Last update: April 10, 2012 11:48:50 AM E-mail Print

 

Die Verbetering van die Merinokudde

F. J. Labuscagne

 

DIE plase in die meeste distrikte van ons land is oor die algemeen heelwat kleiner as wat hulle 'n aantal jare gelede was, en die prys van grond het ook mettertyd baie gestyg. Gevolglik is die weiding vir vee nie alleen taamlik beperk in baie gevalle nie maar oor die algemeen ook duur. Waar boere ook nog voorsiening moet maak vir winterweiding deur die aanplant van gesaaides, of vir droogtes deur die aankoop van voer, is. die koste van weiding nog hoër.

As alle koste, soos kapitaal Vir die aankoop van grond, plaasverbeterings ,die instandhouding en versorging daarvan, en ander bedryfkoste in verband met skaapboerdery by die weidingskoste bereken word, is die produksiekoste van vleis en wol taamlik hoog. Slegs 'n verbeterde kudde, waarvan elke individu sy regmatige inkomste lewer, kan dus ekonomiese skaapboerdery verseker.

Die verbetering van die kudde word hoofsaaklik teweeggebring deur drie faktore, naamlik: (1) gereelde en noukeurige klassering van die ooie; (2) gebruik van geskikte ramme; en (3) verskaffing van voldoende voeding of weiding.

 

Betekenis van Klassering

Die klassering van 'n kudde beteken die verdeling van die skape in groepe volgens verdienstelikheid of betalendheid, deur die beoordeling van die samevatting van die eienskappe van elke individu volgens die standaard van uitmuntendheid vir die betrokke ras.

Elke kudde word egter op sy eie meriete behandel en die getalle en die gehalte van die verskillende groepe sal afhang van die gemiddelde standaard van die kudde.

Om die klassering van skape met 'n redelike mate van sukses deur te voer, is dit nodig dat die klasseerder iemand moet wees wat redelik goed op hoogte van sake is betreffende die goeie en die slegte eienskappe van die bouvorm en die wol van die skaapras. Daarby moot hy ook 'n goeie praktiese kennis van die beoordeling van die verskillende samevattings van al die eienskappe besit:

 

Benodigdhede by Klassering

Sonder die nodige fasiliteite, is dit moeilik om goeie werk te lewer en daarom is die volgende noodsaaklik:-

(a) Gerieflike en skoon krale.- Die krale benodig is 'n groot kraal waarin die ongeklasseerde trop skape kom, 'n klein vangkraal met 'n. hek na die groot kraal, en twee of drie krale gerieflik geleë aan die vangkraal om die verskillende groepe geklasseerde skape in te sit. 'n Moderne stel uitkeerkrale voorsien gewoonlik in al hierdie behoeftes.

Die klein vangkraal is nodig. om te voorkom dat die skape met die vangery onnodig bale rondgeja of te ver aangebring moet word na die klasseerplek toe, soos wat gebeur in die geval van 'n vangkraal wat te groot is.

Deur die verskillende groepe elk apart in 'n kraal te klasseer, het die klasseerder die geleentheid om gedurende en na die klassering elke groep afsonderlik deur te kyk, sonder dat groepe eers weer uitgevang moet word. Deur die groepe gedurende die werk apart te hou, kan die verskille tussen hulle ook beter waargeneem word.

Dis baie noodsaaklik dat krale skoon moet wees, want vuil stowwerige krale besoedel nie alleen die wol van die skape nie, maar maak ook die werk vir al die betrokke persone bale onaangenaam.

(b) Arbeid.-Die spoed waarmee gewerk word, hang af van die klasseerder self, die tyd en fasiliteite tot sy beskikking en van die, aantal vangers wat beskikbaar is. Gewoonlik word van drie tot vyf vangers vir hierdie werk gebruik. Behalwe die vangers is 'n persoon wat die skape kan vashou noodsaaklik. As die skape terselfdertyd ook gemerk moet word, sal 'n persoon ook daarvoor nodig wees. 'n Tekort aan arbeid sal die werk vertraag. Alhoewel oorhaastige werk af te keur is, kan die klassering van die skape tog teen 'n redelike spoed doeltreffend uitgevoer word.

