Last update: April 2, 2012 03:30:54 PM E-mail Print

DIE STRYD TEEN NASSELLA-POLGRAS

A.J. Siepker

Landboukollege Grootfontein

 


Op 26 Februarie 1979 het die Karoostreek in aIle erns die bestryding van nassella-polgras aangepak. Volgens opnames is daar onderskeidelik 1134 en 5059 ha swaar tot medium besmette veld wat deur die Staat op boere se plase bestry moet word (kyk Fig.1).

 

 

Die eerste drie maande is daar volstoom gespuit totdat die winterkoue die gras grootliks laat verdroog het en die gifstof nie meer so geredelik opgeneem is nie. Weens die digte stand van die gras is tot 50 kg Delapon/1 000.ℓ water gebruik (later verminder na die voorgeskrewe 25 kg/1 000 ℓ). Gemiddeld word 1 200 ℓ /ha gespuit.

 

 

Vyftig swart arbeiders onder leiding van 'n voorman is gehuur om die bestrydingsveldtog op Bosberg in die distrik Somerset-Oos aan te pak. Die medium besmette kolle word met handspuite bestry om sover moontlik net die nassella-polgras te tref en nie die goeie grasse Die (kyk Fig. 2).

Arbeiders moet in 'n ry loop - so na aan mekaar as prakties moontlik om te voorkom dat polle oorgeslaan word. Stroke wat gespuit moet word, word vooraf met vIae uitgepen.

 

 

Swaar besmette kolle wat onrybaar is, word met petrolaangedrewe pompe wat op die rug gedra word, bespuit omdat dit veel vinniger gaan alhoewel dit heelwat duurder is.

 

 

Waar groot oppervlaktes swaar besmette veld voorkom, word 'n Landrover ingespan waaraan 'n "boom"-spuit gemonteer is om die alleenstand van nassella-polgras te benat (kyk Fig. 4).

Die gifstof Delapon word in 1 000-ℓ-tenks gemeng teen 'n sterkte van 25 kilogram/ 1 000 ℓ water.

Waar moontlik word die mengtenks naby 'n fontein geplaas en vol gepomp (kyk Fig. 5).

 

 

In die eerste 74 werkdae is 9 600 kg gifstof ter waarde van Rl5 168 op 213 ha swaar besmette veld gespuit, wat saam met salarisse, lone en vervoerkoste (arbeiders en water) gemiddeld op R139/ ha te staan gekom het (met die vermindering in konsentrasie van die spuitstof sal heelwat op gifstof bespaar word).

Met die aanbreek van die winter (gras te droog) is vir die tweede drie maande tot 30 September 1979 oorgegaan tot die uitkap van medium besmette kolle op moeilik bereikbare plekke en waar water nie bekombaar is nie (kyk Fig. 6).

 

 

In 86 werkdae, waarvan 18 grootliks deur kapokweer belemmer is, is 300 ha veld van nassella-polgras skoongekap teen gemiddeld R91/ ha.

Die gevaar bestaan dat gekapte polle weer kan groei as dit nie heeltemal uitgekap word nie. Verkieslik moet dit met die wortels na bo gelaat word.

Koste per hektaar word verhoog deur veldpaadjies of selfs nuwe paaie wat gemaak moet word teen rante uit en deur digte stande kakkerlakbosse (kyk Fig. 7).

 

 

Verder moet water om die gifstof mee te meng ver ente oor onrybare terrein in emmers aangedra word (kyk Fig. 8).

 

 

Op 30 Mei 1979 is bespuiting gestaak omrede die gras te droog geraak bet om die gifstof doeltreffend op te neem. Die verskil na die winter tussen gespuite en ongespuite veld kan duidelik op Fig. 9 gesien word.

 

 

Vir die derde driemaandetermyn is vanaf 1 Oktober 1979 voltyds oorgeskakel na bespuiting met 'n konsentrasie van 25 kg Delapon/ 1 000ℓ water wat heeltemal effektief is.

Tans word gemiddeld 4 ha veld per dag van nassella-polgras skoongemaak. Teen die tempo sal dit ongeveer 6 jaar neem om die net meer as 6 000 ha swaar en medium besmette veld van die nuttelose gras vry te kry.

Om die bestrydingsprogram te bespoedig, is 'n tweede span van 32 arbeiders onder 'n voorman op 12 November 1979 in die veld gestoot om 'n swaar besmetting op die plaas Moreson naby Pearston aan te pak. Alles word probeer om te voorkom dat die gevaarlike indringergras saadskiet (kyk Fig. 10).

 

 

Om hierdie allergrootse poging van die Karoostreek met sukses te bekroon, is dit nodig dat die boere hulle allerbeste sal doen om berbesmetting sonder versuim doeltreffend te bestry!

 

Published

Karoo Streeknuusbrief Somer