Last update: March 30, 2012 02:49:40 PM E-mail Print

 

BAKTERIESE SIEKTES BY VLEISSKAPE: MILT- EN ANDER SIEKTES

 

deur E.M. VAN TONDER

Afdeling Veeartsenydiens

 

 

MILTSIEKTE

Hoewel hierdie siekte uiters aansteeklik is, word uitbrekings onder skape baie seIde aangemeld. Aangesien dit egter 'n akute, dodelike siekte by aIle plaasdiere is, is dit raadsaam om altyd bedag te wees op die voorkoms daarvan by skape. Miltsiekte is 'n geproklammeerde siekte en die voorkoms of vermoedelike voorkoms daarvan moet onmiddellik aangemeld word.

 

OORSAAK EN VERSPREIDING

Miltsiekte word veroorsaak deur 'n staafvormige bakterium of bakteriese organisme, Bacillus anthracis. Wanneer diere aan die siekte vrek en veral as hulle oopgesny word, kom groot getalle van die kiem, wat in die bloed en organe aanwesig is met die lug in aanraking en produseer spore wat baie goed weerstand kan bied. Die sogenaamde spore kan baie jare lank in die grond oorleef. Die bloederige uitloopsels by die natuurlike openinge van die liggaam sowel as die velIe, bene en vleis vorm besmettingsbronne en speel 'n belangrike rol by die verspreiding van die siekte. Behalwe die mens, kan gewone en bytende vlieë, aasvoëls, jakkalse en ander kleiner aasdiere as belangrike verspreiders van die siekte optree.

Die spore, wat uiters bestand is teen ongunstige klimaatstoestande, kan ook deur reëns weggespoel word en in vlak panne en damme versamel, wat dan mettertyd, veral as hulle begin opdroog, gekonsentreerde bronne van besmetting word.

Diere kry gewoonlik die besmetting deur die bek in wanneer hulle besmette water drink, op besmette veld wei of aan besmette velIe, bene, bloed of karkasse lek of vreet.

Mense is ook vatbaar en kan die besmetting opdoen deur wonde, of deur spore per mond in te neem of in te asem. Besmette velIe kan tydens hantering as belangrike bronne van besmetting vir die mens dier.

Die oopsny van verdagte miltsiektekarkasse word ten strengste deur die wet verbied.

 

VOOR- EN NADOODSE SIEKTETEKENS

By skape word die siekte gekenmerk deur skielike vrektes, sodat siek diere seIde gesien word. Indien wel, word simptome soos koors, bewing van die liggaam, waggelende gang, stuiptrekkings, bloeding op die slymvliese asook vry bloeding by die natuurlike openinge uit of 'n bloederige stoelgang dikwels opgemerk.

Die belangrikste nadoodse teken is die donker bloederige uitvloeisel by die natuurlike openinge. Aangesien die oopsny van verdagte miltsiektekarkasse verbied word, moet gevalle wat skielik vrek en sulke uitvloeisels toon, as verdag beskou en by die naaste staatsveearts of vee-inspekteur aangemeld word. lndien 'n karkas per abuis oopgesny word, moet 'n groot geswolIe, bloederige milt en bloeding in feitlik aIle organe onmiddellik as verdag beskou en aangemeld word.

 

DIAGNOSE, BEHANDELING, VOORKOMING

Aangesien miltsiekte verwar kan word met ander siektes en vergiftigings wat skielike sterftes veroorsaak, is dit altyd raadsaam om die hulp van 'n veearts in te roep. Skielike vrektes met donker bloederige uitvloeisel wat nie stol nie, by die natuurlike openinge, moet altyd as verdagte tekens beskou word.

Van wee die akute aard van die siekte, is behandeling normaalweg nie moontlik nie, en word die siekte hoofsaaklik deur voorkomende inenting in bedwang gehou.

Uitbrekings of verdagte gevalle moet aan die naaste vee-inspekteur of staatsveearts gerapporteer word onder wie se toesig en voorskrifte, verskeie voorkomingsmaatreëls soos verwydering van besmette materiaal, ontsmetting, afsondering en inenting toegepas moet word.

