Last update: April 10, 2012 12:22:52 PM E-mail Print

 

Boerdery in die Kaapse Middellande

Dr. L. L. Roux en H. A. J. Stead

 

DIE streek wat bekend staan as. die Kaapse Middellande omvat 'n groot gedeelte van die gebied wat oor die dienste van die Grootfonteinse Landboukollege kan beskik; dit sluit die distrikte Colesberg, Cradock, Graaff-Reinet, Hanover, Middelburg (Kaap), Murraysburg, Richmond en Steynsburg in.

Op bygaande kaart word die ligging en die grootte van die totale streek sowel as die verskillende reënvalstreke aangetoon.

 

 

Die topografie van die streek is tipies Karoo, met uitgestrekte hoogvlaktes en onreëlmatig geleë berge en koppies wat taamlik in hoogte verskil. Die hoogte van die streek toon ook groot verskille en wissel van 3;500 voet tot meer as 8,000 voet bo seespieël.

Die reënval wissel van minder as 10 duim tot effens meer as 20 duim, terwyl daar jaarliks in die grootste gedeelte gemiddeld 10 tot 15 duim val. Gedurende die wintermaande reent dit selde. Gewoonlik is daar in die lente en die voorsomer 'n geringe neerslag, maar die meeste reent val in die herfs.

 

Grondsoorte

Die grond is van doleritiese oorsprong (Beaufort-reeks). Die koppies bestaan hoofsaaklik uit doleriet op lae sedimentêre skalie. Die hoër geleë grondsoorte bestaan uit rooi sanderige Karooleem of leem met lae kalksteen waarvan die dikte van 'n paar duim tot verskeie voete wissel op verskillende dieptes onder die oppervlakte. Hierdie grondsoorte is meestal goed voorsien van potas- en fosfor-plantevoedsels.

Die laaggeleë of vleigronde is donkerder van kleur en van 30 tot 40 voet diep. Hulle bestaan grotendeels uit die fyner gronddeeltjies van om liggende streke. Hul donkerder kleur is toe te skrywe aan die verskillende gehaltes organiese stowwe.

Oor die algemeen is hierdie grondsoorte vrugbaar, as hulle ten minste nie te alkalies of te brak is nie, en word hulle hoofsaaklik vir bouland gebruik. Die dieper grondsoorte is besonder geskik vir die Karoo se hoofgewas, lusern.

 

Plantegroei

Daar is 'n baie groter verskil in die plante waarop vee in die Karoo wei as in die dele van die Unie waar die natuurlike weiding gewone grasveld is. Die kenmerkende Karooplantegroei, soos wat 'n mens dit op vlakteveld sien, gee die indruk van ontelbare, klein, droë bossies, gewoonlik nie hoër as een voet nie en van mekaar geskei deur kaal kolle grond. Hierdie betreklik yl verspreiding van die plantegroei is toe te skrywe aan 'n gebrek aan grondvog gedurende die grootste gedeelte van die jaar, sodat elke plant 'n groter stuk grond nodig het om in sy waterbehoeftes te voorsien. Karooveld bestaan uit 'n groot aantal grasse, ander plante en bossies. Dit wissel aanmerklik volgens die verskil in grondsoorte, terreingesteldheid (bv. koppies) en klimaatsgesteldheid (bv. gemiddelde temperatuur) , asook volgens vogtigheidsverskille toe te skrywe aan verskille in reënval of dreinering. Waar die grond meestal vogtig is, by. in 'n holtetjie waar die reënwater versamel, groei daar meer gras. As die grond vogtig genoeg.is, verdring die gras die, bossies totaal.

Nadat die somerreëns geval het, kom daar 'n massa jaargewasse op; baie van hulle maak smaaklike voer uit, dog hulle leef maar kort. In die droër dele is die veld dan as't ware met 'n tapyt van blomme bedek en is dit 'n lus vir die oë. Verskeie Karooplante is tereg gekies om as sierplante in tuine te dien.

Alle soorte vee gedy op hierdie mengsel van bossies, gras en jaargewasse. Die diere is in staat om in goeie kondisie te bly by 'n reënval wat in ander streke 'n noodlottige droogte sou gewees het. Die wintervoerprobleem word baie vergemaklik deurdat; bossies soos die ganna sappig bly en so hul eienskappe behou wat die melkproduksie gedurende hierdie deurgaans lastige tyd van die jaar bevorder.

