Last update: April 10, 2012 09:40:10 AM E-mail Print

 

Die Merinoskaapboerdery in Suid-Afrika

J. C. de Klerk en S. W. Bosman

 

DIE vooruitgang van die skaap- en wolbedryf in Suid-Afrika hang ten nouste saam met die ekonomiese ontwikkeling van die land. Voor die koms van die blanke beskawing was die Hottentotte aan die Kaap reeds in besit van inheemse Kaapse vetstertskape. Jan van Riebeeck wat belas was met die voorsiening van vars lewensmiddele, o.a. vars vleis en groente aan verbygaande skepe, het dan ook spoedig 'n ruilhandel met die inboorlinge probeer opbou. As gevolg egter van die nomadiese trekgewoontes van die Hottentotte weens droogtes en ander oorsake, was hierdie handel baie sporadies, met die gevolg dat die Kommandeur vleisproduksie by die Koloniste aangemoedig het.

Volgens Thom, het die eerste wolskape in 1657, dus slegs vyf jaar na die stigting van die volksplanting aan die Kaap, hul verskyning op Suid-Afrikaanse bodem gemaak. Kommissaris Ryckloff van Goens was verantwoordelik vir die invoer. Die getal skape was egter slegs 10 en in vergelyking met die egte Spaanse skape van daardie tyd, was hulle van minderwaardige gehalte. Aangesien vleis die hoofdoel was, is hierdie woldraende skape met die harige inheemse skape gekruis. Hoewel die grondslag van die skaapbedryf dus vroeg reeds gelê was, was dit die skaapvleisbedryf wat as eerste doel gestel was. Die werklike grondslag van die wolbedryf sou eers later gelê word.

 

Begin van die Merinoskaapbedryf

Die oorsprong van die wolbedryf dagteken uit die tydperk toe die son van die Nederlands Oos-Indiese Kompanjie reeds aan die ondergaan was. Die Kompanjie was geldelik nie meer daartoe in staat om groot somme geld te spandeer om 'n problematiese bedryf op die been te bring nie.

Die eerste doelbewuste invoer van wolskape het in 1789 plaasgevind, toe kolonel R. J. Gordon, militêre gesagvoerder van die Kompanjie aan die Kaap, vier egte Spaanse Merino-ooie en twee ramme van die Nederlandse regering ontvang het. Oorspronklik was dit 'n geskenk van die Spaanse Vorstehuis. Die eerste tuiste van hierdie kosbare diere was op Groenkloof naby die teenswoordige Malmesbury, waar die ras suiwer gehou is en vinnig aangeteel het. 'n Paar ramme is aan boere verkoop en hulle is gebruik om die inheemse skape op te gradeer.

In 1795 vind daar 'n keerpunt plaas in die geskiedenis van die Kaap, toe dit vir die eerste keer deur Engeland verower is. Kolonel Gordon pleeg selfmoord en sy kudde skape word saam met sy besittings uitverkoop.

Toevallig was daar op die tydstip twee Australiese skepe in Tafelbaai. Twee belangstellende skeepsoffisiere, Waterhouse en Kent, koop die skape (26 in getal) en die kudde het die kern gevorm van die Australiese Wolskaapbedryf te Camden Park (naby die huidige Sydney) onder leiding van die twee groot kampvegters Samuel Marsden en kaptein MacArthur van die Australiese wolbedryf.

Hierdie eerste Spaanse skape was die Eskuriaal-tipe wat, hoewel klein in liggaamsbou, veral bekend was vir sy fyn wol. Dit was ook die stamkudde van die latere Saksiese Merino wat in Duitsland soveel opgang gemaak het en in groot getalle na Suid-Afrika en Australië uitgevoer is.

Danksy die ondernemingsgees van die vroeëre belangstellendes in die wolskaap, het die invloed van die eerste Spaanse Merino's nie geheel en al vir die Kaap verlore gegaan nie. Onder hierdie baanbrekers vind ons die van gebrs. van Rénen wat. reeds in 1792 drie ramme van Gordon gekry het en hulle met 300 uitgesoekte wit Kaapse ooie gepaar het. Met die ontbinding van die vennootskap in 1795 het elkeen van die broers; Jan Gysbert en Sebastiaan Valentyn, 150 basterooie en twee opregte ramme ontvang. Sebastiaan Valentyn het ook nog voor die dood van Gordon, twee opregte ooie van hom gekry en daardeur die fondament gelê van 'n suiwergeteelde kudde.

'n Opvallende verbetering in die wol van die Kaapse skape is aangebring deur die toevoeging van Spaanse bloed.

Dit word beweer dat uitgegroeide Spaanse skape tot agt lb. wol gelewer het en goeie basterskape van vier tot vyf lb. wol.

As gevolg van die baanbrekerswerk van die gebrs. van Rénen en hul sukses met die oordeelkundige opgradering . van Spaanse skape, het ander boere heel spoedig hul voorbeeld begin volg. So vind ons, byvoorbeeld, die vennootskap J. F. Reits en M. Van Breda wat ook, net soos die gebrs. van Rénen, deur sistematiese teling en aankoop van goeie remme, so vinnig gevorder het dat hulle vroeg reeds ramme aan hul medeboere kon verkoop. Hulle het ook Saksiese ramme uit Duitsland, en Rambouillet ramme uit Frankryk ingevoer.

 

Vooruitgang Gedurende die 19de Eeu

Onder die Britse bewind is in 1812 Eskuriaal-, Negretti- en Saksiese Merinoskape ingevoer met die doel om 'n geskikte tipe wolskaap vir die land te ontwikkel. In Darling, bv., is 'n Regeringsproefplaas gestig en die Regering het ook 'n Kommissie aangestel wat die land deurreis het en hulle het van die beste ooie opgekoop. In 1815 het lord Charles Somerset 10 ramme en 25 ooie van die Spaanse Merinotipe vir die proefplaas ingevoer. Drie jaar daarna het hy 'n verdere 10 ramme en 50 ooie ingevoer, en later nog meer. Die proefplaas het die boere van ramme voorsien vir gebruik in hul kuddes.