 

BLOEDNIER

Bloednier is seker die algemeenste siekte by skape in die Republiek. Ofskoon voorkomende inenting uiters doeltreffend is vir die beheer van die siekte, en die entstof vryelik beskikbaar is, word vrektes nog steeds feitlik daagliks ondervind. As vernaamste redes kan onkunde en onverskilligheid ten opsigte van die bestaan van die siekte en sy gevolge, asook die beskikbaarheid en hantering van die entstof, genoem word.

 

OORSAAK EN VERSPREIDING

Die siekte word veroorsaak deur 'n gifstof geproduseer deur die bakterie Clostridium perfringens, tipe D. Hierdie organismes, wat normaalweg in die dermkanaal van skape voorkom, kan onder sekere omstandighede vinnig vermenigvuldig en groot hoeveelhede gifstof vorm wat dan deur die dermkanaal opgeneem word en vir die siekte en dood verantwoordelik is.

Die aanleidende faktor is gewoonlik een of ander vorm van spysverteringstoornis, wat deur verskeie omstandighede veroorsaak word, soos die skielike verandering van swak na goeie of van natuurlike na aangeplante weidings, ander dieetveranderinge soos die verskaffing van droogtevoeding of hoëkonsentraatvoeding met gebrekkige hoeveelhede ruvoer, vetmesting sonder voldoende aanpassing, dosering met spesifieke middels, ens.

 

VOOR- EN NADOODSE SIEKTETEKENS

Bloednier word ook gekenmerk deur die voorkoms van skielike vrektes en die feit dat siek skape seIde gesien word. 'n Tipiese patroon is dat daar in 'n sekere kamp of kampe elke oggend 'n paar dooie .skape gevind word. Wanneer siek skape wel opgemerk word, is daar veral twee vorms van die siekte wat onderskei kan word:

'n Nadoodse ondersoek bring werklik min tipiese simptome aan die lig. Die karkas is gewoonlik opgeblaas met skuim om die bek en in die lugpyp, 'n geel leë winderige dunderm en bloeding van die vel oor die skouers en rug. Die niere in die vars karkas is geswel en donkerrooi verkleur met stuwing van die oppervlakkige bloedvate en selfs klein bloedings. Ontbinding van die karkas tree baie gou in, veral in warm weer terwyl die niere gou pap word.

 

DIAGNOSE, BEHANDELING EN VOORKOMING

Vir 'n vroeë akkurate diagnose moet die naaste veearts onverwyld geraadpleeg word. Om hom te help met 'n diagnose is betroubare agtergrondgegewens deur die boer (d.w.s. 'n akkurate beskrywing van waarnemings, siektetekens, bestuurs- en inentingsprogramme) van groot waarde. In sommige gevalle mag dit egter nodig wees om monsters vir bepaalde ondersoeke te neem.

Daar is geen behandeling vir hierdie siekte nie en voorkoming is dus van die uiterste belang.

Doeltreffende entstowwe word op Onderstepoort vervaardig en is oral verkrygbaar van primêre en sekondêre verspreiders. Een entstof het 'n oliebasis, terwyl die ander een 'n aluin-gepresipiteerde entstof is. Die beste immuniteit word verkry wanneer diere eers met die olie-emulsie entstof ingespuit word en 'n tweede inspuiting van die aluin-gepresipiteerde entstof 4 tot 6 weke later ontvang. Hierna moet 'n skraaginspuiting van die aluin-gepresipiteerde entstof jaarliks toegedien word. Ofskoon weerstand na inenting minstens 12 maande lank sal duur, word nietemin aanbeveel dat opvolgende inentings voor die verstryking van die tydperk herhaal sal word.

In gebiede waar bloednier dikwels voorkom, kan jong lammers op 'n ouderdom van 2 maande ingeënt word. Dit is ook raadsaam om inenting so te reël. dat die diere die maksimum weerstand sal hê voordat hulle aan drastiese dieetveranderings en dosering, soos reeds genoem, blootgestel word. In die geval van uitbrekings onder diere waar baie goeie voedingstoestande aangetref word, en veral onder diere wat nog nie vantevore geënt was nie, moet inenting so spoedig moontlik geskied. Dit sou ook raadsaam wees om sulke diere tydelik na swakker weiding te verskuif tot tyd en wyl voldoende weerstand opgebou is. 'n Goeie weerstand ontwikkel gewoonlik 2 tot 3 weke na inenting.

