Last update: April 5, 2012 10:01:51 AM E-mail Print

 

Nageslagtoetsing by Merinoskape is oorbodig

 

Nel JE

 

DIE hoofwet van die erflikheidsleer is dat die uiterlike voorkoms en prestasie van 'n dier (sy fenotipe) die resultaat is van sy genetiese samestelling (genotipe) en die omgewing waarin hy leef. Daar is reeds genoem dat mens se beraming van die "oorerflikheid" sal aandui in watter mate die genetiese samestelling 'n bydrae tot die fenotipe lewer. Hoe hoër die oorerflikheid, hoe groter die teelwaarde van 'n betrokke dier.

'n Teler wil graag weet wat die teelwaarde van sy diere is. Hoe beraam hy dit? Deur van die volgende hulpmiddels gebruik te maak:

Nageslagstoetsing is dus maar een van die hulpmiddels om 'n dier se teelwaarde te beraam, en ons sal dit nou nader ondersoek, veral met die oog op Merinoskaapteling.

 

NAGESLAGSTOETSING

Die nageslagstoets is 'n proses waardeur 'n dier se teelwaarde beraam word op grond van die meriete of voortreflikheid van die nageslag wat hy lewer. Deur middel van 'n voldoende groot nageslag behoort 'n mens 'n getroue weergawe van 'n dier se erfdwang, en dus teelwaarde, te kan kry. Nageslagstoetsing is die mees akkurate manier om teelwaarde te beraam.

Daar is egter 'n hele aantal redes waarom nageslagstoetsing nie by Merinoskape aanbeveel word nie.

Eerstens verleng dit die tydverloop tussen twee opeenvolgende geslagte sodanig dat dit die voordele van meer akkurate teelwaardeberaming heeltemal mag oorskadu. Nageslagstoetsing mag selfs die teeltvordering per jaar vertraag, teenoor massaseleksie op grond van fenotipiese voorkoms.

Tweedens dui beramings wat reeds, veral in Australië, gemaak is,daarop dat feitlik al die ekonomiese eienskappe by die Merino 'n hoë oorerflikheid het, en daarom kan Merinoramme op grond van hulle eie fenotipe uitgesoek word.

Derdens is dit by die Merinoskaap gelukkig so dat produksie ten opsigte van die manlike sowel as die vroulike dier gemeet kan word - in teenstelling met byvoorbeeld hoenders en beeste waar net die vroulike dier se produksie regstreeks te meet is. Hierdie feit dra verder daartoe by dat dit nie noodsaaklik is om met 'n Merinoram nageslagstoetsing te doen nie.

 

NIE NODIG NIE

Ons kan dus opsommend sê dat nageslagstoetsing by die Merino nie nodig is nie omdat:

(i) Produksie regstreeks gemeet kan word ten opsigte van die manlike sowel as die vroulike dier;

(ii) feitlik aIle ekonomiese eienskappe van die skaap 'n hoë oorerflikheid het;

(iii) nageslagstoetsing die tydsverloop tussen opeenvolgende geslagte verleng en sodoende teeltvordering per jaar vertraag; en

(iv) dit onnodige werk meebring.

'n Merinoram kan dus op grond van sy eie voorkoms en prestasies as 'n goeie, teeldier uitgesoek word, op voorwaarde dat die ramme wat vergelyk word onder dieselfde omgewingstoestande grootgeword het en leef.

Ten slotte moet net daarop gewys word dat nageslagstoetsing nie met stamboekteelt verwar moet word nie. Die teler wat stamboomregisters hou tesame met enkele besonderhede  aangaande die produksie- en reproduksieprestasies van sy diere, het 'n belangrike hulpmiddel om seleksie op grond van eie fenotipe aan te vul.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 37 (1)