Die Regering het die waarde van die wolskaap begin besef, en streng beheer is toegepas. Boere moes, bv., eers verlof kry om ramme aan te koop, maar hulle moes eers gekeur word vir aanteeldoeleindes en die boere is nie toegelaat om woldraende skape te slag nie. Met die koms van die Britse Setlaars in 1820 het die bedryf verder uitgebrei na die oostelike Kaapprovinsie en verder na die binnelande. Nuwe bloed is met gereelde tussenpose ingevoer, o.a. die welbekende Kew Gardens-Merinokudde wat, na die dood van Koning George III van Engeland, na Suid-Afrika oorgeplaas is. 'n Belangrike invoer het ook vanuit Australië plaasgevind, die eerste in 1829 en weer daarna in 1834. Landbouverenigings, en selfs spekulante, het die aankoop van stoetvee in Australië en Duitsland begin organiseer, en op die wyse is van die beste Merinobloed vir Suid-Afrika verkry.

Hierdie belangrike ontwikkelings het juis op die vooraand van die Groot Trek plaasgevind, met die gevolg dat die Trekkers die Merinoskaap verder na die onbekende binneland geneem het en heel spoedig gevestigde kuddes daar tot stand gebring het. Hierdie kuddes is enkele jare daarna baie versterk deur die invoer van goeie Merinoskape, soos byvoorbeeld die van die here Dennison van Somerset-Oos, en van du Plooy en McCabe van Graaff-Reinet. na die Oranje-Vrystaat.

In die tweede helfte van die 19de eeu het skaapboerdery in Suid-Afrika eers werklik groot vordering begin maak, toe diamante en goud in die noordelike gebiede ontdek is. Die mynbedryf het 'n mark vir slagvee en ander produkte geskep en die ontwikkeling van spoorweë en paaie bespoedig.

Teen 1860 is die eerste Franse Rambouillets ingevoer wat heelwat groter was as die Saksiese en Australiese skape. 'n Belangrike invoer het ook sedert 1870 vanuit Australië plaasgevind.

 

Veredeling van die Merino Vanaf 1890

Sedert 1890 het 'n nuwe rigting of " mode " met die teling van Australiese en Suid-Afrikaanse Merino’s sy verskyning gemaak. Dit was, naamlik, die Amerikaanse Vermont, waarvan die eerste invoer van drie ramme in 1890 deur J. Orpen van Barkly-Oos plaasgevind het.

Die Vermont was bekend vir sy oormatige plooi-ontwikkeling, met wol tot in die gesig en laag aan die bene. Sy uitstaande kenmerk was sy kompakte en hoë gewig vagwol wat aansienlik hoër was as die van enige ander wolskaap van daardie tyd. As gevolg van hul sukses op tentoonstellings, het die ras groot populariteit verwerf, en Vermontbloed is baie onoordeelkundig in kuddes gebruik. Die rede vir hierdie geweldige opgang in die populariteit van die Vermonts was te danke aan die feit dat daar destyds met wolverkopings geen onderskeid gemaak is tussen goeie en slegte wol nie, en hoe swaarder die wol was, des te voordeliger vir die boer. En hierdie ekstra gewig in wol was net wat die Vermont gelewer het (tot 32 lb. Wol is van 'n skaap geskeer)-m.a.w. gewig van wol was ongetwyfeld van baie meer belang as die gehalte daarvan. Mettertyd het die ondervinding egter begin leer dat hierdie tipe skaap sekere inherente swakhede het. Dit is, byvoorbeeld, bevind dat, hoewel die vaggewig baie hoog was, die skoonopbrengs daarvan baie laag is, wat te wyte is aan oormatige vet of olie in die wol. Kopers was dan ook nie bereid om hoë pryse vir die soort wol te betaal nie. Onegaligheid in die fynheid van die vag was opvallend en. les bes, het die skaap gebrek aan aanpassingsvermoë getoon op skraal veld wat onderhewig is aan droogtes. Oormatige plooi-ontwikkeling het hom ook swak bestand teen brommeraanvalle gemaak.

Nieteenstaande hierdie tekortkomings, het die Vermont sy besondere eienskappe baie duidelik op Suid-Afrikaanse kuddes oorgedra en dit is na jare nog waarneembaar.

'n Ernstige ontwrigting het in Transvaal en Oranje-Vrystaat voorgekom met die uitbreek van die. Anglo-Boereoorlog van 1899-1902. Na die oorlog het elke provinsie sy eie Departement van Landbou verkry en 'n sekere mate van verbrokkeling het ontstaan wat betref eenvormigheid van optrede en beleid. Eers na unifikasie in 1910, het 'n uniale Landboudepartement ontstaan. Deur middel van 'n opgeleide personeel, waarvan 'n groot aantal hul opleiding in Australië ontvang het, het die Departement sy ernstige aandag aan die bevordering van die wolskaapbedryf gewy. (Hier moet in gedagte gebring word sulke bekende skaap- en woldeskundiges soos C. Mallinson, J. F. McNab, W. M. McKee, J. J. McCaII, Percy Taylor en andere, wat die Regering vanuit Australië gekry het om boere met die nodige voorligting te bedien.)

Sedert die Anglo-Boereoorlog en veral na die stigting van die Unie, is stoetvee in toenemende mate vanuit Australië ingevoer. Twee tipes, naamlik die WanganelIa (met 'n groot bouvorm en ‘n lang wol van hoë skoonopbrengs) en die Tasmaniese skaap (ietwat kleiner in liggaamsbou dog met 'n fyner en korter wol van laer skoonopbrengs as eersgenoemde) is ingevoer. Die rede waarom daar na WanganelIa- en Tasmaniese bloed oorgeslaan is, was omdat genoemde Australiese skaap- en woldeskundiges reeds ondervinding gebad het van wat in Australië met die Vermont gebeur het. Gevolglik is besluit dat daar net een uitweg was om die Suid-Afrikaanse kudde, wat toe klein, geplooid en 'n swaar wol gedra het, weer reg te kry en dit was om gebruik te maak van die Australiese Wanganella. Die Tasmaniese skape was veral bekend vir hul pragtige fynwol en is later ook heelwat gladder geteel. Hierdie skape het hul invloed ten goede laat geld op die Suid-Afrikaanse kuddes. Met die vinnige vordering van die Unie se wolbedryf, beide wat kwaliteit en kwantiteit betref, het die Australiese regering uit vrees vir ernstige konkurrensie, in 1926 'n verbod geplaas op die uitvoer van Merinoskape na Suid-Afrika. Hoogstaande stoeterye, waarvan sommige al vanaf 1850 bestaan het, was reeds oral in die land gevestig.

