Last update: March 26, 2012 11:51:07 AM E-mail Print

 

Die natkarkassindroom

 

J.P.J. Joubert

Veterinêre Streekslaboratorium

Privaatsak X528

MIDDELBURG KP 5900

 

Die natkarkassindroom word gekenmerk deur die blinknat voorkoms van 'n andersins normale karkas. Op die slagvloer kan die waternat karkas van 'n skaap reeds op 'n afstand raakgesien word, omdat die vel, soos dit afgestroop word, blinknat is en duidelik verskil van die normale dowwe wit voorkoms1. Dit word hoofsaaklik gesien by skape, maar het ook al by beeste voorgekom. Van nader gesien is daar waterige vloeistofaansameling in die subkutane en tussenspierse bindweefsel. Dit kan varieer van min tot uitermatig baie. As gevolg van die waterige aansameling vertoon die karkas nie goed nie, dit droog nie af nie en die houvermoë van so 'n karkas is swak. Die karkasse is dus esteties afstootlik en daarom word dit afgekeur1 7.

Sodoende is daar sedert 1981 tot 1986 reeds meer as 50 000 skaapkarkasse afgekeur wat 'n verlies van meer as R2 miljoen vir die skaapvleisbedryf tot gevolg het7.

Die natkarkassindroom (NKS) het sedert 1981 dikwels voorgekom by die abattoirs Chamdor naby Krugersdorp en City Deep van Johannesburg. Dit het meestal voorgekom by jong skape en lammers en hoofsaaklik by Dorpers en Dorperkruisings. Aanvanklik was die area waarvandaan dit gekom het die distrikte Hay, Gordonia, Kuruman, Postmasburg en Prieska. Die insidensie was ongeveer 4,5% op aangetaste plase. Later is dit ook waargeneem by skape vanuit ander areas en ook by ander abattoirs, soos byvoorbeeld Port Elizabeth3 7. Intussen het dieselfde toestand nie voorgekom by die Pretoria-, Kaapstad- en Cato Ridge (Natal)-abattoirs nie. Daar was bespiegelinge dat die rede vir die verskil daaraan toegeskryf kon word dat Chamdor en City Deep lekblokke gebruik (in die oorstaankrale) en die ander hooi7.

In hierdie stadium was daar ook heelwat verwarring oor die naam van hierdie toestand. Miskien is Hattingh en Mitchell2 die naaste aan reg, want hulle het van die NKS as 'n subkliniese edeem gepraat. Newsholme het dit 'n "hidrose" genoem en duidelik aangetoon dat daar geen patologiese letsels waarneembaar is by hierdie gevalle nie1. Dit is egter nie 'n volwaardige edemateuse toestand nie, aangesien daar geen gravitasie van vloeistof is na die laagliggende subkutane dele van die dier nie. Trouens die toestand kan nie in 'n lewende dier waargeneem word nie1.

Aan die anderkant is daar weer die toestand van uiterste vermaering wat wel ook 'n blinknat, maar brandmaer karkas tot gevolg het. Die feit dat NKS ook by Super Lam en Lam 1-karkasse voorkom, onderskei die toestand dus ook van laasgenoemde1.

 

PROEWE BY ABATTOIRS

Port Elizabeth 7

Daar is gevind dat 'n lekblok wat 25% sout bevat, gebruik is in die oorstaankrale toe natkarkassindroom by soveel as 275 skaap- en 3 beeskarkasse per maand waargeneem is. Lusernhooi het die lekblok in die oorstaankrale vervang en dit het die insidensie van NKS laat afneem tot 'n gemiddeld van 1 bees en 27 skape oor 3 maande.

'n Ander kommersiële lekblok wat minder as 5% sout bevat, het in die oorstaankrale ook 'n vergelykbaar lae insidensie van NKS tot gevolg gehad, nes die lusernhooi. (Persoonlike kommunikasie, G.W. Burroughs, Port Elizabeth-abattoir, 1985).

 

Upington (Askham)7

Driehonderd skape is 6 weke lank in twee groepe verdeel op 'n plaas naby Askham. Die twee groepe van 150 is in aangrensende kampe gejaag. Die een groep het droogtekorrels plus weiding gekry om te vreet en die ander het net veldweiding gehad. Aan die einde van die 6 weke is bulle almal saam bemark. Die helfte van elke groep (75) is by 'n abattoir afgelaai waar lekblokke in die oorstaankrale gevoer word en die ander twee helftes is by 'n abattoir afgelaai waar tefhooi in die oorstaankrale gevoer word. (Persoonlike kommunikasie, P. Jordaan, Staatsveearts. Upington, 1985).

Resultate Lekblok-abattoir Tefhooi-abattoir
  Voer Veld Voer Veld
Aantal skape 75 75 75 75
% nat karkasse 1.3% 12% 0% 0%
Aantal Super Lam 43 43 27 22

 

 

City Deep7

Vir een maand is aIle skape vanuit die distrik Gordonia en omgewing in twee groepe verdeel. Die helfte het lekblokke gekry en die ander helfte hooi (in die oorstaankrale).