Dit is uiters belangrik dat entstowwe nie na die vervaldatum gebruik word nie en dat hulle altyd sorgvuldig volgens voorskrif bewaar en hanteer word.

 

BLOEDPENS

Hierdie siekte wat vroeër jare, toe skape nog gereeld snags ingekraal was, ernstige afmetings aangeneem het, het onder huidige skaapboerdery omstandighede drasties afgeneem. Dit is hoofsaaklik 'n siekte by jong lammertjies vanaf geboorte tot 14 dae oud. Die moontlikheid bestaan egter dat dit ook by ouer lammers voorkom, maar in 'n vorm wat nie maklik herkenbaar is nie.

 

OORSAAK EN VERSPREIDING

Bloedpens word deur 'n spoorvormende bakterie Clostridium perfringens. tipe B, veroorsaak. Die weerstandbiedende spore wat deur die organismes gevorm word, kan baie lank onder uiters ongunstige omstandighede behoue bly. 'n Kraal of veld wat besmet is, kan dus jare lank besmet bly.

Hierdie organismes word deur die bek ingeneem wanneer lammers aan besoedelde spene van ooie, wat met besmette mis of grond in aanraking was, suig. Dit kan ook ingeneem word veral wanneer die ietwat ouer lam aan mis of ander bronne van besmetting lek of peusel. Die kiem wat deur die bek ingeneem word, vermenigvuldig in die dermkanaal en vorm 'n gifstof wat deur die dermwand opgeneem word en die siekte en dood veroorsaak.

 

VOOR- EN NADOODSE TEKENS

In akute gevalle kan lammers skielik vrek, maar gewoonlik word die volgende waargeneem: Die lam is lusteloos en wil nie suip nie, daar is tekens van maagpyn, maagwerking ontwikkel wat bloedbevlek en selfs bloederig kan word, ernstige ontwatering kom voor en bewusteloosheid tree in, gevolg deur die dood. Die stertgedeelte is gewoonlik erg besoedel as gevolg van die maagwerkings.

Wanneer die lam oopgesny word, is daar rooibruin-gekleurde vloeistof in die buikholte en is groot gedeeltes van die dunderm rooi. Die dermwand is fluweelagtig, rooi en bloederig met vlak sere en 'n bloederige inhoud.

 

DIAGNOSE, BEHANDELING EN VOORKOMING

Die algemene voorkoms, simptome en nadoodse tekens van die siekte gee gewoonlik 'n redelike goeie aanduiding daarvan. Vir bevestiging van die diagnose is dit egter raadsaam om met die naaste veearts te skakel. Monsters van die aangetaste dunderm, nadat dit behoorlik afgebind is, word vereis vir laboratorium ondersoek en bevestiging.

Ofskoon behandeling in akute gevalle van min waarde is, kan dit wel in minder akute gevalle suksesvol wees, en dit is daarom baie belangrik dat 'n veearts geraadpleeg word vir bevestiging van die diagnose, sodat behandeling waar moontlik en die toepassing van voorkomingsmaatreëls sou gou moontlik kan geskied.

Wat voorkoming betref, is daar 'n uiters doeltreffende entstof beskikbaar. Aangesien die lam die siekte op 'n baie vroeë ouderdom opdoen, word aanbeveel dat aIle dragtige ooie geënt word om sodoende kort na geboorte, aan die jong lam, deur middel van die biesmelk, beskerming te verleen. Die teenliggaampies (weerstand) wat deur die ooi opgebou word, word ook in die biesmelk uitgeskei en wanneer die jong lam drink, word dit deur sy liggaam opgeneem en verleen dit aan hom beskerming teen die siekte.

Die eerste keer moet ooie twee keer met 'n tussenpoos van 3 tot 4 weke geënt word, en die laaste inspuiting moet ongeveer 14 dae voor lam toegedien word. Aangesien ooie onder normale plaastoestande in troppe oor 'n tydperk van 6 tot 8 weke lam, is dit egter nie prakties moontlik nie en word daar dus aanbeveel dat inenting 6 weke en clan weer 2 weke voor die eerste ooie moet lam, toegedien word.

