Last update: March 26, 2012 02:34:32 PM E-mail Print

 

Grootfonteinse Merinostoet

 

J J Olivier & S L Vorster

Diereproduksienavorsing

Landboukollege Grootfontein

Privaatsak X529

MIDDELBURG

5900

 

INLEIDING

Die ontstaan van die Grootfonteinse Merinostoet kan sover as 1912 teruggevoer word met die aankoop van 63 ooie en twee Australiese ramme. Daarna is die getalle geleidelik uitgebrei tot nagenoeg 600 ooie in die laat veertiger jare. In 1955 is 4 Australiese ramme ingevoer en met 'n skenking van die S A Wolraad is 228 ooie van verskillende telers aangekoop. 'n Verdere 63 ooie is deur verskeie telers geskenk. Hierdie ooie en 4 ramme het die basis gevorm van die huidige stoet. Van die beter ooie en ramme van die oorspronklike stoet is ook in die stoet opgeneem. Baie min ooie is na 1955 aangekoop en nuwe teelmateriaal is hoofsaaklik deur die aankoop van stoetramme van plaaslike telers verkry.

 

Vanaf 1956 is volledige stambome aangeteken en is rekords van die ruvagmassa van die ooie gehou. Volledige vaggegewens is egter slegs vanaf 1966 beskikbaar. Die stoet word hoofsaaklik vir studente-opleiding aangehou. Die tweede doel van die stoet is vir navorsingsdoeleindes terwyl 'n beperkte aantal ramme ook jaarliks te koop aangebied word.

 

OPLEIDIING

Die Merinostoet is 'n tipiese voorbeeld van 'n stoetery in die bedryf. Die Landboukollege Grootfontein is die hoofsentrum in die RSA waar studente opleiding in skaap en wol ontvang. Tydens die tweejarige diplomakursus doen elke student ongeveer 90 skaap praktiese klasse en 70 wol praktiese klasse. Die materiaal vir die praktiese klasse word hoofsaaklik deur diere afkomstig uit die stoetery voorsien. Om die opleiding op 'n hoë vlak te handhaaf moet uitstaande materiaal beskikbaar wees. Dit is vir die rede dat daar voortdurend gepoog word om die stoet fenotipies sowel as geneties te verbeter.

 

NAVORSING

Alhoewel inligting van die stoet alreeds vanaf 1956 beskikbaar is, het baie min wetenskaplike publikasies oor data wat van die stoet verkry is, verskyn. In die toekoms sal die beskikbare inligting gebruik word om moontlike knelpunte uit te wys of om oplossings vir sodanige probleme te vind.

In enige stoetery is die hoofdoelstelling om genetiese vordering te maak. Vanaf 1966 word die halfklas-vaggewigstelsel as seleksiemetode gebruik. Die doeltreffendheid van die metode as seleksiemaatstaf kon nie evalueer word nie. Die rede hiervoor is die feit dat geen kontrolekudde saam met die stoet aangehou is nie. Met 'n geneties stabiele kontrolekudde is dit moontlik om die effek van die omgewing op die fenotipe te meet en gevolglik kan die genetiese verandering bepaal word. Huidiglik is dit egter moontlik om die vordering in meetbare eienskappe met behulp van gevorderde statistiese metodes (Henderson, 1973) te bepaal. Die toepassing daarvan in die evaluering van vordering in die stoet word ondersoek. Daar kan egter 'n aanduiding van die vordering gekry word as daar na die hoeveelheid seleksiedruk (seleksiedifferensiaal) op spesifieke eienskappe gekyk word. Die akkumulerende seleksiedifferensiale vir tweetandmassa en tweetand. woleienskappe word in Fig 1 aangetoon.

 

Die hoofdoel van seleksie was om liggaamsmassa en vagmassa te verhoog. Uit Fig 1 is dit dan ook duidelik dat daar positiewe seleksiedruk vir hierdie eienskappe was. Seleksie vir die eienskappe het tot gevolg gehad dat daar ook positiewe seleksiedruk vir veseldikte en stapellengte was. Daarteenoor was die seleksiedruk vir kartelfrekwensie negatief. As die eienskappe matig tot hoog oorerflik is, kan verwag word dat die genetiese tendense min of meer met die in Fig 1 sal ooreenstem.

'n Kenmerk van die stoet is die baie goeie aanteelpersentasie wat verkry is (Tabel 1). Pogings sal aangewend word om hierdie persentasies nog hoër te laat styg.

