ondersoek af te fond, maar die gegewens wat verkry is, toon sulke klaarblyklike verskille dat dit heeltemal geregverdig is om die resultate nou hier aan te bied.

Die aangeleentheid van melkproduksie by die kruisrasse, veral die van Britse oorsprong, het wel deeglike aandag in hierdie land geniet, maar by die merino en ander kruise en tipes skape wat oorwegend in die droër landsdele aangetref word. is geen noemenswaardige proefwerk gedoen nie. Die proewe op Grootfontein is dus 'n begin op hierdie gebied en hierdie artikel moet beskou word as die eerste in 'n reeks wat oor melkproduksie van skape sal verskyn.

 

Tegniek

Veertig sestand- tot volbek-ooie is uitgesoek uit die Grootfonteinse kudde. 'n Maand voordat die ooie gepaar sou word, is hulle in 'n klein kampie geplaas en het lusernhooi en gebreekte geelmielies gekry sodat hulle aan die ingekraalde toestande en die enkelvoedingshokke gewoond kon raak.

Die ooie is daarna daagliks om 8.30 vm. en 4.30 nm. met 'n koggelram vir bronstigheid getoets, en handparing met 'n kudderam is gedoen deur die ooie, wat bronstigheid getoon het, met die ram in 'n klein kampie af te sonder.

Die ooie wat reeds gepaar is, is geloot tussen hoë- en laevoeding en die rantsoene is. volgens hierdie loting in enkelvoedingshokke aan hulle gevoer.

Die ooie het gedurende die dragtigheidsperiode en die soogperiode, wat 'n verdere 13 weke geduur het, hul voer in die enkelvoedingshokke ontvang. Gedurende die dragtigheidsperiode is die ooie elke oggend vir oefening 'n end geja; en geen aborsies of ander abnormaliteite met geboorte wat aan 'n gebrek aan oefening toegeskryf kan word, het voorgekom nie.

Die rantsoene per skaap per dag was die volgende:-

(a) Vanaf paring tot een maand voor lamtyd.

                                        T V.V.                        Verb. proteïen

                                         (lb.)                               (lb.)

Hoëpeil

                              0.92

Laepei

                                0.92

 

(b) Vanaf een maand voor lamtyd tot einde van soogtyd.

Hoëpeil

                                0.184

Laepeil

                                    0.119

Die daaglikse rantsoene is in twee helftes gevoer.

Benewens hierdie rantsoene is daagliks aan elke ooi een ons van 'n lek gevoer wat bestaan het uit 2 dele beenmeel en 1 deel sout. Die ooie het vrye toegang tot water gehad.

Klein maar gelyke hoeveelhede lusernhooi (meesal die blaargedeelte) is aan die lammers gevoer toe hulle omtrent 3 weke oud was, sodat hulle geleidelik begin vreet het en dus heeltemal onafhanklik van die ooie kon wees toe hulle gespeen is op 'n ouderdom van 90 dae.

Weeklikse gewigte van die ooie en lammers is geneem.

Die melkproduksie van die ooie vir 'n 24-uur periode is bepaal deur op elke Donderdag die lammers om 2.30 nm. van die ooie te skei en dan die som van die gewigsverskille voor suip en na suip te neem op die volgende tye: 8.30 nm, 2.30 vm, 8.30 vm,11.30 vm., 2.30 nm.

Hieruit volg dat die aantal dae, na die geboorte van die lam, wat die ooie vir die eerste keer in die melkproef geplaas is, verskillend sal wees vir verskillende ooie.

 

Resultate

(a) Gewigte van Ooie.

Alhoewel 40 ooie oorspronklik gepaar is, is gevind dat sommige ooie ongeskik vir die melkproef is deurdat sommige slegs een speen gehad het, ander tweeling-lammers gegee het, terwyl ander glad nie gelam het nie. Om hierdie rede dan word slegs die gewigte van die 24 ooie, wat geskik vir die melkproduksie studie was, hier onder vergelyk.

'n Opsomming van resultate vervat in Tabel 1 word grafies in Fig. 1 voorgestel.