Ooie wat reeds geënt is, ontvang slegs een inenting ongeveer 14 dae voordat die eerste ooi moet lam.

Aangesien die lam binne enkele ure na geboorte die besmetting kan inneem, is dit noodsaaklik dat hy so gou moontlik na geboorte biesmelk moet inkry. Dit is daarom raadsaam dat ooie nie tydens die lamproses of onmiddellik daarna gesteur moet word nie.

Gedurende uitbrekings ontstaan heelwat probleme en moet bykomstige maatreëls getref word. As uitbrekings aan die begin van die lamseisoen voorkom, moet aIle dragtige diere onmiddellik geënt word. Aangesien 'n goeie weerstand binne 14 dae opgebou word en ooie gewoonlik oor 'n tydperk van 6 tot 8 weke lam, kan groot verliese onder lammers wat na die tyd gebore word, voorkom word. Wanneer die siekte egter aan die einde van die lamseisoen uitbreek, soos dikwels die geval is met eerste uitbrekings, sou inentings vanweë die tyd wat dit neem om weerstand te ontwikkel, nie veel waarde hê nie en moet ander voorkomingsmaatreëls toegepas word. In die geval gal onmiddellike verskuiwing uit die kraal of kamp verligting bring.

As algemene maatreël is dit wenslik dat ooie in die oop veld lam, of dat hulle waar krale of kampies gebruik word, so skoon moontlik gehou en indien moontlik ontsmet word.

 

SPONSSIEKTE

Hierdie siekte, wat by skape hoofsaaklik deur besmetting van wonde veroorsaak word, kom in 'n steeds toenemende mate voor.

 

OORSAAK EN VERSPREIDING

Sponssiekte word veroorsaak deur die spoorvormende bakterie, Clostridium chauvoei. Die karkas van 'n dier wat aan sponssiekte vrek, is deurtrek van kieme wat dan by ontbinding in spore verander en die hele omgewing besoedel. Hierdie spore is uiters bestand en kan jare lank in ongunstige toestande voortbestaan.

Dit volg ook vanselfsprekend dat die besmetting in die vorm van spore versprei kan word deur dele van karkasse, veral velle en bene, asook die klere, hande en instrumente van werkers wat sulke karkasse gehanteer het. By skape dring die spore van die kiem die liggaam hoofsaaklik deur wonde binne.

In gevalle waar skape op erg besmette veld loop, kan die spore volop aanwesig wees en deur middel van spuitnaaldwonde of deur bosluis-, steekgras- of doringwonde die vel binnedring.

By rasse wat geskeer word, is skeerwonde baie belangrik. By jong lammers kan die siekte toegang verkry deur wonde van kastrasie of stertafsny.

 

VOOR- EN NADOODSE TEKENS

In die geval van skape kom die siekte gewoonlik binne 4 tot 6 dae na aktiwiteite waar wonde veroorsaak is voor, soos by. ent, kastreer, ens. Die siekte word gekenmerk deur skielike vrektes en die talle siek, aangetaste diere, na gelang van die betrokke handeling, die aantal diere wat betrokke is en bron van besmetting. Aangetaste skape het 'n hoë koors en is mank in die aangetaste ledemate (gewoonlik die agterbene), terwyl die dele akuut geswel, warm en pynlik is en kraak wanneer hulle betas word. By ligkleurige skape vertoon die -dele rooi tot bloupers. In erger gevalle vorm krakies in die vel en word 'n rooi, stinkende, waterige vloeistof afgeskei. Indien die skaap lank genoeg aan die lewe bly, word die geswolle gedeelte later koud en gevoelloos.

By nadoodse ondersoek vloei baie van die stinkende, bloederige vog uit die weefsels by insnyding, terwyl die spiere sponsagtig is en onegalige ligte en donker vlekke vertoon. Gewoonlik is die kern van die letsel in die dikspierweefsels geleë en donkerrooi tot swart verkleur.

 

DIAGNOSE, BEHANDELING EN VOORKOMING

Die geskiedenis, simptome en nadoodse tekens is baie tipies. Indien twyfel bestaan is dit altyd raadsaam om die hulp van die naaste veearts in te roep, veral met die oog op die behandeling van die aangetaste diere waar antibiotika toegedien moet word, en waar spesifieke voorkomende maatreëls getref moet word.