'n Kenmerk van die periode vanaf 1904 tot 1930 is die verbasende vooruitgang wat die Merinoteelt in Suid-Afrika ondergaan het. In geen ander land ter wêreld het die skaapbevoIking so vinnig uitgebrei soos die Unie in genoemde tydperk nie. Van 'n onbelangrike wolproduseerder aan die begin van die eeu, het die Unie ontwikkel tot die 4de grootste wolproduserende land van die wêreld in die tyd, en tot die tweede grootste produseerder van fynwol. Wol het dan ook die vernaamste landbouproduk van die Unie geword en, naas goud, die vernaamste uitvoerproduk.

 

Stremmende Faktore

Hoewel die Merinobedryf 'n baie nederige begin gehad het met die ontstaan van die volksplanting, maar mettertyd ontwikkel het tot een van ons vernaamste landboubedrywe van die huidige eeu, het die ontwikkeling nie altyd sonder ernstige teenslae plaasgevind nie.

Die eerste was die feit. dat Spanje tot aan die einde van die 18de eeu die wêreldmonopolie van die Merino gehad het. Daar was 'n strenge verbod op die uitvoer van Merino’s, en smokkelaars is selfs met die dood gestraf. 'n Geleidelike verandering het egter mettertyd ingetree toe die Spaanse Vorstehuis begin het om van sy kosbare diere as geskenke aan ander Vorste te gee. Op die wyse het van die eerste Spaanse Merino’, wat aan die Nederlandse regering geskenk is, hul weg na Suid-Afrika gevind.

Die Spaanse beskermingsmuur is finaal verbreek deur Napoleon Bonaparte wat Spanje binnegeval het. Die Merinoskaap is daardeur vir die wêreld vrygestel.

'n Tweede faktor was die houding van die regering aan die Kaap wat baie bevooroordeeld teenoor die wolskaap was, omdat hulle van mening was dat dit te maklik aan siektes vrek, nie gehard is onder ongunstige toestande nie en me so vrugbaar is soos die oorspronklike inheemse skape nie. Die verandering het eers gekom toe boere op eie inisiatief die saak begin aanpak het.

Ten derde is die feit dat die land nog onontwikkel was en die veetroppe van die boer was dikwels die prooi van inboorlinge en ongediertes.

Die vierde faktor is siektes en plae. Die pionierboere moes al gou kennis maak met 'n legio van veesiektes en plae wat jaarliks groot getalle slagoffers geëis het. Onder andere kan genoem word brandsiekte, lamsiekte, bloedpens, longsiekte, hartwater, bloutong, jaagsiekte en giftige plante. Wetenskaplike dienste om die siektes te diagnoseer en te bestry, het nog nie bestaan nie en boere moes op hul eie vindingrykheid staatmaak om verliese te beperk. Baie van die hedendaagse siektes was waarskynlik reeds vroeg hier aanwesig, maar is nooit as sulks herken nie. Wurmparasiete, soos haarwurm, het ook hul verskyning gemaak, en verder was daar sprinkane wat die land van tyd tot tyd oorval en die weiveld totaal verwoes het.

Die vyfde faktor is die onreëlmatigheid van die klimaatstoestande. Droogtes en oorstromings het die land van  tyd tot tyd geteister - verskynsels waarmee die hedendaagse boer maar al te goed bekend is.

'n Ander faktor is die van bemarking. Daar was geen behoorlike stelsel van bemarking nie; pryse was wisselvallig en heel dikwels onekonomies.

Die laaste faktor was die van gehegtheid aan die ou Kaapse skaap. Die skaap was nie net alleen bekend vir sy vleisproduksie nie, maar ook vir sy vet. wat vroeër 'n belangrike rol gespeel het met die vervaardiging van seep en kerse, en dit was dus 'n belangrike handelsartikel. So vind ons, byvoorbeeld, dat daar op die Grahamstadse produktemark van 17 Januarie 1833 allerlei produkte verkoop is soos ivoor, velle, horings, leer, botter, 'n bietjie wol en, onder andere, ook vet ter waarde van £4,820 12s.

 

Ontwikkeling van die Wolmark

Reeds in die tyd van die Hollandse Oos-Indiese Kompanjie is wol van Suid-Afrika uitgevoer en, volgens Thom, is die eerste besending wol in die jaar 1700 na Nederland uitgevoer. Dit het bestaan uit 285 lb. van 'n baie lae gehalte. Die Kompanjie het die wol van die boere opgekoop en weer daar op publieke veiling in Nederland verkoop.

Die vroegste metode van bemarking het bestaan uit die verkoop of ruil van die produk aan winkeliers, wat weer die wol verhandel of na oorsese marke uitgevoer het. Die hoofkenmerk van die handel was dat dit hoofsaaklik 'n ruilhandel was. Die winkeliers se kennis van wol was maar baie beperk met die gevolg dat geen onderskeid gemaak is tussen goeie en slegte wol nie. Gevolglik was die boere ook dikwels onverskillig in die klassering van hul wol, en valsverpakking het dikwels voorgekom. Die gevolg was dat Suid-Afrika 'n slegte naam op die wêreldmark verkry het.

Die wolhandel het egter stadigaan so aantreklik begin word dat reisende spekulante die boereplase besoek het om die wol op te koop. Spoorweë en hawens het mettertyd ontwikkel as gevolg van die ontwikkeling in die binneland, en handelaars in primêre produkte het hulle aan die kushawens gevestig. Hierdie handelaars het die wol van spekulante of direk van die boere verkry en dit, of per publieke veiling op die plaaslike produktemark verkoop, of na Engeland verskeep waar dit per publieke veiling aangebied is. Milde voorskotte is deur sommige handelaars aan boere aangebied vir verskeping van die wol na die Londense mark.

Onder omstandighede was produsente egter baie oningelig oor heersende markpryse en hulle het feitlik geen seggenskap gehad in die bepaling van pryse nie. Hierdie toestand het ontstaan as gevolg van verskeie faktore soos die volgende:-

(i) Gebrek aan die nodige vervoerfasiliteite.

(ii) Uitgestrektheid van die land.

(iii) Onkunde van die boer oor die pryse van wol weens 'n gebrekkige kommunikasiestelsel.

(iv) Die lewensbehoeftes van die boere was gering en beperk tot die primêre lewensbehoeftes.

(v) Beperkte kompetisie op plaaslike marke.

 

Die ontwikkeling van primêre marke in hierdie hawens het eers gedurende die laaste helfte van die vorige eeu ontstaan, en in die huidige eeu is die ontwikkeling voortgesit en uitgebrei. Die eerste marke het ontstaan in plekke soos Graaff-Reinet, Grahamstad en Bloemfontein, dog is mettertyd gekonsentreer aan die kushawens: Durban, Oos-Londen, Port Elizabeth, Kaapstad en Mosselbaai.