 

 

In die geval van die hoëvoedingspeil-ooie is die gewigstoename van paartyd tot voor partus gemiddeld 25.6 lb. terwyl dit maar gemiddeld 5.5 lb. is in die geval van Iaevoedingspeil-ooie. Die gewigsverliese gedurende laktasie is in beide gevalle dieselfde. nl. 8,3 lb. vir hoëvoedingspeil-ooie en 8,9 lb. vir laevoedingspeil-ooie.

 

(b) Melkproduksie van Ooie.

Die totale melkproduksie per ooi vir die 13 weke is bepaal deur 'n kromme te pas volgens die metode van kleinste kwadrate en dan die funksie volgens 'n bepaalde tegniese formule te integreer tussen die geboortedatum en die datum waarop die lam 13 weke oud is.

Volgens Brody (1945) kan 'n formule gebruik word wat die styging van melkproduksie net na geboorte en die geleidelike dalings daarna weerspieël maar hierdie gegewens is nie geneem om die kromming in die beginperiode van melkproduksie te bepaal nie, en daarom is 'n eenvoudiger formule gebruik deur aan te neem dat die maksimum melkproduksie net na geboorte gelewer word. Dit sal egter nie 'n noemenswaardige verskil in die verhouding van die produksies teenoor mekaar maak nie.

In Tabel 2 is die totale melkproduksie van elke ooi vervat asook die gewigstoename van die lammers.

 

 

'n Ontleding van die gegewens in Tabel 2 bewys dat die totale melkproduksie en die lammers se gewigstoenames hoogs betekenisvol gekorrelleerd is. r = . 8465. Hierdie korrelasie word grafies in Fig. 5 voorgestel.

Weens die sterk korrelasie tussen die melkproduksie van die ooie en die gewigstoename van die lammers, sal seleksie vir hoër melkproduksie by die ooie, volgens die groei van die lammers, baie effektief wees, en dit gee dus 'n doeltreffende grondslag waarvolgens van die lae melkproduseerders ontslae geraak kan word, d.w.s. die uitgooi van die ooie waarvan die lammers by speentyd die kleinste is.

Wanneer die lammery egter oor 'n lang periode strek, byvoorbeeld, van 'n maand tot ses weke, dan sal die ouderdomsfaktor afbreuk doen aan die betroubaarheid van so 'n metode van seleksie. Die ouer lammers sal naamlik swaarder weeg omdat hulle ouer is en nie omdat hul moers meer melk geproduseer het nie. In sulke gevalle kan die teler die moeilikheid oorkom deur die gewigte van die lammers in verhouding met hul ouderdomme terug te werk sodat al die lammers vergelykbaar is by dieselfde ouderdom.

Vind die lammery egter plaas oor 'n kort periode, byvoorbeeld veertien dae, dan sal sulke korreksies in werklikheid nie eens nodig wees nie.

Dit spreek vanself dat in gevalle waar die lammeroes groot is, soos by ekstensiewe kuddeboerdery, so 'n sisteem van seleksie en die aanbring van genoemde korreksies baie ekstra moeite vir die boer sal meebring, want hy sal moet weet watter ooie die eerste gelam het en watter ooie min of meer die laaste gelam het.

By die ramteler egter behoort die moeite nie ontsien te word nie. Trouens, die gespesialiseerde aard van sy teeltpraktyke behoort vanselfsprekend voorsiening te maak vir die aantekening van die geboortedatums van die lammers sodat hy in staat gestel sal word om die ouderdomskorreksies aan te bring. As so 'n stelsel nougeset deur aIle ramtelers deurgevoer word, behoort dit nie eens vir die kuddeboer nodig te wees om doelbewus te selekteer vir hoër melkproduksie nie aangesien die ramteler die wenslike genes sal verskaf.

Verder blyk uit die syfers dat hoë voedingspeil-ooie, 81.4 persent meer melk produseer as laevoedingspeil-ooie.

In Figure 2 en 3 word die melkproduksie-krommes aangetoon. Dit is opmerklik dat hoëvoedingspeil-ooie met ramlammers, 8.5 persent meer melk geproduseer het as hoëvoedingspeil-ooie met ooilammers, terwyl by die laevoedingspeil-ooie sodanige verskil nie bestaan het nie. Om te toets of hierdie verskil betekenisvol is, is 'n variansie-analise gemaak van die resultate, volgens die metode aangedui deur Havenga (1951).

