Last update: April 10, 2012 02:08:52 PM E-mail Print

 

Merkproewe met Skape

H. C. Bonsma, D. J. Engela en S. W. Bosman

 

0M verskeie redes vind boere oor die hele wêreld dit nodig om identifikasiemerke op hulle skape aan te bring. In die dae toe daar nog nie van draadheinings gebruik gemaak is nie, het daar altyd gevaar bestaan dat kuddes van aangrensende plase deurmekaar kon raak. Die moeilikheid wat die uitkeer van die diere meegebring het, het die gebruik van een of ander merkstof vir identifikasiedoeleindes geregverdig. Om redes wat die boer goed ken, vind ons egter vandag nog dat die gebruik van merkvloeistowwe die bestuur van skape vergemaklik.

'n Ideale vloeistof vir die merk van skape moet onderstaande eienskappe besit:-

(a) Dit moet 'n duidelike, skerp omlynde merk maak.

(b) Die merk moet vir 'n tydperk van minstens 8 tot 12 maande, d.w.s. van die een skeertyd tot die ander sigbaar bly.

(c) Die stof moet van sodanige aard wees dat dit heeltemal uitgewas kan word.

 

Merkvloeistowwe wat die eienskappe van duidelikheid en duursaamheid besit, bestaan reeds, maar ongelukkig is daar tot dusver geen merkvloeistof vervaardig wat die allerbelangrikste eienskap naamlik dat die merkteken wat daarmee gemaak word heeltemal uitgewas kan word, besit nie.

In die verlede het wolverbruikers ernstig beswaar gemaak teen sekere gedeeltes van die Unie se wolskeersel vanweë die aanwesigheid van teer, verf of ander skadelike merkmateriaal in die wol. Elkeen sal geredelik besef dat die uiteindelike doeleindes waarvoor sulke wol gebruik kan word baie beperk is, aangesien die verkleuring van die wol deur die merkmateriaal altyd sigbaar bly, tensy die afgewerkte materiaal donker gekleur word.

Ten einde te voorkom dat die wol met skadelike merkmateriaal besmet raak, het die Regering 'n regulasie afgekondig ten effekte dat alle wol vry moet wees van teer, verf of merkstof wat vir die merk van skape gebruik is, Die regulasie het 'n baie heilsame uitwerking gehad, maar hoe sorgvuldig die merkteken ook al aangebring word, kan daar nog stukkies van die merkstof aan die wol bly sit. Met ander woorde, die afskeer van die merk is vanuit sowel die oogpunt van die boer as van die fabrikant, nie heeltemal bevredigend nie.

 

Toets van Merkvloeistof

Die Grootfonteinse Landboukollege het derhalwe 'n uitgebreide opname gemaak van die verskillende tipes merkvloeistowwe wat in gebruik is, ten einde die geskiktheid daarvan vas te stel en veral om uit te vind of die merkstof gedurende die fabrieksproses verwyder kan word.

In hierdie proewe is twaalf soorte merkvloeistowwe, waaronder rooi dakverf en koolteer, getoets. Sestig merino-speenlammers van 9 tot twaalf maande oud, wat voor die skeer spesiaal uitgesoek is weens hulle eenvormigheid, is vir proefdiere gebruik. Die skape is in ses groepe van 10 elk verdeel. Die linkersy van elke skaap is vir een merk en die regtersy vir 'n ander gebruik. Drie "0"-merktekens met 'n binnedeursneë van 3 duim is deur middel van 'n brandyster ⅜ duim dik op elke sy aangebring en wel op die blad, middelrib en boud.

Die merke is op 4 Januarie 1940, d.w.s., drie weke na die skeer aangebring en met tussenpose van drie maande geïnspekteer. Die metode wat gevolg is, was om die skape in 'n ry dwars te laat staan sodat die son regstreeks op die volle sy skyn. Die waarnemer het op 'n afstand van ses tree van die skape af gestaan sodat hy die woloppervlakte waarop die son skyn, kon sien. Die sigbaarheid van die merke is beoordeel as of baie goed, goed, taamlik, onduidelik of onsigbaar, en die onderskeie waardes van 4,3,2,1 en 0. Inspeksies is alleen gehou wanneer die sigbaarheid goed was en die waarneming, is gedurende die hele tydperk deur dieselfde persoon gedoen. By al die inspeksies was hy voor die afhandeling van die werk volkome onbewus van die identiteit van die verskillende merkstowwe.

Na afloop van die proef is die wol van die oppervlakte wat deur die merk bedek was, tot kort op die vel afgeskeer en aan 'n wastoets onderwerp.

 

Resultate en Bespreking

(1) Mate van sigbaarheid

Gedurende die tydperk van 232 dae is drie inspeksies gehou. Ongelukkig kon die skeer weens bestuursmoeilikhede nie vertraag word totdat daar 'n verdere inspeksie van die merke, na twaalf maande, d.w.s., die tydperk wat die merke volgens verwagting normalerwys moet hou, gedoen kon word nie. Die resultate van die drie inspeksies word in Tabel1 aangegee waarin die mate van sigbaarheid van elke merk uitgedruk word as 'n persentasie van die ideale mate van sigbaarheid.

