Last update: April 3, 2012 11:44:40 AM E-mail Print

 

DIE ONTWIKKELING, BESKERMING EN BENUTTING VAN DIE VELDPRODUKSIE-POTENSIAAL VAN DIE NOORDWESTE

PW Roux 

 

Ons beleef vandag die interessantste en mees uitdagende era in die menslike geskiedenis. Van die grootste probleme wat die hoof gebied moet word, is die energiekrisis en die van voedselproduksie. Daar is baie beslis nie ‘n tekort aan energiebronne nie. Die knoop Iê by genoegsame voedselproduksie. Die Iandbouer in Suid-Afrika is verreweg nog nie tot so ‘n mate onder druk geplaas om werkIikwaar te produseer nie. Die boer in die Noordweste sal min aktiewe aandeel in hierdie veeleisende stryd hê, aangesien hy reeds, sover as wat die natuurlike hulpbronne hom toelaat, feitlik maksimaal produseer.

Die veldproduksie-potensiaal is deel van en word beheer en beïnvloed deur wat bestempel word as die natuurlike hulpbronne. Om die produksie-potensiaal te benut, is die weidende dier as tussenganger die noodsaaklikste. Aan die spits van hierdie hulpbronne staan die boer in die beheerposisie.

Die veldproduksie-potensiaal moet ten volle benut word tot voordeel van die boer, maar dan moet dit nie op so ‘n wyse geskied dat die uitvoering daarvan as ‘n wanpraktyk bestempel kan word of die potensiaal daardeur onherstelbaar geskaad of verlaag word nie. Die potensiaal kan alleenlik doeltreffend benut word indien die nodige kennis daaromtrent bestaan. Dit is dan ook op hierdie gebied waar veldnavorsing, voorligting aan die boer, en die toepassing van sy kennis, so uiters belangrik is.

Dit is by die individuele plant waar die produksie van ‘n plaas lê en waar die produksie-potensiaal ontwikkel kan word. As die produksie per plant slegs met 5 persent vermeerder, die veldsamestelling met 5 persent verbeter en die velddigtheid met 5 persent opgestoot kan word, sal die veldproduksie met meer as 15 persent toeneem.

Om hierdie doelwit te kan bereik, is dit nodig dat die drakrag van die veld nie oorskry moet word en die veld ook nie te kort gevreet moet word nie. Die veld moet lank genoeg gerus word sodat herstellende groei en die vestiging van nuwe plante, kan plaasvind. Hierdie doelwit kan die beste en die maklikste bereik word deur weidingstelsels, veldspaar, spesiale behandelings en ander ondersteunende maatreëls binne die raamwerk van ‘n groepkampstelsel toe te pas.

Die sukses van veldnavorsing kan gemeet word aan die voorspelbaarheid van die toepassing van sy resultate in die praktyke Dit is voldoende om te sê dat die voorspellingswaarde van weidingsnavorsingsresultate in die praktyk hoog is.

‘n Groot aantal veldbeheermaatreëls bestaan tans vir die Noordweste. Daar is etlike geordende weidingstelsels, geskoei op ekologiese beginsels - veral van klimaat en plant - wat voorgeskryf word.

Daar is veldprobleme wat nie deur biologiese veldbeheermaatreëls opgelos kan word nie, maar wat wel vertraag en selfs met behulp van sulke maatreëls gestuit kan word. Hiervan is die indringing van eksotiese plante soos die Meskietboom, Swarthaak en soms die Driedoring en ‘n paar ander soorte, die belangrikste. Die herwinning van kaalkolle en onproduktiewe veldoppervlakte, vereis eweneens spesiale maatreëls ter beskerming.

Reënval, en derhalwe grondvog en sy beskikbaarheid, is die heel belangrikste natuurlike hulpbron wat die Noordweste betref. Dit is derhalwe van die grootste belang om kennis te neem van die geaardheid, fluktuasies en korttermyn-tendense soos deur reënvalsyfers weerspieël word.

Die kennis wat tans oor bossies, gras, struike en opslag bestaan, toon baie duidelik dat, wat die Noordweste se plantegroei betref, die waardevolle en gewenste bossiesoorte hoofsaaklik gedy op reën wat gedurende die laatsomer, herfs en lentemaande val. Reën gedurende die somermaande, hoofsaaklik vanaf Oktober tot selfs Maart, stimuleer allerlei grassoorte, waarvan Boesmangras die heel belangrikste is.

Dit kan onomwonde verklaar word dat die Noordweste sedert 1925 tot 1971 aan ‘n geleidelike maar onophoudelike negatiewe vogbalans onderhewig was. Die algemene resultaat hiervan was die besliste tendens tot groter xerofitisme in die plantegroei. Kenmerke hiervan is die toename in groter geharde struike, sukkulente plante, laer produserende bossiesoorte, opslagplante, doringagtige plante en die ooswaartse uitbreiding van Boesmangras en bossiesoorte. Die uitwerking van beweiding op hierdie situasie kan beskryf word as ingrypend aangesien die weidingsdruk in steeds toenemende mate op die kwynende getalle smaaklike en produktiewe bossiesoorte geval het.

As gevolg van die uitsonderlike hoë reënval van die afgelope drie jaar en die feit dat dit gevolg het in ‘n stadium waar die veld baie jare aan droë periodes onderwerp was en grootliks daardeur ‘n a xerofitiese karakter ontwikkel het, het die plantegroei sterk gereageer met die ontwikkeling van ‘n grasbedekking. Die totale uitwerking van die hoë reënval is dat dit ‘n mesofitiese karakter aan die plantbedekking verleen.

Die Noordwestelike gebiede is inherent semi-dor tot dor en derhalwe beskik die plantbedekking oor al die eienskappe om droogtes en hoë temperature te oorleef, asook uitsonderlik gunstige vogtoestande. Die plantbedekking het dus ‘n wye aanpassingsvermoë.

Oor die algemeen kan verwag word dat van die smaakliker karoobossoorte ‘n groot stoot vorentoe gekry het met al die reëns. aangesien hierdie soorte meer mesofities van aard is.

Die uitwerking van die oormaat gras op die grondvrugbaarheid is van onskatbare waarde en behoort grondvrugbaarheid vir nog baie jare op ‘n hoër vlak te handhaaf as wat gewoonlik die geval is. ‘n Groot probleem wat uit die goeie neerslae ontstaan het, is dat boere nou oorgerus is en min of geen stappe neem teen droogte nie. Die mees positiewe stappe wat geneem kan word is om die goeie toestande, deur middel van veldbeheerpraktyke, so te benut dat velddigtheid sover as moontlik bevorder word en reserwes handhaaf. Die veld moet nie nou na willekeur benut word met die doel om dit af te vreet of kort te hou nie. Die doel moet wees om beskerming te verleen met die spesifieke doel om veld te verbeter.

Dit is nou tyd om die veldpotensiaal ‘n groot stoot vorentoe te gee. Al die kennis om dit te doen, is beskikbaar om die probleme van die beheer van veld doeltreffend die hoof te bied. Die maatreëls moet net toegepas word.

Soos wat die huidige situasie is en soos dit aan die ontwikkel is, wag daar ‘n rooskleurige veldtoekoms vir die Noordweste. Daar moet egter onthou word: as jy nie deel van die oplossing is nie, is jy deel van die probleem.

 

Published

Karoo Streeksnuusbrief Desember 4 - 5