(c) Sitplekke.- Die klasseerder en die vashouer sit op kassies of stoele - teenoor mekaar en ver genoeg om 'n skaap gemaklik tussen hulle te laat staan by die hek van die vangkraal waar ook die hekke van die krale vir die geklasseerde groepe gerieflik naby behoort te wees. Die vashouer hou die kop van die skaap terwyl die agterlyf tussen die bene van die klasseerder kom. Hierdie manier van vashou verseker dat die skaap taamlik natuurlik en stil sal staan en dus maklik beoordeel kan word. Dit word verkies bo die manier waar die vangers die skape vashou en die klasseerder die werk staande doen. In laasgenoemde geval het die skape te veel kans om rond te spring en selfs op die grond neer te val.

(d) Merkstof.-Aangesien skape gewoonlik met taamlike lang wol geklasseer word, is dit nie wenslik om verf of merkolie op die wol van die verskillende groepe aan te bring nie, maar die skape se ore kan daarmee gemerk word. Gewoonlik kry die prulle, dit wil sê skape wat vir teeltdoeleindes afgekeur word, 'n knipmerk of 'n merk met 'n lies aan die oor, sodat sodanige merk blywend kan wees. Soms verdwyn die merkstofmerke, en prulskape kan weer deurmekaar raak met die beste ooie wat in die reël ongemerk bly. Krytmerke kan ook aangebring word indien die klassering kort voor skeertyd plaasvind. As merkolie- of verfmerke op die wol gemaak word, moet dit met skeertyd weer afgeskeer word.

 

Tyd van Klassering

Die beste tyd vir klassering is wanneer, die wol so naby moontlik twaalf maande oud is, dog by voorkeur nie jonger as agt maande nie. Hoe nader die wol aan twaalf maande is, hoe meer word moontlike vagveranderings uitgeskakel en kan die skaap met groter sekerheid beoordeel word, Dit is ook wenslik dat jong skape reeds as lammers geskeer moes gewees het.

Alhoewel die ouderdom van die wol nie 'n belangrike rol speel by die beoordeling van die bouvorm nie, is daar egter sekere punte, soos hare en veral plooie, wat makliker op 'n kortwol- as op langwolskaap gesien kan word. '

Dis nie wenslik om ooie te klasseer wanneer hulle swaardragtig is of klein lammertjies het nie, want in eersgenoemde geval kan hulle seer kry en 'n dooie lam afgooi, en in laasgenoemde geval raak van die lammertjies soms van hul moers af, met die gevolg dat hulle moontlik van honger kan omkom as dit nie betyds opgemerk word nie.

 

Kondisie en Ouderdom van die Skape

Dis wenslik dat die skape in 'n redelik goeie kondisie moet wees wanneer hulle geklasseer word, aangesien kondisie die wolproduksie, die bouvorm en die woleienskappe beïnvloed. Hoe swakker die kondisie, hoe nadeliger is die uitwerking op die skaap. Om hierdie rede is dit baie onwenslik om tydens klassering droë of gusooie, wat gewoonlik in besonder goeie kondisie is, in dieselfde trop te hê met ooie wat lammers groot gemaak het en in swakker kondisie is. In sulke gevalle gebeur dit dikwels dat die goeie en afgesuipte lammerooi, wat reeds haar plig gedoen het om inkomste vir die eienaar te lewer, afgekeur word weens haar swakker kondisie, terwyl 'n werklik minderwaardige droë ooi, as gevolg van haar goeie kondisie, soms in die beste klas geklasseer word.

By klassering is dit die allerbeste plan om droë ooie, of die wat in goeie kondisie is apart te hou van die lammerooie of die wat in swak kondisie is. Elke soort kan dan volgens eie standaard beoordeel word. Daar behoort dan ook 'n heelwat strenger maatstaf vir die droë ooie as vir die lammerooie gestel te word.

Om die verskillende groepe vir grootte van bouvorm te beoordeel, is dit wenslik dat die jonger ooie, naamlik die wat jonger as 4-tand is, apart van die ouer ooie gehou word vir klassering, want indien, die ouer en die jonger ooie saam in een trop behandel word, kan die egaligheid van grootte veral in die beste groep waar hierdie eienskap noukeurige aandag moet geniet, nie doeltreffend beoordeel word nie. Die jonger ooie is gewoonlik kleiner van lyf as die volgroeides. Die groep sal dan onegalig voorkom vir hierdie belangrike eienskap, te meer nog indien skape van goeie en swakker kondisie in dieselfde trop is.