Net soos elders is daar ook in die Karoo ongewenste plante wat die boer baie hoofbrekens besorg. Daar is 'n paar bekende giftige plante soos die bietou wat blousuurvergiftiging veroorsaak, die gewone dubbeltjies wat verantwoordelik is vir geeldikkop by skape, en 'n bossie wat vermeersiekte, meestal by bokke en skape veroorsaak. Skadelike sade soos die van steekgras, wildeklawer en die boetebossie is ernstige onsuiwerhede in wol en sybokhaar. Sekere veldonkruidsoorte, soos bitterbos en renosterbos, word somtyds lastig as die veld oorbewei word. Alles in aanmerking geneem kan die Karooboer egter nie oor sy veld kla nie. Sy diere groei mooi uit en is sterk Gebou -'n sprekende bewys van die voedingswaarde van hierdie verskeidenheid van natuurlike voerplante.

 

Boerderystelsels

Die Kaapse Middellande word as 'n goeie streek vir die veeteelt beskou. Verskillende soorte vee word daar volgens die ekstensiewe stelsel van beweiding aangehou, maar die stoetboerdery word intensief beoefen waar voldoende voer verbou kan word. Beperkte gedeeltes is onder besproeiing, soos by. die wat onder die Visrivierskemas en die Van Rynevelddam val.

Die produkte wat onder besproeiing voortgebring word, is verskillend en hang van die grondsoort en die klimaat af. In die meeste gevalle word veevoer geproduseer en hoewel daar van hierdie voer aan die vee gevoer word, word baie daarvan in kontant omgesit.

By ekstensiewe veeteelt beklee skaapboerdery die eerste plek en beesboerdery of bees - plus perdeboerdery 'n ondergeskikte plek. As die boer uitnemende perde of hoogproduserende koeie aanhou, is hy gewoonlik verplig om byvoeding te gee. Dit is nie soseer daaraan te wyte dat die veld in voedingswaarde te kort skiet nie, maar daaraan dat daar nie genoeg is nie, veral gedurende die lang, droë bitter koue wintermaande en in langdurige droogtes. Die streek is by uitstek geskik vir Merinoskaapboerdery, terwyl vetstert en vetstuitskape ook uitstekend beantwoord, aangesien hulle besonder gehard is. In die meeste gedeeltes is die draagkrag 2 skape op drie morg.

Die geaardheid van die veld het die onderverdeling van die streek in plase van gemiddeld 2,000 morg noodsaaklik gemaak. Daar is egter ook baie plase van 5,000 morg. Die prys van grond skommel aanmerklik; op die oomblik is grondwaardes abnormaal hoog. Die waarde van middelmatig bewerkte plase word op £2 10s. tot £3 10s. per morg geskat. In 1933 is die gemiddelde waarde van die grond met inbegrip van verbeterings, ens., van 370 plase in die distrik Middelburg as £2. 8s. 3d. per morg opgegee. Die gemiddelde belasbare waarde per morg in dieselfde distrik (met uitsluiting van ander verbeterings as geboue) is opgegee as £1. 9s. 6d.

 

Voerproduksie

Oor die algemeen is die omstandighede nie gunstig vir gewasverbouing nie, terwyl alle pogings in daardie rigting op voerproduksie vir plaasverbruik behoort gerig te word.

Weens sy hoë opbringsvermoë, sy hoë voerwaarde en sy vermoë om hom by die heersende klimaatsgesteldheid aan te pas, is lusern een van die vernaamste gewasse wat in die streek verbou word. Dit word sowel vir hooi as vir weiding gebruik en in toenemende mate vir kuilvoer benut, hetsy met of sonder ander gewasse.

Ten einde die winterwater nie ongebruik te laat nie, word daar net soveel koring as lusern verbou, maar 'n groot gedeelte van die koringoes moet van die reën grootword, wat in die reël nie juis 'n goeie oes verseker nie. Vroeg in die groeityd lewer die koring 'n sekere mate van weiding op. Meer kuilvoergewasse, soos mielies en sorghums, behoort verbou te word waar beeste aangehou word. Veelvuldiger gebruik van gewasse wat teen droogte bestand is, soos die doringlose turksvy, soutbos en voerboomsoorte, sou baie bydra om verliese deur droogte veroorsaak te verminder en oorbeweiding gedurende tydperke van voerskaarste te voorkom.