Voorkoming berus op voorkomende inenting asook behoorlike higiëniese maatreëls. 'n Doeltreffende entstof is beskikbaar en daar word aanbeveel dat diere jaarliks geënt word, ten minste 3 weke voor die aktiwiteite waar wonde veroorsaak kon word. Ofskoon uitbrekings redelik sporadies voorkom, moet in gedagte gehou word dat groot getalle diere aangetas kan word en vrek, en dat die besmetting lank op 'n bepaalde plek aanwesig kan wees.

Tydens 'n uitbreking moet die aangetaste skape van die ander afgesonder en daagliks behandel word. Dit kan ook lonend wees om by aanvang van die uitbreking die nog sigbaar onaangetaste skape in dieselfde groep, almal slegs een behandeling te gee. AIle ander skape behoort dan onmiddellik geënt te word en hierna, jaarliks.

AIle dooie skape moet sover moontlik diep begrawe of verbrand word.

 

KWAADAARDIGEEDEEM

Hierdie siekte kan ook ontstaan a.g.v. besmetting van wonde, en kan dus met sponssiekte verwar word.

 

OORSAAK EN VERSPREIDING

Die organisme wat in die geval besmetting veroorsaak, staan bekend as Clostridium septicum. Dit kom wydverspreid in die grond voor, maar veral in mis en verrotte materiaal. Wanneer dit die wond binnedring, vermenigvuldig dit vinnig en skei 'n gifstof af wat vir die toestand verantwoordelik is. Wonde word veral besmet a.g.v. vuil misbedekte krale asook deur besoedelde instrumente.

 

VOOR- EN NADOODSE TEKENS

Die sigbare tekens is beperk tot die spesifieke wond of wonde en omliggende dele wat warm, geswel en pynlik is. Die swelsel voel sag en deegagtig en bloederige sig sypel by die wond uit.

Nadoods vind 'n mens slegs die lokale letsel. met 'n aansameling van donkerrooi vloeistof onderhuids sowel as binne die weefsels.

 

DIAGNOSE, BEHANDELING EN VOORKOMING

Aangesien die toestand maklik met sponssiekte verwar kan word, moet 'n veearts geraadpleeg word vir bevestiging van die diagnose en sodat antibiotiese behandeling so gou moontlik voorgeskryf en toegepas kan word. Monsters van letsels is noodsaaklik vir bevestiging en moet onmiddellik geneem word nadat 'n dier gevrek het of in uiterste gevalle, by die lewende dier self.

'n Entstof is tans vryelik beskikbaar wat uitstekende resultate lewer, en dit behoort gereeld toegedien te word waar die siekte probleme veroorsaak.

Streng higiëniese maatreëls, soos in die geval van sponssiekte, is van uiterste belang in lokale waar wonde toegedien kan word en besmetting daarvan kan plaasvind.

 

NAGEBOORTELIKE GASGANGREEN

Hierdie toestand wat in 'n toenemende mate onder skape sowel as bokke voorkom, word afsonderlik behandel omdat dit onafhanklik van die gewone toestande wat deur die betrokke organismes veroorsaak word voorkom. Dit kom byvoorbeeld dikwels voor op plase waar tipiese sponssiekte, dikkopsiekte of kwaadaardige edeem jare lank nie voorgekom het nie.

 

OORSAAK EN VERSPREIDING

Hierdie toestand word veroorsaak deur enige van die drie organismes, nl. Clostridium chauvoei, Clostridium septicum en Clostridium oedematiens. Clostridium septicum is egter verantwoordelik vir verreweg die grootste persentasie van gevalle. Gevalle is bekend waar twee of selfs al drie die organismes in die letsels van die geslagsorgane van dieselfde dier aangetref is.

Die spore van hierdie organismes, wat - soos reeds beskryf - wyd verspreid kan voorkom, hoogs weerstandbiedend is en vir jare in die grond of elders behoue kan bly, dring waarskynlik die geslagskanaal kort voor, gedurende of na geboorte binne. Aangesien heelwat kneusing en beskadiging van die slymvlies van die geslagskanaal tydens geboorte, veral met moeilike geboortes, voorkom, bied dit waarskynlik vir die organismes die geleentheid om die weefsels binne te dring.