Produsente het verder nog die moeilikheid ondervind dat hulle ongeorganiseerd was, en al die verkopingswerk is gedoen deur private makelaars aan die kus.

 

Ondernemingsgees van Makelaars

AIle tekens was daar dat die gesentraliseerde wolhandel aan die kushawens, sake kragtig begin aanpak het en makelaars het met mekaar gekonkurreer om boere en binnelandse handelaars te beweeg om hul wol op die beste manier vir verkoop aan te stuur. Makelaars het hulle nie net bepaal by die verkoop van hul kliënte se wol nie, maar het ook getrag om hulle te help. met informasie insake die teelt en beste wyse van voorbereiding vir die mark van hul skeersels. Van die wolkopers self het ook na die binneland gegaan om boere daadwerklik advies te gee. So, byvoorbeeld, het mnr. W. F. Earle, een van die vernaamste kopers van Durban, op 13 April 1910 'n voorlesing kom gee aan boere op Bloemfontein. Hy het die hoedanighede bespreek van wol wat die fabrikant graag verlang en waarvoor by gewillig is om die meeste geld te betaal, en noem die volgende punteskaal: -

 

Skoonopbrengs                      25 punte.

Egaligheid van kwaliteit            20 punte.

Gesondheid                            15 punte.

Lengte van stapel                    10 punte.

Rekbaarheid                            10 punte.

Weef- en veltvermoë                10 punte.

Sagtheid op gevoel                     5 punte.

Kleur                                         5 punte.

                                             100 punte.

 

Die eerste punt word dan op die volgende wyse verder verduidelik:-

"U sal merk dat uit 'n totaal van 100 punte, nie minder nie as 25 aan skoonopbrengs toegeken word, en tereg ook, aangesien kondisie; d.w.s. die grootste hoeveelheid skoongewaste wol wat vir die fabrikant beskikbaar is, die vernaamste faktor is wat die prys van vetwol bepaal. Dit is 'n saak wat nie deur baie produsente goed begryp word nie, maar ek wil graag aan hulle verduidelik dat, vir elke vyf persent hoër skoonopbrengs, daar meer as 'n dubbeltjie verhoging is in vetwolprys per lb., indien al die ander puntetoekennings dieselfde is. Die grootste gedeelte van die Vrystaatse wol sal meer as 58 persent in die wasproses verloor, sommige selfs 80 persent. Dit beteken dat 100 lb. vetwol sowat 20 tot 42 lb. gewaste wol sal lewer. Ek noem u feite wat bewys is en nie somaar raaiwerk nie."

 

Ko-operatiewe Wolbemarking

Ongelukkig het baie wolmakelaars nie volle bevrediging aan hul kliënte gegee nie. Dit. was moeilik om te bepaal wie van hulle slegs verkopers was, wie kopers en wie beide kopers en verkopers van wol was. 'n Ander moeilikheid het gegaan oor die wyse van verkoop, want 'n gedeelte van die wol is deur private onderhandeling verkoop en is nooit op publieke veilings van die band gesit nie. Hierdie toestand was onbevredigend en het daartoe bygedra dat organisasie en samewerking in die bemarking van wol te weeg gebring is. Makelaars, kopers en produsente het hul kragte gekoĊ‘rdineer en organisasies gevorm om hul belange te behartig en te beskerm. Die wolboere het Wolkwekersverenigings gestig waaruit later die Nasionale Wolkwekersvereniging gebore is.

Die boere self het ook makelaarsbesigbede op 'n ko-operatiewe grondslag in die lewe geroep. Die vernaamste boerekoĊ‘perasies wat sedert 1919 gestig is, is die Boere Ko-operatiewe Wol- en Produkte-Unie Beperk (F.C.U.) wat in 1919 gestig is; die Boere Saamwerk Beperk (B.S.A.) in 1920; en die Ko-operatiewe Wolmaatskappy (K.W.B.) in 1927.

Hierdie ko-operatiewe wolverenigings het sedert hul ontstaan, 30 jaar gelede, geweldig uitgebrei en hulle hanteer tans gesamentlik meer as die helfte van die Unie se wolskeersel.

'n Kenmerk van die ko-operatiewe maatskappye is dat hulle nie alleen die wol van hul kliënte hanteer nie, maar die lede ook voorsien van allerlei plaasbenodigdhede. Bowendien beskik hulle ook oor 'n uitgebreide veldpersoneel wat tot beskikking van die boer gestel word om hom te help met die klas en opbou van sy kuddes. Daar bestaan 'n ywerige wedywering tussen die verskillende wolmaatskappye, met die gevolg dat hulle vandag van die beste dienste aan boere kan lewer.

 

Boere-organisasies

'n Kenmerk van die pionierboer is sy selfstandige en indiwidualistiese optrede. Namate die Merinobedryf ontwikkel het, het dit al meer en meer noodsaaklik geword om organisasies en verenigings in die lewe te roep ten einde die belange van die bedryf te bevorder en om probleme van algemene aard die hoof te bied. 'n Voorbeeld van so 'n gesamentlike optrede onder boere vind ons reeds sover terug as 1831. 'n Organisasie bekend as die “Genootschap tot het aanmoediging van de teelt van Merinoscbapen en het winnen van wol voor uitvoer" is op 7 November 1831 op 'n openbare vergadering in Kaapstad gestig. Later is die vereniging in die Kaapse Landbouvereniging opgeneem.

In die oostelike Kaapprovinsie is die " Joint Stock Company" gestig wat bom veral ten doel gestel het vir die invoer van suiwer skape uit Saksen.

Verskillende landbougenootskappe is ook gestig, waarvan die eerste in1824 in Graaff-Reinet was. Hierdie genootskappe het hulself beywer vir die verbetering van die Merino deur geskikte ramme aan lede beskikbaar te stel. Landbouverenigings is ook later in die noordelike provinsies gestig. Finansiële hulp is van die betrokke regerings verkry wat in aIle gevalle die bevordering van die wolskaapbedryf ten sterkste gesteun het.

'n Belangrike voorwaartse stap is geneem toe 'n Wolgroeiersvereniging, bekend as die "National Association of Wool and Mohair Growers", in 1906 in Port Elizabeth gestig is. Hierdie vereniging het homself veral beywer vir die sistematiese klassering en verpakking van wol ten einde die swak naam wat die Suid-Afrikaanse wol op die wêreld mark gehad het, teen te werk. Daar -is streng reëls voorgeskryf vir die skeer en verpakking van wol, en van veel betekenis is die feit dat wol van lede wat aan sekere vereistes voldoen het, onder 'n nasionale merk bemark kon word.