Die maatstaf vir die klassering van die jong droë ooie sal oor die algemeen ietwat, hoër gestel kan word as vir ouer ooie, daar 'n verbetering in die gehalte van die jong skape bewerkstellig kan word. Dis in elk geval nie wenslik om te veel op digtheid van wol by jong skape te let nie, aangesien jong skape met digte wol gewoonlik geneig is om te dig en te kort van wol te word as hulle volgroeid is.

 

Die Samestelling van 'n Kudde

'n Ongeklasseerde kudde bestaan gewoonlik uit skape van verskillende soorte of gehalte. Die verhouding tussen die persentasie goeie en minderwaardige skape varieer in verskillende kuddes volgens die mate van verbetering wat reeds by hulle aangebring is. In sommige gevalle bestaan van 80 tot 90 persent van die kudde uit goeie skape terwyl die syfer in ander slegs 40 tot 50 persent is. Die verskillende soorte van skape wat in die reël in 'n kudde aangetref word, is as volg:-

(a) Prulskape.-Sulke skape is ongeskik vir teeltdoeleindes deurdat hulle een of ander ernstige fout aan die bouvorm en/of die wol het. Die vernaamste foute ten opsigte van bouvorm is: foutiewe kakebene; wolgesig wangplooie; noubors; holrug; platsydigheid; hangkruis; x-hakke; groot plooie aan die nek, op die lyf en veral in die omgewing van die stert; en gebrek aan grootte in verhouding tot ouderdom. Die wolfoute is as volg: te kort wol, d. w .s. wol onder 2¼; duim vir twaalf maande se groei; wol van slegte kwaliteit; steekhaar; hare op dele van of oor die hele vag; foutiewe stapelformasie, soos bv. baie toutjiesagtige en waterige wol; oordrewe teertip; geel onvloeibare wololie; en swart of bruin kolle in die vag.

(b) Swak produseerders.- Hierdie soort skape is die wat min wol gee en/of wat klein van lyf is vir hul ouderdom. Min wol word geproduseer deurdat dit aan die kort kant is of dat die vag van die volgroeide skaap te los is. Skape wat klein van lyf is, gee ook meesal klein vagte. Sulke skape se karkasse is klein en as slagvee gee hulle dus maar min vleis, wat gewig betref.

(c) Skape wat van die tipe afwyk.-Die oorgrote meerderheid van die skape in meeste kuddes bestaan uit diere wat gelykvormig is. Hierdie gelykvormigheid word "tipe" genoem. 'n Kudde kan derhalwe redelik egalig wees ten opsigte van 'n sekere tipe van bouvorm, soos bv. gladdelyf, grootte, ens., en ook ten opsigte van sekere woleienskappe soos fynheid, lengte, hoeveelheid, ens.

Enkele skape en soms selfs 'n aansienlike aantal kan van die meerderheid verskil deur die aanwesigheid van onwenslike plooie en lof kleinheid van lyf met digte kortwol. Hulle veroorsaak dus onegaligheid van tipe in die kudde. Skape met uitermatige digtheid van vag vir kuddedoeleindes onder veldtoestande, moet ook as ‘n ongewenste tipe beskou word.

(d) Slegte telers en moers.-Onder hierdie groep kom die gereelde oorslaanooie, d. w .s. die wat nooit lam nie, die gereelde weggooier, die met te min melk onder goeie weidingstoestande, en ou ooie. Ooie wat gereeld oorslaan of lammers weggooi, en die met te min melk moet gedurende lamtyd gemerk word, sodat hulle met klassering kenbaar is, aangesien dit nie moontlik is vir 'n klasseerder om met die oog hierdie tekortkomings met enige mate van sekerheid vas te stel nie. Slegte moers gee ekstra werk deurdat hul lammers gewoonlik hans grootgemaak of op ander maniere versorg moet word. Ou ooie waarvan die tande reeds gedaan is, of wat so oud is dat hulle nie onder gewone omstandighede lammers kan grootmaak nie, word weens ouderdom afgekeur.