Tans word ook ondersoek ingestel na die produksie en reproduksie van ooie wat reeds geselekteer is. Volgens Erasmus & Delport (1985) bestaan daar groot verskille tussen ooie van dieselfde ouderdomsgroep ten opsigte van lammers gespeen en wol geproduseer. Volgens 'n ondersoek van hierdie aspekte (Tabel 2) blyk dit dat dieselfde verskille in die Grootfonteinse Merinostoet aanwesig is. Dit is duidelik dat sommige geselekteerde ooie uitstaande produseerders, beide ten opsigte van lammers gespeen en wol geproduseer, is.

Die groot variasie in dekbehendigheid en libido van skaapramme is reeds deur verskeie navorsers uitgewys (Pretorius, 1967; Van der Merwe, Van Wyk & Slippers, 1984). Volgens Zenchak & Anderson (1980) is die grootmaak van lammers tot en met volwassenheid in homogene geslagsgroepe die grootste oorsaak van hierdie verskille. In 'n poging om die probleem te oorbrug is 5 ooie tussen 30 jaaroud ramme geplaas. Die ooie moes na 'n maand verwyder word omdat die ramme later die ooie te veel gejaag het (al was hul nie op hitte nie). Terselfdertyd bet die ramme ook begin om massa te verloor wat op daardie ouderdom ongewens was. 'n Tweede groep ramme van dieselfde ouderdom wat geen kontak met ooie gehad het nie is as kontrole gebruik. Op 16 maande ouderdom is aIle ramme aan 'n 10 minute libidotoets onderwerp. Die resultate verskyn in Tabel 3. Heelwat meer ramme van die kontrolegroep het ooie gedek, maar het gemiddeld effens langer geneem om 'n ooi te dek. Aan die anderkant was die persentasie ramme wat nie 'n ooi kon dek nie by die toetsgroep, groter. Uit hierdie voorlopige resultate blyk dit dus dat daar min voordeel in is om 'n klein getal ooie tussen jongramme te plaas met die oog op verbetering van dekvermoë en libido.

 

Ten einde 'n aanduiding van die stoet se gemiddelde produksie te kry, is die tweetand gegewens vanaf 1973 tot 1983 met behulp van kleinste kwadrate ontleed. Die resultate word in Tabel 4 aangetoon.

Soos verwag was ramme se produksie betel as die van ooie. Min verskille het egter tussen eenlinge en tweelinge in beide geslagte voorgekom.

 

RAMVERKOPE

Ramme is jaarliks aan die bedryf beskikbaar gestel. 'n Hoogtepunt is in 1979 bereik toe 'n ram vir daardie tyd vir 'n rekordbedrag van RI8 000 verkoop is. 'n Kenmerk van die ramme wat te koop aangebied word is die hoeveelheid inligting wat van elke ram beskikbaar is. Pogings word aangewend om nog meer inligting beskikbaar te he wat die potensiële koper se besluitneming kan vergemaklik. Verdere verkope van ramme aan die bedryf sat deur optimum genetiese vordering in ekonomies belangrike eienskappe, regverdig word.

 

LITERATUUR

DELPORT G J, OLIVIER J J & ERASMUS G J, 1986. Calculating inbreeding and cumulative selection differentials in the Grootfontein Merino Stud. Short paper. S A Society of Animal Production Congress 15 – 17 April 1986.

ERASMUS G J & DELPORT G J, 1985. 'n Kritiese beskouing van seleksie by wolskape. Verrigtinge van 'n Simposium oor Skaap- en Vleisbeesteling. 30 Jan. 1985. Univ. Pretoria.

HENDERSON C R, 1973. Sire evaluation and genetic trends. Proc. Sympos. in Honor of Dr J L Lush. Am. Soc. Anim. Sci. and Am. Dairy Sci. Assoc., Champaign. IL

PRETORIUS P S, 1967. libido en dekbehendigheid by ramme, grootgemaak en gehou in isolasie van ooie. Proc. South African Soc. Anim. Prod. 6: 208

VAN DER MERWE H J, VAN WYK J B & SLIPPERS S C, 1984. The effect of age, frental skinfold development and season on libido and mating dexterity in Merino rams. S. Afr. J. Anim. ScL, 14 : 26

ZENCHAK J J & ANDERSON G C, 1980. Sexual performance of rams (Ovis aries) as affected by social experiences during rearing. J. Anim. ScL. 50: 167

 

Published

Karoo Agric 3 (7), 7-9