 

Imperiale Wolaankoopskema (1917-1919)

'n Belangrike gebeurtenis op die gebied van wolbemarking was die Imperiale Wolaankoopskema van die Wêreldoorlog 1 (1914-1919). Destyds het dieselfde vraagstukke ontstaan as die van Wêreldoorlog 2, namelik, die van koperslande, skeepsvervoer e.d.m. Die Britse Regering het toe aangebied om die hele Australiese en Nieu-Seelandse skeersel vir die seisoen 1917-18 aan te koop op 'n basis van ongeveer 55 persent hoër as die heersende markpryse van voor die uitbreek van die oorlog. Die gevolg van die aanbod was 'n skerp styging in die prys van ekstra super wol en vir die eerste maal in die wolgeskiedenis van Suid.Afrika tree gehalte nou op die voorgrond as van net soveel belang as die blote gewig of hoeveelheid van die wol.

Tot in ,1916 was Japan 'n onbelangrike koper in Suid-Afrikaanse hawens. Toe hulle egter vind dat die Australiese wol almal aan die Britse Regering toegesê is, het hulle skerp mededingers op Suid-Afrikaanse marke begin word en 'n tweede "boom" veroorsaak vir wol van Super gehaltes. Die ou opvatting dat gewig die enigste vereiste vir wol is, is nou finaal die nek ingeslaan en dit het tot produsente deurgedring dat hoeveelheid van wol onafskeidbaar gepaard moet gaan met gehalte. Gehalte het dus die kern gevorm van die bemarkingsvereistes en teeltrigtings van die naoorlogse jare.

Hierdie Imperiale Wolaankoopskema is van besondere betekenis omdat dit feitlik " oornag " bewaarheid het wat die kampvegters van beter gehalte wol al jare lank bepleit het dog nie die middel gebad het om die beleid as grondslag aanvaar te kry nie.

Tot in groot mate kan ook dieselfde gesê word van die Britse Wolaankoopskema van Wêreldoorlog 2 wat andermaal oortuigend getoon het dat hoeveelheid onafskeidbaar gepaard moet gaan met kwaliteit; dat dit lonend is om alleen die beste produk te kweek en dat die grondslag tot sukses van enige bedryf berus op kwaliteit sowel as kwantiteit.

 

Wolbemarkingstoestande in die Twintigerjare

'n Belangrike gebeurtenis kenskets die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse skaap- en wolbedryf toe die Departement van Landbou in 1920 vir mnr B. G. L. Enslin, Hoof van die Afdeling Skape en Wol, oorsee gestuur het om ondersoek in te stel na die Wolindustrieë van Groot-Brittanje en die Verenigde State van Amerika, en om na te gaan -

(a)hoe Suid-Afrikaanse boere hul wol moet verpak en aan die mark moes afstuur; en

(b) in watter opsigte Suid-Afrikaanse wol en sybokhaar tekortskiet aan die vereistes van fabrikante en hoe die gebreke verhelp kon word.

 

Sommige van die merkwaardige bevindings van mnr. Enslin verdien dan ook om hier in oënskou geneem te word.

 

(1)   Metode van wolverkopings:

Ongeveer 60persent van die wolprodusente het hul wol toe nog verruil of verkoop aan binnelandse winkeliers, handelaars of spekulante en slegs 40 persent het hul wol direk na die kus gestuur vir verkoping aldaar op 'n kommissiebasis.

Die meeste van hierdie binnelandse kopers was geen wolkopers in die regte sin van die woord nie en hulle het geen kennis gehad van hoe om die skoongewaste opbrengs van die wol te skat nie. Derhalwe was die wol gekoop teen soveel per pond sonder inagneming van die veselfynheid daarvan en die skoon opbrengs. In die meeste gevalle is wol dan ook deur winkeliers gekoop en dit was niks anders as 'n ruilstelsel nie. Wat betref die wyse van verkopings in die verskillende hawens, was daar ook geen eenstemmigheid nie, soos uit die volgende blyk -

Kaapstad - Alle wol was hier volgens private ooreenkoms of uit die hand verkoop.

Port Elizabeth - Meer as driekwart van die wol was hier volgens private ooreenkoms verkoop en die restant op publieke veiling deur die Stadsbestuur.

Oos-Londen - Voor die oorlog het verkopings hier op dieselfde wyse plaasgevind as in Port Elizabeth dog daarna het verkopings op publieke veiling toegeneem.

Durban - Aan die hawe was daar twee afsonderlike verenigings, nl, die Wolkopersvereniging en die Wolmakelaarsvereniging. Hierdie verenigings het ooreengekom dat geen wol onder private ooreenkoms sal verkoop word alvorens dit nie eers op publieke veiling aangebied is nie.

Mosselbaai - Aan die hawe het publieke veiling een keer per jaar onder beskerming van die Munisipaliteit plaasgevind.

 

Aanbevelings:

Die aanbevelings was dan ook pertinent, naamlik (a) om aIle tussenagente uit te skakel deur wolprodukte direk na die naaste kushawe te stuur om die groots moontlike kompetisie te trek, en (b) aangesien die stelsel van publieke veilings aan die hawens van verskeping 'n onvoorwaardelike sukses in Australië geblyk het waar publieke veilings reeds in 1914 ingestel is, en in elke opsig meer bevredigend is as privaat verkopings of verkopings in die binneland, word aanbeveel dat publieke veilings toegepas word aan aIle Suid-Afrikaanse hawens vanwaar wol verskeep word.

Hierdie bevindings en aanbevelings van mnr. Enslin was van enorme belang, daar die binnelandse verkopings wat geen onderskeid gemaak het tussen slegte en goeie wol nie, klassifisering van die wol ontmoedig en slordigheid by produsente aangemoedig het, tot groot nadeel van die hele Suid-Afrikaanse skeersel.

Inteendeel, dis ook gevind dat oorsese fabrikante ernstig gekla het oor die gebreke van Suid-Afrikaanse wol omdat -

(1) die skeersels onreëlmatig was wat betref lengte en kwaliteit;

(2) die wol nie behoorlik geklasseer was nie, met kort en lang wol gemeng en selfs growwe en gekleurde wol gemeng met Merinowol.