Daar word egter gevoel dat die belangrikste plek van indringing hoogs waarskynlik deur die baarmoederlob is, omdat die noue of intieme verbinding van die vrugvliese en baarmoeder deur die geboorteproses en die losskeur van die vrugvliese, verbreek word. Blykbaar is toestande in die dragtige baarmoeder kort na geboorte vir die vinnige vermeerdering van die organismes uiters gunstig.

 

VOOR- EN NADOODSE TEKENS

Simptome van die besmetting verskyn gewoonlik binne 6 tot 24 uur na lam en word gekenmerk deur hoë koors, geweldige parsie deur die ooi, dik slymerig donker bloederige uitvloeisel by die vulva, 'n geswolle persrooi vulva en omgewing met 'n krakerige, sponsagtige gevoel en algemene tekens van bloedvergiftiging. By onbehandelde gevalle tree die dood gewoonlik binne 12 tot 24 uur na ontwikkeling van simptome in.

Afgesien van die algemene tekens van bloedvergiftiging, is die belangrikste nadoodse tekens in die geslagskanaal aanwesig. Die hele kanaal is gewoonlik aangetas, en toon 'n akute bloederige inflammasie, vergesel van erg geswolle wonde met bloederige en soms helder vloeistof en soms gasaansameling. Die holte van die baarmoeder is donkerrooi tot pers en bevat groot hoeveelhede slegruikende bloederige vloeistof.

 

DIAGNOSE, BEHANDELING EN VOORKOMING

Die simptome en nadoodse tekens is gewoonlik tipies. Dit is egter noodsaaklik dat bepaalde monsters verkry moet word om die veroorsakende organisme te identifiseer. Omdat tydige behandeling met antibiotika uitstekende resultate lewer en spesifieke monsters vereis word in 'n vars toestand, sou dit raadsaam wees indien die naaste veearts geraadpleeg word.

Wat voorkoming betref, bestaan daar doeltreffende entstowwe teen al drie die besmettings. Aangesien die akute siekte deur behandeling beheer kan word, is dit uiters wenslik dat die veroorsakende organisme korrek en vinnig geïdentifiseer moet word en die regte entstof gedurende dieselfde of opvolgende lamseisoene gebruik word, eerder as om die entstowwe een vir een uit te toets.

 

KLEM-IN-DIE-KAAK

Dit is 'n akute, dodelike siekte by aIle huisdiere, maar by skape word dit meesal by jong lammers aangetref, waar groot getalle gewoonlik aangetas word. Dit volg gewoonlik op operasies soos kastrasie, stertafsit en die aanbring van oormerke.

 

OORSAAK EN VERSPREIDING

Die oorsaak is 'n spoorvormende organisme, Clostridium tetani. Die organisme kom wydverspreid voor en word dikwels in die dermkanaal van diere, veral perde, gevind. Die spore wat uiters bestand is, kom oral in die grond voor en sal dus uit die aard van die saak meer gekonsentreerd wees op spesifieke plekke.

Die spore dring die liggaam binne deur wonde, vermenigvuldig en skei 'n sterk gifstof af wat hoofsaaklik die senuweestelsel aantas. Aangesien die organisme Die in die aanwesigheid van lug kan groei nie, is oppervlakkige wonde van minder belang. By lammers is die ideale wond dus diep indringende of selfs redelik oppervlakkige wonde bv. (soos by stertafsit, kastrasie en oormerk) wat vinnig toetrek en lug uitsluit. Die beskadigde dooie weefsel vorm dan 'n uitstekende groeibodem omdat die afbrekingsproses van die weefsels, vry suurstof bind. Die aanwending van rubberringetjies is uiters bevorderlik vir die voorkoms van die siekte omdat dit afsterwing van weefsel veroorsaak en indringing van lug verhoed.