(e) Die betalendes.-Hierdie laaste maar nogtans belangrikste groep is die wat dit die moeite werd is om aan te hou. Hulle is die ooie wat die minste foute ten opsigte van bouvorm en wol besit, en enige tekortkomings slegs in 'n geringe mate vertoon. Hierdie ooie voldoen aan die vereistes van die regte tipe, naamlik, groot gladdelyf-, sterkgeboude skape het 'n redelike hoeveelheid wol van goeie lengte, d.w.s. 3 duim en oor, en van goeie kwaliteit en lywigheid. Dis die ooie wat die toekomstige ooie sal teël vir die kudde, en die hamels wat geskik is vir skeer en die vleismark. Dis die ooie wat gereeld lam, hul lammers speen en genoeg melk het om hulle onder gewone toestande grootte maak en daarby nog betalende vagte vir die skeersel sal lewer.

 

Prosedure by Klassering

Aangesien meeste kuddes in gehalte van mekaar verskil en elke kudde in sekere opsigte sy eie eienaardighede sal he, moet elke kudde dus op sy eie meriete behandel word. Dieselfde metode van klassering kan deurgaans gevolg word, maar die maatstaf wat gestel word, sal nie juis altyd dieselfde wees nie. Dit sal verskil in die kuddes van dieselfde omgewing en ook in die van die verskillende streke van die land. Die verskil in weiding-, veld- en klimaatstoestande sal in aanmerking geneem moet word. Gevolglik sal die standaard vir 'n goeie skaap in een omgewing, volgens die omstandighede, hoër of laer moet wees as in 'n ander omgewing.

Net soos met die klassering van wol, is die eerste en vernaamste werk om die maatstaf vas te stel volgens die gehalte van die verskillende groepe wat gemaak word. Indien dit verlang word dat slegs prulskape uitgehaal sal word, kan die kudde van die begin af in slegs twee groepe, naamlik,. kudde en prulle, verdeel word, dog indien die klasseerder ook die standaard van produksie, die betalendheid en in baie gevalle ook die getalle in aanmerking moet neem, word die volgende prosedure, wat taamlik maklik en doeltreffend is, aanbeveel. Hierdie metode verseker goeie werk, veral waar die klasseerder onbekend is met die kudde.

Die werk word begin deur die skape in die volgende drie groepe te klasseer, naamlik:-

(a) Die bestes bestaande uit ooie wat definitief die betalende standaard bereik en wat die regte tipe sal wees. Hulle sal die beste samevatting van goeie bouvorm en. woleienskappe besit. Terwyl konstitusie en grootte belangrike eienskappe uitmaak, sal egalige goeie lengte vir die ouderdom, kwaliteit en redelike hoeveelheid wol, die aandag moet geniet by die beoordeling van die vag. 'n Redelike hoeveelheid wol van taamlik ligte kondisie sal 'n gemiddelde wolopbrings van tussen 8 en 12 pond wees.

(b) Ooie wat van 'n swakker standaard is as die eerste. Hulle moet nie sulke foute hê dat hulle as prulskape beskou kan word nie. Gewoonlik sal hulle die swakker produseerders wees omdat hulle kleiner of ranker van bouvorm of korter of losser van wol is; met ander woorde, dis twyfelagtig of dit betalend is om hulle aan te hou. Skape wat nie te erg van die tipe afwyk nie, kan ook by hierdie groep geklasseer word.

(c) AIle prulooie, oorslaanooie, weggooiers, die wat die min melk het en die wat te oud is om nog te lam.

Die veiligste weg om te volg is om maar eers die hele trop of kudde klaar te klasseer, soos hierbo aanbeveel. Dan word die eerste twee groepe goed deurgekyk om moontlike swakhede ten opsigte van die hakke, grootte, tipe, ens., wat moontlik met die klassering nie opgemerk is nie, w.aar te neem.

Hierna kan die getalle van die verskillende groepe nagegaan word. Blyk dit dat die getal van die eerste kudde voldoende is vir die eienaar, dan is die werk daarmee afgehandel.