 

 

Uit Tabel 3 blyk dat die wisselwerking tussen geslag en voeding nie betekenisvol is nie, wat beteken dat die verskil in melkproduksie tussen hoëvoedings-ooie. met ramlammers, en hoëvoedings-ooie met ooilammers aan toeval toegeskrywe kan word.

 

 

In merinoteelt-projekte op die Grootfonteinse Landboukollege is die algemene ondervinding egter dat jong ooie in hul eerste laktasie nie hul ramlammers  so goed as hul ooilammers grootmaak nie.

Indien die ramlam 'n groter kapasiteit as die ooilam het en dus, by volwasse ooie onder optimale voedingstoestande, meer melk inneem as ooilammers, dan volg dit dat by ooie in hul eerste laktasie die ramlammers tot 'n sekere mate ondervoed sal wees. Dit verklaar moontlik waarom die ramlammers van jong ooitjies nie so goed groei as ooilammers nie.

Met die beperkte getalle in die melkproef is dit twyfelagtig of afdoende bewys gelewer is deur bostaande analise dat die wisselwerking nie betekenisvol is nie.

(c) Gewigstoename van Ooie gedurende Dragtigheid en Gewigstoename van Lammers vanaf Geboorte tot Speenouderdom.

Volgens Fig. 1 is dit opvallend dat die absolute daling in liggaamsgewigte van hoë- en laevoedings-ooie na partus tot speentyd dieselfde is. Die gewigsverskille tussen die twee groepe ooie by speentyd is dus bewerkstellig alleen deur groter gewigstoename by die hoëvoedingspeil-ooie gedurende dragtigheid as by die laevoedingspeil-ooie.

Omdat die melkproduksie van die ooie gekorrelleerd is met die gewigstoename van die lammers, kan dit geredelik verwag word dat die gewigstoename van die ooie gedurende dragtigheid ook met die gewigstoename van die lammers gekorrelleerd moet wees. Die verhouding word in Tabel 4 weergegee en grafies in figuur 4 aangetoon.

 

 

Uit Tabel 4 blyk duidelik dat die gegewens hoofsaaklik in twee groepe val. Hierdie toestand moet daaraan toegeskrywe word dat slegs twee rantsoene gevoer is. Die punterangskikking is dus nie so dat die aard van die kromme daardeur aangedui word nie.

Dit is egter onwaarskynlik dat die regressie liniêr sal wees. Die rede hiervoor is die feit dat dit bekend is dat oorvoeding, veral by rasse wat nie 'n inherente stimulus vir hoë melkproduksie het nie, die uitwerking het dat vet in die uier neergelê word wat 'n nadelige invloed op die melkvloei het.

Met 'n te groot gewigstoename gedurende dragtigheid kan dus verwag word dat vetneerslag in die uier sal plaasvind en dat die melkproduksie, en gevolglik die gewigstoename van die lam, daardeur benadeel sal word.

Hierdie aspek behoort baie grondig nagegaan te word, want meer kennis hieromtrent sal moontlik daartoe bydra dat dragtige ooie nie blindweg oorvoer moet word nie.

 

 

Opsomming

(1) Die invloed van twee voedingspeile, hoog en laag, op die melkproduksie van 24 merino-ooie is bestudeer.

(2) Arbitrêre verskil is gemaak tussen die voeding van die hoë peil en die voeding van die lae peil.

(3) Hoëvoedingspeil-ooie het 81.4 persent meer melk as laevoedingspeil-ooie geproduseer.

(4) Die melkproduksie van die ooie en gewigstoenames van die lammers was hoogsbetekenisvol gekorrelleerd: r= .8465.

(5) Ooie kan vir lae melkproduksie uitgegooi word volgens die mate van gewigstoename van hul lammers.

(6) Die wisselwerking tussen geslag en voeding was nie betekenisvol nie, wat beteken dat die verskil in melkproduksie tussen die hoëvoedings-ooie met ramlammers en hoë-voedingsooie met ooilammers aan toeval toegeskrywe kon word.

 

LlTERATUUR

BRODY, S. (1945).-" Bioenergetics and Growth ". Reinhold Publishing Corporation, 330 West Forty-second Street, New York, U.S.A.

HAVENGA, C. M. (1950).-" Die Variansie analise met ongelyke getalle in die sub-groepe ". Ongepubliseerde tesis.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 27