 

VOOR- EN NADOODSE TEKENS

Die eerste tekens verskyn gewoonlik binne enkele dae tot 'n week en selfs langer na besmetting. Die aangetaste lam word styf en gespanne, loop met 'n rukkerige gang en stywe bene. Die styfheid word progressief erger en brei na aIle ledemate en ander dele van die liggaam uit. Beweging is later onmoontlik en die dier staan wydsbeen met sy kop vooruitgestrek. Die dier is hipersensitief vir geluid of aanraking terwyl die oë oopgesper en gewoonlik na onder gedraai is. Wanneer so 'n lam omval kan hy nie weer opstaan nie en Iê plat op die sy met die bene stokstyf, weg van die liggaam, met die kootgewrigte gewoonlik na binne gebuig en die kop en nek agteroorgetrek. In 'n vroeë stadium kners die dier op sy tande, maar later is die kake styf opmekaar geklem. Die dood kan skielik intree of kan selfs enkele dae lank sloer.

Afgesien van die absoluut stywe ledemate, kop en nek, selfs onmiddellik na dood en die tipiese houding, is daar geen kenmerkende nadoodse tekens nie.

 

DIAGNOSE BEHANDELING EN VOORKOMING

Diagnose moet hoofsaaklik op die simptome en geskiedenis gegrond word, terwyl daar ook geen doeltreffende behandeling is nie.

Wat voorkoming betref, is daar 'n doeltreffende entstof beskikbaar. Diere wat vir die eerste keer geënt word ontvang twee toedienings met 'n tussenpoos van 4 tot 6 weke en word daarna slegs jaarliks weer ingespuit. By lammers, veral waar hulle op 'n jong leeftyd gemerk, gekastreer of stert-afgesny word, is dit raadsaam om die dragtige ooie te ent. Die ooie word die eerste keer ongeveer 6 weke en dan weer 2 weke voordat die eerste ooie lam, geënt en daarna slegs een keer per jaar, 2 tot 4 weke voordat hulle lam. Die teenliggaampies in die bloedstroom van die ooi word dan deur die biesmelk uitgeskei en deur die lam ingeneem. Die lam sal dan ongeveer 8 tot 10 weke lank 'n passiewe weerstand hê en operasies moet dus binne die tyd uitgevoer word.

 

LAMSIEKTE

Hoewel lamsiekte nie 'n baie hoë voorkoms onder skape het nie, word dit tog sporadies veral onder stoetramme en selfs onder skape wat gemaalde of gekerfde hooi ontvang, aangetref.

 

OORSAKE EN VERSPREIDING

Lamsiekte word veroorsaak deur die gifstof van die bakterie, Clostridium botulinum, wat by uitstek in verrottende en in droë karkasmateriaal gevind word. Die gifstof is uiters sterk en klein hoeveelhede daarvan kan die siekte veroorsaak. In die geval van skape word die gifstof gewoonlik saam met besmette gemaalde voer ingeneem. Voer wat in miedens gepak word, bevat dikwels groot getalle muiskarkasse wat die gifstof bevat en saam met die voer gemaal word. Gevalle is ook bekend waar kuikenkarkasse saam met hoendermis as deel van 'n rantsoen aan ramme gevoer is en lamsiekte veroorsaak het.

 

VOOR- EN NADOODSE TEKENS

In die geval van skape is die eerste tekens gewoonlik 'n effens wankelende gang, terwyl die kop laag gehou word en tydens beweging heen en weer swaai. Skape is ook geneig om reëlmatige ruk- of swaaibewegings met die stertwortel (gewoonlik stomp afgesit) uit te voer. Progressiewe verlamming volg vinnig en ook die dood. In ernstige gevalle kan die dood intree sonder dat enige tekens of dikwels slegs verlamming waargeneem is.

Daar is geen kenmerkende nadoodse letsels nie.

 

DIAGNOSE, BEHANDELING EN VOORKOMING

Diagnose kan alleenlik op volledige agtergrondgegewens en simptome gegrond word, terwyl daar geen behandeling vir die siekte bestaan nie.

Indien lamsiekte 'n probleem is kan voorkomende inenting toegepas word. Twee toedienings met 'n tussenpoos van ongeveer 6 tot 7 weke word aanbeveel vir diere wat nog nie voorheen geënt was nie. Hierna geskied inenting een maal per jaar, ook by reeds geënte diere.

Daar moet egter sorg gedra word dat besmette voer nie aan diere gevoer word nie.

 

Published

Bladskrifreeks : Vleisskape E 8.1/1982.