 

 

Uit Tabelle I en II word onderstaande gevolgtrekkings gemaak:

Ten tyde van die eerste inspeksie, d.w.s., 90 dae nadat die skape gemerk is, was sekere merke, veral nommers 5 en 6, taamlik dof. Dit blyk dat 'n paar van die merkvloeistowwe in sekere mate deur stortbuie uitgewis is. Reën is egter nie die enigste :faktor wat vir die gedeeltelike verdwyning van die merke verantwoordelik is nie, aangesien strawwe hitte, ryp en stof ook 'n skadelike uitwerking het. Hierdie gevolgtrekking word gemaak uit die feit dat daar gedurende die tydperk 4/4/40 tot 4/7/40, toe slegs 2.3 duim reën geval het, verdere verdowwing plaasgevind het en dat hierdie proses gedurende die derde tydperk 4/7/40 tot 23/8/40 voortgeduur het ten spyte van die feit dat daar feitlik geen reën geval het nie. Vandaar dat reën slegs 'n bykomstige faktor is by die verdwyning van die merke. Dit het ook duidelik geword dat reën 'n sterker uitwerking het op sekere merke as op ander.

Daar is tekens dat die lywigheid van 'n merkvloeistof en ook die kleurmateriaal wat met die aanmaak daarvan gebruik word, belangrike faktore is by die vasstelling van die duursaamheid van die merk. Byvoorbeeld, koolteer het 100 persent sigbaarheid gedurende die hele proef vertoon, ofskoon die merke in sekere mate verdof net en 'n blou, olierige voorkoms gekry het. Merk No.7 het ook die peil van 100 persent sigbaarheid gehandhaaf en min of selfs geen tekens van verdowwing getoon. In albei gevalle het die merke ongeskonde gebly en betreklik min tekens van verwering getoon. Vloeistowwe No.6 en No. 12 was daarenteen bale gou dof en gedeeltelik uitgewis; verwering van die merk het in so 'n mate plaasgevind dat dit na afloop van die proef onduidelik was.

Uit die waarnemings het ook geblyk dat die duursaamheid van die verskillende merkvloeistowwe op die mark baie wisselend is, d.w.s., van vier maande tot minstens nege maande. 'n Goeie merkvloeistof moet vir nege maande lank redelik sigbaar bly ten einde onder praktiese skaapboerderytoestande aan sy doel te beantwoord.

 

(2) Wastoetse

Uit toetse in verband met was, merkstofverwydering en die karbonisering van wol blyk die volgende:-

(1) Nie een van die merkstowwe kon volkome uitgewas word nie, selfs waar die wesvloeistof sterker was as wat gewoonlik vir die tipe wol gebruik word en ten spyte van twee addisionele behandelings wat nie normalerwys aangewend word nie, naamlik merkstofverwydering en karbonisering.

(2) Klein gedeeltes van die merk wat na die was aanwesig was, het gevloei en versprei weens die hitte wat nodig is gedurende die vilttoetse. Die skade wat deur hierdie verspreiding in gevilte of self gedeeltelik gevilte materiaal veroorsaak word, is onherstelbaar.

(3) As die wasresultate in verband met die duursaamheidstoetse beoordeel word, het die merkvloeistowwe wat na afloop van die proef die hoogste mate van sigbaarheid getoon het, d. w.s. 75 persent en daarbo, die vilt die ergste gevlek.

Met die oog hierdie bevinding word gemeen dat die fabrikante van die merkstowwe waarvan die sigbaarheid van kort duur was, klaarblyklik 'n poging aangewend het om 'n. merkstof te vervaardig wat uitgewas sal kan word. In hulle pogings het hulle egter nie alleen die doeltreffendheid van die merkstof verminder nie maar ook 'n verbinding ontwikkel wat Die heeltemal uitgewas kan word nie.

Die resultate bevestig nogeens die noodsaaklikheid van die regulasie waarby boere verplig word om alle merke af te skeer. Omdat daar geen doeltreffende merkvloeistowwe bestaan nie, en omdat boere tog die merke noodsaaklik volgens regulasie moet afskeer, behoort elke wolkweker die duursaamste, merkstof te gebruik. Die geringe duursaamheid van sekere merkstowwe maak dit noodsaaklik dat skape twee maal gemerk moet word voordat die volgende skeertyd aanbreek, en verhoog bowendien die gevaar dat die skeerders die dowwe merke nie sal raaksien nie en hulle dus in die wol sal laat bly.

 

Aanbevelings

Onder die huidige omstandighede word boere dus aangeraai om geen merkstof te gebruik nie. Waar omstandighede hulle egter verplig om dit wel te gebruik, sal dit in belang van sowel die indiwidu as van die land wees om die duursaamste merkstof te gebruik. Koolteer mag egter nie gebruik word nie.

Aangesien geen merkvloeistof heeltemal uitgewas kan word nie en die regulasie geen onderskeid tussen merkvloeistowwe maak nie, is die enigste maatstaf vir 'n goeie merkvloeistof sy duursaamheid onder gewone veldtoestande.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 17