Resultaat Lekblok-groep Hooi-groep
Totaal in maand geslag 616 630
Aantal nat karkasse 15 0

 

 

Pretoria-abattoir 7

Hier het normaalweg geen nat karkasse voorgekom nie. Hulle normale praktyk was om droë hooi in die oorstaankrale te voer. Vir sowat 2 maande lank het bulle by enkele oorstaankrale lekblokke gevoer. Vir daardie tydperk is daar 178 skaapkarkasse afgekeur weens NKS en almal was afkomstig vanuit die lekblokkrale.

 

PROEWE OM DIE WYSE WAAROP NATKARKASSINDR00M 0NTSTAAN, OP TE KLAAR

Die idee dat NKS ontwikkel by skape wat vir 'n tydperk van water weerhou is (soos met die bymekaar maak en vervoer na die abattoir) en dan 'n groot hoeveelheid suip net voor slagting, het aanleiding gegee tot die spesifieke proefuitleg soos bier uiteengesit. Verder is aangeneem dat dit veral die sout (Na Cl) in die lekblokke was wat waterinname verder verhoog het, om die duidelike verskil tussen lekblokke en hooi by die abattoirs te verklaar.

TABEL 1 dui die effek van rehidrasie en 'n soutlek aan by skape wat 52 h sonder water was3. Daar het wet nat karkasse op die wyse ontstaan en die groep wat 'n soutlek saam met water ontvang het, het almal nat karkasse opgelewer.

 

TABEL 24 bevestig die wyse waarop nat karkasse ontstaan. Hierdie keer was die dehidrasie-tydperk langer (3 dae). Verder toon dit aan dat skape tot op die 4de dag na 'n dors ly-tydperk nog nat karkasse kan oplewer. Let ook op die relatief hoë waterinname op die rehidrasie-dag en die normale waterinnames daarna. Hierdie proef is in Mei uitgevoer.

 

TABEL 34 wys weer eens die verband tussen dors ly, die inname van water net daarna, en die voorkoms van nat karkasse. Verder wys dit dat daar geen afname in die voorkoms van die toestand is as sout of 'n lekblok (5% sout) 10 dae lank voor die dors ly-periode verskaf word nie. Dit toon ook duidelik dat die inname van droë lusernhooi 'n laer insidensie van natkarkassindroom bewerkstellig. Hier is die normale gemiddelde waterinnames baie laag, want die proef is in Desember uitgevoer. Waarskynlik is die klein of geen verskil in hoeveelheid ingeneem na dehidrasie, hieraan toe te skryf.

 

TABEL 42 4 vergelyk die interstisiële weefselvloeistof se proteïenwaardes en die A/G-verhouding van normale skape en die van natuurlike NKS-skape (Hatting et al, 1983) en eksperimentele NKS-skape. Natuurlike NKS-skape en eksperimentele NKS-skape se totale proteïenwaardes verskil betekenisvol (P<0.001) van die normale skaap. Die A/G-verhouding van natuurlike NKS- en eksperimentele NKS-skape se interstisiële weefselvloeistof verskil ook betekenisvol (P<0.01) van normale skape. By laasgenoemde geval is daar wel 'n verskil tussen eksperimentele NKS- en natuurlike NKS-skape, aangesien die eksperimentele NKS-vloeistof nog heelwat minder globuliene bevat as die natuurlike NKS-vloeistof. Dit dui steeds aan dat baie min proteïne in die vloeistof voorkom en dat dit feitlik geheel en al uit albumien bestaan. Dit val dus nog binne die eienskappe van 'n nat karkas soos beskryf deur Hattingh et al2:

  1. Normale plasma-proteïenkonsentrasie
  2. 'n Lae interstisiële weefselvloeistof-proteïenkonsentrasie
  3. Verhoogde albumien/globulienverhouding.

 

TABEL 5. In hierdie tabel word daar baie duidelik aangedui hoe die insidensie van NKS afgeneem het by twee abattoirs toe lekblokke uit die oorstaankrale verwyder is en slegs water voorsien is. (Persoonlike kommunikasie, Dr B. Horton, City Deep, en Dr J.E. Robinson, Chamdor-abattoir, 1986).

TABEL 6. By die Kimberley-abattoir is die skape in drie groepe verdeel. 'n Groot groep het geen voer gekry nie, terwyl die ander twee groepe onderskeidelik lekblokke en droë hooi gekry het in die oorstaankrale. Daar het selfs meer nat karkasse voorgekom by die groep wat slegs water ontvang het, as by die ander groepe. Die graad van "natheid" was egter so laag dat die meeste karkasse deurgelaat is vir verkope nadat bulle reggesny is en net een afgekeur is in hierdie 6-maande-tydperk. (Persoonlike kommunikasie, Dr A.J.D. Williamson, Kimberley-abattoir, 1986).