 

Ander gebreke wat deur hierdie ondersoek aan die lig gekom het, was -

(3) te veel wol is geskeer op ses, agt en tien maande groei wat dit te kort gemaak het vir kamdoeleindes;

(4) te veel teerwol;

(5) dikwels oneerlik verpakte bale;

(6) die skoonopbrengs van sommige skeersels was baie laag weens te veel vetterigheid en vuiIis in die wol.

 

Wolklassering - Hierdie merkwaardige rapport het ook sterk klem gelê op die doel van behoorlike wolklassering, nl. om elke fabrikant die kans te gee om te koop wat hy nodig het ten einde onreëlmatighede te voorkom. Sy voorgestelde klassifikasie van vagwol volgens lengte, fynheid en gehalte toon dan ook 'n noue ooreenkoms met ons indeling van vandag wat betref spinnerswol, goeie kamwol en minderwaardige kamwol. Alle penswol en stukke en loks moes afsonderlik gebaal word.

Ten einde hierdie gewenste toestande te verwesenlik is aan die hand gedoen:-

(1) Die stigting van Wolkwekersverenigings om deur gesamentlike optrede sig te laat geld om hierdie verlangde verbeterings te weeg te bring wat ongetwyfeld die steun sou wegdra van wolmakelaars, kopers en fabrikante.

(2) Die stigting van Ko-operatiewe Verengings wat plaaslik hul eie verkopings kon organiseer.

(3) 'n Wolinspeksiediens vir aIle wol wat bestem is om uitgevoer te word, soortgelyk aan die "Bureau of Markets" van die Verenigde State.

 

Nasionale Wolwerkersvereniging

In 1931 is op Bloemfontein die Nasionale Wolkwekersverenigitig op nasionale grondslag gestig. Die groot mikpunt was die gesamentlike optrede van wolprodusente in verband met alle sake wat die wolnywerheid raak. Die beter verpakking en bemarking van wol en om in samewerking met die Wolraad die beskerming en bevordering van daardie nywerheid as sy hoogste plig te beskou. Hierdie organisasie, wat in baie opsigte 'n modelorganisasie is, word vandag as die offisiële mondstuk beskou van wolprodusente in Suid-Afrika en word as sulks erken, nie alleen deur die Unieregering nie, maar oor die hele wêreld.

Die N.W.K.V. het tans 'n ledetal van meer as 23,000, met takke orals oor die land versprei, sodat dit heeltemal verteenwoordigend van wolboere is en gesaghebbend kan praat oor alle sake rakende die skaap- en wolbedryf.

 

Stigting van Wolraad

Hierdie organisasie is in die begin van 1930 in die lewe geroep na aanleiding van die besluite van 'n spesiale kongres van wolboere wat deur die Suid-Afrikaanse Landbou-unie belê is op 18 September 1929. Die Raad het dadelik begin met die aanpak van die vernaamste vraagstukke van die dag, naamlik die van Organisasie van Wolboere en die Stelsels van Bemarking waaroor daar belangrike aanbevelings gedoen is.

Ander pligte van die Raad is om navorsing in verband met wol te bevorder en om propaganda vir wol te maak. 'n Belangrike ondervertakking van die Raad in die verband, is die instelling van die Internasionale Wolsekretariaat (in samewerking met Australië en Nieu-Seeland) in oorsese lande, met Londen as hoofkwartier, om wolreklame te maak en navorsing daar te bevorder.

 

Ramvendusies

'n Belangrike ontwikkeling in die jare 1915-16 was die instelling van die eerste ramvendusie op georganiseerde staal deur wyle mnr. John Roderick van Bloemfontein. Hy het sy eerste vendusie gehou op 22 September 1916 aan die Glenproefplaas en by die geleentheid het 'n spesiale trein die kopers van Bloemfontein na Glen gebring en op die Glen-sylyn gewag tot na afloop van die vendusie om die kopers weer terug te neem stad toe. Op daardie veiling is 1,900 ramme en ooie aangebied en die eerste rekordprys vir 'n ram in Suid-Afrika is behaal met die prys van £750 wat betaal is vir die Tasmaniese ram "Prince Charlie ".

Die instelling van hierdie jaarlikse ramvendusie in die sentrum van die Unie is van veel betekenis. Voorheen het so iets nie bestaan nie en het ongetwyfeld veel bygedra tot die teeltrigting wat deur skaaptelers ingeslaan is. Op die wyse is al meer en meer van die smousram " ontslae geraak, asook die geleidelike uitskakeling van spekulante-ramme wat van Amerika en Frankryk ingevoer is en vir Suid-Afrikaanse toestande heeltemal ongeskik is.

 

Nasionale Ramtelersvereniging

In 1937 is die Nasionale Ramtelersvereniging gestig met die hoofdoel om samewerking te verseker tussen ramtelers van Suid-Afrika, ter bevordering van die skaap- en wolbedryf van die Unie. Deur bemiddeling van die organisasie word jaarliks verkopings van hoëgraadse ramme gebou in verskeie sentrums van die Unie. Sodoende word goeie aanteelramme binne die bereik gebring van meeste kudde-boere en veral van die kleiner skaapboer wat andersins nie in staat sou gewees het om ramme van dieselfde gehalte te bekom nie.

 

Onderwys en Navorsing

Seker die belangrikste voorwaartse stap in die ontwikkeling van die skaap- en wolbedryf op uniale grondslag, was die stigting van 'n Afdeling Skape en Wol met die totstandkoming van Unie in 1910 met Generaal B. G. L. Enslin aan die hoof. Die afdeling was belas met die uitroeiing van brandsiekte, die bevordering van die Skaap- en Angorabokbedrywe, boere van voorligting te bedien in verband met die klassering en bestuur van skape en bokke, en die voorbereiding en bemarking van wol en sybokbaar.

Die Afdeling het bestaan uit mnr. C. Mallinson as Hoof Skaap- en Wolbeampte van die Unie en van Transvaal, met provinsiale Hoof Skaap- en wolbeamptes in die persone van mnre. J. F. McNab, W. M. McKee en J. J. McCall vir die Oranje-Vrystaat, Kaapprovinsie en Natal onderskeidelik. Die eerste Suid-Afrikaner wat hoof geword het van die Afdeling was mnr. A. G. Michaelian.

Dit het ook in belang van die wolnywerheid geblyk dat die Staat hom nie vir altyd kan verlaat op skaap- en woldeskundiges uit die buiteland nie en toe is tot die volgende belangrike stap oorgegaan, naamlik om op staatskoste uitgesoekte Suid-Afrikaners na Australië te stuur om sodoende ons eie skaap- en woldeskundiges op te lei, en in die verband is die eerste baanbrekerswerk gedoen deur mnre. E. N. Roberts en G. J. Schuurman, wat na Australië gestuur is gedurende die jare 1909-13 en kort daarna opgevolg is deur mnre. I. Wessels, S. Van Heerden en D. R. Mellet.

