Last update: April 10, 2012 07:36:23 AM E-mail Print

 

Die Soetpeulboom is 'n Nuttige Voedselbron Vir Vee

DR. P. L. LE ROUX, Landboukollege Grootfontein

 

IN groot gebiede van Suid-Afrika waar periodieke droogtes voorkom en betreklik beperkte moontlikhede vir akkerbou bestaan, kan die produksie van aanvullende voer deur beplande aanplantings van voerbome beslis meer aandag geniet. Sulke bome kan in die Karoo, waar hulle onder besproeiing verbou sal moet word, langs die kante, tussen lei akkers asook langs leivore aangeplant word. Hierdie bome sal dan nie net 'n nuttige voedselbron wees nie, maar kan ook ander doeleindes dien soos byvoorbeeld die verskaffing van skuiling en koelte aan vee, asook hout wat vir allerlei gebruike in die boerdery geskik is.

In 1940 is sistematiese navorsing met verskillende voerbome op die Landboukollege Grootfontein begin. Proefwerk is hoofsaaklik toegespits op die voerboom Gleditsia triacanthos. Hierdie boom is algemeen bekend as die "Honey Locust" of die soetpeulboom, terwyl die peule wat die boom dra as soetpeuldoppe bekend is. Voldoende materiaal het mettertyd beskikbaar geword sodat voedingsproewe met skape op die peule uitgevoer kon word. Die resultate van hierdie proewe sal kortliks in hierdie artikels bespreek word.

 

BESKRYWING VAN PEUL

Die ryp peule is rooibruin tot donkerbruin van kleur en varieer in lengte van 4 tot 18 duim, in breedte van ½ tot 2 duim en in dikte van 1/8 tot ¼ duim. Aan die buitekant word die peule deur 'n harde harsagtige laag beskerm, terwyl die sade almal aan die een kant van die peul gerangskik is. Hierdie sade is besonder hard en die kern van elke saadjie word deur 'n baie harde, gomagtige laag bedek.

 

OPBERGING VAN PEULE

Die peule van die soetpeulboom is reeds vir lang periodes aan die Landboukollege Grootfontein sonder enige sigbare waardevermindering opgeberg. Hierdie peule is ook nie deur insekte aangeval nie, alhoewel dit reeds vasgestel is dat kalanders wel skade kan aanrig. Dit blyk dus geskik te wees om vir lang tye onderdak opgeberg te word, en dan gedurende langdurige droogtes aan skape te voer.

 

VOER VAN PEULE

As algemene reël is dit wenslik om 'n voer te benuttig in die toestand waarin dit geproduseer word. Sodoende word verdere onkoste verbonde aan byvoorbeeld oes, hanteer, maal en so meer so laag as moontlik gehou.

Die gedagte is al dikwels uitgespreek dat hierdie soetpeulboom op so 'n plek geplant moet word dat die peule wat afval, vir die weidende dier toeganklik sal wees. In een proef is die peule dus soos hulle van die bome afval, aan skape gevoer. Daar is egter gevind dat skape die peule in hierdie toestand glad nie wou vreet nie. Die peule is selfs nog geweier nadat die skape vir 'n lang periode uitgehonger is.

Verder is dit ook belangrik om te meld dat die saad vanweë die harde gomagtige buitelaag, onveranderd deur die verteringskanaal gaan. Die verteringsappe van diere kan hierdie harde buitelaag van die saad nie verteer nie, en gevolglik gaan die waardevolle kerninhoud van die saad, wat veral besonder ryk is aan verteerbare ru-proteïen, vir die dier verlore.

Uit bogenoemde oorwegings blyk dat dit absoluut noodsaaklik is om die peule te oes en te maal voordat dit as 'n voer gebruik word.

 

MAAL VAN PEULE

Die peule word gewoonlik met 'n sif, waarvan die grootte van die gate ongeveer een duim in deursnee is, in 'n hamermeul gemaal. Dis bevind dat die saad sowel as die peule op hierdie wyse gebreek word. Dit word egter ondervind dat in 'n betreklik vogtige klimaat, die peule gedurende die maalproses geneig is om in die hamermeul aan te pak. Op die Landboukollege Grootfontein, wat in 'n droë klimaatsomgewing geleë is, word hierdie moeilikheid nie ondervind nie en peule is byvoorbeeld selfs op reënerige dae gemaal sonder dat enige aanpakking in die hamermeul gevorm het. Waar die moeilikheid van aanpakking in die hamermeul wel voorkom, kan die peule gemeng word met 'n ander voer wat ook vir maal bestem is.

 

PRIKKELENDE UITWERKING

Dit is 'n onaangename taak om die peule te verwerk. Die stof prikkel 'n mens se oë en in 'n baie groter mate die neusholtes. Wanneer skape hierdie gemaalde peule vreet, veroorsaak die voer ook prikkeling en is hulle dikwels geneig om te proes of nies wanneer die voer gevreet word.

In 'n proef waar die gemaalde soetpeulsaad (d.w.s. sonder die dop) alleen gevoer was, is bevind dat die saad geen prikkelende uitwerking het nie. Hierdie prikkeling moet dus toegeskryf word aan die stof wat van die res van die peul afkomstig is. As gevolg hiervan, asook van ander redes wat later vermeld sal word, is dit dus wenslik dat die gemaalde peule liefs in 'n mengsel met ander voer aan diere gegee moet word. In 'n volgende artikel sal 'n paar geskikte voermengsels aanbeveel word.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 35 (1)