Indien die eerste groep ooie te klein is, moet die getal aangevul word uit die tweede of twyfelagtige groep. Indien slegs 'n klein aantal benodig word, kan die bestes op die oog uitgesoek word. Indien die meerderheid van die kudde behou moet word, kan slegs die swakstes op dieselfde manier verwyder word. AIle ooie van die tweede groep, wat nie in die kudde opgeneem word nie, word in die algemeen as die "uitsit"-ooie van die bepaalde kudde bestempel. Terwyl "uitsit"-ooie wel vir teeltdoeleindes verkoop kan word, is dit wensliker om egte prulooie liewer vet te maak en as slagvee van die hand te sit, as om hulle vir teeltdoeleindes te verkoop aan medeboere wat soms minder gegoed is.

 

Oogmerke en Voordele van Klassering

Die eerste oogmerk met klassering is om alle prulskape in die Merinokudde uit te skakel. AIle foute is oorerflik en indien daar aangehou word om van sulke diere te teel, sal daar altyd 'n groot persentasie prulskape aanwesig wees. Deur dus elke jaar noukeurig te klasseer sal die voortplanting van foute by die ooie tot 'n minimum verminder word.

Met die uitskakeling van bouvormfoute waarvan meeste die konstitusie benadeel, sal die kudde grotendeels uit groot, sterk geboude ooie bestaan: Hierdeur kan groter vleisproduksie, groter en beter lammeroeste, selfs 'n groter hoeveelheid wol en dus 'n hoër inkomste per skaap verkry word.

Die uitskakeling van skape met wolfoute sal verseker dat egaliger vagte en vagte van beter gehalte verkry word. Die klassering van die skeersel word dus vergemaklik deurdat minder vagklasse gemaak hoef te word. Die beste klas sal besonder groot wees en min minderwaardige of uitskotvagte sal voorkom. Dit verseker 'n hoër gemiddelde prys per pond wol en gevolglik 'n beter inkomste per skaap.

Die peil van betalendheid word verder verhoog deur die verwydering van die swak produseerders, en van skape wat klein van lyf is of wat te min wol gee in vergelyking met die gemiddelde standaard van die kudde, veral as hulle 'n klein deel van die kudde uitmaak. Daar is egter kuddes waar die standaard so laag is dat hierdie klas van skape, wat nie juis prulskape is nie, 'n groot deel van die kudde uitmaak. In sulke gevalle sal dit miskien beter wees om hulle aan te hou en te verbeter, instede van hulle weg te maak en ander boere se prulskape in hul plek aan te koop. As dit bekostig kan word om hulle met beter ooie te vervang, is dit 'n ander saak en kan so 'n stap geregverdig word.

Egaligheid van tipe moet die strewe wees van elke boer. Dus behoort die skape uitgeskakel te word wat nie by die kudde pas nie. Elke boer moet hom toelê op die tipe wat die beste sal aard onder sy besondere omstandighede en wat so na as moontlik aan sy ideaal kom. In hierdie opsig behoort sy ideaal te wees: - 'n goed geboude, groot gladdelyfskaap met lang wol van goeie kwaliteit, wat in verhouding is tot die weidingspeil van die betrokke streek.

Deur verder ook die gereelde oorslaanooie, gereelde weggooiers en die ooie wat onvoldoende melk het vir hul lammers, uit te skakel, sal boere 'n groter lampersentasie en beter gevoede lammers verkry, en minder moeite met lamtyd ondervind.

Aangesien merinoskape maar 'n swak melkras is, moet melkproduksie by hulle noukeurig dopgehou word en dus sal seleksie in hierdie rigting 'n belangrike faktor in ons kuddes van die toekoms moet wees.

Op slot van sake is die hoofoogmerk en die vernaamste voordeel van klassering die uitskakeling van aIle ongewenste en minderwaardige ooie om eenvormigheid te verkry en die standaard en betalendheid van die kudde te verhoog, sodat elke skaap 'n goeie inkomste sal lewer, selfs wanneer pryse vir vleis en vir wol op 'n betreklik lae peil is.

Dit sal seker vir elkeen duidelik wees dat 'n kudde met 'n hoë persentasie onbetalende skape ‘n finansiële bedreiging vir die eienaar beteken en ongesond is vir die nywerheid as geheel.

