Last update: March 26, 2012 02:23:15 PM E-mail Print

 

Namakwa-Afrikaner - oupa van S.A. skaaprasse

 

J J Olivier & J A N Cloete*

Diereproduksienavorsing

Landboukollege Grootfontein

Privaatsak X529

MIDDELBURG

5900

 

*Carnarvon Proefplaas, Carnarvon

 

Die Namakwa Afrikaner word as een van Suid-Afrika se oudste skaaprasse beskou (Epstein, 1971). Weens die tipiese vetstert en relatief swak bouvorm wat eie aan die ras is, het dit onekonomies geraak om kommersieel met die ras te boer. Dit het die gevaar van algehele uitsterwing van die ras 'n werklikheid gemaak. Ten einde die uitsterwing van die ras te verhoed, is 'n kudde Namakwas van mnr P J Maas van Namies deur die Departement van Landbou aangekoop (Starke, 1952).

Die skape word vanaf 1966 op die Carnarvonproefstasie aangehou. Huidiglik bestaan die kudde uit 99 ooie. Sikliese paring word gedoen om inteling so laag as moontlik te probeer hou. Die ooie word jaarliks in die herfs met 9 ramme gepaar. Tans word 'n kleiner kudde ook op die Tarkabewaringsgebied aangehou. Die rede hiervoor is om moontlike grootskaalse verliese as gevolg van siektes te probeer verhoed. Verder word inligting oor teelseisoene, ouderdom van eerste lamming en leeftydproduksie ingesamel.

Die Namakwa Afrikaner is bekend vir sy lang teelseisoen wat feitlik deur die jaar ewe goed is (Boshoff, Gouws & Nel, 1975). Reproduksiedata van die Namakwa Afrikaners op die proefplaas is reeds van 1973 beskikbaar en word in Tabel 1 aangetoon. Verdere inligting oor ouderdom van eerste en laaste lamming word nog ingesamel. Hierdie eienskappe is baie belangrik veral as dit in ander bestaande rasse verbeter wil word. Voorlopige resultate dui daarop dat Namakwa-ooie gemiddeld binne 78 dae na lamming in die lente, herbeset raak. Geen inligting oor herbesettingstydperk met 'n herfslamming is nog beskikbaar nie.

 

Die gemiddelde massas van ram- en ooilammers word in Tabel 2 aangetoon en het betrekking op lammers wat vanaf 1982 tot 1984 gebore is. Tans is daar ook 'n ondersoek aan die gang om die produksie en reproduksie van die Namakwa Afrikaner met data wat oor 'n aantal jare versamel is, te bepaal.

 

Die Namakwa is 'n vetstertskaap en gevolglik word 'n groot gedeelte van sy energiereserwe in sy stert gestoor. In 'n proef is tien tweetand-ramme geslag en die been, vleis en vet van die karkas geskei. Die gemiddelde persentasie van elk was as volg :

Been             15,27%

Vleis              53,86%

Vet               28,99%

Van die totale liggaamsvet het gemiddeld 35,88% in die stert voorgekom. Dit is dus duidelik dat die stert 'n belangrike stoorplek van vet is. Dit is ook duidelik dat Namakwa-ramme reeds op tweetand-ouderdom oorvet is aangesien die gewenste totale vetinhoud van die karkas slegs ongeveer 22% behoort te wees.

Die vel van die Namakwa is ook vir looibaarheid geëvalueer. Daar is gevind dat die velle uitstekende looi-eienskappe besit veral vir die vervaardiging van seemsleer. Weens die harige bedekking is die velle egter nie geskik vir byvoorbeeld sitplekoortreksels nie.

 

LITERATUUR

BOSHOFF D A, GOUWS D J & NEL J A, 1975. Die reproduksiepatroon van vyf skaaprasse onder ekstensiewe toestande. Ongepubl. grafiek S. A[r. Tydskr. Veek. 5,37

EPSTEIN H, 1971. The origin of the domestic animals of Africa. Vol II. Africana Publishing Corporation, New York.

STARKE J S, 1952. Ontwikkeling van die Nie-Wolskaap. Boerdery in S.A. 87,91

 

Published

Karoo Agric 3 (7), 21-22