 

Vee

Onderstaande tabel weerspieël die posisie in die afsonderlike distrikte wat betref plaasgrootte en die veestapel. Laasgenoemde is weergegee as getal per 100 morg ten einde vergelyking van veedigtheid moontlik te maak. Steynsburg en Cradock het die grootste veestapel. Hierdie twee distrikte en Hofmeyr het die meeste kleinvee per oppervlakte-eenheid.

 

 

Die syfers vir 1939 is gekies aangesien hulle 'n bykans normale toestand verteenwoordig, of ten minste 'n toestand wat nie deur abnormale oorlogsomstandighede beïnvloed is nie.

Die syfers in verband met die wolproduksie lewer bewys van die ontsaglike hoeveelheid wol wat in die Kaapse Middellande voortgebring word, Cradock, Steynsburg en Hofmeyr lewer die grootste hoeveelheid wol per oppervlakte-eenheid op. Die Karoo woltipes is wyd en syd bekend, nie alleen om hul voortreflike eienskappe nie, maar veral omdat hulle so sag is.

 

Skape

Nege-en-tagtig persent van die skape in die nege distrikte is wolskape; hulle bring jaarliks in totaal meer as 24-miljoen pond (gewig) wol van skape en lammers voort, wat teen gemiddeld 12 pennies per pond 'n waarde van byna 1.5 miljoen pond sterling het.

Die skaapboerdery in hierdie streek het deur baie ontwikkelingsstadia gegaan en die bestuursmetodes is taamlik ver gevorder. Skaap- en wolklassering het baie daartoe bygedra om die ontwikkeling van verbeterde tipes met hoë wolopbrings te bevorder. Losloop, wat moontlik gemaak is deur die gebruik van jakkalsdraadheinings, het baie tot die produksie van goeie, skoon wol bygedra. Die onderverdeling van plase in kampe of weiveld waarin vir water gesorg is en die verskaffing van diptenks, voetbaaie en skeerskure het alles gehelp om die toepassing van beter bestuursmetodes te vergemaklik. Selfs onder die halfdorre omstandighede wat in die Karoo heers, het inwendige parasiete (maag- en dermwurms) 'n dreigende gevaar geword, maar dit het moontlik geblyk om die wurms te bestry deur stelselmatige dosering met geneesmiddels waarvan baie deur die Onderstepoort laboratorium van die Departement van Landbou verskaf, word.

Die onderverdeling van kampe maak ook beter veldbeheer moontlik, waarvan die belangrikheid nou eers goed besef word. Die meeste boere is volkome bewus van die skade deur oorbeweiding aangerig en party van hulle begin nou besef hoe belangrik dit is om 'n goeie plantedek met 'n hoë voedingswaarde op die veld te hou, nie alleen deur teen oorbeweiding te waak nie, maar ook deur oordeelkundige beweiding. Die onvermoë van sommige boere om die gevare van oorbeweiding in te sien het op ernstige vernieling van die plantedek en gevolglik tot gronderosie gelei. Die regering het groot grondherwinningskemas in die distrik Hofmeyr op tou gesit met die doel om die beste metodes vas te stel en hulle op groot skaal te demonstreer. Daar word nou algemeen aangeneem dat die natuurlike of normale plantedek van die Karooveld nie alleen die karoobossie is nie, maar bestaan uit gemengde veld met goeie bossies en grassoorte met 'n hoe voedingswaarde.

Groot kommersiële kuddes bestaande uit enige duisende skape behoort aan individuele boere, van wie baie ook stoetskape aanhou as 'n spesiale onderneming vir die verkoop van stoetramme aan distrikte oor die hele Unie. Hierdie ramme is welbekend en baie gewild weens hulle grootte, goeie konstitusie en goed ontwikkelde beenstelsel.

Die beste lamtyd is die herfs; aangesien lammers wat in hierdie tyd aankom, die gesondste is. Lammers wat in die lente aankom, word dikwels in hul groei gestrem deurdat hulle, wanneer hulle 3-4 maande oud is, met inwendige parasiete besmet raak.

