Last update: April 10, 2012 09:30:11 AM E-mail Print

 

Die Noodsaaklikheid van Gesonde Groei in Wol

J. J. Venter

 

GESONDE groei in wol is 'n belangrike vereiste vir beide die produsent en die koper, en dit word beskou as gepaardgaande met 'n goeie breeksterkte. Wolkopers heg baie waarde daaraan in hul beoordeling, en wol wat 'n gebrek aan gesonde groei toon, word teen gediskrimineer en as minderwaardig beskou, omdat dit na verwagting maklik sal breek onder die spanning waaraan dit in die verskillende vervaardigingsprosesse onderwerp word. Daarom dan ook dat produsente sodanige wol afsonderlik baal, en TDR merk.

Eienskappe soos lengte, fynheid en dus die hoeveelheid wol op die skaap, blyk baie gevoelig te wees vir enige veranderings in toestande.

Onvoldoende voer, ongunstige veranderings in bestuur, siektes of die grootmaak van lammers gedurende die groeiperiode van die wol, veroorsaak dat keratienvorming afneem, met 'n gevolglike afname in wolproduksie. In gevalle van droogte, byvoorbeeld, verander die skaap se metabolisme en die follikel-aktiwiteit word vertraag. In goeie tye van volop kos vind egter net die teenoorgestelde plaas en word 'n growwer, langer en meer egalige vesel met groter breeksterkte en meer keratien geproduseer.

Die term " tenger" dui 'n merkbare afname aan in breeksterkte op enige punt in die stapel, in vergelyking met sy normale sterkte gedurende toestande van gesonde groei, en is in sommige gevalle duidelik merkbaar deur of 'n definitiewe breek of 'n verdunning of 'n verandering in die aantal kartels per duim.

 

Breeksterkte en treksterkte

In hierdie verband moet daar onderskei word tussen die breeksterkte wat gelyk is aan die totale krag wat nodig is om die vesel te breek, en die treksterkte wat gedefinieer word as die breeksterkte per eenheid-deursnee-oppervlakte. Dit is vanselfsprekend dat dikker vesels 'n groter breeksterkte toon as dunner vesels, maar normalerwys is die treksterkte, waarby die twee soorte vesels op dieselfde diktegrondslag vergelyk word, min of meer dieselfde vir dik en dun vesels. Die vraag ontstaan dus of vesels wat deur verhongering verdun is, dieselfde treksterkte besit as vesels wat onder gunstige voedingstoestande gegroei het.

Om hierdie vraag te beantwoord, is 'n groep van 10 skape eers onder optimum voedingstoestande gehou, daarna 'n uiters swak rantsoen van slegs veldhooi gekry, en daarna weer goed gevoer. Die treksterkte is op dieselfde stapel op die drie dele, wat met die drie voedingsperiodes ooreenstem, afsonderlik bepaal.

Die breeksterkte is bepaal deur drie bondels van 100 vesels elk op verskillende punte langs die lengte te breek onder konstante vogtigheid- en temperatuurtoestande. Die treksterkte is bereken van die gemiddelde breeksterkte en veseldikte.

 

 

Gevolgtrekkings

In bygaande tabel word 'n opsomming van die resultate verstrek vir die drie verskillende voedingstydperke, en dit toon duidelik dat die fynheid en sterkte van die wol besonder gevoelig was vir die voedingsveranderings. Ofskoon die eerste en laaste periodes beide optimum voeding ingesluit het, is die waardes vir die eerste periode effens laer, ongetwyfeld as gevolg van die feit dat die skape aan die toestande gewoond moes raak. Statisties is daar egter nie 'n verskil tussen die waarnemings van hierdie twee periodes nie. In die tweede periode van uiters swak behandeling was daar 'n geweldige afname van gemiddeld sowat 28 persent in die veseldikte en 37 persent -in die treksterkte.

Die uitslag van die bepalings bewys dat wol wat onder swak voedingstoestande gegroei het, 'n baie laer treksterkte het as die wat gesond gegroei het. Ten spyte van die feit dat ooreenstemmende fynhede nie in die periodes van swak en goeie voeding verkry is nie, word uit die resultate afgelei dat vesels wat onder verskillende voedingstoestande gegroei het, wel kan verskil in treksterkte hoewel hulle van dieselfde dikte is. 'n Struktuurverandering is vermoedelik; verantwoordelik vir die verskil.

Hoewel die resultate op uiterste toestande betrekking het, is die verandering in woleienskappe so groot dat daar aangeneem kan word dat selfs in die geval van kleiner veranderings in omstandighede, 'n sekere mate van verswakking van die vesel plaasvind. Dat wolkopers aandring op gesonde groei van wol is dus geregverdig.

Gevolglik blyk dit dat in die algemene boerdery en wolproduksie steeds gestreef moet word na 'n egalig-gunstige voedingstoestand dwarsdeur die jaar, om sodoende 'n gesonde groei van die wol te verkry en 'n hoë gehalte van die wolskeersel te verseker. Dit bewys weereens dat die voeding van die dier een van die belangrikste vereistes is vir 'n gesonde en opbouende boerderypraktyk.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 28