Die volgende logiese stap sou wees om voorsiening te maak vir die opleiding van jong Suid-Afrikaanse wolboere op eie bodem, en dit was dan ook nie lank daarna nie dat die keuse geval het op Grootfontein in die hart van die Unie se skaapwêreld. Mnre. G. J. Schuurman en E. N. S. Warren was dan ook die grondleggers van die eerste kursusse in skape en wol aan die Inrigting. Later is die kursusse ook uitgebrei na Glen, Potchefstroom, Cedara en Elsenburg. Behalwe die gereelde kursusse aan die inrigtings, was die amptenare van die Departement ook die boere op ander wyse behulpsaam, soos met skaapklassering, beoordeling op tentoonstellings, wolklassering, ens.

Deur middel van die onderwysinrigtings wat ten nouste verbind was met navorsing, hou die Departement van Landbou tred met die wetenskaplike ontwikkeling van die wolteelt oor die hele wêreld. In elkeen van die vier provinsies van die Unie is 'n Landboukollege, en boonop nog streeksnavorsingstasies om spesifieke streke te bedien. Merinoskape word by verskeie van die inrigtings aangehou vir proef- en opvoedkundige doeleindes. Die grootste inrigting van die aard is tans nog die Grootfonteinse Landboukollege (Middelburg, Kaap) wat in die hart van die skaapwêreld van die Unie geleë is. Kursusse waarin hoofsaaklik op Merinoskaapboerdery gekonsentreer word, word aan die inrigting gedoseer. 'n Wye veld van navorsing word daar gedek met insluiting van probleme soos die van teling, voeding, vrugbaarheid, weiveldbestuur, fisiese eienskappe van wol, ens. In die verband kan eerbaar die naam genoem word van wyle prof. J. E. Duerden wat die fondament gelê het van wolnavorsing in Suid-Afrika.

 

Tekstielnavorsingsinstituut

Met die opkoms van plaaslike wolfabrieke wat in die jongste tydperk en veral sedert 1945, sterk uitgebrei het, het die noodsaaklikheid van tekstielnavorsing prominent op die voorgrond getree. So 'n navorsingsinstituut is so pas gestig met hoofkantoor op Grahamstad en dit sal ongetwyfeld as verdere spoorslag dien in die toekomstige ontwikkeling van die skaap- en wolbedryf in Suid-Afrika.

 

Die Afgelope 20 Jaar

Die grootste aanwas in die skaapbevolking van die Unie het ongetwyfeld plaasgevind vanaf 1904 toe die Unie nog 'n heeltemal onbelangrike rol gespeel het in die wolproduserende lande, tot die tydperk van die groot droogte en depressie in 1930/31. Gedurende die tydperk het skaapgetalle tot so 'n mate toegeneem dat die Unie vierde plek kon inneem onder die wolproduserende lande van die wêreld.

Vanaf 1904 tot 1911 het daar feitlik 'n verdubbeling in skaapgetalle plaasgevind, naamlik, van 16.3 tot 30.7 miljoen, gevolg deur 'n verdere geleidelike styging tot in die twintigerjare, waarna daar 'n verdere vermeerdering in die groeitempo voorgekom het. Die klimaks is bereik in 1930/31 toe die Unie 49 8 miljoen skape gehad het, maar die langdurige droogte en oorvloedige reëns daarna, was verantwoordelik dat getalle weer gedaal het tot 35 miljoen in 1934. Sedertdien het daar tot 'n mate weer 'n herstel plaasgevind, en in 1936/37 het getalle weer toegeneem tot 41 miljoen. Daarna tree daar egter 'n geleidelike daling in en gedurende die afgelope vier jaar, waarvoor sensussyfers beskikbaar is, het getalle gewissel tussen 30 tot 32 miljoen.

Die gang van skaapgetalle oor die afgelope 20 jaar word in die volgende tabel aangegee:-

 

 

Opvallend is die feit dat die persentasie-samestelling van skaapgetalle toon dat daar 'n vermindering van ongeveer 10 persent in wolskape is en ‘n ooreenkomstige styging in die persentasie nie-wolskape.

Wat getalle betref, het daar dus 'n aansienlike afname in die getal wolskape plaasgevind, naamlik, van 43.9 miljoen in 1929/30 tot 25.6 miljoen in 1948/49, en 'n vermeerdering van nie-wolskape van 4.4 miljoen tot 6.3 miljoen vir dieselfde tydperk. Vanaf 1937/38 het die getal nie-wolskape taamlik konstant gebly op ongeveer 6 miljoen.

By nadere ondersoek van die persentasie-samestelling van die skaapbevolking gedurende die afgelope tiental jare is die volgende tabel opgestel:

 

 

Vir die periode onder bespreking in bostaande tabel, het die Merinobevolking afgeneem met bykans 11 miljoen, of 'n persentasie-vermindering van die totaal van 74.3 persent tot 62.1 persent. Ander wolskape het ook effens gedaal, karakoelskape het aansienlik toegeneem, terwyl nie-wolskape toegeneem het van 5.2 tot 6.3 miljoen, of 'n persentasie-vermeerdering van 12.7 tot 19,6 persent. Dit blyk dus dat karakoelskape en nie-wolskape toegeneem het ten koste van Merinoskape.

 

Ontleding van Suid-Afrikaanse Wolskeersel

Soos natuurlik verwag kan word, moet hierdie verandering van skaapgetalle in die Unie, beide wat betref samestelling en persentasie, 'n invloed hê in die samestelling van die wolskeersel. Die tabel bo-aan die volgende bladsy is opgestel om die posisie aan te dui in die na-oorlogse jare.

Sedert 1940/41 het karakoelwol toegeneem van 1.9 persent van die totale skeersel tot 7.71 persent van die totale skeersel in 1950/51.