Hoewel 89 persent van die skape in die Kaapse Middellande wolskape is, speel die nie-woltipes ook 'n belangrike rol. Tot laasgenoemdes behoort die tipes vetstert, (Afrikaner) en vetstuit (Swartkoppersie), wat buitegewoon gehard en uiters vrugbaar is. Vir die pot beteken hulle nie veel nie omdat hul stadig ontwikkel, sleg en ongelyk in die vleis sit en 'n baie sterk vetlokalisasie het. Die .velle van hierdie nie-wolrasse is waardevol. Party boere is besig om beter slagskape te teel deur hierdie tipes met uitheemse slagtipes te kruis, en selfs hoë grade van hierdie rasse werp goeie resultate af deur lammers voort te bring wat op 5-7 maande al markklaar is.

 

Beeste

 Daar is oorvloedige bewys dat die beesstapel gedurende die afgelope 20 jaar verminder het. Daar word vermoed dat die toename in die aantal skape vir die verandering verantwoordelik is.

Op 'n paar klein afgesonderde streke na, is die Kaapse Middellande as geheel slegs geskik vir ekstensiewe beesboerdery, omdat die veld nie in staat is om beeste dwarsdeur die jaar sonder byvoeding aan die lewe te hou nie en ook omdat die streek so dikwels deur langdurige droogtes geteister word. Aan die ander kant het baie beesboere winsgewende stoeterye opgebou. Oor die algemeen blyk dat sterk stoetboere hulle op goeie plase gevestig het waarop meestal groot oppervlaktes goeie veld is. In die meeste gevalle waar melkkuddes as stoet- en kommersiële kuddes aangehou word, moet groot hoeveelhede voer aangekoop en/of geproduseer word. Beesstoeterye staan op hoë peil, en baie telers van die volgende melk-, dubbeldoel- en vleisrasse bevind hulle in hierdie gebied:-

Melk - Fries, Jersey, Guernsey.

Dubbeldoel.- Rooi poenskop, Korthoring en bruin switserse.

Vleis.- Korthoring en Afrikaner.

 

Perde

Party van die distrikte in hierdie wêreld val onder die beste perdestreke in die Unie. Die beroemde Hantamperde uit die distrik Colesberg is welbekend vir hulle uithoudingsvermoë, goeie beenstelsel en harde hoewe. Die hele gebied is by uitstek geskik vir die perdeteelt.

Wat perde betref, is die teel van volbloedperde verreweg die belangrikste bedryf. Groot getalle jaaroud-vullens word jaarliks uit hierdie distrikte na die perdewedrensentrums gebring. Slegs enkele uitsonderlike gevalle van telers van trekperde soos die Percheron en die Suffolk word daar aangetref.

In sekere gevalle kan telers die grootste gedeelte van die jaar amper geheel en al op die veld staatmaak vir die onderhoud van hul teelmerries. Byvoeding is gewoonlik onnodig vir swaar dragtige en sogende merries.. Vullens het graanbyvoeding nodig nadat hulle gespeen is om behoorlik te bly ontwikkel. Lusern as weiding en hooi maak die waardevolste byvoeding vir perde uit.

 

Die Landboukollege

Die dienste van die Grootfonteinse Landboukollege staan ter beskikking van die Kaapse Middellande. Die kollege is omtrent 3 myl buite die dorp Middelburg geleë en lê hom op onderrig en navorsing toe.

Die getal studente wat jaarliks afgestudeer die Kollege verlaat beloop van 70 tot 80. 'n Spesiale kursus oor skape en wol gee jong mans wat self hul skaap seleksies en wolklassering wil doen 'n deeglike opleiding. Die kursus stel hulle ook in staat om poste in sekere handelskringe te beklee.

Die navorsingsbeamptes van die Kollege hou hulle besig met al die landbou- en veeteeltpropleme van die streek. By die navorsingswerk Iê hulle hul veral toe op skape en wol, veldbestuur, die verbouing van gewasse onder besproeiing en die ontwikkeling van geskikte, sterk gewasse en struike wat goed teen droogte bestand is. Die grootste gedeelte van die navorsingswerk in verband met skape draai om merinoskape en merinowolproduksie, maar vetlamproduksie by besproeiing word ook bestudeer en die ontwikkeling van 'n verbeterde, sterk tipe slagskaap wat veral in die Karoo sal aard, is 'n belangrike onderdeel van die werk.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 19