Die opbou van 'n kudde kan nie in een jaar voltooi word nie, en daarom moet die ooie dus gereeld elke jaar noukeurig geklasseer word. Deur altyd die getalle en die gehalte van die verskillende groepe te vergelyk, bly die boer op hoogte van sake betreffende die vooruitgang al dan nie van die produksievermoë, ens., van sy kudde.

Terselfdertyd kry hy ook 'n geleentheid om die standaard van die goedgekeurde ooie te ontleed en vas te stel watter eienskappe verbetering vereis en watter reeds al genoegsaam opgebou is.

Hierdie studie of waarneming verskaf dan 'n nuttige leidraad met die uitsoek of seleksie van die ramme wat vir die kudde nodig sal wees.

 

Geskikte Ramme

Terwyl die klassering van die ooie 'n belangrike rol speel by die verbetering van 'n kudde, sal hierdie werk grotendeels verydel wees indien daar nie met nougesetheid aandag gegee word nie aan die ramme wat by die ooie gebruik word.

Enige verbetering op die gehalte van die ooie en die instandhouding van die reeds verbeterde eienskappe sal deur teling moet geskied. Die ramme moet dus in die eerste plek nie dieselfde foute besit waarvoor ooie afgekeur is nie, anders sal dieselfde foute jaar na jaar, en moontlik ook in 'n strawwer mate, weer by die afstammelinge aangetref word. Die ramme moet ten minste geteel wees uit 'n tipe stoetskaap wat dieselfde is as wat in die kudde beoog word om die nodige mate van eenvormigheid te behou. Die ramme moet die algemene tekortkomings van die kudde kan verbeter en moet ook die reeds voortreflike hoedanighede in stand kan hou en bestendig, deur self in beide genoemde opsigte goed te wees.

In sommige kuddes sal veral op verbetering gelet moet word, terwyl in ander die instandhouding van die vereiste standaard van die reeds verbeterde skape meer die aandag sal moet geniet.

Al is die ooie in dieselfde kudde nie almal van dieselfde standaard nie, word nogtans 'n stel ramme van dieselfde gehalte vir die hele kudde aanbeveel. Egaligheid van tipe en sover moontlik ook van bouvorm en woleienskappe, moet die groot oogmerk wees met die uitsoek van 'n stel ramme. Hierdie verbeteringswerk vereis dus heelwat noukeurigheid te meer nog as die boer in gedagte hou dat 'n aansienlike som geld in die onderneming belê word.

Kudderamme moet redelik groot, goed gebou en glad van lyf wees. 'n Ligte nekkraag en klein lyfplooitjies is toelaatbaar, maar ramme met plooie, en plooie in die omgewing van die stert, moet sover moontlik vermy word. Die wol moet 'n goeie lengte hê, d. w.s. ongeveer 3½, duim of langer wees, en goeie kwaliteit besit. Die hoeveelheid wol wat hulle dra, moet nie te oordrewe wees in verhouding tot die wat die ooie onder gewone veldtoestande vir die omgewing kan produseer nie. Kudderamme wat gemiddeld tussen 15 en 20 pond wol van redelik ligte kondisie gee, sal goed beantwoord vir hamelteeltdoeleindes.

Die prys van sulke kudderamme moet in verhouding staan tot die prys van kuddeskape en tot die gemiddelde inkomste wat 'n kuddeskaap kan lewer. Onekonomies hoë pryse vir kudderamme is ongesond en boere behoort vir die beste kudderamme hoogstens £15 te betaal. 'n Stel ramme van verskillende tipes of met opvallende foute in die bouvorm en/of die wol, kan nooit die gewenste verbetering van die kudde bewerkstellig nie.

Die gebruik van 'n goeie stel egalige ramme by ongeklasseerde ooie sal bepaald voordeliger wees as 'n onegalige stel minderwaardige en foutiewe ramme by goed geklasseerde ooie.Terwyl die ooi haar tekortkomings op een lam per jaar en gemiddeld miskien nie meer as op vyf lammers in haar leeftyd oordra nie, laat die ram sy invloed geld op gemiddeld 50 lammers per jaar en op 'n hele paar honderd gedurende die tydperk wat hy gebruik word. Onthou dat dit baie makliker is om foute in 'n kudde te teel as wat dit is om dit weer daaruit te kry. Vermy dus die gebruik van 'n slegte ram sover moontlik.

