Last update: April 3, 2012 11:38:07 AM E-mail Print

 

DIE NOORS AS BRON VAN VOEDSEL

A. v. E. Nell, Jansenville

 

As ons praat van voerplante, dan dink ons onmiddellik aan wuiwende lusernlande, geel en blou plate lupiene of, in uitsonderlike gevalle miskien, aan kaalbladturksvye en ouman soutbos, maar seIde of ooit dink ons aan die noors in terme van voer. Die rede is voor die handliggend - ons groei saam daarmee op, sien dit elke dag raak of sien dit selfs nie meer raak nie. Alles wat so volop is, kan tog mos nie goed wees nie, so redeneer sommige mense. Tog weet ons, wat die noors ken, dat ons hier te doen het met ‘n waardevolle bron van voedsel. Die vraag ontstaan of dit nie miskien die teenwoordigheid van die noors is wat die oorsaak is dat so baie plase vandag vertrap en geruïneer is nie. Hier moet ons nie die noors blameer nie, maar die mens wat met sy diere roekelose oorbeweiding toegelaat het omdat hy, wanneer moeilike tye aanbreek, steeds kon terugval op die altyd teenwoordige noors as bron van voedsel.

‘n Mens vra jouself die vraag af of die eina-eina belangstelling in droogtebestande voergewasse in hierdie gebied nie daaraan te wyte is dat die noors maar daar is en altyd daar sal wees nie. Hierdie feit weerspieël die waarde wat geheg word aan die noors as veral droogtebestande voergewas by uitstek.

 

Kenmerke

Kortliks wil ek ‘n paar uitstaande kenmerke van die noors noem, naamlik:

Die doringagtigheid van die plant help om te verhoed dat dit summier deur diere gevreet word - dus beskerming. Die dorings is egter anders as by cacti, - in rye gespasieer en maklik verwyderbaar.

Die hele plant is oortrek met 'n vetterige waslagie en dit is veral hieraan toe te skryf dat noorse selde of ooit vrek as gevolg van droogte.

Die sap of lateks van die plant is taai en waar die plant beskadig word, word die wand binne enkele minute verseël.

Die noors plant voort by wyse van rizome en daarom is dit een van die gewasse wat nie maklik vernietig kan word nie.

Die wortelstelsel van die noors is heel besonders – vlak onder die oppervlakte word 'n netwerk van wortels gespan om die geringste vogtigheid te kan gebruik. Die wortelstelsel is veral van waarde by die bekamping van water- en winderosie.

Die noors sorg vir sy eie organiese materie - 'n belangrike faktor waar daar feitlik geen organiese reste deur die diere nagelaat word nie. Noorsgrond is algemeen bekend as uiters vrugbare grond.

'n Baie belangrike eienskap van die noors is dat dit as beskermheer dien vir feitlik alle soorte plantegroei en ons weet wat dit beteken. Die noors is nie kompeterend met ander plante nie en menige noorspol huisves 'n verskeidenheid waaronder klapperboom, pruimboom, stervygie en 'n menigte ander waardevolle plante.

As ons nou die minder vleiende eienskappe soos vassit van diere en tussenspasie-oorbeweiding opweeg teen al die goeie eienskappe, dan kan ons self die resultaat bepaal.

 

Benutting

Om die noors uit sy natuurlike staat te omskep in iets bruikbaar vir die dier, moet dit gekap word.

Die noorsplante word in lengtes van se 100 tot 150 cm gekap. Hierdie proses vereis heelwat arbeid en die resultate is nie so goed nie. Baie vermorsing vind plaas en ‘n geruime tydperk verloop voordat diere die stukke kan benut.

 

Voedingswaarde

Oor hierdie aspek van die noors is daar geweldige meningsverskil. Almal is dit egter eens dat noors en brakbosse diere baie vet maak, maar ons moet hier put uit ander bronne.

Uit proewe wat gedoen is, is volledige resultate beskikbaar en ek noem slegs enkele feite.

Bokke kan hul liggaamsgewig oor ‘n tydperk handhaaf op suiwer noors in gekerfde vorm. Daar word egter aanbeveel dat ‘n geskikte lek vir ‘n proteïentekort voorsiening moet maak.

Hierdie proewe stem grootliks saam met soortgelyke proewe wat deur myself onderneem is in samewerking met ‘n firma wat kommersiële lekke bemark. Hierdie intensiewe proewe het oor ‘n tydperk van ses maande gestrek en baie goeie resultate is behaal ten opsigte van die handhawing van liggaamsgewig en haar- en wolproduksie. Dit is miskien interessant om daarop te let dat onder droogtetoestande diere besonder goed presteer het en die som van R11,60 per kop behaal het op ‘n veeveiling.

My finale opmerkings is dat noors 'n belangrike deel kan uitmaak van die ruvoerbehoeftes van diere en dat met die toediening van lekke, uitstekende resultate behaal kan word.

 

Published

Karoo Streeknuusbrief Junie