 

TABEL 7. Die syfers van Springs-abattoir is besonder indrukwekkend. Daar het bulle op 'n stadium besluit om tefhooi in die oorstaankrale in plaas van lekblokke te gebruik. Dit het veroorsaak dat die aantal nat karkasse vir 'n 6-maande-periode (met lekblokke) 196 was uit 'n totaal van 91297 totale skaapslagtings, teenoor 5 nat karkasse uit 228667 karkasse geslag oor die volgende 15 maande toe tefhooi gebruik is. (Persoonlike kommunikasie, Hoofvleisinspekteur, Springs-abattoir, 1986).

 

OPSOMMING EN BESPREKING VAN RESULTATE

1. Natkarkassindroom kan eksperimenteel verwek word deur skape te laat dors ly en dan voor slagting water plus 'n soutlek of lekblokke te gee.

2. Die gebruik van hooi in die oorstaankrale van abattoirs kan die insidensie van NKS aansienlik laat afneem. Ter ondersteuning hiervan het MacFarlane5 geskryf dat die ekstrasellulêre vloeistofvolume met 1l kan afneem by 'n 32-kg-Merinoskaap binne 10 min nadat die skaap 350 g hooi gevreet het.

3. As slegs water beskikbaar is in die oorstaankrale van abattoirs is daar ook 'n groot afname in die aantal nat karkasse.

4. Daar is egter nog vrae wat nie heeltemal beantwoord word deur bogenoemde bevindinge nie. Die verskil in die resultate by Kimberley teenoor die ander abattoirs kan nog Die bevredigend verklaar word Die. Moontlik kon die Kimberley skape reeds op die plase van oorsprong hulle nat karkasse opgedoen het.

Verder het daar die afgelope 2 jaar meer nat karkasse by L3- en Graad-3-karkasse voorgekom.

Dit strook met bevindinge van MacFarlane, wat noem dat meer water in die interstisiële weefsel kan aansamel in 'n maer karkas en dat daardie waterkompartement kleiner word as die dier vet aansamel. Hier kan ook in gedagte gebou word dat met 'n opname vasgestel is dat die boere wat allerweë as die beste bestuurders beskou word, geen nat karkasse 'onder bul slagskape kry nie, terwyl die boere wat swak bestuur toepas die hoogste insidensie van nat karkasse by bulle slagskape sien. Moontlik sorg die beter bestuurders dat die meeste van bulle skape 'n redelike vetbedekking voor bemarking het en kan dit bulle goeie resultate verklaar volgens die beskikbare inligting. (Persoonlike kommunikasie, B.N. Jansen, U.O.V.S. 1986).

5. Nadat alles oorweeg is, lyk dit dus as of die natkarkassindroom nie net oorhidrering is nie, maar waarskynlik ook prikkelstowwe soos sout en moontlik ander stowwe benodig, asook die regte graad vetbedekking van die karkas, om te ontstaan.

6. Shkolnik6 en sy medewerkers het aangedui dat melkbokke in die woestyn maar een keer in 5 dae water suip en dan genoeg water in die rumen saamdra om 'n relatief hoë wateromset te handhaaf asook 'n redelike melkproduksie.

Hierdie vermoë om water in die rumen te berg kan ook in geringe mate uitgebrei wees om ook die interstisiële weefsels in te sluit. Dan kan dit moontlik wees dat sommige skape juis meer aangepas is om 'n hoë produksie onder semi-woestyn toestande te handhaaf en sal sulke diere makliker nat karkasse oplewer as ander.

 

VERWYSINGS

1. Brock, R.M., Joubert, J.P.J., Hattingh, J., Mitchell, G., Newsholme, S.J., Van der Veen, R.R., Hofmeyr, H.S., Engels, E.A.N., Groenewald, H.B., Hunter Pamela, 1983. Ovine wet carcass syndrome of unknown aetiology. South African Journal of Animal Science. 13: 194-195

2. Hattingh, J., Mitchell. G.. Ganhao, M.F., 1983. The composition of plasma and interstitial fluid of sheep with the "wet carcass" syndrome. Journal of South African Veterinary Association (1983) 54 no. 2: 87-89

3. Joubert, J.P.J., Marais, P.G., Smith, F.J.C., 1985. Ovine wet carcass syndrome induced by water deprivation and subsequent overhydration: Preliminary findings. Journal of the South African Veterinary Association 56 no. I: 1.7-19

4. Joubert, J.P.J., Marais, P.G., Viljoen, K.S., 1985. Unpublished report.

5. MacFarlane, W. V., 1975. Distribution and dynamics of body fluids in sheep. Ed. M.H. Blunt: The blood of sheep: Composition and function. 1st edn Springer Verlag, New York: 1-27

6. Shkolnik, A., Maltz, E., Choshniak, I., 1980. The role of the ruminant's digestive tract as a water reservoir. In: Ed Ruckebusch Y and Thivend P; Digestive physiology and metabolism in ruminants. AVI publishing Co., Westport, Connecticut U.S.A.: 731-741

7. Van der Veen, R.R., 1985. Verslag van die Natkarkassindroom Koördinerende Komitee.

 

Published

Karoo Agric 3 (8), 7-11