 

Voeding en Weiding

'n Verbeterde kudde vereis natuurlik ook beter weidingstoestande. Sodra die skape se produksievermoë groter word as gevolg van die klassering van die ooie en die gebruik van goeie ramme, is die verskaffing van genoeg voeding noodsaaklik.

Gebrek aan genoegsame voeding as gevolg van swak weiding- of versuim om byvoer gedurende die winter of in tye van droogte te verskaf; maak dit onmoontlik vir die dier om die maksimum opbrings van vleis of wol te lewer. Onder sulke omstandighede sal alle pogings tot verbetering in 'n groot mate verydel wees.

Om die maksimum produksie te verkry, sal dit seker vir elkeen duidelik wees dat 'n skaap wat bv. 100 lb. weeg met 'n vag van 10 lb., meer voeding nodig het as een wat ongeveer 70 lb. weeg en 6 lb. wol lewer. Dis gevolglik baie belangrik dat die verbetering van die produksievermoë van die kudde in verhouding moet staan tot die peil van voeding wat beskikbaar gestel kan word.

Aangesien verbeterde of betalende skape se inkomste soveel hoër is, kan 'n kleiner getal op. dieselfde weiding aangehou word as wat nodig is in die geval van minderwaardiges om dieselfde inkomste te lewer. As die veld deur minder skape bewei word, kan die weidingswaarde daarvan op 'n redelik hoë peil gehou word, aangesien daar dan minder pote is om die weiding en grond te vertrap. Daar sal ook minder gevaar wees dat die beste gewasse vernietig word en dat grondverspoeling sal plaasvind.

Goeie behandeling, die voorsiening van skuiling en skaduwee deur die aanplant van bome of klein plantasies in die veld, en die verskaffing van goeie voeding dwarsdeur die jaar, volop skoon drinkwater en lekke in die kampe, hou die skape gesond en in goeie kondisie. Die vagte van die skape is dan gewoonlik aantreklik, lywig, lank, egalig in veseldikte, en besit goeie treksterkte. Die; ooie neem gewoonlik goed ram; en sterk en gesonde lammers kom aan. Sulke skape is meer bestand teen ongunstige weers- en klimaatstoestande, en die ooie gee ook min moeite met lamtyd. Dit moet egter onthou word dat die beste melkdier nie melk kan lewer sonder kos nie. Wanneer weidingstoestande goed is, word die hele bestuur van .die skaapboerdery vergemaklik. Vir die eienaar verskaf dit ook die grootste plesier om te boer met skape wat gesond, goed gevoed en vol lewe is.

Verhongerde, maer diere, vat moedeloos oor die veld aansukkel om 'n bek vol kos te kry, kan nie goeie vleis en wol produseer nie en nog minder 'n lam in die wêreld bring en dit ook grootmaak. Maer skape se vagte is gewoonlik tenger, kort, fyn en sonder lywigheid.

'n Onverbeterde kudde wat op goeie weiding gehou word en dus altyd in goeie kondisie is, sal eerder 'n bate wees as 'n goed verbeterde kudde wat verwaarloos word deur gebrek aan voeding, slegte versorging, nalatigheid, of onoordeelkundige beheer van die beskikbare weiding op die plaas. Bykomstige voeding sal gedurende tye van droogte aan die skape verskaf moet word. In die geval van 'n goeie skaap is die koste daaraan verbonde geregverdig, want dit word deur sy groter produksievermoë weer vergoed wanneer beter tye aanbreek. Prulle en minderwaardige skape is nie daartoe in staat nie. Hulle is nie eens in staat om hul bestaan op die plaas in goeie tye te regverdig nie. Om hierdie rede word hulle dikwels die " vry loseerders" of ." parasiete" genoem. Hulle vreet net soveel en geniet dieselfde en soms beter versorging en behandeling as die goeies, maar lewer 'n geringe inkomste en dus moet die goeie skape in werklikheid vir hul onderhoud betaal.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 20