Last update: April 3, 2012 12:26:43 PM E-mail Print

 

METABOLIESE SIEKTES

 

GF Bath

 

Hierdie siektes word veroorsaak deur 'n gebrek in die normale chemiese werking van die liggaam, waardeur die ewewig van die metabolisme versteur word. Daar is drie belangrike metaboliese siektes wat by skape voorkom.

 

DOMSIEKTE

Hierdie siekte staan ook bekend as tweeling-lammersiekte en dragtigheidsketose.

 

OORSAAK

Die balans tussen voedselinname en die energievereistes van die liggaam word versteur. As gevolg hiervan mobiliseer die liggaam die vetneerslae, maar vorm terselfdertyd groot hoeveelhede neweprodukte wat as ketoonliggaampies bekend staan.

Die bloedsuikergehalte daal tot 'n bale lae vlak en dit veroorsaak blykbaar die tipiese simptome wat voorkom. Lewerbeskadiging is 'n sekondêre gevolg.

 

TOESTANDE WAARIN DIT VOORKOM

Alhoewel skape van albei geslagte en van enige ouderdom en kondisie aangetas kan word, kom die siekte meesal by diere voor wat in goeie kondisie is, veral swaardragtige ooie wat moontlik tweelinge of drielinge dra.

'n Uitbreking van die siekte word veroorsaak wanneer sulke diere by voer gehou word wat nie in hul behoeftes voorsien nie, of deur enige skielike verandering of prosedure wat tot gevolg het dat die skape 'n tyd lank ophou vreet. Dit kan bv. gebeur wanneer die skape gedip, gedoseer, afgehok of geskeer word of wanneer kampe verander of die skape aangejaag of meganies vervoer word. 'n Gebrek aan water, skielike weersveranderinge en ander siektes kan ook dragtigheidstoksemie by vatbare diere veroorsaak.

 

SIMPTOME

Aangetaste diere word dooierig, verloor hul eetlus, staan eenkant of dwaal doelloos rond, en as daar 'n voorwerp soos 'n heining in hul pad kom, leun hulle daarteen. Wanneer iemand nader kom, probeer hulle nie weghardloop nie.

Uiteindelik gaan hulle Iê en vrek na verloop van 'n tydperk wat van dier tot dier wissel.

 

NADOODSE ONDERSOEK

Die lewer is 'n baie ligte taankleur en lyk vetterig. Die inhoud van die grootpens is droog en die dunderm feitlik leeg. Die vet in die buikholte bevat spikkels wat baie wit is en krytagtig Iyk. Die byniere is vergroot.

 

DIAGNOSE

Vars urine, gepreserveerde bloed of die lewer in 10-persentformalien kan in 'n laboratorium ondersoek word om die diagnose te bevestig.

 

BEHANDELING

Geen behandeling is in gevorderde gevalle doeltreffend nie. In die vroeë stadiums moet die skape gedoseer word met 'n ½ tot 1 koppie suiker of melasse plus 2 tot 3 koppies water, Hulle moet 'n mieliemeel-melasselek kry en in 'n kamp met goeie weiding geplaas word. Waardevolle diere moet deur 'n veearts behandel word. (Kyk ook die behandeling van hipokalsemie.)

 

VOORKOMING

Voorkoming is oneindig beter as behandeling. Ooie wat swaardragtig is moet geensins gedurende die laaste twee maande van hulle dragtigheid gesteur word nie en volop voer van goeie gehalte is noodsaaklik. 'n Lek bestaande uit mieliemeel, melasse en sout (bv. 75:5:20) is goed om meer energie te verskaf. Moenie toelaat dat die vee te vet word nie en vermy skielike ontwrigting wat kan veroorsaak dat hulle ophou vreet.

 

HIPOKALSEMIE

Hierdie siekte staan ook bekend as geboorteparese en melkkoors.

 

OORSAAK

Swaardragtige ooie of ooie wat lammers soog, moet groot hoeveelhede kalsium via die bloed verskaf. 'n Groot gedeelte hiervan kom van die bene ai, maar 'n gedeelte moet ook uit die voer kom. Enigiets wat 'n onderbreking in voedselinname veroorsaak, sal meebring dat die kalsiumgehalte van die bloed daal, en indien die vlak te laag daal, kan die spiere van die liggaam nie hul werk verrig nie.

 

TOESTANDE WAARIN DIT VOORKOM

Die siekte word gekenmerk deur skielike veranderinge (soos die wat domsiekte veroorsaak) wat die ooi laat ophou vreet. Die siekte kom byna uitsluitlik by dragtige of sogende ooie voor.

 

SIMPTOME

Die skaap lyk moontlik swak of loop slingerend, maar gewoonlik gaan hulle baie gou Iê en kan hulle nie opstaan nie. Hulle lyk wakker en kan nog vreet indien voer aangebied word. Later word hulle dooierig, draai die kop eenkant toe en Iê moontlik op die sy. Die dood tree kort hierna in.

 

NADOODSE ONDERSOEK

Geen kenmerkende veranderings kan by 'n nadoodse ondersoek gesien word nie.

 

DIAGNOSE

Gepreserveerde bloed kan ter bevestiging ontleed word. Die siekte gaan dikwels gepaard met domsiekte en die twee siektes kan met mekaar verwar word.

 

BEHANDELING

Spuit 80 ml kalsiumboorglukonaat onder die vel of in die buikholte in. Aangesien die twee siektes onder dieselfde toestande en dikwels saam voorkom, behoort die skape ook teen domsiekte behandel te word.

Ontwrigting wat dragtige ooie laat ophou vreet, moet vermy word. (Kyk domsiekte.)

 

GRASTETANIE

Hierdie siekte staan ook bekend as hipomagnesemie.

 

OORSAAK

Die presiese oorsaak is onbekend, maar aangetaste skape wat op baie geil weiding wei, toon 'n dramatiese daling in die peil van die magnesium in die bloed. Wanneer die vlak te laag daal, ruk die spiere en trek hulle saam in ‘n kramp.

 

GUNSTIGE TOESTANDE VIR DIE VOORKOMS VAN GRASTETANIE

Baie goed bemeste, geil groen weiding van veral koring en hawer gaan gewoonlik daarmee gepaard. Die siekte kom veral by dragtige of sogende ooie voor, maar hamels en droë ooie kan ook daardeur aangetas word.

 

SIMPTOME

Die diere is aanvanklik baie prikkelbaar en wakker en hulle bewe onbeheerbaar. Hulle slinger wanneer hulle gejaag word en kan stuiptrekkings kry. Tydperke van oënskynlike normaliteit word afgewissel met tydperke waarin spierkrampe en stuiptrekkings voorkom. Die verloop van die siekte is gewoonlik kort.

 

NAOOODSE ONDERSOEK

Geen kenmerkende veranderinge kan by 'n nadoodse ondersoek gesien word nie.

 

DIAGNOSE

Die magnesiumpeil in die bloed kan met behulp van ontleding bepaal word om die diagnose te bevestig.

 

BEHANDELING

Spuit aangetaste skape onderhuids met 100 tot 200 ml van 'n 10-persent-magnesiumsulfaat-oplossing in.

 

VOORKOMING

Vermy die oorbemesting van weiding of maak seker dat skape nie uitsluitlik op sulke weiding wei nie.

 

Published

Bladskrifreeks : Wolproduksie E 4 / 1975