By nadere ondersoek van die verandering in skaapgetalle in verskillende distrikte, blyk dit dat daar min veranderings in Merinogetalle in die droër dele van die land voorgekom het. Drastiese verminderings van tot 50 persent het merendeels in die grasveldgebiede van die Unie voorgekom, soos blyk uit die volgende getalle vir die periode 1938 tot 1948:-

Kaap-Provinsie             1.80 miljoen of 11 %

Natal                           0.87 miljoen of 50%

Transvaal                     1.60 miljoen of 46 %

O.V.S.-saaistreke          1.90 miljoen of 44%

O.V.S. (Suid)                1.00 miljoen of 36%

 

Enersyds kan hierdie afnames toegeskrywe word aan die probleme waarmee die skaapboer te kampe het. Vraagstukke soos die brommers, ongediertes, indringing van steekgras, inwendige parasiete, arbeidsmoeilikhede, ens., speel bepaald almal tot mindere of meerdere mate 'n rol. Daarby kom nog die probleem van aangepaste tipes by al die skerp wisselende landsomstandighede, en veral ook die lae vrugbaarheid van die Merino. Die vernaamste oorsaak van die afname van Merinogetalle moet egter gesoek word in die ekonomiese aard daarvan wat onderskryf word deur die Agro-Ekonomiese opnames van die Departement van Landbou. Daaruit blyk dat die ontwikkeling van gemengde boerdery in die meer gunstige reëngebiede van die land, 'n afname in die omvang van Merinokuddes en die toespitsing op ander landbou- en veeteeltprodute veroorsaak. Met ander woorde, met die intensifisering van die landbou moet die Merino meeding met koring, mielies, vleis en melk en moet dit noodwendig verdring word deur meer winsgewende vorms van grondgebruik.

 

 

Wat die toekoms dus betref, sal bogenoemde faktore tot 'n groot mate bepaal of die afname in Merinogetalle slegs van 'n tydelike aard is al dan nie. Namate sekere vraagstukke suksesvol die hoof gebied kan word, kan 'n herstel van Merinogetalle tot 'n mate verwag word. Die ekonomiese verhouding van die Merino tot ander vorms van grondgebruik sal 'n belangrike rol speel. Dit moet onthou word dat dit 'n algemene wêreldverskynsel is dat namate die boerdery meer geïntensifiseerd raak, die Merino as ekstensiewe dier verdring word deur ander vorms van grondbenuttiging wat meer lonend is onder intensiewer stelsels van boerdery.

Die Unie se skaapbevolking volg dus 'n patroon wat nie onbekend is in ander dele van die wêreld nie, soos die Verenigde State, Argentinië, Australië en Nieu-Seeland.

 

Die Belangrikheid van die Wolbedryf

Die skaap- en wolbedryf en die Merino in die besonder, speel 'n rol wat vandag so bekend is dat sy ekonomiese belangrikheid moeilik nog meer beklemtoon kan word. Die uitbreiding van die Kaapprovinsie was tot 'n hoë mate toe te skryf aan die skaapboerdery, en reeds vir die vroeëre pionierboere het dit 'n vername bron van welvaart en inkomste geword. Uit die produk van die skaap kon die boer in sy primêre behoeftes voorsien. Voor die invoer van die Merino was die vleisskaap die enigste middel om harde munt te bekom, dog na die invoer van die Merino het wol 'n belangrike en waardevolIe byproduk geword. Voor die ontginning en eerste uitvoer van sekondêre produkte in 1862 was wol en velle verreweg die grootste uitvoerproduk uit Kaapse hawens soos blyk uit die volgende gegewens:-

1862:-                                                 £

Wol en VelIe                                   1,388,386

Angorahaar                                         54

Huide                                              16,865

Koper                                              93,565

Volstruisvere                                    41,608

 

Eers in 1880 het die uitvoer van diamante die van wol oorskry, en eers heelwat later het die uitvoerwaarde van goud die van wol begin oorskry.

Dieselfde geld ook vir die uitvoer uit Natalse hawens soos blyk uit die uitvoersyfers van 1862:-

Wol                 £ 38,432

Mielies               618 ton

Ivoor               £ 27,059

Suiker               846 ton

 

Eers lank daarna het die uitvoer van mielies, steenkool, wattelbas en suiker van enige betekenis begin word.

Die Unie van Suid-Afrika het in sy 300-jarige bestaan baie krisisse deurleef, maar die skaapboerdery het 'n bron van voorspoed en welvaart vir die land gebly. Sedert die uitbreek van Wêreldoorlog 2 het wol die Unie £270 miljoen ingebring, en sedert die stigting van Unie, £573 miljoen. Dit is veral van besondere belang as daarop gelet word dat die meeste van die wol afkomstig is van die droër westelike dele van die Unie en dit val moeilik te bedink watter ander produk onder dieselfde omstandighede dieselfde waarde sou kon voortgebring het.

 

Inkomste uit WOL

Die inkomste uit wol verkry vir die tydperk word in die figuur voorgestel.

 

 

Wol is vandag een van die vernaamste kommoditeite wat die wêreldhandel bereik, en gedurende die afgelope paar jaar verteenwoordig dit 26 persent van die Unie se totale uitvoerwaarde, vergeleke met 42.5 persent vir die van Australië, 7 5 persent vir Argentinië, 35 persent vir Uruguay en 30 persent vir Nieu-Seeland. Wol is vandag een van die waardevolste produkte om dollars mee te verdien, en om enigsins 'n idee te verkry van hoe belangrik hierdie nywerheid is, kan gemeld word dat die V.S.A. 529,905,000 dollars aan wol bestee het gedurende 1948 en 1949.

Behalwe die waarde van die wolskeersel in klinkende munt moet ook nog die waarde van vleis en velIe vermeld word wat nie onbelangrik is nie. Suid-Afrika het dus in die skaapbedryf, en in die Merinoskaap in die besonder, 'n bedryf van ontsaglike ekonomiese waarde wat hom deur baie lande van die wêreld beny. word.

 

VERWYSINGS.

  1.  H. B. THOM-" Die geskiedenis van die Skaapboerdery in Suid-Afrika ".

  2.  WOOL SURVEY-" Empire Marketing Board Bulletin 57 ",

  3.  Offisiële Jaarboek van die Unie van Suid-Afrlka-1930-1948.

  4.  Die Wolboer.

  5.  L. L. Roux-" Verandering in die Merinoskaapbedryf ". Boerdery in Suid-Afrika, Julie 1949.

  6.  McKEE-" South African Sheep and Wool".

  7.  Afdeling Ekonomie en Marke.

  8.  Suid-Afrlkaanse Wolafsetorganisasie.

  9.  Die Merino, September 1950.

  10.  Boerdery in Suid-Afrika, Desember 1940.

  11.  B. G. L. ENSLIN - Die Wolindustrie,1920.

  12.  Statistiese Pamflet oor Wol en Bokhaar,1935.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 27